Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w96 2/15 bl. 23-26
  • Die verkondiging van Bybelwaarheid in Portugal

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die verkondiging van Bybelwaarheid in Portugal
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Onderhofies
  • Hulp aan diegene wat godsdienstig is
  • Familielede word van die waarheid vertel
  • ‘Ek sal hulle met ’n skop en ’n sweep hier uitjaag’
  • In gebied wat dikwels gedek word
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
w96 2/15 bl. 23-26

Die verkondiging van Bybelwaarheid in Portugal

VAN Caminha in die noorde tot Vila Real de Santo António in die suide kan duisende kleurvolle vissersbote oral langs die 800 kilometer lange Atlantiese kus van Portugal gesien word. Vissermanne ‘gaan al eeue lank in skepe na die see af’, sodat vis dikwels op Portugese tafels verskyn.—Psalm 107:23, NW.

Die afgelope 70 jaar het ’n ander soort visserswerk in Portugal plaasgevind. Jehovah se Getuies het die goeie nuus aan tienduisende simboliese visse gebring (Matteus 4:19). In Mei 1995 was daar ’n hoogtepunt van 44 650 Koninkryksverkondigers—’n verhouding van 1 tot ongeveer 210 inwoners. In party stede is die verhouding die helfte daarvan.

Met soveel werkers neem dit in baie plekke ongeveer ’n week om die velddiensgebiede te dek. Die Portugese Getuies gebruik dus baie graag verskillende benaderings om ander van hulle Bybelse hoop te vertel. Ja, hulle besef die belangrikheid daarvan om Bybelwaarheid op elke moontlike manier bekend te maak.—1 Korintiërs 9:20-23.

Hulp aan diegene wat godsdienstig is

Volgens ’n sensus wat in 1991 gehou is, bely 70 persent van diegene in Portugal wat 18 jaar of ouer is dat hulle Rooms-Katoliek is. Ten spyte hiervan het mense min Bybelkennis. Die koerant Jornal de Notícias het gesê: “Dit is een van die grootste tragedies van die Katolieke wêreld: Onkunde omtrent die Bybel!” Waarom is dit so? Die Portugese koerant Expresso verskaf die rede. In ’n berig omtrent ’n vergadering van 500 priesters in Fátima sê die koerant: “Volgens die prelaat moet die priester hom van ’n eindelose aantal bedrywighede bevry, sodat hy sy uitsluitlike posisie as ‘boodskapper’ kan herbevestig. . . . As die priester die Evangelie met sy hele hart verkondig, sal hy nie tyd hê vir enige ander bedrywighede nie.”

Jehovah se Getuies in Portugal is daarenteen besig om Bybelwaarheid op elke moontlike manier bekend te maak. As gevolg hiervan doen talle opregte Katolieke Bybelkennis op.

Carlota was ’n toegewyde Katoliek en ’n lid van die jeuggroep in ’n kloosterorde. Sy was ook ’n onderwyseres in die kleuterskool waar Antônio, ’n Getuie, gewerk het. As ’n gewone pionier, of voltydse bedienaar, het Antônio altyd probeer om gedurende middagete met dié wat saam met hom gewerk het oor die Bybel te praat. Eendag het Carlota hom oor geloof in ’n helse vuur en die verering van Maria uitgevra. Antônio het haar gewys wat die Bybel oor hierdie onderwerpe sê, en dit was die begin van baie Bybelbesprekings. Toe Carlota haar eerste vergadering by die plaaslike Koninkryksaal bygewoon het, was sy baie beïndruk. Maar die vergaderingtye het gebots met dié van die kloosterorde waaraan sy behoort het. Sy het besef dat sy ’n besluit moet neem. Wat sou sy doen?

Carlota het die hele jeuggroep bymekaargekry en uit die Bybel verduidelik waarom sy bedank. Almal het haar besluit gekritiseer, behalwe een jong meisie met die naam Stela, wat baie goed geluister het. Toe Carlota later met haar gepraat het, het Stela baie vrae oor die oorsprong en doel van die lewe gevra. Carlota het haar die boek Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?a gegee en ’n Bybelstudie met haar begin.

