Getuies teen die valse gode
“Júlle is my getuies, spreek die HERE, en my kneg wat Ek uitverkies het.”—JESAJA 43:10.
1. Wie is die ware God, en in watter opsigte is hy verhewe bo die magdom gode wat vandag aanbid word?
WIE is die ware God? Vandag kom die hele mensdom voor hierdie uiters belangrike vraag te staan. Hoewel mense ’n magdom gode aanbid, kan net Een ons die lewe gee en ons ’n gelukkige toekoms bied. Daar kan net van Een gesê word: “Deur hom het ons lewe en beweeg en bestaan ons” (Handelinge 17:28). Ja, net een God het die reg om aanbid te word. Soos die hemelse koor in die boek Openbaring sê: “U is waardig, Jehovah, ja, ons God, om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang, want u het alles geskep, en weens u wil het hulle bestaan en is hulle geskep.”—Openbaring 4:11.
2, 3. (a) Hoe het Satan Jehovah se reg om aanbid te word deur leuens betwis? (b) Wat was die gevolg van Eva se sonde vir Eva en haar kinders, en wat was die gevolg vir Satan?
2 In die tuin van Eden het Satan Jehovah se reg om aanbid te word deur leuens betwis. Deur middel van ’n slang het hy vir Eva gesê dat sy self soos God sou wees as sy teen Jehovah se wet in opstand sou kom en van die boom sou eet wat Jehovah hulle verbied het. Sy woorde was: “God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken” (Genesis 3:5). Eva het die slang geglo en die verbode vrug geëet.
3 Satan het natuurlik ’n leuen vertel (Johannes 8:44). Die enigste manier waarop Eva “soos God” geword het toe sy gesondig het, was dat sy dit op haar geneem het om te besluit wat reg en wat verkeerd is, iets wat sy aan Jehovah moes oorgelaat het. En ondanks Satan se leuen het sy uiteindelik gesterf. Satan was dus die enigste een wat werklik by Eva se sonde baat gevind het. Trouens, toe Satan Eva oorreed het om te sondig, was dit met die onuitgesproke doel om self ’n god te word. Toe Eva gesondig het, het sy sy eerste mensevolgeling geword, en Adam het kort voor lank by haar aangesluit. Die meeste van hulle kinders is nie net “in sonde” gebore nie, maar het ook onder Satan se invloed gekom, en binne ’n kort tydjie het ’n hele wêreld ontstaan wat van die ware God vervreemd was.—Genesis 6:5; Psalm 51:7.
4. (a) Wie is die god van hierdie wêreld? (b) Waaraan is daar ’n dringende behoefte?
4 Daardie wêreld is in die Vloed vernietig (2 Petrus 3:6). Ná die Vloed het ’n tweede wêreld ontwikkel wat van Jehovah vervreemd is, en dit bestaan nou nog. Die Bybel sê daarvan: “Die hele wêreld lê in die mag van die bose” (1 Johannes 5:19). Deur in stryd met die gees en die letter van Jehovah se wet op te tree, bevorder hierdie wêreld Satan se oogmerke. Hy is die god daarvan (2 Korintiërs 4:4). Maar hy is in wese ’n magtelose god. Hy kan mense nie gelukkig maak of hulle die lewe gee nie; net Jehovah kan dit doen. Gevolglik moet mense wat ’n sinvolle lewe en ’n beter wêreld wil hê eers leer dat Jehovah die ware God is en dan leer om sy wil te doen (Psalm 37:18, 27, 28; Prediker 12:13). Daar is dus ’n dringende behoefte aan manne en vroue van geloof om te getuig, of die waarheid bekend te maak, oor Jehovah.
