Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 6/15 bl. 24-27
  • Hulle klim ’n berg wat hoër as die Himalajas is

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hulle klim ’n berg wat hoër as die Himalajas is
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Nepal—die bergkoninkryk
  • ’n Klein begin
  • Uitbreiding ondanks probleme
  • Die hedendaagse Nepal
  • Klim hoër as die Himalajas
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 6/15 bl. 24-27

Hulle klim ’n berg wat hoër as die Himalajas is

DIE Himalajas! Waaraan laat daardie woorde jou dink? Ontsagwekkende, ysbedekte pieke met stormwinde? Die opwinding van oorwinning en dat jy op die hoogste berg op aarde staan? Dit sal vir die meeste van ons onmoontlik wees om Mount Everest, in die Himalajagebergte in Nepal, te klim. Tog klim baie mense in Nepal vandag ’n berg wat hoër as die Himalajas is! Voordat ons van hierdie reis na die luisterryke berg leer, kan ons gerus na die klein maar pragtige Koninkryk van Nepal kyk.

Nepal—die bergkoninkryk

Die Koninkryk van Nepal is merkwaardig omdat dit een van die min oorblywende monargieë in die wêreld is en ook omdat dit nie ’n sekulêre koninkryk nie, maar ’n godsdienstige koninkryk is. Nepal is die enigste Hindoestaat ter wêreld. Die meeste van sy 20 miljoen inwoners is Hindoes. Maar die etniese agtergrond van die mense is baie uiteenlopend. Dié wat in die noordelike bergagtige streek woon, is hoofsaaklik van Tibeto-Birmaanse afkoms terwyl die mense in die suidelike vlaktes meestal ’n Indo-Ariese agtergrond het. Nepalees is die amptelike landstaal en die moedertaal van sowat 60 persent van die mense. Die res praat meer as 18 etniese tale.

Nepal het ’n ietwat reghoekige vorm en is 880 kilometer van oos na wes en 200 kilometer van noord na suid. Die ontsagwekkende Himalajas vorm die noordelike grens en sluit Mount Everest, wat met ’n hoogte van 8 848 meter die hoogste piek ter wêreld is, sowel as agt ander pieke van hoër as 8 000 meter in. In Sentraal-Nepal word die laer berge asook die mere en valleie aangetref. Verder suid, aan die grens van Indië, lê die vrugbare Terai, die belangrikste landboustreek.

Katmandoe, die hoofstad, wat in die sentrale streek geleë is, is waarlik ’n toeristeparadys. Dit bied vliegtogte oor die majestueuse berge, ritte na natuurreservate en talle plaaslike besienswaardighede. Nepal word soms die vallei van die gode genoem omdat godsdiens ’n groot rol in die lewe van sy mense speel. Godsdiens is ook die rede waarom miljoene mense in alle wêrelddele na die “berg” optrek wat hoër as die Himalajas is.

Ongeveer 2 700 jaar gelede is die Hebreeuse profeet Jesaja geïnspireer om te voorspel: “Aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge . . . Baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die HERE . . . dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel” (Jesaja 2:2, 3). Hier word die verhewe rein aanbidding van Jehovah, die Skepper en Soewereine Heerser van die heelal, met ’n berg vergelyk wat hoog bo alle ander bergagtige vorme van aanbidding verhef is. Dit is die onderwerp van ’n wêreldwye opvoedkundige werk wat mense wat na die waarheid honger, help om van Jehovah se weë te leer. Hoe het hierdie werk in Nepal begin?

’n Klein begin

Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het ’n soldaat in die Britse leër na die ware godsdiens gesoek. Sy Nepalese ouers wat Hindoes was, het hulle tot Katolisisme bekeer. Terwyl hy grootgeword het, het hy die dwaasheid van afgodediens besef, leerstellings soos die helse vuur verwerp en die opvattings van die Protestantse kerke begin ondersoek. Maar hy was nie tevrede nie.

Nadat hierdie soldaat in die destydse Rangoen, Birma, deur die Japannese gevange geneem is, het hy gebid dat hy die ontberinge van die arbeidskamp sal oorleef om sy soeke na ware aanbidding voort te sit. Hy het dit later reggekry om van sy gevangenemers te ontsnap en is deur ’n onderwyser gehelp in wie se huis hy die boekie Waar is die dode? gekry het, wat deur J. F. Rutherford geskryf is. Aangesien hy besef het dat dit die waarheid is, het hy gretig tot ’n studie ingestem toe Jehovah se Getuies hom in 1947 in Rangoen besoek het. Binne ’n paar maande is hy gedoop, en sy jong vrou is kort daarna gedoop. Hulle het besluit om na Indië terug te keer en het in hulle geboortedorp Kalimpong, in die noordoostelike berge, gaan woon. Hier is hulle twee kinders gebore en opgevoed. In Maart 1970 het hulle na Katmandoe toe verhuis.

