Aanskou die lojales!
“Wie sal u nie werklik vrees nie, Jehovah, en u naam nie verheerlik nie, omdat u alleen lojaal is?”—OPENBARING 15:4.
1. Watter getuienis het J. F. Rutherford oor die lojaliteit van sy voorganger, C. T. Russell, gelewer?
JOSEPH F. RUTHERFORD, wat C. T. Russell in 1917 as president van die Wagtoringgenootskap opgevolg het, het sy toespraak by broer Russell se gedenkdiens begin deur te sê: “Charles Taze Russell was lojaal teenoor God, lojaal teenoor Christus Jesus, lojaal teenoor die saak van die Messiaanse koninkryk. Hy was lojaal in elke opsig—ja, lojaal selfs tot in die dood.” Dit was waarlik ’n voortreflike manier om aan ’n getroue dienaar van Jehovah God hulde te betoon. Geen groter hulde kan aan enigiemand betoon word nie as om te sê dat hy die uitdaging van lojaliteit die hoof gebied het, dat hy lojaal was—lojaal in elke opsig.
2, 3. (a) Waarom bied lojaliteit ’n uitdaging? (b) Wie probeer ook ware Christene se pogings om lojaal te wees, teëwerk?
2 Lojaliteit bied ’n uitdaging. Waarom? Omdat lojaliteit en eiebelang in stryd is met mekaar. Die geestelikes van die Christendom is onder diegene wat die dislojaalste aan God is. Ontrouheid in die huwelik het ook nog nooit soveel voorgekom soos vandag nie. Egbreuk is iets algemeens. Dislojaliteit vier ook hoogty in die sakewêreld. In verband hiermee word daar vir ons gesê: “Baie bestuurders en beroepsmense . . . meen dat net dwase en idiote vandag lojaal teenoor hulle maatskappy is.” Daar word neergesien op mense wat “te lojaal” is. “Jou eerste en enigste lojaliteit moet teenoor jouself wees”, is hoe ’n hoofbestuurder van ’n bestuursadvies-en-verwysingsfirma dit gestel het. As jy van lojaliteit teenoor jouself praat, verdraai jy die betekenis van die woord. Dit laat ons dink aan wat in Miga 7:2 gesê word: “Die lojale het van die aarde vergaan.”—NW.
3 Satan en sy demone het op ’n baie groter skaal teen ons stelling ingeneem, vasbeslote om ons dislojaal teenoor God te maak. Dit is waarom daar vir Christene in Efesiërs 6:12 gesê word: “Ons het ’n worstelstryd, nie teen bloed en vlees nie, maar teen die regerings, teen die owerhede, teen die wêreldheersers van hierdie duisternis, teen die bose geesmagte in die hemelse plekke.” Ja, ons moet ag slaan op die waarskuwing: “Bly nugter van verstand, wees waaksaam. Julle teenstander, die Duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu en is daarop uit om iemand te verslind.”—1 Petrus 5:8.
4. Watter neigings maak dit so moeilik om lojaal te wees?
4 Nog iets wat dit moeilik maak om lojaal te wees, is die selfsugtige neigings wat ons van ons ouers geërf het en waarvan Genesis 8:21 praat: “Die versinsels van die mens se hart is sleg”—en selfsugtig—“van sy jeug af.” Ons almal het die probleem wat die apostel Paulus erken het dat hy het: “Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil nie, dit beoefen ek.”—Romeine 7:19.
Lojaliteit is iets spesiaals
5, 6. Wat is lojaliteit, en hoe is dit al gedefinieer?
5 “Lojaliteit” is ’n baie spesiale woord. Insight on the Scriptures sê gevolglik: “Daar is blykbaar geen Engelse woord wat die volle betekenis van die Hebreeuse en Griekse woorde presies weergee nie, maar wanneer ‘lojaliteit’, wat wel die gedagte van toegewydheid en getrouheid insluit, in verband met God en sy diens gebruik word, gee dit ’n benaderde betekenis.”a Aangaande “lojaliteit” het Die Wagtoring eenkeer gesê: “Getrouheid, plig, liefde, verpligting, trou. Wat het hierdie woorde in gemeen? Hulle is verskillende fasette van lojaliteit.” Ja, sóveel goeie eienskappe is maar net verskillende fasette van lojaliteit. Dit is inderdaad merkwaardig hoe dikwels lojaliteit en regverdigheid met mekaar in die Skrif verbind word.