5. Watter “wolk van getuies” het Paulus gemeld? Meld ’n paar van die mense wat hy opgenoem het.
5 Reg van die begin af het sulke getroue persone op die wêreldtoneel verskyn. Die apostel Paulus gee ’n lang lys van hulle in Hebreërs hoofstuk 11 en noem hulle “so ’n groot wolk van getuies” (Hebreërs 12:1). Adam en Eva se tweede seun, Abel, is die eerste een wat deur Paulus genoem word. Henog en Noag word ook uit die tyd voor die Vloed gemeld (Hebreërs 11:4, 5, 7). ’n Vername plek word deur Abraham, die stamvader van die Joodse ras, ingeneem. Abraham, wat “Jehovah se vriend” genoem word, het die voorvader van Jesus, “die getroue en waaragtige getuie”, geword.—Jakobus 2:23; Openbaring 3:14.
Abraham getuig van die waarheid
6, 7. Hoe het Abraham se lewe en dade getuig dat Jehovah die ware God is?
6 Hoe het Abraham as ’n getuie gedien? Deur sy sterk geloof in en lojale gehoorsaamheid aan Jehovah. Toe Abraham beveel is om die stad Ur te verlaat en die res van sy lewe in ’n ver land te gaan woon, was hy gehoorsaam (Genesis 15:7; Handelinge 7:2-4). Swerwende stamlede sal dikwels hulle swerwerslewe agterlaat en die bestendiger stadslewe verkies. Toe Abraham dus die stad verlaat het om in tente te gaan woon, het hy kragtige bewys van sy vertroue op Jehovah God gelewer. Sy gehoorsaamheid was vir waarnemers ’n getuienis. Jehovah het Abraham ryklik vir sy geloof geseën. Hoewel Abraham in tente gewoon het, het hy materiële voorspoed geniet. Toe Lot en sy gesin as gevangenes weggevoer is, het Jehovah Abraham welslae met sy agtervolging laat behaal, sodat hy hulle gered het. Abraham se vrou het op gevorderde leeftyd aan ’n seun geboorte gegee, en Jehovah se belofte dat Abraham ’n saad sou verwek, is sodoende bevestig. Mense het deur middel van Abraham gesien dat Jehovah ’n lewende God is wat sy beloftes vervul.—Genesis 12:1-3; 14:14-16; 21:1-7.
7 By Abraham se terugkeer nadat hy Lot gered het, is hy deur Melgisedek, die koning van Salem (wat later Jerusalem genoem is), tegemoetgekom, wat Abraham verwelkom het met die woorde: “Geseënd is Abram van die Allerhoogste God” (NW). Die koning van Sodom het hom ook tegemoetgekom en wou hom geskenke gee. Abraham het dit geweier. Waarom? Hy wou nie hê dat daar enige twyfel moes bestaan oor wie die Bron van sy seëninge was nie. Hy het gesê: “Ek hef my hand op tot die HERE, God, die Allerhoogste, die Skepper van hemel en aarde, dat ek geen draad en geen skoenriem, ja, dat ek niks sal neem van alles wat uwe is nie, sodat u nie kan sê nie: Ek het Abram ryk gemaak” (Genesis 14:17-24). Wat ’n voortreflike getuie was Abraham tog nie!
’n Nasie van getuies
8. Hoe het Moses groot geloof in Jehovah getoon?
8 Moses, ’n nakomeling van Abraham, verskyn ook op Paulus se lys van getuies. Moses het die rykdom van Egipte die rug toegekeer en later met vrymoedigheid voor die heerser van daardie groot wêreldmoondheid verskyn om die kinders van Israel na vryheid te lei. Waar het hy die moed gekry? Uit sy geloof. Paulus sê: “[Moses] het standvastig gebly asof hy die Onsigbare sien” (Hebreërs 11:27). Die gode van Egipte was sigbaar, tasbaar. Vandag nog beïndruk hulle beelde mense. Maar hoewel Jehovah onsigbaar is, was hy vir Moses baie werkliker as al daardie valse gode. Moses was seker dat Jehovah bestaan en dat hy Sy aanbidders sou beloon (Hebreërs 11:6). Moses het ’n uitmuntende getuie geword.