Die Grondwet van Nepal het proselitisme verbied. Enigiemand wat ’n sogenaamd vreemde godsdiens gepropageer het, het hom aan gevangenskap van sewe jaar blootgestel, en iemand wat by so ’n godsdiens aangesluit het, kon ’n tronkstraf van drie jaar sowel as ’n swaar boete opgelê word. Die getuieniswerk moes dus versigtig gedoen word. Die huis-tot-huis-bediening het beteken dat ’n mens ’n huis besoek en dan na ’n ander gebied gaan en daar ’n besoek doen. Informele getuieniswerk het begryplikerwys ’n groot rol in die verspreiding van die goeie nuus gespeel.

Aanvanklik was daar nie veel resultate nie. Met ’n bevolking van sowat tienmiljoen het die veld ontmoedigend gelyk. Saadjies van waarheid is gesaai terwyl hierdie enkele gesin vir vriende, kennisse, werkgewers en medewerknemers getuig het. Hulle het gereeld vergaderinge in hulle huis gehou en belangstellendes genooi om dit saam met hulle by te woon. Uiteindelik, in Maart 1974, nadat hulle vier jaar lank met die plant- en natgooiwerk volgehou het, het Nepal sy eerste vrug opgelewer—en dít uit ’n onwaarskynlike bron!

Die verkondiger het ’n huis besoek en met ’n ryk man gepraat wat die sekretaris van ’n lid van die koninklike gesin was. “Praat met my seun”, het die man gesê. Die seun het tot ’n Bybelstudie ingestem. Mettertyd het hy van werk verander aangesien hy in ’n dobbelplek gewerk het. Sy pa, ’n vroom Hindoe, het hom teëgestaan. Maar hierdie jong man het sy standpunt vir Jehovah ingeneem. Die resultaat? Sy pa het later opgehou om hom teë te staan en ’n hele paar van sy naverwante het die waarheid van die Bybel aangeneem. Hy dien nou as ’n ouer man in die Christengemeente.

Ten einde geestelik sterk te bly en die skriftuurlike bevel te gehoorsaam om nie hulle onderlinge vergadering na te laat nie, het die klein groepie in Katmandoe gereeld vergaderinge in ’n huis gehou. Maar vir die meeste broers was dit onmoontlik om die groter byeenkomste by te woon. Diegene wat dit kon bekostig, het vir die byeenkomste na Indië gereis—’n lang en duur reis oor die bergreekse.

Wat ’n vreugdevolle geleentheid was dit tog toe die hele streekbyeenkomsprogram in die huis aangebied is waar hulle vergaderinge gehou het! Stel jou voor dat vier broers, met inbegrip van ’n lid van die Indiese takkantoor, die hele program behartig het! Selfs die Bybeldrama is aangebied. Hoe? Skyfies is by ’n kleedrepetisie in Indië geneem. Hierdie skyfies is in Nepal op ’n skerm vertoon met bygaande dialoog wat op band opgeneem is. Die gehoor het dit baie geniet. Hoe groot was daardie gehoor? Agtien mense!

Daar was min buitelandse hulp met die predikingswerk. Sendingwerk was buite die kwessie en dit was vir buitelanders moeilik om sekulêre werk te kry. Twee Indiese Getuies het egter op verskillende tye in Nepal werk gekry en het etlike jare in Katmandoe deurgebring en gehelp om die pas gestigte gemeente op te bou. Teen 1976 was daar 17 Koninkryksverkondigers in Katmandoe. In 1985 het die broers hulle eie Koninkryksaal gebou. Nadat dit voltooi is, het hulle begin om die jaarlikse streekbyeenkomste sowel as ander byeenkomste gereeld daar te hou. Die saal was inderdaad die middelpunt van rein aanbidding in daardie afgesonderde, bergagtige gebied.

Uitbreiding ondanks probleme

Gedurende daardie vroeë jare het die predikingswerk, wat baie versigtig gedoen is, nie juis die owerheid se aandag getrek nie. Maar aan die einde van 1984 is beperkings ingestel. ’n Broer en drie susters is in hegtenis geneem en vier dae gevange gehou voordat hulle vrygelaat is met ’n waarskuwing om nie hulle bedrywighede voort te sit nie. In een dorp is nege mense in hegtenis geneem terwyl hulle Bybelstudies in hulle huise gehad het. Ses is 43 dae lank opgesluit. Verskeie ander is in hegtenis geneem, maar geen geregtelike stappe is gedoen nie.

Selfs nog in 1989 is al die broers en susters by een Gemeentelike Boekstudie in hegtenis geneem, drie dae gevange gehou en toe vrygelaat. Soms is hulle gevra om ’n verklaring te teken dat hulle nie sal preek nie. Hulle het geweier. Party is eers vrygelaat nadat hulle ’n verklaring geteken het dat hulle bereid is om die gevolge te dra as hulle weer gevang word dat hulle preek.

Ondanks sulke probleme het die broers voortgegaan om die goeie nuus van die Koninkryk ywerig te verkondig. In 1985, die jaar nadat die regering begin ingryp het, was daar byvoorbeeld ’n vermeerdering van 21 persent in die aantal wat die predikingswerk gedoen het. Die 35 verkondigers het gemiddeld 20 uur per maand daaraan bestee om met ander oor rein aanbidding te praat.

Met die verloop van tyd het politieke veranderinge in Nepal begin plaasvind. Regeringsamptenare het begin besef dat Jehovah se Getuies geen bedreiging is nie. Trouens, hulle Bybelopvoedkundige werk het ’n goeie, opbouende uitwerking op die mense en maak hulle beter burgers. Amptenare het gesien dat eerlikheid, harde werk en onberispelike sedelike gedrag as grondvereistes vir aanbidders van Jehovah beklemtoon word.

’n Goeie getuienis is gegee toe ’n voormalige vroom Hindoevrou ’n Getuie geword het en geweier het om ’n bloedoortapping te aanvaar. Die dokters was verstom oor haar onverskrokke, ingeligte standpunt. Hierdie vrou is gehelp om die waarheid te leer met behulp van die brosjure Jy kan vir ewig op die aarde lewe! Ondanks haar familie se teëstand en gespot is sy in 1990 gedoop toe sy byna 70 was. Later het sy haar been gebreek, en omdat daar ook ander komplikasies was, moes sy ’n groot operasie ondergaan. Sy het twee weke lank die druk weerstaan wat dokters en familielede op haar geplaas het om bloed te aanvaar. Uiteindelik het die chirurgiese span die operasie met welslae sonder bloed gedoen. Hoewel hierdie getroue suster se beweging nou beperk is, sit sy elke oggend by haar hek en nooi sy verbygangers om by haar te sit en wonderlike goeie nuus te hoor.

Die hedendaagse Nepal

Wat is die situasie in die hedendaagse Nepal? Jehovah se Getuies geniet heelwat vryheid om, soos hulle broers oor die hele wêreld, te aanbid. Sedert die tyd dat een of twee sinnebeeldige bergklimmers by diegene begin aansluit het wat die berg van ware aanbidding klim, het ’n toenemende aantal mense gesê: “Kom laat ons optrek na die berg van die HERE.” Teen 1989 was daar gemiddeld 43 wat elke maand aan die predikingswerk deelgeneem het, en daardie jaar het 204 die herdenking van Christus se dood bygewoon.

Toe het Jehovah, soos hy belowe het, die insameling van waarheidsoekers na sy huis begin bespoedig (Jesaja 60:22, NW). Nie lank gelede nie is ’n tweede gemeente in Katmandoe gestig, en daar is nou twee afgesonderde groepe buite die hoofstad. In April 1994 was daar 153 Christene wat hulle predikingsbedrywigheid gerapporteer het—’n vermeerdering van 350 persent binne vyf jaar! Hulle het 386 tuisbybelstudies met belangstellendes gehou. By die Gedenkmaal in 1994 was daar ’n uitstekende opkoms van 580. Vir ’n spesiale byeenkomsdag was daar 635 in die stampvol saal, en 20 het hulle laat doop. Die groot vermeerdering wat Jehovah se Getuies oor die hele wêreld geniet, vind dus ook in klein Nepal plaas.

In onlangse jare het die hoeveelheid lektuur wat in Nepalees gedruk word baie toegeneem, en dit help nederiges om ’n stewige houvas op die waarheid te kry. Vertalers wat by die takkantoor in Indië in vertaaltegnieke en rekenaargebruik opgelei is, dien nou voltyds in Katmandoe. Nepal se teokratiese bergklimmers is gereed vir uitbreiding en maak goeie vooruitgang!

Klim hoër as die Himalajas

Jy kan ook die voorreg hê om die berg te klim wat hoër as die Himalajas is. Sodoende sal jy nie net by diegene uit Nepal aansluit nie, maar by miljoene “uit alle nasies en stamme en volke en tale” (Openbaring 7:9). Jy sal dit geniet om saam met hulle deur die Skepper van majestueuse berge soos dié in Nepal onderrig te word. Jy sal sien hoe die Skepper “sake regstel”, en jy sal daarna kan uitsien om vir ewig op ’n gereinigde en pragtige aarde te lewe.—Jesaja 2:4, NW.

[Kaart op bladsy 24]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Katmandoe

Mount Everest

[Prent op bladsy 25]

Buite die Koninkryksaal in Katmandoe

[Prent op bladsy 26]

Baie Nepalese vind by Bybelstudies baat

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel