Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w96 1/15 bl. 26-29
  • Lig bring ’n tydperk van duisternis tot ’n einde

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Lig bring ’n tydperk van duisternis tot ’n einde
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Joodse lewe in Persiese tye
  • Die Griekse tydperk
  • Godsdiensveranderinge
  • Judaïsme neem verskeie denkrigtings aan
  • Judaïsme—’n Soeke na God deur geskrifte en tradisie
    Die mensdom se soeke na God
  • Vroeë Christene in die Griekse wêreld
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • ’n Bybelvertaling wat die wêreld verander het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Wie was die Makkabeërs?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
w96 1/15 bl. 26-29

Lig bring ’n tydperk van duisternis tot ’n einde

DIE wêreld waarin Jesus Christus en sy apostels gelewe het, was heel anders as dié gedurende die tyd van die Hebreeuse Geskrifte. Bybellesers wat nie hiervan bewus is nie, dink dalk dat daar van die profeet Maleagi tot die Evangelieskrywer Matteus maatskaplike en godsdiensdeurlopendheid was, en hulle het slegs ’n vae begrip van wat gedurende die 400 jaar tussenin plaasgevind het.

Maleagi, die laaste boek van die Hebreeuse Geskrifte in die meeste hedendaagse Bybels, sluit af met die oorblyfsel van Israel wat in hulle tuisland hervestig is nadat hulle uit ballingskap in Babilon bevry is (Jeremia 23:3). Toegewyde Jode is aangemoedig om te wag vir God se oordeelsdag om die wêreld van boosheid te verlos en die Messiaanse Era in te lei (Maleagi 4:1, 2). Intussen het Persië geheers. Persiese troepe wat in Juda gestasioneer was, het die vrede bewaar en koninklike bevele deur geweld en mag gehandhaaf.—Vergelyk Esra 4:23.

Maar die Bybellande het nie dwarsdeur die daaropvolgende vier eeue stabiel gebly nie. Geestelike duisternis en verwarring het begin versprei. Die Nabye-Ooste is in beroering gebring deur geweld, terrorisme, onderdrukking, radikale godsdiensdenke, spekulatiewe filosofieë en kultuurskok.

Matteus, die eerste boek van die Christelike Griekse Geskrifte, is gedurende ’n ander tydperk geskryf. Romeinse krygsmagte het die Pax Romana, of Romeinse Vrede, gehandhaaf. Eerbiedige mense het gretig na die Messias se koms uitgesien om ’n einde aan lyding, tirannie en armoede te maak en lig te werp op lewe, voorspoed en rus. (Vergelyk Lukas 1:67-79; 24:21; 2 Timoteus 1:10.) Kom ons stel nadere ondersoek in na die dinamiese magte wat die Joodse gemeenskap in die eeue voor die geboorte van Jesus Christus verander het.

Joodse lewe in Persiese tye

Ná Kores se aankondiging wat die Jode in 537 v.G.J. uit ballingskap in Babilon bevry het, het ’n groep Jode en nie-Joodse metgeselle uit Babilonië vertrek. Hierdie geestelik ontvanklike oorblyfsel het na ’n gebied teruggekeer waarvan die stede verwoes en die land ’n woesteny was. Edomiete, Fenisiërs, Samaritane, Arabiese stamme en ander het Israel se eens uitgestrekte gebied laat krimp. Dít wat van Juda en Benjamin oorgebly het, het die provinsie van Juda in die Persiese satrapie geword, wat Abar Nahara (Oorkant die rivier) genoem is.—Esra 1:1-4; 2:64, 65.

Onder Persiese heerskappy het Juda “’n tydperk van uitbreiding en bevolkingsgroei” begin ondervind, sê The Cambridge History of Judaism. Dit sê voorts aangaande Jerusalem: “Plattelanders en pelgrims het geskenke gebring, Tempel en stad het ryk geword, en hulle rykdom het buitelandse handelaars en vakmanne gelok.” Hoewel die Perse baie verdraagsaam teenoor plaaslike regering en godsdiens was, was die belasting swaar, en dit kon net in edele metale betaal word.—Vergelyk Nehemia 5:1-5, 15; 9:36, 37; 13:15, 16, 20.

Die laaste jare van die Persiese Ryk was tye vol beroering, wat deur opstande van die satrape gekenmerk is. Baie Jode het by ’n opstand langs die Middellandse Kus betrokke geraak en is ver na die noorde, na Hirkanië by die Kaspiese See, verban. Maar dit lyk asof die grootste deel van Juda nie deur Persië se strafmaatreëls geraak is nie.

Die Griekse tydperk

Alexander die Grote het in 332 v.G.J. soos ’n luiperd op die Midde-Ooste gespring, waar hulle reeds ’n voorliefde vir invoerprodukte uit Griekeland gehad het (Daniël 7:6). Aangesien hy besef het dat die Griekse kultuur politieke waarde het, het hy ’n doelbewuste poging aangewend om sy ontwikkelende ryk Hellenisties te maak. Grieks het ’n internasionale taal geword. Alexander se kort heerskappy het ’n liefde vir sofisterye, ’n entoesiasme vir sport en ’n waardering vir die skoonheidsleer bevorder. Geleidelik is selfs die Joodse erfenis deur Hellenisme vervang.

Ná Alexander se dood in 323 v.G.J. was sy opvolgers in Sirië en Egipte die eerste om die rolle te vul wat die profeet Daniël “die koning van die Noorde” en “die koning van die Suide” genoem het (Daniël 11:1-19). Gedurende die heerskappy van die Egiptiese “koning van die Suide”, Ptolemeus II Filadelfus (285-246 v.G.J.), is daar begin om die Hebreeuse Geskrifte in Koine, gewone Grieks, te vertaal. Hierdie vertaling is later die Septuagint genoem. Baie verse van hierdie vertaling is in die Christelike Griekse Geskrifte aangehaal. Grieks was ’n uitstekende taal om insiggewende betekenisnuanses aan ’n geestelik verwarde en donker wêreld oor te dra.

Nadat Antiogos IV Epifanes die koning van Sirië en heerser van Palestina (175-164 v.G.J.) geword het, is Judaïsme byna uitgewis deur vervolging wat deur die regering ondersteun is. Jode is, onder bedreiging van die dood, gedwing om Jehovah God te verloën en om slegs aan Griekse godhede offerandes te bring. In Desember 168 v.G.J. is ’n heidense altaar oor die groot altaar van Jehovah by die tempel in Jerusalem gebou, en daarop is offerandes aan die Olimpiese Zeus gebring. Geskokte maar moedige manne van die platteland het onder leiding van Judas Makkabeüs saamgespan en ’n hewige oorlog gevoer totdat hulle besit van Jerusalem verkry het. Die tempel is weer aan God toegewy en presies drie jaar nadat dit ontheilig is, is die daaglikse offerandes hervat.

Gedurende die res van die Griekse tydperk het die Judese gemeenskap op aggressiewe wyse hulle gebied tot sy eertydse grense probeer uitbrei. Hulle nuutgevonde militêre vaardigheid is op ’n goddelose manier gebruik om hulle heidense bure met die swaard tot bekering te dwing. Griekse politieke teorieë het nietemin steeds stede en dorpe beheer.

Gedurende hierdie tyd was mededingers om die hoëpriesterskap dikwels verdorwe. Slinkse planne, sluipmoorde en politieke komplotte het hulle amp bederf. Hoe goddeloser die gees onder die Jode geword het, hoe gewilder het die Griekse sport geword. Hoe verbasingwekkend was dit tog om te sien hoe jong priesters hulle pligte versuim om aan die spele deel te neem! Joodse atlete het selfs pynlike operasies ondergaan om “onbesnede” te word sodat hulle nie in die verleentheid sou wees wanneer hulle naak met die heidene meegeding het nie.—Vergelyk 1 Korintiërs 7:18.

