Sal jy Jehovah loof?
“SOOS u Naam, o God, so is u roem tot die eindes van die aarde toe.” Hierdie woorde kom uit ’n profetiese lied van die seuns van Korag (Psalm 48:11). ’n Ontsaglike koor van miljoene Getuies van Jehovah loof God vandag en maak sy naam bekend deur die goeie nuus van sy Koninkryk te verkondig. Deur dit in 232 lande en eilande van die see en in meer as 300 tale te doen, bereik hulle letterlik “die eindes van die aarde”.
Wat beweeg mense van verskillende kulturele, maatskaplike en taalagtergronde om Jehovah te loof? Hulle dankbaarheid oor juiste kennis van God se Woord, die Bybel, is ’n belangrike rede. Geestelike waarheid het hulle van bygelowe en verslawende godsdiensopvattings soos ewige foltering bevry (Johannes 8:32). Die waarheid help hulle ook om God se wonderlike eienskappe te waardeer, soos sy liefde, krag, wysheid en geregtigheid wat met barmhartigheid getemper word. Wanneer opregte mense begin verstaan waarom God sy enigverwekte Seun, Jesus Christus, as ’n losprysofferande vir die mensdom gegee het, beweeg dit hulle om Jehovah te loof en te dien.
Volgens die Bybelboek Openbaring roep ’n hemelse koor uit: “U is waardig, Jehovah, ja, ons God, om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang, want u het alles geskep, en weens u wil het hulle bestaan en is hulle geskep” (Openbaring 4:11). Sulke lof spruit nie uit ’n blote pligsbesef voort nie. Dit is eerder die gevolg van ontsag vir Jehovah.
Loof God deur die goeie nuus te verkondig
Wanneer ’n mens Jehovah loof, volg jy die uitstekende voorbeeld van Jesus Christus, die vernaamste lower van God. As jy Jesus se voetstappe wil volg, moet jy deelneem aan die werk om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig (Matteus 4:17, 23; 24:14). Hierdie predikingsbedrywigheid het die grootste wêreldwye poging geword om Jehovah te loof.
Hierdie predikingswerk is so belangrik dat die Bybel dit onteenseglik met redding in verband bring. Romeine 10:13-15 sê: “‘Elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, sal gered word.’ Maar hoe sal hulle hom aanroep in wie hulle nie geloof gestel het nie? En hoe sal hulle geloof stel in hom van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe sal hulle hoor sonder dat iemand preek? En hoe sal hulle preek tensy hulle uitgestuur is? Net soos daar geskrywe staan: ‘Hoe lieflik is die voete van dié wat goeie nuus van goeie dinge bekend maak!’”
Verlede jaar alleen het Jehovah se Getuies meer as ’n miljard uur aan die predikingswerk gewy. En watter goeie resultate het hierdie lofprysing van God tog nie gelewer nie! Ongeveer 314 000 het by die koor van lowers aangesluit deurdat hulle hulle toewyding aan Jehovah deur waterdoop gesimboliseer het.
Maar wat kan van die 12 288 917 gesê word wat die herdenking van Christus se dood in 1994 bygewoon het? Daar was meer as 7 000-000 onder hulle wat Jehovah nog nie as verkondigers van die goeie nuus loof nie. Maar hulle teenwoordigheid by hierdie belangrike geleentheid kan uiteindelik daartoe lei dat nog miljoene by die koor van lowers gevoeg word. Wat kan gedoen word om hierdie belangstellendes te help om lowers van Jehovah te word?
Beskikbare hulp
Baie belangstellendes het moontlik die begeerte om Jehovah te loof, maar dink nie dat hulle aan die vereistes kan voldoen nie. Dit is goed as hulle die psalmis se woorde in gedagte hou: “Ek slaan my oë op na die berge: waar sal my hulp vandaan kom? My hulp is van die HERE wat hemel en aarde gemaak het” (Psalm 121:1, 2). Die psalmis het blykbaar sy oë na die berge van Jerusalem opgeslaan waar Jehovah se tempel en die aardse setel van die teokratiese regering was. Hieruit kan ons tereg aflei dat hulp om God te loof en die Koninkryksboodskap te verkondig net van Jehovah en sy organisasie af kom.—Psalm 3:5; Daniël 6:11.
Vandag kan diegene wat Jehovah wil loof op die liefdevolle hulp van sy aardse organisasie reken. Jehovah se Getuies bied byvoorbeeld hulp aan deur gratis tuisbybelstudies met belangstellendes te hou. Hierdie opvoedkundige program behels meer as om net Bybelleerstellings te leer. Dit help die student om waardering op te bou vir wat hy leer en vir die organisasie wat Jehovah gebruik.