6 Die volgende definisies is ook nuttig: ‘Lojaliteit kan op ’n voortdurende, betroubare getrouheid en trou dui, veilig teen twyfel of versoeking.’ ‘Lojaliteit impliseer getrouheid aan jou plegtige belofte, of voortdurende trou aan die instelling of die beginsels waartoe iemand voel hy sedelik verplig is; die term impliseer nie net dat ’n mens aan iets vaskleef nie, maar ook dat jy weerstand daarteen bied om weggelok te word van dít waaraan jy kleef.’ Mense wat dus ondanks toetse, teenstand en vervolging getrou bly, verdien om “lojaal” genoem te word.
7. Watter onderskeid kan daar tussen lojaliteit en getrouheid gemaak word?
7 In hierdie verband sal dit egter dalk goed wees om ’n onderskeid toe te lig wat tussen lojaliteit en getrouheid gemaak kan word. In die westelike deel van die Verenigde State is daar ’n geiser wat omtrent elke uur uitbars. Dit gebeur so gereeld dat hy Old Faithful genoem word. Die Bybel praat van sulke lewelose dinge soos die maan as getrou, want dit is betroubaar. Psalm 89:37 praat van die maan as “’n getroue getuie in die hemel” (NW). Daar word gesê dat God se woorde betroubaar is. Openbaring 21:5 sê: “Die Een wat op die troon sit, het gesê: ‘Kyk! Ek maak alles nuut.’ Ook sê hy: ‘Skryf, want hierdie woorde is betroubaar en waaragtig.’” Al hierdie dinge is getrou, of betroubaar, maar hulle is nie tot enige gehegtheid of sedelike eienskappe soos lojaliteit in staat nie.
Jehovah, die Een wat by uitstek lojaal is
8. Watter getuienis lewer die Skrif aangaande die beste voorbeeld van lojaliteit?
8 Jehovah God is sonder die minste twyfel die beste voorbeeld van lojaliteit. Jehovah was nog altyd lojaal teenoor die mensdom, en hy het selfs sy Seun voorsien sodat mense die ewige lewe kan ontvang (Johannes 3:16). In Jeremia 3:12 lees ons: “‘Keer tog terug, o afvallige Israel’, is die uiting van Jehovah. ‘Ek sal my aangesig nie toornig op julle laat neersien nie, want ek is lojaal.’” Die woorde wat in Openbaring 16:5 opgeteken is, lewer ’n verdere getuienis van Jehovah se lojaliteit: “U, die Een wat is en wat was, die Een wat lojaal is, is regverdig.” Dan weer word daar vir ons in Psalm 145:17 gesê: “Jehovah is regverdig in al sy weë en lojaal in al sy werke” (NW). Trouens, Jehovah is so voortreflik in sy lojaliteit dat Openbaring 15:4 sê: “Wie sal u nie werklik vrees nie, Jehovah, en u naam nie verheerlik nie, omdat u alleen lojaal is?” Jehovah God se lojaliteit is onoortreflik.
9, 10. Hoe het Jehovah in sy handelinge met die nasie Israel getoon dat hy lojaal is?
9 Die geskiedenis van die nasie Israel bevat veral oorvloedige getuienis oor Jehovah se lojaliteit teenoor sy volk. In die tyd van die rigters het Israel keer op keer van ware aanbidding afvallig geraak, maar Jehovah het herhaaldelik medelyde met hulle gehad en hulle gered (Rigters 2:15-22). Gedurende die vyf eeue wat Israel konings gehad het, het Jehovah sy lojaliteit teenoor daardie nasie getoon.
10 Jehovah se lojaliteit het hom geduldig teenoor sy volk gemaak, soos ons in 2 Kronieke 36:15, 16 sien: “Die HERE, die God van hulle vaders, het vroeg en laat na hulle gestuur deur die diens van sy boodskappers; want Hy het medelyde met sy volk en met sy woning gehad. Maar hulle het die boodskappers van God uitgelag en sy woorde verag en met sy profete gespot, totdat die grimmigheid van die HERE teen sy volk opgekom het, totdat daar geen genesing meer was nie.”
11. Watter versekering of vertroosting put ons uit Jehovah se lojaliteit?
11 Aangesien Jehovah by uitstek lojaal is, kon die apostel Paulus in Romeine 8:38, 39 skryf: “Ek is daarvan oortuig dat nie die dood of die lewe of engele of regerings of teenswoordige dinge of toekomstige dinge of magte of hoogte of diepte of enige ander skepping ons sal kan skei van God se liefde wat in Christus Jesus, ons Here, is nie.” Ja, Jehovah verseker ons: “Ek sal jou hoegenaamd nie in die steek laat of jou ooit verlaat nie” (Hebreërs 13:5). Dit is waarlik ’n vertroosting om te weet dat Jehovah God altyd lojaal is!
