Koninkryksverkondigers berig
Bybelwaarheid “is kragtig”
HIERDIE wêreld bestee baie tyd en geld om slegte mense se dade in toom te hou. Wette teen misdrywe soos dwelmmisbruik, diefstal en moord word uitgevaardig; maar hierdie wette maak slegte mense nie goed nie. Daarteenoor het God se Woord, die Bybel, hervormingskrag, en mense wat die wette en beginsels daarvan toepas, word opregte, eerlike en sagmoedige persone.—Romeine 12:2.
◻ Twee getuies in Australië het byvoorbeeld ’n herbesoek op ’n paar jong, werklose mans gedoen. Toe hulle ingaan by die huis waar die mans gewoon het, het hulle in ’n donker vertrek vol rook gekom. Daar was daggagerei op die tafel, en groot rockplakkate oral teen die mure. Aan die een kant van die vertrek was daar enorme versterkers vir elektriese ghitare. Dit was ’n rock-orkes se oefenkamer. Hulle het daarin geslaag om ’n Bybelstudie met drie van hierdie mans, wat bloedbroers was, te begin. Hulle ma het ’n paar jaar tevore die Bybel saam met die Getuies bestudeer, en sy het die seuns uit die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe van God se belofte van ’n toekomstige paradys geleer. Toe het die gesin verhuis, en die studie is gestaak. Noudat hulle liefde vir die waarheid weer aangewakker is, het twee vriende kort voor lank saam met hulle begin studeer.
Binne drie maande was een van hulle besig om vir ander te getuig, en die ander twee het ’n maand later by hom aangesluit. Hulle het die orkes opgegee, en binne vier maande het al drie aan die predikingswerk deelgeneem. Ondertussen het hulle ma, jonger broer en ouer, getroude suster die Bybel begin bestudeer. Kort daarna het nog ’n vriend om ’n Bybelstudie gevra. Wat ’n vreugde was dit om te sien hoe vyf van hulle op dieselfde dag by ’n kringbyeenkoms gedoop word! Nog twee streef daarna om hulle vir doop te bekwaam, terwyl die ma en die dogter steeds goeie vordering maak. Die Woord van God is waarlik kragtig.
◻ ’n Man in Argentinië het ’n werknemer gehad wat lui en bedrieglik was en hom baie geld geskuld het. Op ’n dag het die werker verdwyn. Jare later het die man sy gewese werknemer naby sy huis op straat teëgekom. Die gewese werknemer het hom gegroet en gesê: “Ek was net op pad na jou huis om die geld wat ek jou skuld terug te betaal. Hier is jou geld. Baie dankie, en vergewe my asseblief dat ek dit nie eerder teruggegee het nie.” Die man het hom verbaas gevra waarom hy dit gedoen het. Hy het geantwoord: “Ek bestudeer nou die Bybel, en ek is een van Jehovah se Getuies. Die Bybel sê dat ons niemand iets moet skuld nie, behalwe liefde. Daarom het ek teruggegee wat aan jou behoort.” Die man het gevra: “Watter krag het die Bybel om so ’n verandering in ’n man teweeg te bring?” ’n Bybelstudie is met hom begin, en ook hy leer nou die waarheid, danksy die groot verandering wat Bybelwaarheid in sy gewese werknemer teweeggebring het.
Talle regskape mense in Argentinië neem die hervormende waarheid van die Bybel aan en verander hulle leefwyse, soos die volgende ondervinding toon.
◻ “Toe ons eendag tydens ons bediening aan ’n deur klop”, vertel ’n Getuie, “het ons gille uit die huis hoor kom. ’n Man het die deur kom oopmaak—sommer briesend kwaad. Ons het begin om die doel van ons besoek te verduidelik, maar hy het gedreig om ons van sy perseel af te gooi. Ons het aangehou om sag en kalm te praat. Hy het stadigaan afgekoel. Toe ons dit merk, het ons hom meer van Jehovah se wonderlike voorneme met die mens vertel. Dit het die man beïndruk, en hy het ons verbaas deur te sê: ‘God het julle hierheen gestuur.’ Toe het hy ons ingenooi. Daar, in ’n hoekie, het sy ‘vrou’ en kinders ineengekrimp gesit en huil. Hy het toe erken: ‘Toe julle hier aankom, was ek op die punt om myself en my gesin dood te maak. Ek is desperaat! Ek het my werk verloor, en nou gaan hulle ons uit ons huis uitskop, en ek het baie skuld om te betaal.’”
Hierdie ondervinding het ’n gelukkige einde gehad. ’n Suster het ’n werk vir die man gevind, en hy het ’n ander huis gekry. Hy en sy “vrou” het die Bybel begin bestudeer en is getroud nadat hulle 15 jaar lank saamgeleef het.
Bybelwaarheid “is kragtig”, soos hierdie ondervindinge toon, en dit kan so wees vir enigeen wat ’n nederige hart het en die Bybel sal bestudeer en toepas.
[Lokteks op bladsy 7]
“Die woord van God is lewend en kragtig.’—HEBREËRS 4:12.