9. Hoe moes die nasie Israel Jehovah dien?
9 Nadat Moses die Israeliete na vryheid gelei het, het hy die middelaar geword van ’n verbond tussen Jehovah en die nakomelinge van Abraham deur Jakob. Gevolglik het die nasie Israel as Jehovah se spesiale besitting tot stand gekom (Exodus 19:5, 6, vgl. NW). Vir die eerste keer sou ’n nasionale getuienis gegee word. Jehovah se woorde deur Jesaja, sowat 800 jaar later, het sedert die begin van die nasie se ontstaan in beginsel gegeld: “Júlle is my getuies, spreek die HERE, en my kneg wat Ek uitverkies het, sodat julle kan weet en My kan glo en insien dat dit Ek is” (Jesaja 43:10). Hoe sou hierdie nuwe nasie as Jehovah se getuies dien? Deur hulle geloof en gehoorsaamheid en deur Jehovah se dade ten behoewe van hulle.
10. Hoe het Jehovah se kragtige werke ten behoewe van Israel ’n getuienis gegee, en wat was die gevolg?
10 Sowat 40 jaar ná sy ontstaan het Israel op die punt gestaan om die Beloofde Land in besit te neem. Verkenners het die stad Jerigo gaan bespied, en Ragab, ’n inwoner van Jerigo, het hulle beskerm. Waarom? Sy het gesê: “Ons het gehoor dat die HERE die water van die Skelfsee voor julle by jul uittog uit Egipte laat opdroog het en wat julle die twee konings van die Amoriete, Sihon en Og, oorkant die Jordaan aangedoen het, dat julle hulle met die banvloek getref het. Toe ons dit hoor, het ons hart gesmelt, sodat daar by niemand enige moed meer oorgebly het teenoor julle nie; want die HERE julle God, Hy is God in die hemel daarbo en op die aarde hieronder” (Josua 2:10, 11). Die verslag van Jehovah se kragtige werke het Ragab en haar familie beweeg om Jerigo en sy valse gode te verlaat en om Jehovah saam met Israel te aanbid. Dit is duidelik dat Jehovah ’n kragtige getuienis deur middel van Israel gegee het.—Josua 6:25.
11. Watter verantwoordelikheid het alle Israelitiese ouers gehad om te getuig?
11 Terwyl die Israeliete nog in Egipte was, het Jehovah Moses na Farao toe gestuur en gesê: “Gaan na Farao toe, want Ék het sy hart verhard, ook die hart van sy dienaars, sodat Ek hierdie tekens van My onder hulle kan verrig, en dat jy voor die ore van jou kind en jou kindskind kan vertel wat Ek Egipte aangedoen het, en my tekens wat Ek onder hulle gedoen het, dat julle kan weet dat Ek die HERE is” (Exodus 10:1, 2). Gehoorsame Israeliete sou hulle kinders van Jehovah se magtige dade vertel. Hulle kinders sou op hulle beurt vir húlle kinders daarvan vertel, en so sou dit van geslag tot geslag gedoen word. Sodoende sou Jehovah se kragtige dade onthou word. Ouers het vandag eweneens die verantwoordelikheid om vir hulle kinders te getuig.—Deuteronomium 6:4-7; Spreuke 22:6.
12. Hoe het Jehovah se seën op Salomo en Israel as ’n getuienis gedien?
12 Jehovah se ryk seën op Israel wanneer hulle getrou was, het vir die nasies om hulle as ’n getuienis gedien. Soos Moses gesê het nadat hy hulle van Jehovah se beloofde seëninge vertel het: “Al die volke van die aarde sal sien dat die Naam van die HERE oor jou uitgeroep is, en hulle sal vir jou vrees” (Deuteronomium 28:10). Salomo het weens sy geloof wysheid en rykdom ontvang. Onder sy heerskappy het die nasie voorspoed en ’n lang tydperk van vrede geniet. Ons lees aangaande daardie tyd: “Van al die volke het hulle gekom om na die wysheid van Salomo te luister, van al die konings van die aarde wat van sy wysheid gehoor het” (1 Konings 4:25, 29, 30, 34). Prominent onder Salomo se besoekers was die koningin van Skeba. Nadat sy self gesien het hoe Jehovah die nasie en sy koning geseën het, het sy gesê: “Geloofd sy die HERE u God wat behae in u gehad het om u op sy troon as koning vir die HERE u God te laat sit! Omdat u God Israel liefhet.”—2 Kronieke 9:8.