Carlota het intussen goeie geestelike vordering gemaak, is in Junie 1991 gedoop en het ses maande later as ’n gewone pionier begin dien. Sy en Antônio is in Mei 1992 getroud en het saam as pioniers in ’n nabygeleë gemeente gaan dien waar daar hulp nodig is. En Stela? Sy is in Mei 1993 gedoop en dien nou as ’n gewone pionier.

Jong Francisco was baie godsdienstig. Hy het elke Sondag die mis in die oggend en Rosekransgebede in die middag bygewoon. Hy het as sakristein gedien en het die priester tydens die mis gehelp. Hy het selfs tot God gebid dat hy eendag ’n “heilige” gemaak word!

Francisco wou baie graag ’n Bybel hê, en eendag het ’n vriend een aan hom geleen. Hy was verbaas om uit te vind dat God ’n naam het, naamlik Jehovah (Exodus 6:3, NW; Psalm 83:18, NW). Hy was selfs meer verbaas toe hy in Exodus 20:4, 5 lees dat God die gebruik van beelde in aanbidding verbied! Aangesien die kerk vol beelde was, het hy vurig tot God gebid om hom te help om hierdie verwarrende idees te verstaan. Etlike dae later het hy ’n gewese skoolmaat raakgeloop en hom gevra waarom hy die aandskool verlaat het.

“Ek woon nou ’n beter aandskool by”, het sy vriend geantwoord.

“Watse skool is dit, en wat bestudeer julle?” het Francisco gevra. Hy was glad nie voorbereid op sy vriend se antwoord nie.

“Ek bestudeer die Bybel by die Koninkryksaal van Jehovah se Getuies”, het die vriend vir hom gesê. “Wil jy graag saamkom?”

Francisco kon amper nie glo wat hy by sy eerste vergadering gesien het nie—gelukkige, glimlaggende gesigte; mense wat op ’n hartlike, vriendelike manier met mekaar praat; kinders wat by hulle ouers sit en aandag skenk aan wat gesê word.

“Hier was ek, ’n wildvreemdeling, en ek het gevoel asof ek deel van die familie is!” het Francisco gesê. Sedertdien woon hy gereeld die vergaderinge by. Francisco dien nou as ’n ouer man in die gemeente, en saam met sy vrou en twee kinders verheug hy hom in die wonderlike Koninkryksbeloftes in God se Woord.

Familielede word van die waarheid vertel

Manuela, ’n gewone pionier in die Lissabon-omgewing, het ’n groot vangs van geestelike visse gevang omdat sy daarin volhard om vriendelik vir almal te getuig, ook vir haar familielede. Een van hulle was haar vleeslike broer, José Eduardo, wat in die verweerkuns en in die gebruik van wapens opgelei was. Hy het die wet soveel keer oortree dat hy uiteindelik op 22 aanklagte voor die hof gebring is en tot 20 jaar tronkstraf gevonnis is. Hy was so gewelddadig dat selfs sy medegevangenes vir hom bang was, en hy is in ’n hoësekuriteitsel aangehou.

Manuela het José Eduardo sewe jaar lank geduldig besoek, maar hy het altyd haar Bybelboodskap verwerp. Eindelik, toe die boek Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping? uitgegee is, het hy dit geneem, en ’n Bybelstudie is begin. Hy het onmiddellik geweldige veranderinge in sy gedrag aangebring. ’n Week later het hy persoonlik vir 200 gevangenes getuig en die volgende week vir nog 600. Hy het selfs toestemming ontvang om die gevangenes in ander dele van die tronk te besoek. As gevolg van die merkwaardige verandering in sy gedrag is die vonnis tot 15 jaar verminder. Nadat hy 10 jaar van sy vonnis uitgedien het, is hy voorwaardelik vrygelaat. Sedertdien het vyf jaar verloop, en José Eduardo is nou ’n gedoopte Getuie van Jehovah en dien as ’n bedieningskneg in die plaaslike gemeente. Voorwaar ’n geval van ‘die wolf wat by die lam wei’!—Jesaja 11:6.

Manuela het weens haar volgehoue poging om vir haar familie te getuig die vreugde gehad om haar man en vier ander familielede te help om bedrywig in Jehovah se diens te word. Haar man is nou ’n bedieningskneg.

