Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 4/15 bl. 31
  • Vrae van lesers

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vrae van lesers
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Soortgelyke materiaal
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • ’n Groot menigte ware aanbidders—Waar kom hulle vandaan?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Die onlangse kraal vir “ander skape”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Die “goeie herder” en sy “ander skape”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 4/15 bl. 31

Vrae van lesers

Is daar streng gesproke ’n verskil tussen die Bybelse uitdrukkings “ander skape” en “groot skare”?

Ja, hoewel ons nie uitermate puntenerig oor woordgebruik hoef te wees of ons hoef te ontstel as iemand die uitdrukkings uitruilbaar gebruik nie.

Die meeste Christene ken die gedeeltes waar ons hierdie uitdrukkings aantref. Die een is in Johannes 10:16. Daar het Jesus gesê: “Ek het ander skape, wat nie van hierdie kraal is nie; ook hulle moet ek bring, en hulle sal na my stem luister, en hulle sal een kudde onder een herder word.” Die ander uitdrukking, “groot skare”, kom in Openbaring 7:9 voor. Daar lees ons: “Ná hierdie dinge het ek gesien, en kyk! ’n groot skare, wat geen mens kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale, wat voor die troon en voor die Lam staan, geklee in lang wit gewade; en daar was palmtakke in hulle hande.”

Kom ons bespreek eers Johannes 10:16. Wie is die skape? Wel, dit sal goed wees as ons in gedagte hou dat al Jesus se lojale volgelinge “skape” genoem word. In Lukas 12:32 het hy dié van sy dissipels wat hemel toe sou gaan die “klein kuddetjie” genoem. ’n Kudde waarvan? Van skape. Die “skape” van die “klein kuddetjie” sal deel van die Koninkryk in die hemel uitmaak. Maar daar is ander, diegene met ’n ander hoop, wat ook deur Jesus as skape beskou word.

Ons kan dit in Johannes hoofstuk 10 sien. Nadat Jesus gepraat het van skape, soos sy apostels, wat hy tot hemelse lewe sou roep, het hy in vers 16 bygevoeg: “Ek het ander skape, wat nie van hierdie kraal is nie; ook hulle moet ek bring.” Jehovah se Getuies besef al lank dat Jesus in hierdie vers van mense praat wat die hoop het om op die aarde te lewe. Talle getroues in voor-Christelike tye, soos Abraham, Sara, Noag en Maleagi, het sulke verwagtinge gehad. Ons kan hulle dus tereg insluit as deel van die “ander skape” van Johannes 10:16. Sulke getroue voor-Christelike getuies sal gedurende die Millennium opgewek word, van Christus Jesus leer en hom aanneem en “ander skape” van die Voortreflike Herder word.

Ons weet ook dat miljoene mense ware Christene geword het sedert die algemene roeping van die hemelse klas geëindig het. Ook hulle word tereg “ander skape” genoem, aangesien hulle nie ’n deel van die “klein kuddetjie” is nie. Die ander skape sien eerder daarna uit om tot in ’n aardse paradys voort te lewe.

Wat kan ons dan oor die identiteit van die “groot skare” sê wat in Openbaring 7:9 gemeld word? Wel, kyk na vers 13 en die vraag: “Wie is hulle en waar het hulle vandaan gekom?” Ons vind die antwoord in Openbaring 7:14: “Hulle is dié wat uit die groot verdrukking kom.” Die “groot skare” bestaan dus uit diegene wat uit die groot verdrukking kom, oftewel dit oorleef. Soos vers 17 sê, sal hulle op die aarde ‘na fonteine van waters van die lewe gelei’ word.

Dit is egter te verstane dat hulle, om die naderende groot verdrukking te oorleef, reeds hulle klere in die bloed van die Lam moes gewas en ware aanbidders moes geword het. Hoewel Openbaring 7:9 dus hierdie skare ná die verdrukking beskryf, kan ons die term “groot skare” toepas op almal met aardse verwagtinge wat nou heilige diens aan Jehovah verrig, net voor die groot verdrukking uitbreek met die nasies se aanval op valse godsdiens.

Ter opsomming: Ons kan “ander skape” onthou as die breër uitdrukking, wat ál God se knegte insluit wat die hoop het om vir ewig op die aarde te lewe. Dit sluit die meer beperkte klas skaapgeaardes in wat vandag versamel word as ’n “groot skare” met die hoop om dwarsdeur die naderende groot verdrukking te bly lewe. Die meeste van die getroue Christene wat vandag lewe, is van die “ander skape”, en hulle is ook deel van die “groot skare”.

Ons wil egter herhaal dat, hoewel dit goed is om ’n duidelike begrip van hierdie fyner besonderhede te hê, dit nie vir enige Christen nodig is om oordrewe woordbewus—oftewel woordkrities—te wees nie. Paulus het teen sommige gewaarsku wat “opgeblase van trots” was en by “debatte oor woorde” betrokke was (1 Timoteus 6:4). As ons self die verskil tussen sekere uitdrukkings raaksien, is dit goed. Maar ons hoef nie, innerlik of uiterlik, krities te wees oor iemand anders wat Bybelterme miskien nie heeltemal so presies gebruik nie.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel