Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 3/15 bl. 21-24
  • Geen aftrede vir ons nie!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Geen aftrede vir ons nie!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Wat hulle gelukkig maak
  • Bereidwilligheid om aanpassings te maak
  • Standvastig ondanks gesondheidsprobleme
  • Steeds bedrywig
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 3/15 bl. 21-24

Geen aftrede vir ons nie!

“GEEN AFTREDE VIR ONS NIE” is die boodskap wat jy kry wanneer jy by ’n buitengewone huis in Tokio, Japan, besoek aflê. ’n Gesin van 22 mans en vroue, met ’n gemiddelde ouderdom van 70, woon daar. Hulle word nie deur familiebande saamgebind nie, maar deur ’n gemeenskaplike belangstelling—sendingdiens. Hulle het altesaam 1 026 jaar lank in die voltydse predikingswerk volhard! Die drie oudste lede is in 1910 gebore. Sewe van hulle het hulle voltydse diens begin terwyl hulle tieners was. Nege van hulle het die uitbreiding van die Koninkrykspredikingswerk in Japan gesien sedert dit ná die Tweede Wêreldoorlog begin het.—Jesaja 60:22.

Tog is hierdie sesverdiepinggebou, wat vroeër die Wagtoringtakkantoorgebou was, ’n plek van bemoediging, veral vanweë die gees, die oorheersende gesindheid, van die sendelinge wat daar woon. Hoewel die meeste van hulle fisiese beperkings het wat met die ouderdom en swak gesondheid verband hou, is nie een van hierdie geestelike stryders gereed om uit te tree nie. Die Japannese Getuies het die gebou heeltemal vir hulle opgeknap en het ’n Koninkryksaal in die kelder asook ’n hysbak vir passasiers voorsien.

Wat hulle gelukkig maak

Aangesien hierdie sendelinge al soveel jare in hulle toewysing is, voel hulle dat hierdie land hulle tuiste is. “Toe ek verlede somer vir die streekbyeenkoms terug is Australië toe”, het een van die oudste gesinslede gesê, “was ek ná twee weke gereed om huis toe te kom!” Hulle het die mense lief onder wie hulle dien en het innige geneentheid vir hulle aangekweek. Briewe en telefoonoproepe wat hulle aan bedrywighede van die verlede herinner, is vir al die sendelinge kosbaar.

Dít is die resultaat van ’n ywerige bediening. Aangesien die sendelinge deur liefde vir Jehovah beweeg word, het hulle God se Woord dringend onder verskillende omstandighede verkondig. (Vergelyk 2 Timoteus 4:2.) “Ons het onsself geleer om vreugdevol te wees juis omdat ons Jehovah dien”, sê Vera MacKay wat al 37 jaar in Japan dien. “Al maak niemand die deur oop nie, is ons daar om van Jehovah te getuig.”

Twaalf van hierdie sendelinge was nooit getroud nie, maar hulle is bly dat hulle die Here kan dien sonder om afgelei te word (1 Korintiërs 7:35). Gladys Gregory, wat al 43 jaar lank as ’n sendeling dien, is een van hulle. Sy sê: “Om meer vryheid vir Jehovah se diens te kon hê, het ek ’n pionier geword, later na Gilead [Wagtoring-Bybelskool Gilead] toe gegaan en toe ’n sendeling geword. Ek het ongetroud gebly sonder dat ek my met ’n eed daartoe verbind het, en soos ’n aantal vriende was ek nog nooit daaroor spyt nie.”

Bereidwilligheid om aanpassings te maak

Hoewel party mense hardkoppig raak namate hulle ouer word, was die sendelinge bereid om aanpassings te maak. Lois Dyer, Molly Heron, en Lena en Margrit Winteler was in ’n kleiner sendinghuis in een van Tokio se woongebiede. Hulle het meer as 20 jaar daar gewoon en het aan die mense in daardie omgewing geheg geraak. In hulle gebied het die Winteler-susters 40 mense op hulle tydskrifroetes gehad en Molly en Lois 74 op hulle s’n. Toe het die Genootskap hulle gevra om na die ses verdieping hoë sendinghuis in die hartjie van Tokio te trek. “Ek was aanvanklik terneergedruk en ongelukkig”, erken Lena. Hulle het hulle egter, soos altyd, by hulle nuwe toewysing aangepas. Hoe voel hulle nou? “Baie gelukkig”, antwoord Lena. “Hier is nou twee Bethelbroers om vir ons te kook en die huis skoon te maak. Daar word goed na ons omgesien.” Hulle almal stem saam met Lois wat sê: “Die liefdevolle manier waarop Jehovah se organisasie na ons omsien, help ons om te volhard.”