Godsdiensveranderinge

In die eerste paar jaar ná die ballingskap het getroue Jode die vermenging weerstaan van heidense opvattings en filosofieë met die ware godsdiens wat in die Hebreeuse Geskrifte geopenbaar word. Die boek Ester, wat ná meer as 60 jaar van noue omgang met Persië geskryf is, bevat hoegenaamd geen aanduiding van Zoroastrisme nie. Daarbenewens word daar geen invloed van hierdie Persiese godsdiens gevind in die Bybelboeke Esra, Nehemia of Maleagi nie, wat almal gedurende die vroeë deel van die Persiese tydperk (537-443 v.G.J.) geskryf is.

Maar geleerdes glo dat baie Jode gedurende die laaste deel van die Persiese tydperk party van die opvattings van die aanbidders van Ahoeramazda, die vernaamste Persiese godheid, begin aanneem het. Dit blyk uit bekende bygelowe en die opvattings van die Essene. Algemene Hebreeuse woorde vir jakkalse, ander woestyndiere en nagvoëls het later in Joodse verstande verband gehou met die bose geeste en nagmonsters van die Babiloniese en Persiese volksoorleweringe.

Jode het heidense idees in ’n ander lig begin beskou. Begrippe soos die hemel, die hel, die siel, die Woord (Logos) en wysheid het almal ’n nuwe betekenis verkry. En as God so ver was dat hy nie meer met die mens gekommunikeer het nie, soos destyds geleer is, het hy tussenpersone nodig gehad. Die Grieke het hierdie middelaars en beskermgeeste demone genoem. Aangesien hulle die idee aangeneem het dat demone goed of boos kon wees, het die Jode maklike prooi vir demoonbeheer geword.

Daar was ’n konstruktiewe verandering wat plaaslike aanbidding betref. Sinagoges het vinnig verrys as die plekke waar Joodse gemeentes in die omgewing bymekaargekom het vir godsdiensonderrig en -dienste. Presies wanneer, waar en hoe Joodse sinagoges ontstaan het, is nie bekend nie. Aangesien hulle die Jode in verafgeleë lande se behoefte aan aanbidding bevredig het wanneer hulle nie na die tempel toe kon gaan nie, word daar algemeen geglo dat sinagoges tydens of ná die ballingskap opgerig is. Dit is betekenisvol dat hulle goeie forums vir Jesus en sy dissipels geword het om ‘die voortreflikhede alom bekend te maak van God, die een wat mense uit die duisternis tot in sy wonderbare lig roep’.—1 Petrus 2:9.

Judaïsme neem verskeie denkrigtings aan

In die tweede eeu v.G.J. het verskeie denkrigtings begin ontstaan. Dit was nie afsonderlike godsdiensorganisasies nie. Dit was eerder klein groepies wat bestaan het uit Joodse geestelikes, filosowe en politieke aktiviste wat probeer het om die mense te beïnvloed en die volk te beheer, alles onder die bestuur van Judaïsme.

Die verpolitiekte Sadduseërs was hoofsaaklik ryk aristokrate wat bekend was vir hulle diplomatieke vernuf sedert die Hasmoneërs se opstand in die middel van die tweede eeu v.G.J. Die meeste van hulle was priesters, hoewel party sakemanne en grondeienaars was. Teen die tyd dat Jesus gebore is, was die meeste Sadduseërs ten gunste van Romeinse heerskappy oor Palestina omdat hulle gedink het dat dit stabieler was en waarskynlik die status quo sou handhaaf. (Vergelyk Johannes 11:47, 48.) ’n Minderheidsgroep (Herodiane) het geglo dat heerskappy deur Herodes se familie beter aan die volksmening sou voldoen. Hoe dit ook al sy, die Sadduseërs wou nie hê dat die volk in die hande van Joodse fanatici moes wees of dat enigiemand anders as priesters in beheer van die tempel moes wees nie. Saddusese opvattings was konserwatief en hoofsaaklik op hulle uitlegging van Moses se geskrifte gegrond en dit het hulle teenkanting teen die magtige sekte van die Fariseërs weerspieël (Handelinge 23:6-8). Die Sadduseërs het die profesieë van die Hebreeuse Geskrifte as spekulasies verwerp. Hulle leer was dat die Bybel se boeke wat geskiedenis, poësie en spreuke bevat, nie geïnspireer was nie en dat dit onbelangrik was.

