Saam in ’n herstelde “land”
“Julle sal priesters van die HERE genoem word; aan julle sal gesê word: Dienaars van onse God!”—JESAJA 61:6.
1, 2. (a) Wat was die situasie van proseliete in Israel? (b) Watter gesindheid het lede van die “groot skare” in hedendaagse tye aan die dag gelê?
IN DIE ou tyd het Israel, wanneer hulle getrou was, van Jehovah se heerlikheid op die wêreldtoneel getuig (Jesaja 41:8, 9; 43:10). Baie uitlanders het gunstig gereageer en Jehovah saam met Sy uitverkore volk kom aanbid. Hulle het as ’t ware vir Israel gesê wat Rut vir Naomi gesê het: “U volk is my volk, en u God is my God” (Rut 1:16). Hulle het hulle aan die bepalings van die Wetsverbond onderwerp deurdat die mans hulle laat besny het (Exodus 12:43-48). Party van die vroue het met Israeliete getrou. Ragab van Jerigo en Rut die Moabitiese vrou het voorouers van Jesus Christus geword (Matteus 1:5). Sulke proseliete het deel uitgemaak van die vergadering van Israel.—Deuteronomium 23:7, 8.
2 Soos proseliete in Israel, het die hedendaagse “groot skare” vir die gesalfde oorblyfsel gesê: “Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is” (Openbaring 7:9; Sagaria 8:23). Hulle erken dat hierdie gesalfde Christene Jehovah se “getroue en verstandige slaaf” is en werk só nou met hulle saam dat die gesalfdes en die “ander skape” “een kudde onder een herder” is (Matteus 24:45-47; Johannes 10:16). Wat sal met die groot skare gebeur wanneer al hulle gesalfde broers hulle hemelse beloning ontvang? Hulle hoef nie te vrees nie. Jehovah het regdeur hierdie “laaste dae” vir daardie tyd voorberei.—2 Timoteus 3:1.
’n Geestelike “land”
3. Wat is die “nuwe hemele” wat deur Petrus voorspel is, en wanneer is dit opgerig?
3 Die hemelse bestuursreëling waarin die 144 000 gesalfde Christene ’n rol sal speel, is deur die apostel Petrus voorspel. Hy het gesê: “Daar is nuwe hemele en ’n nuwe aarde wat ons volgens sy belofte verwag, en in hulle sal regverdigheid woon” (2 Petrus 3:13). Hierdie “nuwe hemele” is in 1914 opgerig toe Christus in die hemelse Koninkryk as Koning op die troon geplaas is. Maar wat van die “nuwe aarde”?
4. (a) Watter onverwagse gebeurtenis het in 1919 plaasgevind? (b) Wat was die ‘nasie wat met een slag gebaar is’, en wat was die ‘land wat gebore is’?
4 In 1919 het Jehovah die gesalfde oorblyfsel uit slawerny aan Babilon die Grote verlos (Openbaring 18:4). Hierdie dramatiese gebeurtenis was vir die leiers van die Christendom heeltemal onverwags. Die Bybel sê daaromtrent: “Wie het so iets gehoor? Wie het sulke dinge gesien? Word ’n land op een enkele dag gebore? Of word ’n nasie met een slag gebaar?” (Jesaja 66:8). Toe die gesalfde gemeente skielik as ’n bevryde volk voor die nasies verskyn het, was dit inderdaad ’n nasie wat “met een slag gebaar” is. Maar wat was die “land”? ’n Mens kan maar sê dat dit in ’n geestelike sin met die land van eertydse Israel ooreengekom het. Dit was die gebied van bedrywigheid wat aan die pasgebore “nasie” gegee is, ’n plek waar die Paradysprofesieë van die boek Jesaja ’n hedendaagse, geestelike vervulling het. (Jesaja 32:16-20; 35:1-7; vergelyk Hebreërs 12:12-14.) Waar ’n Christen ook al fisies mag wees, hy is in daardie “land”.
