Vrae van lesers
Watter gesindheid moet by Christelike doopgeleenthede geopenbaar word?
Dit is ’n interessante vraag, want hoewel baie van ons lesers reeds gedoop is, raak dit hulle, asook diegene wat gedoop word. Kom ons praat eers oor dié wat gedoop, of heeltemal ondergedompel, word. Wat behoort hulle gesindheid te wees?
In Matteus 28:19, 20 het Jesus vir sy volgelinge gesê om dissipels van mense te gaan maak en hulle te leer en te doop. Hy het doop nie uitgebeeld as ’n hoogs emosionele ondervinding, ’n daad wat uit kortstondige opwinding voortspruit nie. Dit is ’n ernstige stap, soos ons uit Jesus se voorbeeld kan sien. Lukas 3:21 sê: “Ook Jesus [is] gedoop, en terwyl hy gebid het, is die hemel geopen.” Ja, ons Voorbeeld het doop ernstig, biddend, opgeneem. Ons kan ons nie voorstel dat hy ná sy doop ’n oorwinningsteken sou gemaak het, ’n triomfantlike uitroep sou gegee het of sy arms in die lug sou geswaai het nie, hoewel party in onlangse tye sulke dinge gedoen het. Nee, met slegs Johannes die Doper daar teenwoordig het Jesus hom in gebed tot sy Vader gewend.
Die Bybel gee egter nie te kenne dat doop ’n somber geleentheid moet wees waar spesifieke liggaamshoudings ingeneem of sekere woorde opgesê moet word, soos sommige kerke in die Christendom vandag voorskryf nie. Dink aan Pinkster toe duisende Jode en proseliete die Christendoop ondergaan het. Hulle het reeds God se Wet bestudeer en ’n verhouding met hom aangeknoop. Hulle moes dus net die Messias, Jesus, leer ken en hom aanneem. Sodra hulle dit gedoen het, kon hulle gedoop word.
Handelinge 2:41 sê: “Dié wat sy woord van harte aangeneem het, [is] gedoop.” Die Bybelvertaling deur Weymouth sê: “Daarom is diegene wat sy woord vreugdevol verwelkom het, gedoop.” Die opwindende nuus oor die Messias het hulle vreugde verskaf, en daardie hartgrondige vreugde is sekerlik ook by die doop self ervaar; ’n doop wat voor honderde vreugdevolle toeskouers plaasgevind het. Selfs engele in die hemel het toegekyk en hulle verheug. Dink aan Jesus se woorde: “Net so, sê ek vir julle, ontstaan daar vreugde onder die engele van God oor een sondaar wat berou het.”—Lukas 15:10.
Daar is verskillende maniere waarop elkeen van ons die erns sowel as die vreugde van ’n doopgeleentheid kan weerspieël. In party kerke dra dopelinge ’n wit of ’n swart kleed. Daar is geen skriftuurlike steun vir sulke vereistes nie. Uiters skraps of onbeskeie baaikostuums sal nietemin nie gepas wees nie, nie vir mans óf vir vrouens nie. En soos gemeld is, moet die nuwe Christen nie spesiale gebare maak as hy uit die water kom of aangaan asof hy ’n groot oorwinning behaal het nie. Die res van die Christenbroederskap is bly dat die nuweling hom laat doop het. Hy moet besef dat hierdie blyk van geloof maar ’n vroeë stap op die lang weg van onkreukbaarheid is om God se goedkeuring te verkry.—Matteus 16:24.
Ons, as toeskouers by ’n openbare doopgeleentheid, deel in die vreugde van die ge-leentheid, veral as die een wat gedoop word ’n familielid of ons Bybelstudent is. Om egter ten volle daarin te deel, moet ons saam met die kandidate na die hele toespraak luister, hoor hoe hulle in die openbaar die vrae beantwoord en saam bid. Dit sal ons help om die doop self in perspektief te sien; ons sal God se beskouing daarvan hê. Ná die onderdompeling vereis ons vreugde nie ’n oorwinningsparade, ’n ruiker blomme of ’n partytjie ter ere van die gedoopte nie. Maar ons kan na ons nuwe broer of suster toe gaan om ons vreugde uit te spreek oor die wonderlike stap wat gedoen is en om hom of haar hartlik in ons Christenbroederskap te verwelkom.
Ter opsomming moet ons almal dus, met inbegrip van die dopelinge, die doop met die gepaste erns beskou. Dit is nie ’n tyd vir ’n lawaai, vir partytjies of vir uitgelatenheid nie. Maar dit is ook nie ’n somber tyd nie. Ons kan ons tereg daarin verheug dat nuwelinge by ons aangesluit het op die weg wat na die ewige lewe lei. En ons kan ons nuwe broers en susters met vreugde verwelkom.
[Volbladillustrasie op bladsy 31]