Norrine Thompson het haar ook by nuwe omstandighede aangepas. “Vyftien jaar lank”, sê sy, “het ek die voorreg gehad om my man [oorspronklik van Nieu-Seeland] in die streekwerk te vergesel toe die hele Japan net een streek was.” Maar haar man se gesondheid het agteruitgegaan, en sy moes die grootste beproewing van haar lewe die hoof bied—sy dood 18 jaar gelede. “Wat my destyds gehelp het om in die sendingwerk voort te gaan”, sê sy, “was die liefde wat die broers oor die hele Japan getoon het, sowel as gebed en die feit dat ek in die diens besig gebly het.”

Standvastig ondanks gesondheidsprobleme

“Die meeste het die een of ander soort gesondheidsprobleem, maar hulle is opgeruimd, en hulle begeerte om te dien, is ’n voortreflike eienskap”, sê Albert Pastor, die opsiener van die sendinghuis. ’n Dokter en sy vrou, wat ’n verpleegster is, se toewysing is om na die sendelinge in die huis om te sien.

Eendag ongeveer drie jaar gelede het Elsie Tanigawa, ’n gegradueerde van die 11de klas van die Gileadskool, skielik in haar linkeroog blind geword. Vier maande later is haar regteroog ook aangetas. “Ek raak soms ’n bietjie terneergedruk omdat ek nie meer in staat is om soos vroeër te dien nie. Maar met al die goedhartige voorsienings van die Genootskap en die liefdevolle hulp van my metgesel en ander vind ek steeds vreugde in Jehovah se diens”, sê Elsie.

Sjinitsji Tohara en sy vrou, Masako, wat in dieselfde Gileadklas as Elsie was, moes gedurende die afgelope paar jaar weens hulle gesondheid baie verduur. Omdat sy oë verswak, is dit vir Sjinitsji, ’n bekwame spreker, ’n groot beproewing dat hy nie sy aantekeninge kan sien nie. Hoewel hy in onlangse jare groot en klein operasies ondergaan het, blink sy oë wanneer hy oor ’n 90-jarige Bybelstudent praat wat hy nou help.

Al het hulle “’n doring in die vlees”, het hierdie sendelinge dieselfde beskouing van hulle swakhede as die apostel Paulus wat gesê het: “Wanneer ek swak is, dan is ek kragtig” (2 Korintiërs 12:7-10). En hulle is inderdaad kragtig! Hulle is elke dag om sewe-uur daar vir oggendaanbidding. Ná ontbyt gaan dié wat fisies daartoe in staat is in die veldbediening uit.

Richard en Myrtle Sjiroma is van dié wat gereeld in die diens uitgaan. Myrtle het beroerteaanvalle gehad wat deur die begin van arteriosklerose van die brein in 1978 veroorsaak is, maar sy het haar man tot November 1987 in die reisende werk vergesel. Richard, wat self 70 jaar oud is, help Myrtle nou om alles te doen. Hy staan om 5:00 vm. op, help haar uit die bed, bad haar, trek haar aan, grimeer haar en voer haar met ’n lepel. Dan neem hy haar elke oggend vir velddiens in haar rystoel uit, waartydens hulle sowat ’n uur lank van huis tot huis gaan en daarna vir mense by bushaltes getuig. Myrtle kan nie meer praat nie, maar haar laaste woorde was Dendo, dendo, Japannees vir “Preek, preek”.