5. Watter kern het in 1919 tot stand gekom? Verduidelik.
5 Wat het dit te doen gehad met die “nuwe aarde” wat Petrus voorspel het? Wel, daardie nuwe “nasie”, wat in 1919 in ’n herstelde “land” gebore is, sou tot ’n wêreldwye organisasie ontwikkel wat uit gesalfde en niegesalfde lowers van Jehovah sou bestaan. Hierdie organisasie sal deur Armageddon tot in God se nuwe wêreld behoue bly. In dié opsig kan daardie nasie beskou word as die kern van die regverdige mensegemeenskap, die nuwe aarde, wat ná die vernietiging van Satan se wêreld sal bestaan.a Teen die middel-dertigerjare was die gesalfdes, as ’n groep, in die herstelde land versamel. Sedertdien word daar klem gelê op die insameling van die groot skare ander skape, wat vandag bykans vyfmiljoen tel (Openbaring 14:15, 16). Is die “land” oorbevolk? Nee, sy grense kan so wyd uitgebrei word as wat nodig is (Jesaja 26:15). Dit is inderdaad opwindend om sy bevolking te sien toeneem terwyl die gesalfde oorblyfsel die “land” vol “vrugte”—heilsame, verkwikkende geestelike voedsel—maak (Jesaja 27:6). Maar wat is die posisie van hierdie ander skape in die herstelde “land” van God se volk?
Uitlanders is in die “land” bedrywig
6. Hoe is uitlanders bedrywig in die “land” van God se volk?
6 Net soos proseliete in die land Israel hulle aan die Mosaïese Wet onderwerp het, gehoorsaam die hedendaagse groot skare in die herstelde “land” Jehovah se gebooie. Aangesien hulle deur hulle gesalfde broers onderrig word, vermy hulle alle vorme van valse aanbidding en respekteer hulle die heiligheid van bloed (Handelinge 15:19, 20; Galasiërs 5:19, 20; Kolossense 3:5). Hulle het Jehovah met hulle hele hart, verstand, siel en krag lief en hulle naaste soos hulleself (Matteus 22:37; Jakobus 2:8). In eertydse Israel het proseliete met die bou van Salomo se tempel gehelp en die herstel van ware aanbidding ondersteun (1 Kronieke 22:2; 2 Kronieke 15:8-14; 30:25). Vandag het die groot skare ook ’n aandeel aan bouprojekte. Hulle help byvoorbeeld om gemeentes en kringe op te bou, om nie eers te praat van die letterlike bouprojekte, soos Koninkryksale, Byeenkomssale en takfasiliteite, wat hulle aanpak nie.
7. Wat het ná die ballingskap in Jerusalem gebeur toe daar nie genoeg Leviete was om die tempeldienste te verrig nie?
7 In 537 v.G.J., toe Israel uit ballingskap in Babilon teruggekeer het, het hulle die diens op die tempelterrein begin organiseer. Maar daar was nie baie Leviete wat teruggekeer het nie. Daarom het die Netinim—besnede vreemdelinge wat die Leviete vroeër bygestaan het—groter voorregte in die tempeldiens ontvang. Hulle was egter nie die gesalfde Aäronitiese priesters se gelykes nie.b—Esra 7:24; 8:15-20; Nehemia 3:22-26.
8, 9. Hoe het die ander skape gedurende hierdie laaste dae ’n al hoe groter deel van die werk om heilige diens te verrig op hulle geneem?
8 Gesalfde Christene volg vandag hierdie voorbeeld. Namate “die tyd van die einde” vorder, word die oorblywende gesalfdes al hoe minder in die “land” van God se volk (Daniël 12:9; Openbaring 12:17). Gevolglik doen die groot skare nou die grootste deel van die werk om “heilige diens” te verrig (Openbaring 7:15). Hulle volg die leiding van hulle gesalfde broers en ‘bring aan God ’n lofofferande, dit wil sê die vrug van die lippe wat sy naam in die openbaar bekend maak’. Hulle ‘vergeet nie om goed te doen en mededeelsaam te wees nie’ omdat hulle weet dat ‘sulke offerandes vir God welbehaaglik is’.—Hebreërs 13:15, 16.
