“Wat is waarheid?”
DIE twee mans wat teenoor mekaar gestaan het, kon nouliks meer van mekaar verskil het. Die een was ’n politikus wat sinies, ambisieus en ryk was, gereed om enigiets te doen wat sy loopbaan sou bevorder. Die ander was ’n onderrigter wat rykdom en aansien verwerp het en bereid was om sy lewe op te offer om ander se lewens te red. Dit is onnodig om te sê dat hierdie twee mans nie langs dieselfde vuur gesit het nie! Oor een besondere onderwerp het hulle lynreg verskil—die kwessie van waarheid.
Die mans was Pontius Pilatus en Jesus Christus. Jesus het as ’n veroordeelde misdadiger voor Pilatus gestaan. Waarom? Jesus het verduidelik dat die rede hiervoor—trouens, die hele rede waarom hy aarde toe gekom en sy bediening onderneem het—op een ding neergekom het: die waarheid. “Hiervoor is ek gebore, en hiervoor het ek in die wêreld ingekom,” het hy gesê, “om van die waarheid te getuig.”—Johannes 18:37.
Pilatus se antwoord was ’n merkwaardige vraag: “Wat is waarheid?” (Johannes 18:38). Wou hy werklik ’n antwoord hê? Waarskynlik nie. Jesus was die soort mens wat enige opregte vraag kon beantwoord, maar hy het Pilatus nie geantwoord nie. En die Bybel sê dat Pilatus summier uit die gehoorsaal gestap het nadat hy die vraag gestel het. Die Romeinse goewerneur het die vraag waarskynlik in siniese ongelowigheid gevra, asof hy sê: “Waarheid? Wat is dit? Daar is nie so iets nie!”a
Vandag is Pilatus se skeptiese beskouing van die waarheid nie buitengewoon nie. Talle glo dat waarheid relatief is—met ander woorde, wat vir die een persoon waar is, is dalk vir die ander onwaar, sodat albei “reg” kan wees. Hierdie oortuiging is so algemeen dat daar ’n woord daarvoor is—“relativisme”. Is dit hoe jy die kwessie van waarheid beskou? Indien wel, is dit moontlik dat jy hierdie beskouing aangeneem het sonder om dit deeglik te ondersoek? Al het jy nie, weet jy in watter mate hierdie filosofie jou lewe raak?
’n Aanslag op die waarheid
Pontius Pilatus was nie die eerste persoon wat die idee van absolute waarheid bevraagteken het nie. Party antieke Griekse filosowe het dit feitlik hulle lewenstaak gemaak om sulke twyfelgedagtes te bevorder! Vyf eeue voor Pilatus het Parmenides (wat as die vader van die Europese metafisika beskou word) die mening gehuldig dat ware kennis onbereikbaar is. Demokritos, wat “die grootste van die antieke filosowe” genoem word, het beweer: “Waarheid lê diep begrawe. . . . Daar is niks wat ons vir seker weet nie.” Sokrates, miskien die hoogs gerespekteerde van hulle almal, het gesê dat al wat hy werklik weet, is dat hy niks weet nie.
Hierdie aanslag op die idee dat die waarheid geken kan word, duur in ons dag steeds voort. Party filosowe sê byvoorbeeld dat geen kennis as waarheid bevestig kan word nie, aangesien kennis ons bereik deur middel van ons sinne, wat bedrieg kan word. Die Franse filosoof en wiskundige René Descartes het besluit om ondersoek in te stel na al die dinge waarvan hy gedink het hy seker was. Hy het alles verwerp, behalwe een waarheid, wat hy as onweerlegbaar beskou het: “Cogito ergo sum”, of: “Ek dink, daarom is ek.”
’n Kultuur van relativisme
Relativisme is nie tot filosowe beperk nie. Dit word deur godsdiensleiers geleer, in skole geïndoktrineer en deur die media versprei. Die Episkopaalse biskop John S. Spong het ’n paar jaar gelede gesê: “Ons moet . . . wegbeweeg van die idee dat ons die waarheid het en ander ons standpunt moet aanvaar en moet tot die besef kom dat die volle waarheid buite die bereik van ons almal is.” Spong se relativisme, soos dié van so baie hedendaagse geestelikes, laat vaar die Bybel se sedelike leringe maklik ten gunste van ’n filosofie van “dink vir jouself”. In ’n poging om homoseksuele meer “tuis” te laat voel in die Episkopaalse Kerk, het Spong byvoorbeeld ’n boek geskryf wat beweer dat die apostel Paulus ’n homoseksueel was!
Dit blyk dat die onderwysstelsels in baie lande ’n soortgelyke denkwyse bevorder. Allan Bloom het in sy boek The Closing of the American Mind geskryf: “Daar is een ding waarvan ’n professor absoluut seker kan wees: amper elke student wat universiteit toe kom, glo, of sê hy glo, dat die waarheid relatief is.” Bloom het gevind dat sy studente met verbasing gereageer het as hy hulle oortuiging hieroor bevraagteken het, “asof hy die feit in twyfel getrek het dat 2 + 2 = 4”.
Dieselfde denkwyse word op tallose ander maniere bevorder. Dit lyk byvoorbeeld of TV- en koerantverslaggewers dikwels meer daarin belangstel om hulle kykers te vermaak as om die waarheid in verband met ’n berig aan te bied. Party nuusprogramme het beeldmateriaal selfs gedokter of vervals om dit meer dramaties te laat lyk. En op die gebied van vermaak word ’n groter aanval op die waarheid geloods. Die waardes en sedelike waarhede waarvolgens ons ouers en grootouers gelewe het, word oor die algemeen as ouderwets beskou en word dikwels openlik bespot.
Party voer natuurlik aan dat baie van hierdie relativisme op ’n oop gemoed dui en derhalwe ’n positiewe invloed op die mensegemeenskap het. Maar is dit werklik die geval? En wat van die uitwerking op jou? Glo jy dat waarheid relatief is of glad nie bestaan nie? Indien wel, kan dit vir jou na ’n vermorsing van tyd lyk om daarna te soek. So ’n beskouing sal jou toekoms raak.
[Voetnoot]
a Volgens die Bybelgeleerde R. C. H. Lenski is Pilatus se “toon dié van ’n onverskillige wêreldling wat met sy vraag probeer sê dat enigiets soos godsdienswaarheid ’n nuttelose gissing is”.