13. Wat was moontlik Israel se doeltreffendste getuienis, en hoe vind ons nou nog daarby baat?
13 Die apostel Paulus het gepraat van wat miskien Israel se doeltreffendste getuienis was. Toe hy vleeslike Israel met die Christengemeente in Rome bespreek het, het hy gesê: “Die heilige verklarings van God [is] aan hulle toevertrou” (Romeine 3:1, 2). Moses was die eerste van sekere getroue Israeliete wat geïnspireer is om Jehovah se handelinge met Israel, sowel as sy raad, sy wette en sy profesieë, op skrif te stel. Deur hierdie geskrifte het daardie eertydse skrywers vir alle toekomstige geslagte—met inbegrip van ons hedendaagse geslag—getuig dat daar net een God is, en dat sy naam Jehovah is.—Daniël 12:9; 1 Petrus 1:10-12.
14. Waarom het party wat vir Jehovah getuig het vervolging verduur?
14 Ongelukkig het Israel dikwels versuim om geloof te beoefen, en dan moes Jehovah getuies na sy eie nasie toe stuur. Baie van hulle is vervolg. Paulus het gesê dat party “hulle beproewing deur bespottinge en geselinge gekry [het], trouens, meer as dit, deur boeie en gevangenisse” (Hebreërs 11:36). Inderdaad getroue getuies! Hoe jammer tog dat hulle vervolging dikwels van ander lede van Jehovah se uitverkore nasie gekom het! (Matteus 23:31, 37). Trouens, die nasie se sonde het so groot geword dat Jehovah die Babiloniërs in 607 v.G.J. ingebring het om Jerusalem met sy tempel te vernietig en die meeste van die oorblywende Israeliete in ballingskap weg te voer (Jeremia 20:4; 21:10). Was dit die einde van die nasionale getuienis vir Jehovah se naam? Nee.
’n Verhoor van gode
15. Hoe is ’n getuienis selfs in Babiloniese ballingskap gegee?
15 Selfs in Babiloniese ballingskap het getroue lede van die nasie nie geskroom om van Jehovah se Godheid en krag te getuig nie. Daniël het byvoorbeeld met vrymoedigheid Nebukadnesar se drome uitgelê, die uitleg van die skrif aan die muur aan Belsasar bekend gemaak en geweier om voor Darius ’n kompromis ten opsigte van gebed aan te gaan. Die drie Hebreërs het ook vir Nebukadnesar ’n uitstekende getuienis gegee toe hulle geweier het om voor ’n beeld te buig.—Daniël 3:13-18; 5:13-29; 6:5-28.
16. Hoe het Jehovah die terugkeer van Israel na hulle land voorspel, en wat sou die doel van hierdie terugkeer wees?
16 Dit was nietemin Jehovah se voorneme dat ’n nasionale getuienis weer in die grondgebied van Israel gegee sou word. Esegiël, wat onder die Jode in Babiloniese ballingskap geprofeteer het, het oor Jehovah se vasbeslotenheid met betrekking tot die verwoeste land geskryf: “Ek sal mense op julle vermenigvuldig, die hele huis van Israel, almal saam; en die stede sal bewoon en die puinhope opgebou word” (Esegiël 36:10). Waarom sou Jehovah dit doen? Hoofsaaklik as ’n getuienis vir sy eie naam. Hy het deur Esegiël gesê: “Ek doen dit nie om julle ontwil nie, o huis van Israel, maar ter wille van my heilige Naam wat julle ontheilig het onder die nasies.”—Esegiël 36:22; Jeremia 50:28.
17. Wat is die konteks van die woorde in Jesaja 43:10?
17 Dit was toe die profeet Jesaja Israel se terugkeer uit Babiloniese ballingskap voorspel het dat hy geïnspireer is om die woorde van Jesaja 43:10 neer te skryf, wat sê dat Israel Jehovah se getuie, sy kneg, was. In Jesaja 43 en 44 word Jehovah as Israel se Skepper, Formeerder, God, Heilige, Heiland, Losser, Koning en Maker beskryf (Jesaja 43:3, 14, 15; 44:2). Israel se ballingskap is toegelaat omdat die nasie herhaaldelik versuim het om hom as sodanig te verheerlik. Maar hulle was nog sy volk. Jehovah het vir hulle gesê: “Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne!” (Jesaja 43:1). Israel se ballingskap in Babilon sou tot ’n einde kom.