9 Bowendien is daar, met die groot skare wat elke jaar met honderdduisende toeneem, ’n immertoenemende behoefte aan opsieners. Vroeër is hierdie werk uitsluitlik deur gesalfde Christene gedoen. Dit het nou nodig geword om toesig oor die meeste gemeentes, sowel as kringe, streke en takkantore, aan die ander skape toe te vertrou. In 1992 het ’n paar van hulle die voorreg gekry om vergaderinge van die Bestuursliggaam se komitees by te woon en as helpers te dien wat nie by die finale besluitneming betrokke is nie. Die ander skape bly nietemin lojaal aan hulle gesalfde mede-Christene en beskou dit as ’n voorreg om hulle as Jehovah se getroue en verstandige slaaf te ondersteun.—Matteus 25:34-40.
“Soos ’n sjeik”
10, 11. Hoe het party gewese vyande van God se volk, in navolging van die voorbeeld van party Filistyne, tot inkeer gekom? Wat was die gevolg?
10 Die wyse waarop die getroue en verstandige slaaf ander skape in verantwoordelike posisies gebruik, is in Sagaria 9:6, 7 voorspel. Daar lees ons: “Ek [sal] dan aan die trotsheid van die Filistyn ’n einde maak—en Ek sal die bloed uit sy mond verwyder en sy verfoeisels tussen sy tande uit; so sal hy dan ook vir onse God oorbly en wees soos ’n stamhoof [sjeik, NW] in Juda, en Ekron soos ’n Jebusiet.”c Die Filistyne was geswore vyande van Jehovah se volk, soos Satan se wêreld vandag is (1 Johannes 5:19). Net soos die Filistyne uiteindelik as ’n volk uitgewis is, sal hierdie wêreld, met sy godsdiens-, politieke en handelselemente, binnekort Jehovah se vernietigende woede ondervind.—Openbaring 18:21; 19:19-21.
11 Maar volgens Sagaria se woorde het party Filistyne tot inkeer gekom, en dit het voorafgeskadu dat party wêreldlinge vandag nie vyande van Jehovah sou bly nie. Hulle sou nie meer afgodediens beoefen met sy verfoeilike ritusse en weersinwekkende offerandes nie en sou in Jehovah se oë gereinig word. In ons tyd word daar sulke hervormde “Filistyne” onder die groot skare aangetref.
12. Hoe word “Ekron” in hedendaagse tye “soos ’n Jebusiet”?
12 Volgens die profesie sou die vernaamste Filistynse stad Ekron “soos ’n Jebusiet” word. Die Jebusiete was vroeër ook vyande van Israel. Jerusalem het aan hulle behoort tot Dawid dit verower het. Maar party van dié wat die oorloë met Israel oorleef het, het klaarblyklik proseliete geword. Hulle het as slawe in die land Israel gedien en het selfs die voorreg gehad om met die bou van die tempel te help (2 Samuel 5:4-9; 2 Kronieke 8:1-18). Vandag geniet “Ekroniete” wat hulle tot die aanbidding van Jehovah wend ook diensvoorregte in die “land” onder die toesig van die getroue en verstandige slaaf.
13. Wat was sjeiks in die destydse wêreld?
13 Sagaria sê dat die Filistyn soos ’n sjeik in Juda sal wees. Die Hebreeuse woord ʼal·loefʹ beteken, wanneer dit met “sjeik” vertaal word, “owerste oor duisend” (of “chiliarg”). Dit was ’n baie hoë posisie. Die eertydse nasie van Edom het klaarblyklik net 13 sjeiks gehad (Genesis 36:15-19). Die woord “sjeik” word nie dikwels met verwysing na Israel gebruik nie, maar die uitdrukking “hoof van (of owerste oor) duisend” kom herhaaldelik voor. Toe Moses verteenwoordigers van die nasie Israel opgeroep het, het hy “die hoofde van die duisende van Israel” (NW) laat roep.d Daar was 12 van hulle wat klaarblyklik net aan Moses ondergeskik was (Numeri 1:4-16). In die organisasie van die leër was owerstes oor duisend eweneens net aan die generaal of die koning ondergeskik.—2 Samuel 18:1, 2; 2 Kronieke 25:5.