Jesus Christus, die lojale Seun
12, 13. Watter getuienis het ons oor die lojaliteit van God se Seun?
12 Jesus Christus was en is iemand wat Jehovah volmaak nagevolg het deur die uitdaging van lojaliteit die hoof te bied. Die apostel Petrus kon Psalm 16:10 gepas aanhaal en dit in Handelinge 2:27 op Jesus Christus toepas: “U sal my siel nie in Hades laat nie, nog sal u toelaat dat hy wat teenoor u lojaal is verderwing sien.” Jesus Christus word tereg “lojaal” genoem. Hy is in alle opsigte lojaal teenoor sy Vader en teenoor God se beloofde Koninkryk. Satan het eers Jesus se onkreukbaarheid probeer ondermyn deur versoekings wat ’n beroep op eiebelang was. Toe hy nie daarin kon slaag nie, het die Duiwel hom tot vervolging gewend wat uiteindelik tot Jesus se dood aan die folterpaal gelei het. Jesus het nooit sy lojaliteit teenoor sy hemelse Vader, Jehovah God, prysgegee nie.—Matteus 4:1-11.
13 Jesus Christus was lojaal teenoor sy volgelinge wat die belofte in Matteus 28:20 betref: “Kyk! ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die stelsel van dinge.” Ter vervulling van daardie belofte neem hy lojaal die leiding oor sy gemeente van Pinkster 33 G.J. af tot nou toe.
Onvolmaakte mense wat lojaal was
14. Watter voorbeeld van lojaliteit het Job gestel?
14 Maar wat dan van onvolmaakte mense? Kan hulle lojaal teenoor God wees? Ons het die uitsonderlike geval van Job. In sy geval het Satan die geskil baie duidelik gestel. Was Job lojaal teenoor Jehovah God of het hy hom slegs uit eiebelang gedien? Satan het gespog dat hy Job kon kry om sy rug op Jehovah te draai. Toe Job al sy besittings, al sy kinders en selfs sy gesondheid verloor het, het sy vrou by hom aangedring: “Vervloek God en sterf!” Maar Job was lojaal, want hy het vir haar gesê: “Soos ’n dwaas praat, praat jy! Die goeie sou ons van God aanneem, en nie ook die slegte aanneem nie? By dit alles het Job nie gesondig met sy lippe nie” (Job 2:9, 10, vgl. NW). Trouens, Job het vir sy sogenaamde vertroosters gesê: “Al wil Hy my ombring—ek hoop op Hom” (Job 13:15). Geen wonder dat Job Jehovah se goedkeuring weggedra het nie! Daarom het Jehovah vir Elifas die Temaniet gesê: “My toorn het ontvlam teen jou en jou twee vriende; want julle het nie reg van My gespreek soos my kneg Job nie.”—Job 42:7, 10-16; Jakobus 5:11.
15. Watter skriftuurlike getuienis het ons oor die lojaliteit van baie van Jehovah God se knegte?
15 Al die manne en vroue van geloof wat in Hebreërs hoofstuk 11 beskryf word, kan lojales genoem word. Hulle was nie net getrou nie, maar ook lojaal ondanks druk. Ons lees dus van diegene “wat deur geloof . . . die bekke van leeus toegestop het, die krag van vuur gestuit het, aan die skerpte van die swaard ontkom het . . . Ja, ander het hulle beproewing deur bespottinge en geselinge gekry, trouens, meer as dit, deur boeie en gevangenisse. Hulle is gestenig, hulle is beproef, hulle is in stukke gesaag, hulle het gesterf deur slagting met die swaard, hulle het rondgeloop in skaapvelle, in bokvelle, terwyl hulle gebrek gely het, in verdrukking verkeer het, sleg behandel is.”—Hebreërs 11:33-37.
16. Watter voorbeeld van lojaliteit het die apostel Paulus gestel?
16 Die Christelike Griekse Geskrifte bevat ook die treffende voorbeeld van die apostel Paulus. Hy kon met reg aangaande sy bediening vir die Christene in Tessalonika sê: “Julle is getuies, God is ook, van hoe lojaal en regverdig en onberispelik ons ons teenoor julle, die gelowiges, betoon het” (1 Tessalonisense 2:10). Ons het verdere bewys van Paulus se lojaliteit in sy woorde wat opgeteken is in 2 Korintiërs 6:4, 5, waar ons lees: “In elke opsig beveel ons ons as God se bedienaars aan: deur baie te verduur, deur verdrukkinge, deur gevalle van nood, deur moeilikhede, deur slae, deur gevangenisse, deur oproere, deur arbeid, deur slapelose nagte, deur tye sonder voedsel.” Al hierdie dinge getuig van die feit dat die apostel Paulus selfrespek gehad het omdat hy lojaal was.
