Binnekort sal niemand meer arm wees nie!
“MOENIE vrees nie, want kyk! ek maak aan julle goeie nuus bekend van ’n groot vreugde wat die hele volk sal hê” (Lukas 2:10). Verbaasde herders het hierdie bemoedigende woorde op die nag van Jesus se geboorte naby Betlehem gehoor. In ooreenstemming met daardie verklaring het Jesus tydens sy aardse bediening groot klem op die “goeie nuus” gelê. Hoe kan die goeie nuus aangaande Jesus ons vandag tot voordeel strek, aangesien ons so baie van geld afhanklik is om na ons behoeftes om te sien?
Jesus Christus het die “goeie nuus aan die armes” bekend gemaak (Lukas 4:18). Volgens Matteus 9:35 “het [Jesus] op ’n reis deur al die stede en dorpies vertrek en in hulle sinagoges geleer en die goeie nuus van die koninkryk verkondig”. Sy boodskap was veral aanmoedigend vir die armoediges. “Toe hy die skare sien, het hy medelye vir hulle gevoel, want hulle was gestroop en rondgegooi soos skape sonder ’n herder” (Matteus 9:36). Jesus het weliswaar gesê: “Julle het die armes altyd by julle”, maar ons moenie uit hierdie woorde aflei dat daar geen hoop vir die behoeftiges is nie (Johannes 12:8). So lank as wat hierdie goddelose stelsel bestaan, sal daar arm mense wees, ongeag wat hulle toestand veroorsaak. God se Woord ignoreer nie die werklikheid van armoede nie, maar dit wei nie oor die negatiewe aspekte daarvan uit nie. Dit bied eerder hulp aan die armes om die sorge van die lewe die hoof te bied.
Hulp aan die armes
Daar is al gesê: “’n Mens kan geen groter las dra as die wete dat niemand omgee of verstaan nie.” Maar ondanks die gebrek aan medelye deur die meerderheid is daar steeds goeie nuus vir die armes—nou sowel as in die toekoms.
Ongelukkig stel die meeste mense nie juis daarin belang om die armes te help nie. Volgens The World Book Encyclopedia glo party dat “mense in die gemeenskap meeding om oorlewing en . . . die beste mense word magtig en ryk”. Diegene wat hierdie teorie glo, wat sosiale Darwinisme genoem word, beskou die armes dalk eenvoudig as lui mense of verkwisters. Tog werk landelike arbeiders, trekarbeiders en ander, ondanks swak besoldiging, dikwels baie hard om hulle gesinne te voed.
In baie lande is armoede iets algemeens. Derhalwe voel die armes—die meerderheid—nie dat hulle ’n mislukking is nie. Daar is nietemin mense in sulke lande wat te midde van die armoede in groot weelde lewe. Gerieflike, weelderige huise staan naby stampvol, ongesonde plakkersdorpe. Goed besoldigde mans ry met hulle duur motors deur strate vol behoeftiges en werkloses. In sulke lande is die armes pynlik bewus van hulle treurige toestand. Trouens, “die armes ly nie net weens swak voeding, slegte behuising en onvoldoende mediese sorg nie, maar ook weens voortdurende bekommernis oor hulle toestand”, sê The World Book Encyclopedia. “Omdat hulle nie ’n goeie werk kan kry en behou nie, verloor hulle alle gevoel van waardigheid en selfrespek.” Hoe leef sommige van die brandarmes dan met hulle toestand saam? Hoe hou die goeie nuus aangaande Jesus hiermee verband?
Eerstens moet jy onthou dat armoede vererger kan word deur onverstandige gewoontes. Kyk na ’n paar voorbeelde. Valdecir erken dat sy vrou en klein kindertjies min gehad het om te eet terwyl hy geld gemors het om ’n onsedelike lewenswyse te handhaaf. Hy sê: “Hoewel ek gewerk het, het ek nooit geld gehad nie, maar ek het altyd verskeie loterykaartjies in my sak gehad.” Milton het sy sakeonderneming met 23 werknemers weens drankmisbruik en strawwe rokery verloor. Hy sê: “Ek het nagte op straat deurgebring, nie in staat om huis toe te gaan nie, en as gevolg van my optrede het my gesin swaar gely.”
João het ook sy salaris op verdorwe gebruike gemors. “Ek het nagte van die huis af deurgebring. Alles wat ek verdien het, was nie genoeg vir my verdorwe gebruike en verhoudings nie. Die situasie het ondraaglik geraak, en my vrou wou hê dat ons uitmekaar moes gaan.” Benewens sy finansiële en huweliksprobleme was daar ook ander probleme. Hy sê: “Ek het probleme met die familie en die bure veroorsaak, en ek het veral probleme by die werk gehad. Gevolglik was ek altyd sonder werk.” Júlio was ’n dwelmslaaf. Maar hy verduidelik: “Aangesien my salaris nooit groot genoeg was om my dwelmgewoonte te onderhou nie, het ek as ’n dwelmhandelaar begin werk sodat ek nie dwelms hoef te koop nie.”
José is in ’n arm gesin van agt kinders grootgemaak en hy wou iets van sy eie hê. Hy het geredeneer dat hy niks kon verloor nie en het saam met ander jeugdiges begin om mense te beroof. ’n Ander jeugdige het uit wanhoop lid van ’n bende met die naam Kopstampers geword. Hy verduidelik: “Aangesien die meeste van ons baie arm was, het ons ’n mate van bevrediging daaruit geput om goed te breek en mense aan te val.”
Maar vandag ly hierdie mans en hulle gesinne nie meer weens ernstige ontberinge of gevoelens van bitterheid en woede nie. Hulle is nie meer hulpeloos of sonder hoop nie. Waarom nie? Omdat hulle die goeie nuus bestudeer het wat Jesus verkondig het. Hulle het die Bybel se raad toegepas en met eendersdenkendes in die gemeentes van Jehovah se Getuies begin omgaan. En hulle het ’n paar baie belangrike dinge omtrent rykdom en armoede geleer.
Hulp om met armoede saam te leef
Eerstens het hulle geleer dat die slegte gevolge van armoede verminder kan word as Bybelbeginsels toegepas word. Die Bybel veroordeel onsedelikheid, dronkenskap, dobbelary en dwelmmisbruik (1 Korintiërs 6:9, 10). Hierdie dinge is baie duur. Dit kan ’n ryk man arm maak en ’n arm man nog armer maak. As ’n mens hierdie verdorwe gebruike en ander soortgelyke gebruike laat vaar, help dit grootliks om die ekonomiese toestand van ’n gesin te verbeter.
Tweedens het hulle gevind dat daar belangriker dinge in die lewe as rykdom is. ’n Gebalanseerde beskouing word in hierdie geïnspireerde woorde saamgevat: “Wysheid is ’n beskutting, geld is ’n beskutting; maar die voordeel van kennis is: die wysheid hou die besitter daarvan in die lewe” (Prediker 7:12). Ja, geld is noodsaaklik. Maar Bybelse wysheid en kennis van God se voornemens is baie nuttiger. Trouens, vir die persoon wat wysheid kortkom, kan te veel geld net so ’n las wees as om te min te hê. Weens sy insig het die Bybelskrywer gebid: “Gee my nie armoede of rykdom nie, laat my geniet die brood wat vir my bestem is; dat ek nie, as ek oorversadig geword het, U verloën nie, en sê: Wie is die HERE? En dat ek nie, as ek arm geword het, steel en my aan die Naam van my God vergryp nie.”—Spreuke 30:8, 9.
Derdens het hulle uitgevind dat ’n mens nooit verlate hoef te voel as jy lewe volgens die goeie nuus wat Jesus gepreek het nie. Die goeie nuus hou met God se Koninkryk verband. Die boodskap word die “goeie nuus van die koninkryk” genoem, en in ons tyd word dit in die hele bewoonde aarde verkondig (Matteus 24:14). Jesus het vir ons gesê dat ons ondersteun sou word as ons ons hoop op die Koninkryk vestig. Hy het gesê: “Hou dan aan om eers die koninkryk en [God se] regverdigheid te soek, en al hierdie ander dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matteus 6:33). God belowe nie spoggerige motors of luukse huise nie. Jesus het van die noodsaaklikhede van die lewe gepraat, soos kos en klere (Matteus 6:31). Maar vandag kan miljoene mense daarvan getuig dat Jesus se belofte betroubaar is. ’n Persoon, selfs een wat brandarm is, word nie heeltemal in die steek gelaat as hy die Koninkryk eerste stel nie.
Vierdens het hulle gevind dat iemand wat God se Koninkryk eerste stel nie deur ekonomiese probleme verbitter word nie. Ja, ’n arm man moet hard werk. Maar as hy God dien, het hy ’n bevoorregte verhouding met sy Skepper, van wie die Bybel sê: “Hy het die ellende van die ellendige nie verag of verfoei en sy aangesig vir hom nie verberg nie; maar Hy het gehoor toe dié Hom aangeroep het om hulp” (Psalm 22:25). Daarbenewens het ’n arm persoon hulp om die probleme van die lewe te bowe te kom. Hy geniet hartlike kameraadskap met mede-Christene en het kennis van en ’n vertroue in Jehovah se geopenbaarde wil. Hierdie dinge “is begeerliker as goud, ja, as baie fyn goud”.—Psalm 19:11.
Uiteindelik geen armoede meer nie!
Ten slotte leer mense wat aan die goeie nuus gehoor gee dat Jehovah God van voorneme is om die probleem van armoede eens en vir altyd deur middel van sy Koninkryk op te los. Die Bybel belowe: “Die behoeftige sal nie vir altyd vergeet word, die verwagting van die ellendiges nie vir ewig verlore gaan nie” (Psalm 9:19). Die Koninkryk is ’n werklike regering wat in die hemel met Jesus Christus as Heerser opgerig is. Daardie Koninkryk gaan menslike regerings binnekort vervang wat die bestuur van menseaangeleenthede betref (Daniël 2:44). Dan sal Jesus, as gekroonde Koning, “hom ontferm oor die arme en behoeftige, en die siele van die behoeftiges sal hy red. Hy sal hulle siel verlos van verdrukking en geweld, en hulle bloed sal kosbaar wees in sy oë.”—Psalm 72:13, 14.
Miga 4:3, 4 verwys na daardie tyd en sê: “Hulle sal sit elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, sonder dat iemand hulle verskrik; want die mond van die HERE van die leërskare het dit gespreek.” Van wie word hier gepraat? Dit is immers almal wat hulle aan God se Koninkryk onderwerp. Daardie Koninkryk sal al die probleme oplos wat die mensdom teister—selfs die probleem van siekte en die dood. “Hy sal die dood vir ewig vernietig, en die Here HERE sal die trane van alle aangesigte afvee” (Jesaja 25:8; 33:24). Hoe anders sal daardie wêreld tog wees! En onthou, ons kan hierdie beloftes glo, want dit is deur God self geïnspireer. Hy sê: “My volk sal woon in ’n plek van vrede en in veilige wonings en in plekke van ongestoorde rus.”—Jesaja 32:18.
Vertroue in God se Koninkryk laat ’n mens die gebrek aan selfrespek oorkom wat dikwels deur armoede veroorsaak word. ’n Arm Christen weet dat hy net so belangrik in God se oë is as ’n Christen wat welgesteld is. God het albei ewe lief, en albei het dieselfde hoop. Albei sien gretig uit na die tyd wanneer armoede onder God se Koninkryk tot die verlede sal behoort. Wat ’n wonderlike tyd sal dit tog wees! Uiteindelik sal niemand meer arm wees nie!
[Prent op bladsy 5]
Waarom geld op dobbel, rook, strawwe drinkery, dwelmmisbruik of ’n onsedelike lewenswyse mors?
[Prent op bladsy 7]
Jehovah God gaan die probleme van armoede deur middel van sy Koninkryk oplos