14. Hoe word die “Filistyn” vandag ’n sjeik?
14 Sagaria het nie voorspel dat die berouvolle Filistyn werklik ’n sjeik in Israel sou wees nie. Dit sou nie reg gewees het nie, aangesien hy nie ’n gebore Israeliet was nie. Maar hy sou soos ’n sjeik wees deurdat hy ’n gesagsposisie sou beklee wat met dié van ’n sjeik vergelyk kon word. En dit wás ook die geval. Namate die oorblyfsel gesalfde Christene minder word en baie van dié wat bly lewe deur ouderdom beperk word, help goed opgeleide ander skape as ’t ware waar hulle nodig is. Hulle wil nie hulle gesalfde broers vervang nie. Maar die getroue en verstandige slaaf gee hulle die nodige gesag in die “land” sodat God se organisasie voortdurend op ’n georganiseerde wyse vooruitgang kan maak. So ’n progressiewe proses is ook in ’n ander profesie te sien.
Priesters en landbouers
15. (a) Wie is in die vervulling van Jesaja 61:5, 6 die “priesters van die HERE”, en wanneer dien hulle in ’n volledige sin in hierdie hoedanigheid? (b) Wie is die “vreemdelinge” wat Israel se landboukundige werk doen, en wat behels hierdie werk in ’n geestelike sin?
15 Jesaja 61:5, 6 sê: “Die vreemdelinge sal staan en julle kleinvee oppas, en uitlanders sal julle landbouers en wynboere wees. Maar júlle sal priesters van die HERE genoem word; aan julle sal gesê word: Dienaars van onse God! Julle sal die rykdom van die nasies eet en op hulle heerlikheid julle beroem.” Vandag is die “priesters van die HERE” gesalfde Christene. Hulle sal in ’n finale en volledige sin “priesters van die HERE . . . , dienaars van onse God” wees in die hemelse Koninkryk (Openbaring 4:9-11). Wie is die “vreemdelinge” wat vir die landboukundige werk verantwoordelik is? Dit is die ander skape, wat in die “land” van die Israel van God woon. Wat is die werk wat aan hulle as herders, landbouers en wynboere toevertrou word? In die belangrike geestelike sin behels hierdie werk dat mense gehelp, gevoed en geoes word.—Jesaja 5:7; Matteus 9:37, 38; 1 Korintiërs 3:9; 1 Petrus 5:2.
16. Wie sal uiteindelik al die werk in die “land” van God se volk doen?
16 Tans is daar min geestelike Israeliete op die aarde oor wat as geestelike herders, landbouers en wynboere ’n aandeel aan hierdie werk het. Wanneer die gesalfde gemeente in sy geheel uiteindelik met Christus verenig is, sal al hierdie werk aan die ander skape oorgelaat word. Selfs die menslike toesig oor die “land” sal dan in die hande van bekwame ander skape wees, wat in die boek Esegiël as ’n vorsteklas beskryf word.—Esegiël, hoofstukke 45, 46.e
Die “land” bly bestaan
17. Watter voorbereidsels het Jehovah regdeur hierdie laaste dae getref?
17 Ja, die groot skare hoef nie te vrees nie! Jehovah het oorvloedige voorbereidsels vir hulle getref. ’n Uiters belangrike ontwikkeling op die aarde gedurende hierdie laaste dae is die insameling en verseëling van gesalfdes (Openbaring 7:3). Terwyl Jehovah toesien dat dit gedoen word, bring hy die ander skape saam met hulle in ’n herstelde geestelike land in. Hulle word daar geestelik gevoed en geleer hoe ’n Christen moet lewe. Verder word hulle goed onderrig in heilige diens, wat toesig insluit. Hiervoor is hulle Jehovah en hulle gesalfde broers baie dankbaar.