‘Ek sal hulle met ’n skop en ’n sweep hier uitjaag’

Maria do Carmo het in ’n voorstad van Lissabon gewoon toe die Getuies haar besoek het. Sy het gehou van wat sy gehoor het en het haar man, Antônio, gevra of sy ’n Bybelstudie by die huis kon hê. “Moenie eers daaraan dink nie!” het hy geantwoord. “As ek ooit Jehovah se Getuies in ons huis kry, sal ek hulle met ’n skop en ’n sweep hier uitjaag.” Terloops, Antônio was ’n karate-instrukteur en ’n graad drie swart gordel. Maria do Carmo het gevolglik besluit om haar studie elders te hê.

Antônio moes later na Engeland gaan vir ’n karatekursus wat agt dae sou duur, en Maria do Carmo het die boek My boek met Bybelverhale versigtig in sy koffer gepak.b Aangesien Antônio baie tyd gedurende sy reis gehad het, het hy die boek gelees. Tydens die terugvlug het ’n storm die vliegtuig hewig geskud, en dit het moeilik geland. Vir die eerste keer in sy lewe het Antônio tot Jehovah gebid.

Toe Antônio by die huis gekom het, het die Getuie wat met sy vrou gestudeer het hom na ’n vergadering uitgenooi. Hy het die uitnodiging aanvaar en het gevind dat almal baie vriendelik was. Reëlings is vir ’n Bybelstudie getref, en Antônio het gou besef dat hy sekere besluite moes neem. Die uiteinde was dat hy opgehou het om karate af te rig en begin het om sy studente te leer hoe om nou en vir ewig vreedsame lewens te lei. Een van hulle, ook ’n swart gordel, is nou ’n gedoopte Christen.

Wat Antônio betref, hy is in April 1991 gedoop. Die dag ná hy gedoop is, het hy as ’n hulppionier begin dien. Ses maande later het hy as ’n gewone pionier begin dien, en kort voor lank het hy 12 tuisbybelstudies gehou. In Julie 1993 is hy as ’n bedieningskneg in die gemeente aangestel.

In gebied wat dikwels gedek word

In baie plekke in die land word die gebied so te sê elke week gedek. Hoe hou die Getuies hulle ‘visserswerk’ produktief?

João probeer met elke persoon in elke huis praat. Toe hy ’n vrou besoek het, het hy haar gevra of daar ander mense in die huis woon. Die vrou het geantwoord dat haar man en twee seuns daar woon maar dat dit moeilik sou wees om hulle tuis te vind aangesien hulle werk en net saans by die huis sou wees. João het dus verder gegaan en ander mense in die omgewing besoek. Omtrent ’n uur en ’n half later het ’n man hom genader.

“Jy het gesê jy wil met my praat”, het die man vir João gesê. “Sê asseblief vir my wat jy wil hê.”

“Jammer, maar ek ken jou nie”, het João verras geantwoord. “Wie is jy?”

“Ek is Antônio, en ek woon bo in die straat. Jy het vir my ma gesê dat jy met die res van die gesin wil praat, en ek het dus gekom om uit te vind wat jy wil hê.”

João het Antônio ’n goeie getuienis gegee en ’n Bybelstudie met hom begin. Ná die tweede studie het Antônio gevra of die studie twee keer per week gehou kan word. In net vier maande het hy by João aangesluit en die goeie nuus in sy straat begin verkondig. Hy is drie maande later gedoop. Sy ma het ook onlangs die Bybel begin bestudeer. Hoe belangrik is dit tog om in die bediening met die hele gesin te probeer praat!

Sulke opwindende ondervindinge toon dat daar nog baie geestelike visserswerk in die waters van Portugal gedoen moet word. Jehovah het die hardwerkende Getuies daar met duisende progressiewe Bybelstudies geseën. Terwyl hulle aanhou om na al hoe meer maniere te soek om Bybelwaarheid aan ander bekend te maak, word die apostel Paulus se woorde aan die Christene in Filippi voorwaar vandag in Portugal vervul: ‘Christus word op elke manier verkondig’.—Filippense 1:18.

[Voetnote]

a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

b Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

[Kaart op bladsy 23]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

SPANJE

PORTUGAL

[Prente op bladsy 24, 25]

Getuies in Portugal gryp elke geleentheid aan om Bybelwaarheid bekend te maak

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel