Koninkryksverkondigers berig
‘Hulle het sonder ophou voortgegaan’
SEDERT die dae van Jesus Christus en sy apostels het godsdiensleiers niks ontsien in hulle pogings om die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk te verhinder nie. Die plaaslike owerheid in Jerusalem het die apostels herhaaldelik en uitdruklik “beveel” om “op te hou om in Jesus se naam te spreek” (Handelinge 5:27, 28, 40). Die Bybelverslag sê nietemin: “Die woord van God [het] aangehou groei, en die aantal dissipels het in Jerusalem geweldig bly toeneem.”—Handelinge 6:7.
Twee millenniums later vind ons steeds godsdiensleiers in Israel wat die plaaslike owerhede beïnvloed om die werk van ware Christene in daardie land te verhinder. As gevolg van druk wat deur ekstremistiese godsdienselemente uitgeoefen is, het die plaaslike owerheid in Tel Aviv, Israel, die Getuies in November 1987 beveel om op te hou om Christelike vergaderinge in die Koninkryksaal in die Wagtoringgenootskap se takkantoor te hou. Die bevel het in Oktober 1989 in werking getree. Gehoorsaam hieraan het die Getuies drie jaar lank in gehuurde fasiliteite daar naby bymekaargekom terwyl hulle Koninkryksaal feitlik onbenut gestaan het.
Die saak is intussen onder die aandag van Israel se Hooggeregshof gebring. Die kantoor van die staatsprokureur het die betoog wat deur die Getuies voorgelê is, hersien en het verklaar dat daar geen moontlike verweer teen hulle appèl is nie, op grond van die flagrante godsdiensvooroordeel wat by die bevel betrokke was. Die plaaslike owerheid kon gevolglik nie anders as om hulle besluit in te trek nie, en Jehovah se Getuies het verheug na hulle Koninkryksaal teruggekeer.
Het die werk om Bybelwaarhede te verkondig gedurende daardie jare ’n terugslag gekry? Beslis nie! Ten tye van die sluiting van die Koninkryksaal was daar twee gemeentes in Tel Aviv en ’n afgesonderde Bybelstudiegroep in die nabygeleë dorp Lydda. Drie jaar later, toe die Koninkryksaal heropen is, het Jehovah se Getuies tot vier gemeentes vermeerder en ’n nuwe Bybelstudiegroep het in Berseba vergader.
Die vermeerdering in Israel is nie net tot die hooftaalgroepe, Arabies en Hebreeus, beperk nie. Daar was ’n groot toestroming van emigrante uit die voormalige Sowjetunie en gevolglik is Russiessprekende Getuies van Jehovah nou besig om die goeie nuus aan hulle te verkondig. In drie gemeentes word ’n paar vergaderinge nou in Russies gehou; meer as honderd mense het onlangs vir ’n Russiese byeenkoms vergader.
Daar bestaan geen twyfel dat bevooroordeelde geestelikes met hulle veldtog teen ware aanbidding sal voortgaan nie. Maar Koninkryksverkondigers hou aan om die eerste-eeuse Christene na te volg wat, ten spyte van teenstand, “sonder ophou voortgegaan [het] om te leer en die goeie nuus oor die Christus, Jesus, bekend te maak”.—Handelinge 5:42.