18. Deur watter gebeure heen sal die ander skape lojaal in die “land” van geestelike Israel bly?
18 Wanneer Gog van Magog sy finale aanslag op God se volk maak, sal ander skape saam met die gesalfde oorblyfsel vasstaan in “die land wat ooplê”. Daar sal steeds ander skape in daardie “land” wees wanneer hulle die vernietiging van die nasies oorleef en in God se nuwe wêreld ingaan (Esegiël 38:11; 39:12, 13; Daniël 12:1; Openbaring 7:9, 14). As hulle getrou bly, sal hulle daardie genotvolle plek nooit hoef te verlaat nie.—Jesaja 11:9.
19, 20. (a) Watter wonderlike toesig sal bewoners van die “land” in die nuwe wêreld geniet? (b) Waarna sien ons met groot afwagting uit?
19 Eertydse Israel is deur mensekonings geregeer en het Levitiese priesters gehad. In die nuwe wêreld sal Christene baie wonderliker toesig hê. Onder Jehovah God sal hulle aan die groot Hoëpriester en Koning, Jesus Christus, en aan die 144 000 medepriesters en -konings onderhorig wees—met inbegrip van party wat hulle vroeër as hulle Christenbroers en -susters op die aarde geken het (Openbaring 21:1). Getroue bewoners van die geestelike land sal op ’n aarde woon wat tot ’n letterlike paradys herstel is en sal hulle verlustig in die genesende seëninge wat deur die Nuwe Jerusalem uitgestort sal word.—Jesaja 32:1; Openbaring 21:2; 22:1, 2.
20 Terwyl Jehovah se luisterryke hemelse strydwa onkeerbaar vorentoe beweeg om sy voornemens te verwesenlik, sien ons almal met groot afwagting daarna uit om ons toegewese rol te vervul (Esegiël 1:1-28). Dink net met watter vreugde Jehovah se triomfantlike heiliging gevier sal word wanneer daardie voornemens uiteindelik verwesenlik is! Die wonderlike loflied wat in Openbaring 5:13 opgeteken is, sal dan deur die hele skepping gesing word: “Aan die Een wat op die troon sit en aan die Lam sy die seën en die eer en die heerlikheid en die mag vir ewig en altyd”! Het ons nie, hetsy ons plek in die hemel of op die aarde is, ’n brandende begeerte om daar te wees en daardie pragtige loflied saam te sing nie?
[Voetnote]
a Sien “New Heavens and a New Earth”, wat in 1953 deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., uitgegee is, bladsye 322-3.
b Vir ’n volledige bespreking, sien die artikel “Jehovah se voorsiening, die ‘gegewenes’” in Die Wagtoring van 15 April 1992.
c Sien Paradise Restored to Mankind—By Theocracy!, wat in 1972 deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., uitgegee is, bladsye 264-9.
d Hebreeus: raʼ·sjêʹ ʼal·fêʹ Jis·ra·ʼelʹ, wat in die Septuagint met khi·liʹar·khoi Is·ra·elʹ “chiliargs van Israel” vertaal is.
e Sien “Die nasies sal weet dat ek Jehovah is”—Hoe?, wat in 1971 deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., uitgegee is, bladsye 391-7.
Hoe antwoord jy?
◻ Watter “land” is in 1919 herstel, en hoe is dit vol bewoners gemaak?
◻ Hoe het ander skape meer verantwoordelikhede in die “land” van God se herstelde volk ontvang?
◻ Hoe is lede van die groot skare “soos ’n Jebusiet”? “soos ’n sjeik in Juda”?
◻ Hoe lank sal getroue ander skape in die “land” bly?
[Prent op bladsy 23]
Die hedendaagse Filistyn sal “soos ’n sjeik in Juda” wees
[Prente op bladsy 24]
Die gesalfdes en die ander skape dien saam in die geestelike land