18. Hoe het Israel se bevryding uit Babilon bewys dat Jehovah die enigste ware God is?
18 Jehovah het in werklikheid van die bevryding van Israel uit Babilon ’n verhoor van gode gemaak. Hy het die valse gode van die nasies uitgedaag om hulle getuies te bring, en hy het Israel as sy getuie aangewys (Jesaja 43:9, 12). Toe hy Israel uit ballingskap bevry het, het hy bewys dat die gode van Babilon glad nie gode was nie en dat hy die enigste ware God is (Jesaja 43:14, 15, NW). Toe hy Kores die Pers sowat 200 jaar voor die gebeurtenis aangewys het as sy kneg wat die Jode sou bevry, het hy verdere bewys van sy Godheid gelewer (Jesaja 44:28). Israel sou bevry word. Waarom? Jehovah verduidelik: “Dat hulle [Israel] my lof moet verkondig” (Jesaja 43:21, NW). Dit sou verdere geleentheid vir ’n getuienis bied.
19. Watter getuienis is gegee deur die feit dat Kores die Israeliete die geleentheid gebied het om na Jerusalem terug te keer en deur die dade van getroue Jode ná daardie terugkeer?
19 Toe die tyd aangebreek het, het Kores die Pers Babilon verower net soos daar voorspel is. Hoewel Kores ’n heiden was, het hy Jehovah se Godheid bekend gemaak toe hy vir die Jode in Babilon gesê het: “Enigeen onder julle wat aan sy volk behoort—mag sy God met hom wees, en laat hom optrek na Jerusalem wat in Juda is, en die huis van die HERE, die God van Israel, bou! Hy is die God wat in Jerusalem is” (Esra 1:3). Baie Jode het hieraan gehoor gegee. Hulle het die terugreis na die Beloofde Land onderneem en ’n altaar op die eertydse tempelterrein opgerig. Ondanks ontmoediging en hewige teenkanting het hulle uiteindelik daarin geslaag om die tempel en die stad Jerusalem te herbou. Dit alles het plaasgevind, soos Jehovah self gesê het, “nie deur krag of deur geweld nie, maar deur [sy] Gees” (Sagaria 4:6). Hierdie prestasies het verdere bewys gelewer dat Jehovah die ware God is.
20. Wat kan ondanks Israel se tekortkominge gesê word oor hoe hulle in die eertydse wêreld van Jehovah se naam getuig het?
20 Jehovah het dus aangehou om Israel as sy getuie te gebruik, al was hulle ’n nasie van onvolmaakte en soms opstandige mense. In die voor-Christelike wêreld het daardie nasie, met sy tempel en priesterdom, die wêreldsentrum van ware aanbidding verteenwoordig. Niemand wat in die Hebreeuse Geskrifte van Jehovah se dade met betrekking tot Israel lees, kan hoegenaamd daaraan twyfel dat daar net een ware God is nie, en sy naam is Jehovah (Deuteronomium 6:4, NW; Sagaria 14:9). Maar ’n baie groter getuienis moes vir Jehovah se naam gegee word, en ons sal dit in die volgende artikel bespreek.
Onthou jy?
◻ Hoe het Abraham getuig dat Jehovah die ware God is?
◻ Watter uitsonderlike eienskap van Moses het hom in staat gestel om ’n getroue getuie te wees?
◻ Hoe het Israel ’n nasionale getuienis oor Jehovah gegee?
◻ Hoe het Israel se bevryding uit Babilon bewys dat Jehovah die enigste ware God is?
[Prent op bladsy 10]
Deur sy geloof en gehoorsaamheid het Abraham ’n uitmuntende getuienis vir Jehovah se Godheid gegee