Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 12/15 bl. 22-23
  • Kyk! ’n Koninkryksaal in Niue

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kyk! ’n Koninkryksaal in Niue
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Die besluit om voort te gaan
  • ’n Gees van samewerking en gasvryheid
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 12/15 bl. 22-23

Kyk! ’n Koninkryksaal in Niue

NIUE is ’n klein koraaleiland in die Stille Suidsee, 2 160 kilometer noordoos van Nieu-Seeland. Volgens ’n reisbrosjure kom die naam Niue van twee woorde, Niu, wat “kokosboom” beteken, en e, wat “sien” of “kyk” beteken. Die brosjure sê: “Volgens oorlewering het die eerste Polinesiese nedersetters hierdie woorde by hulle aankoms geuiter toe hulle die kokosbome gesien het wat op die land groei.”

Vandag is Getuies van Jehovah in Niue trots wanneer hulle vir besoekers sê: “E! Fale he Kautu ha mautolu!” wat “Kyk! Ons Koninkryksaal!” beteken. Waarom voel hulle so bly oor hierdie saal? Alle Getuies van Jehovah is trots op hulle Koninkryksale, veral as hulle dit self gebou het. Maar om ’n Koninkryksaal op ’n afgeleë eiland in die middel van die uitgestrekte Stille Suidsee te bou, is iets heeltemal anders. Niue strek op stuk van sake oor net 260 vierkante kilometer, en daar is maar net 2 300 mense op die hele eiland.

Daar was die kwessie van wie die Koninkryksaal sou bou. Die een gemeente in Niue het net 32 Getuies. Al die groot toerusting wat hulle nodig gehad het, soos vragmotors, stootskrapers en hyskrane, behoort aan die regering. Daarbenewens sou feitlik al die noodsaaklike boumateriaal—staal, betonblokke, dakmateriaal, elektriese en loodgietersmateriaal, klanktoerusting en stoele—van Nieu-Seeland gebring moes word met ’n skip wat net een keer elke vyf weke na die eiland toe vaar. Laastens sou die eiland se rotsagtige oppervlakte die bouwerk bemoeilik, en die saal sou so gebou moes word dat dit teen tropiese orkane bestand sal wees. Beslis ’n reusetaak vir enigiemand!

Maar in hierdie geval was daar ’n groot verskil. Vir Jehovah se Getuies is ’n Koninkryksaal die middelpunt van ware aanbidding in hulle omgewing, en hulle vertrou op Jehovah God se leiding en hulp (Psalm 56:12; 127:1). Christenbroers in Nieu-Seeland, onder andere lede van ’n Niueaanse gemeente in Auckland, het die klein groepie Getuies op Niue kom help en sodoende heelhartige steun aan die bouprojek verleen.

Die besluit om voort te gaan

In Junie 1994 is ’n uitnodiging by ’n Koninkryksaalbouterrein in Rotorua, Nieu-Seeland, gerig aan almal wat daarin belanggestel het om met die Niue-projek te help. Verbasend genoeg het 200 Christenbroers en -susters aangebied om te help. Tagtig is gekies, waaronder skrynwerkers, staalwerkers, loodgieters, dakdekkers, pleisteraars, verwers, elektrisiëns, klanktegnici, betonwerkers, messelaars en arbeiders.

Die broers het planne ontwerp en voortgegaan terwyl hulle op Jehovah vertrou het. Een van die twee gemeentelike ouer manne in Niue, ’n plaaslike sakeman, het reëlings begin tref om al die nodige materiale na Niue te verskeep. Daar is oor ’n spesiale lugreis-en-verblyf-tarief onderhandel vir die oorsese werkers, wat aangebied het om vir hulle eie onkoste te betaal, en die datums vir die bouwerk is vasgestel. Hulle was van plan om die projek binne 20 dae te voltooi, van 4 Maart tot 23 Maart 1995, wanneer die Koninkryksaal toegewy sou word.

“Ek het die grootste skok van my lewe gehad toe ek die terrein gesien het”, het die projekleier gesê, wat ’n week voor die tyd van Nieu-Seeland gekom het om dinge gereed te kry. “Die grond is net rots. Dit sal twee weke duur net om die fondasie te grawe.” Maar hy het later erken dat hy die plaaslike Getuies onderskat het. “Die Niueaanse broers kan rotse lees”, het hy gesê. “Hulle weet waar om ’n rots te slaan sodat groot stukke sal afbreek.” Die fondasies is binne twee dae voltooi!

Op 4 Maart het die eerste vliegtuig vol Getuies uit Nieu-Seeland aangekom, en die betonwerk is gedoen. Namate opeenvolgende groepe werkers daar aangekom het, is verskillende fases van die projek voltooi. Werksdae het om 7:00 vm. met ’n kort bespreking van die Bybelteks vir die dag begin. Van die broers het party dae 12 uur lank in temperature van tot 36 grade Celsius gewerk. Op 23 Maart was tot die tuin uiteindelik aangelê. ’n Aantreklike teken wat van ’n mangoboom gemaak is, identifiseer die gebou as die “Koninkryksaal van Jehovah se Getuies”.

’n Gees van samewerking en gasvryheid

’n Belangrike faktor wat tot die sukses van die projek bygedra het, was die samewerking van die mense van Niue. Plaaslike dorpenaars, wat ook deur die gees van die geleentheid aangevuur is, het kos en geld geskenk. Baie het die bou van die saal as hulle projek beskou. Regeringsamptenare en sakemanne het meer gedoen as wat van hulle verwag is. Hulle het die nodige toerusting beskikbaar gestel, asook ’n houtwerkfabriek. Die skeepvaartmaatskappy het selfs hulle skip se roete verander om seker te maak dat die nodige materiale op presies die regte tyd daar sou aankom.

Die besoekers het groot waardering vir die harde werk en gasvryheid van die Niueaanse broers, wat hulle huise en besittings met ander gedeel het. “Die plaaslike susters was wonderlik”, het een konstruksiewerker gesê. Benewens die warm middagetes wat hulle elke dag gekry het, het die susters elke oggend om 6:30 vir hulle ontbyt gereed gehad. Party het om 4:30 vm. opgestaan om die kos voor te berei. Een konstruksiewerker het gesê: “Ek dink ons het hier in Niue beter geleef as in ons eie huise.”

Op 10 Maart het die Niue Star oor die gebeurtenis berig in ’n voorbladartikel met die opskrif “Die eerste Koninkryksaal in Niue”, en dit het ’n foto van Nieu-Seelanders en Niueane gehad wat op die bouterrein werk. Dit het gesê dat die saal 280 vierkante meter groot is en sitplek vir 70 tot 100 mense het. Die artikel het bygevoeg: “Die taak kan eintlik in twee [weke] voltooi word, maar in hierdie geval sal dit verleng word. Op hierdie stadium, slegs twee dae ná die werk begin het, is die fondasie, raamwerk, dakbalke en dak voor die gestelde tyd voltooi.”

’n Plaaslike sakeman het die hoop uitgespreek dat almal op Niue-eiland na die projek sal kom kyk en ’n les daaruit sal leer. Hy het gesê hy hoop dat dit vir almal sal toon wat met liefde en samewerking gedoen kan word.

’n Groep van 204 het die toewyding bygewoon. ’n Spesiale opvoering waarin die Niueaanse broers, susters en kinders deur sang en dans die Koninkryksaalbouwerk uitgebeeld het, was vir die hele gehoor ’n baie roerende ondervinding. Dank is betuig aan die konstruksiespan en aan Jehovah, wie se gees verstande, harte en hande beweeg het om die werk te verrig.—Jesaja 40:28-31.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel