Pasiënte se regte word eerbiedig
‘Daar is hoegenaamd geen manier waarop ek hierdie operasie sonder bloed kan doen nie. As jy die operasie wil hê, sal jy tot my manier van behandeling moet toestem. Anders sal jy vir jou ’n ander dokter moet gaan soek.’
DIE dokter se woorde het nie Tsjeng Sae Joo, ’n Getuie van Jehovah in Thailand, se geloof laat wankel nie. Aangesien daar vasgestel is dat Tsjeng ’n meningioom, ’n soort breingewas, gehad het, het sy ’n operasie dringend nodig gehad. Sy was egter vasbeslote om die Bybel se bevel te gehoorsaam: ‘Onthou julle voortdurend van bloed.’—Handelinge 15:28, 29.
Tsjeng het twee ander hospitale besoek, omdat sy graag, indien moontlik, in haar eie land behandel wou word. Ongelukkig vir haar het die dokters daar ook geweier om haar sonder bloed te opereer. Hospitaalinligtingsdienste (HID) in Thailand het Tsjeng uiteindelik met die Neurologiese Instituut van die Tokio- Mediese Kollege vir Vroue in aanraking gebring. Daardie hospitaal het al meer as 200 breingewas-pasiënte met die gammames behandel, een van die nuutste ontwikkelings op die gebied van bestraling.
Daar is gereël dat Tsjeng by Japannese Getuies tuisgaan wat naby die hospitaal woon. ’n Groep het haar by die lughawe ingewag, onder andere twee Thai-sprekende Getuies van Jehovah en ’n HID-verteenwoordiger. Tsjeng is ná sowat ’n week van ondersoeke in die hospitaal opgeneem waar sy behandeling met die gammames ondergaan het. Die operasie het net sowat ’n uur geduur. Tsjeng is die volgende dag uit die hospitaal ontslaan en was die dag daarná op pad terug Thailand toe.
“Ek sou nooit kon dink dat hierdie reëling soveel hulp kan verleen nie”, het Tsjeng gesê. “Ek is werklik beïndruk deur die liefde wat betoon is sowel as deur die samewerking tussen al die betrokke partye.”
Die Japannese koerant Mainitsji Sjimboen het in ’n nuusberig hieroor gesê: “Tot nou toe is die godsdiensredes vir die weiering van bloedoortappings beklemtoon. Maar bloedoortappings het newe-effekte soos vigs, die risiko van virusinfeksies soos hepatitis C en allergieë. Om hierdie rede is daar pasiënte wat ongeag hulle godsdiensoortuiging nie bloedoortappings wil hê nie.”
Die koerant het voorts gesê: “Baie pasiënte wat bloedoortappings geweier het, is gedwing om van hospitaal te verander, maar daar is ’n behoefte aan die kant van mediese instellings om te verander wat hulle respek vir die wil van die pasiënt betref. Ingeligte toestemming (’n pasiënt ontvang ’n volledige verduideliking van wat dit behels en stem daarná tot behandeling in) word vereis, en bloedoortappingsgevalle is geen uitsondering nie. Daar moet besef word dat dit nie ’n saak is wat slegs ’n sekere godsdiens raak nie.”
Baie wat bloedlose behandeling verkies, moet soos Tsjeng Sae Joo van hospitaal verander. Hulle waardeer nietemin die pogings van dokters wat bereid is om die regte van hulle pasiënte te eerbiedig.
Hospitaalinligtingsdienste is deur Jehovah se Getuies in takke van die Wagtoringgenootskap ingestel om die samewerking van geneeshere te verkry wat hulle opvattings respekteer. Regdeur die wêreld bou HID goeie verhoudinge met hospitale, geneeshere, gesondheidswerkers, regsgeleerdes en regters op.