Lojales in hedendaagse tye
17. Watter woorde van J. F. Rutherford het getoon dat hy vasbeslote was om lojaal te bly?
17 In hedendaagse tye het ons die puik voorbeeld wat ons reeds in ons inleiding bespreek het. Let op wat sê die boek Wêreldwye veiligheid onder die “Vredevors”, bladsy 146, onder die onderhofie “Lojaliteit gedurende gevangenskap”. Daar lees ons: “Die president van die Wagtoringgenootskap, Joseph F. Rutherford, se lojaliteit teenoor Jehovah se organisasie gedurende sy gevangenskap blyk uit ’n [brief waarin] hy op 25 Desember 1918 die volgende geskryf [het]: ‘Omdat ek geweier het om ’n kompromis met Babilon aan te gaan, maar getrou geprobeer het om my Here te dien, is ek in die tronk, en ek is dankbaar daaroor. . . . Ek wil veel eerder Sy goedkeuring en glimlag hê en in die tronk sit as om ’n kompromis met die Dier aan te gaan of daarvoor te swig en vry te wees en deur die hele wêreld toegejuig te word.’”b
18, 19. Watter uitstekende voorbeelde van lojaliteit het ons in hedendaagse tye?
18 Daar is baie ander Christene wat vervolging verduur het en vir ons uitstekende voorbeelde van lojaliteit is. Onder hierdie lojale persone was Duitse Getuies van Jehovah tydens die Nazi-bewind, soos uitgebeeld in die video Purple Triangles, waarvan baie in Engels versprei is. Ook merkwaardig is die talle lojale Getuies van Jehovah in Afrika, soos dié in Malawi. Dáár het een tronkbewaarder oor die lojaliteit van die Getuies gesê: “Hulle sal nooit ’n kompromis aangaan nie. Hulle word net meer.”
19 ’n Mens kan nie die jongste eksemplare van die Yearbook of Jehovah’s Witnesses lees sonder om deur die lojaliteit van ware Christene, soos dié in Griekeland, Mosambiek en Pole, beïndruk te word nie. Baie van hulle het verskriklike marteling deurgemaak; ander is vermoor. Op bladsy 177 van die 1992 Yearbook is daar foto’s van nege Christenmanne in Etiopië wat die uitdaging om lojaal te bly die hoof gebied het en gevolglik vermoor is. Is ons as Getuies van Jehovah nie bly om soveel puik voorbeelde te hê wat ons aanspoor om die uitdaging van lojaliteit die hoof te bied nie?
20. Wat kan ons verwag as ons lojaal bly?
20 Deur lojaal versoekinge en druk die hoof te bied, bou ons ons selfrespek op. Aan wie se kant van die lojaliteitsgeskil wil ons dus gevind word? Deur die uitdaging van lojaliteit die hoof te bied, skaar ons ons aan Jehovah God se kant van die geskil en bewys ons dat Satan die Duiwel inderdaad ’n lae, gemene leuenaar is! Sodoende verkry ons die goedkeuring van ons Skepper, Jehovah God, en die beloning van ewige lewe in geluk (Psalm 37:29; 144:15b, NW). Vervolgens sal ons bespreek wat dit verg om die uitdaging van lojaliteit die hoof te bied.
[Voetnote]
a ’n Bybelensiklopedie van twee bundels, wat deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., uitgegee word.
b Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
Hoe sal jy antwoord?
◻ Waarom bied dit ’n uitdaging om lojaal te wees?
◻ Waarom kan daar gesê word dat “lojaliteit” ’n baie spesiale woord is?
◻ Watter skriftuurlike voorbeelde het ons van onvolmaakte mense wat lojaal was?
◻ Watter puik hedendaagse voorbeelde van lojaliteit het ons?
[Prent op bladsy 11]
Charles Taze Russell
[Prent op bladsy 12]
Jesus was waarlik “lojaal” teenoor Jehovah
[Prent op bladsy 13]
Al was Job onvolmaak was hy lojaal teenoor God
[Prent op bladsy 14]
Paulus het ’n puik voorbeeld van lojaliteit teenoor Jehovah gestel