Die Fariseërs het gedurende die Griekse tydperk ontstaan as ’n kragtige reaksie op anti-Joodse Hellenisme. Teen Jesus se dag was hulle egter onbuigsaam, aan oorleweringe gebonde, wetties, hoogmoedig, eiegeregtige proselietemakers en leermeesters wat deur middel van onderrigting in die sinagoges beheer oor die volk probeer verkry het. Hulle was hoofsaaklik uit die middelklas en het die gewone mense verag. Jesus het die meeste Fariseërs as selfsugtige, onbarmhartige liefhebbers van geld beskou wat gedruip het van geveinsdheid (Matteus, hoofstuk 23). Hulle het die hele Hebreeuse Geskrifte volgens hulle eie verduidelikings aanvaar, maar het dieselfde of groter waarde aan hulle mondelinge oorleweringe geheg. Hulle het gesê dat hulle oorleweringe “’n heining om die Wet” was. Maar in plaas van ’n heining te wees, het hulle oorlewering die Woord van God kragteloos gemaak en die mense verwar.—Matteus 23:2-4; Markus 7:1, 9-13.

Die Essene was mistici wat blykbaar in ’n paar afgesonderde gemeenskappe gewoon het. Hulle het hulleself as die ware oorblyfsel van Israel beskou en het in reinheid gewag om die beloofde Messias te ontvang. Die Essene het ’n lewe van peinsing en vroom strengheid gelei en baie van hulle opvattings het Persiese en Griekse idees weerspieël.

Etlike soorte godsdiensgemotiveerde, fanaties patriotiese Selote het almal wat onafhanklike Joodse nasieskap teëgewerk het moorddadig as vyande beskou. Hulle is met die Hasmoneërs vergelyk en het veral byval gevind by idealistiese, avontuurlustige jong manne. Hulle is as moorddadige rowers of as versetstryders beskou en hulle het van guerrillataktiek gebruik gemaak wat die land se paaie en openbare pleine gevaarlik gemaak het en tot die spanning van die tyd bygedra het.

In Egipte het Griekse filosofie onder Alexandrynse Jode floreer. Daarvandaan het dit uitgebrei na Palestina en die Jode wat ná die verstrooiing wyd en syd verspreid was. Joodse teoretici wat die Apokriewe en Pseudepigrafa geskryf het, het Moses se geskrifte as vae, saai sinnebeeldige voorstellings vertolk.

Teen die tyd dat die Romeinse tydperk begin het, het Hellenisme Palestina op maatskaplike, politieke en filosofiese gebied permanent verander. Die Jode se Bybelgodsdiens is vervang deur Judaïsme, ’n vermenging van Babiloniese, Persiese en Griekse opvattings wat met ’n mate van Bybelwaarheid verweef is. Maar altesaam het die Sadduseërs, Fariseërs en Essene minder as 7 persent van die volk uitgemaak. Vasgevang in die maalstroom van hierdie strydende magte was die Joodse volksmassa, “gestroop en rondgegooi soos skape sonder ’n herder”.—Matteus 9:36.

Dit was in daardie donker wêreld wat Jesus Christus getree het. Sy gerusstellende uitnodiging was so vertroostend: “Kom na my toe, almal wat swoeg en swaar belaai is, en ek sal julle verkwik” (Matteus 11:28). Hoe aangrypend was dit tog om hom te hoor sê: “Ek is die lig van die wêreld”! (Johannes 8:12). En sy hartverblydende belofte was inderdaad wonderlik: “Hy wat my volg, sal hoegenaamd nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe besit.”—Johannes 8:12.

[Prent op bladsy 26]

Jesus het getoon dat Joodse godsdiensleiers in geestelike duisternis verkeer het

[Prent op bladsy 28]

Muntstuk met die voorstelling van Antiogos IV (Epifanes)

[Erkenning]

Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel