Nuwe Wêreld-vertaling beïndruk ’n geleerde
VOLGENS dr. Rijkel ten Kate, ’n kenner van klassieke Grieks, gee Nederlandse Bybelvertalings sekere woorde nie akkuraat weer nie. In Lukas hoofstuk 2 vind ons byvoorbeeld drie verskillende Griekse woorde (breʹfos, pai·diʹon en pais) wat gebruik word om die opeenvolgende stadiums van Jesus se ontwikkeling te beskryf. Elkeen van hierdie woorde het ’n ander betekenisnuanse. Maar in baie Bybels word twee van hierdie woorde of al drie met die vae term “kind” weergegee. Wat is die regte vertaling?
Dr. Ten Kate verduidelik dat die Griekse woord breʹfos, wat in vers 12 gebruik word, “’n pasgeborene, of baba”, beteken. Pai·diʹon, wat in vers 27 gebruik word, beteken “klein seuntjie of kindjie”, en pais, wat in vers 43 gevind word, moet as “seun” weergegee word. “Sover ek weet”, het dr. Ten Kate in Bijbel en Wetenschap se nommer vir Maart 1993 geskryf, “gee nie een Nederlandse vertaling dit op die regte manier weer nie, dit wil sê heeltemal in harmonie met die oorspronklike teks nie.”
Daar is later vir dr. Ten Kate die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif gewys wat in 12 tale, onder andere Nederlands, beskikbaar is. Sy reaksie? “Ek is baie verbaas”, het hy gesê, “dat daar waarlik een Nederlandse Bybel is waarin die verskillende gebruike van die drie Griekse woorde breʹfos, pai·diʹon en pais tereg in aanmerking geneem word.” Is hierdie verse in die Nuwe Wêreld-vertaling in harmonie met die oorspronklike Griekse teks vertaal? “Heeltemal in ooreenstemming”, antwoord dr. Ten Kate.