In ooreenstemming hiermee probeer die Getuie wat die Bybelstudie hou seker maak dat die nuutgevonde waarhede nie net die verstand nie, maar ook die hart bereik. En die onderrigter moenie nalaat om vir die student te wys hoe Jehovah Sy organisasie gebruik om Sy voorneme op die aarde te verwesenlik nie. Die brosjure Jehovah se Getuies—Verenig in die uitvoering van God se wil wêreldwyd en die videoband Jehovah’s Witnesses—The Organization Behind the Name is al dikwels met groot welslae hiervoor gebruik.
Christelike vergaderinge speel ook ’n belangrike rol daarin om toekomstige lowers van Jehovah te help. Die student kan reg in die beginstadium van ’n Bybelstudie genooi word om Christelike vergaderinge by te woon. Mettertyd sal hy leer hoe belangrik dit is om alle gemeentelike vergaderinge gereeld by te woon en daaraan deel te neem (Hebreërs 10:24, 25). Opsieners kan waardevolle hulp aan medegelowiges en toekomstige lowers van Jehovah verleen deur vergaderinge voor te berei wat geestelik opbouend en prakties is.
Help kinders om Jehovah te loof
Kinders is onder die talle wat in die nabye toekoms verkondigers van die goeie nuus kan word. Veral vaders het die Bybelse verantwoordelikheid om hulle kinders “in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah” op te voed (Efesiërs 6:4). Selfs baie jong kinders kan die begeerte ontwikkel om Jehovah te loof as hulle behoorlik deur godvrugtige ouers opgelei word.
Een dogtertjie in Argentinië het etlike maande lank herhaaldelik na die gemeentelike ouer manne toe gegaan en hulle hulp gevra sodat sy aan die vereistes kon voldoen om ’n Koninkryksverkondiger te wees. Ná verloop van tyd het haar ouers en die ouer manne saam besluit dat sy ’n ongedoopte verkondiger kon word. Sy verkondig die Koninkryksboodskap reeds op bekwame wyse by die deure. Hoewel hierdie dogtertjie net vyf jaar oud is en nie kan lees nie, het sy geleer waar party Bybeltekste staan. Nadat sy ’n teks gekry het, vra sy die huisbewoner om dit te lees, en dan gee sy ’n verduideliking.
Dit is duidelik dat ouer manne sowel as ouers baie kan bereik as hulle diegene aanmoedig en help wat daarna streef om lowers van Jehovah te word.—Spreuke 3:27.
’n Ewigdurende verhouding met Jehovah
Maar sê nou jy assosieer self al ’n tyd lank met Jehovah se Getuies, en tog het jy nog nie by hulle in hulle predikingswerk aangesluit nie? Dit is dalk raadsaam om jou die volgende af te vra: ‘Glo ek dat ek die waarheid gevind het en dat Jehovah die enigste ware God is? Is ek oortuig dat God se Koninkryk die enigste oplossing vir die mensdom se probleme is? Het ek alle valse godsdiens verlaat en wêreldse gewoontes en gebruike laat vaar wat Jehovah mishaag? Het ek God en sy regverdige vereistes innig lief?’ (Psalm 97:10). Wat verhinder jou om Jehovah te loof as jy in alle eerlikheid ja op hierdie vrae kan antwoord?—Vergelyk Handelinge 8:36.
Om Jehovah te loof, behels meer as die verkondiging van die goeie nuus. As jy juiste kennis ingeneem het, ware geloof het en volgens Goddelike vereistes probeer lewe, moet jy jou persoonlike verhouding met God versterk. Hoe? Deur jou in gebed aan hom toe te wy en dit dan deur waterdoop te simboliseer. Die ewige lewe is op die spel. Daarom moet jy nou Jesus se raad volg: “Gaan in deur die nou poort; want breed en wyd is die pad wat na die vernietiging lei, en dié wat daardeur ingaan, is baie; maar nou is die poort en smal is die pad wat na die lewe lei, en dié wat dit vind, is min.”—Matteus 7:13, 14.
Met die huidige stelsel van dinge wat sy rampspoedige einde nader, is dit nie nou die tyd om te aarsel nie. Jy moet onmiddellik stappe doen sodat jy ’n ewigdurende verhouding met Jehovah kan verkry. Dit is inderdaad nou die tyd om bevestigend te antwoord op die vraag: Sal jy Jehovah loof?