Hulle dogter, Sandra Soemida, het in die sendinghuis ingetrek om hulle te help. Sandra se geliefde man het onlangs aan ’n hartaanval gesterf. Sy waardeer die Wagtoringgenootskap se goedgunstige reëling om haar weer ’n toewysing in Japan te gee nadat sy in Guam saam met haar man as ’n sendeling gedien het. “Omdat ek in Guam was, het ek altyd gevoel dat ek nie eintlik ’n aandeel daaraan het om my ouers te help nie”, sê sy. “My suster, Joanne, het hulle in hierdie huis versorg. Toe die geleentheid hom voorgedoen het, was ek dus baie bly. Die feit dat hulle my hier nodig het, is vir my soos terapie sedert my man se skielike dood.”

Steeds bedrywig

Hoewel die sendelinge die gevolge van die ouderdom voel, weier hulle om hulle sendinggees te laat vaar (Psalm 90:10; Romeine 5:12). Jerry en Josji Toma, wat onder die eerste Gileadgegradueerdes was wat na Japan toe gekom het, werk steeds in die sakegebied van Sjiboeja se middestad. “Toe ons na die tweeverdiepinggebou toe gekom het wat in 1949 hier gestaan het, het ons van skuiling tot skuiling gegaan. Nou het Tokio ’n groot stad geword. Ons is oud en kan nie soveel soos vroeër doen nie. Maar wanneer ons velddiens gedoen het, voel ons so verkwik”, sê Josji.

Lillian Samson is al 40 jaar lank ’n sendeling in Japan en geniet haar bediening baie. “Ek help nou ’n 80-jarige vrou met wie my sendelingmaat, Adeline Nako, gestudeer het voordat sy na Hawaii teruggekeer het om haar siek moeder te versorg. Die vrou het onlangs ’n Koninkryksverkondiger geword nadat sy die probleem van vooroueraanbidding oorkom het. Sy het na die tempel toe gegaan en vir die priester se vrou gesê: ‘Ek het na die Christelike geloof oorgegaan!’” Met sulke vreugdes in haar lewe was Lillian nog nooit spyt oor die dag toe sy, op 19-jarige ouderdom, uit haar sekulêre werk bedank en die pionierdiens betree het nie.

Ruth Ulrich en Martha Hess is al meer as 45 jaar lank sendelingmaats en werk al 35 jaar lank van hierdie sendinghuis af. Hulle het hulle goed in die gebied ingeburger. ’n Kringopsiener het Martha eenkeer gevra: “Kan ek jou gesig leen om van huis tot huis te gaan?” Mense het Martha se gesig geken en hulle hand uitgesteek om die tydskrifte te neem, terwyl die kringopsiener gesukkel het om gesprekke te begin.

Ruth het ’n vrou op haar tydskrifroete wat as gevolg van gesondheidsprobleme nie kan lees nie. Die vrou ontvang nietemin steeds die tydskrifte en het selfs die hardebandboek Die mensdom se soeke na God geneem. Ruth het gewonder of sy moet aanhou om die tydskrifte af te lewer aangesien niemand skynbaar die lektuur gelees het nie. Toe het die vrou se man Ruth eendag met die Soeke-boek genader en gesê: “Hierdie is ’n wonderlike boek! Ek het dit twee keer deurgelees.” Ruth het ’n Bybelstudie met hom en sy vrou begin.

Hierdie sendinghuis self trek belangstellendes aan. Een aand het ’n jong man na die huis toe gekom en gesê: “Ek hoor dat ek gehelp kan word om Bybelkennis op te doen as ek hiernatoe kom.” ’n Bybelstudie is met hom begin. As ’n kok in ’n Chinese restaurant het hy saam met ’n vrou gewerk wat baie jare lank uitgesit was. Tydskrifte wat by iemand gelaat is toe ’n verkondiger die restaurant besoek het, het in die kombuis beland. Die jong kok het van die tydskrifte gehou en het die gewese Getuie vrae begin vra. Sy kon dit nie beantwoord nie en het gesê hy moet na die sendinghuis toe gaan. Hy dien nou as ’n bedieningskneg en ’n pionier. Die uitgesette vrou is mettertyd herstel, en later het sy ook ’n gewone pionier geword.

Al die sendelinge in die huis waardeer wat Jehovah vir hulle gedoen het. Hulle het uit Australië, Hawaii, Kanada, Switserland en die Verenigde State gekom, en 11 was lede van die 11de klas of vroeëre klasse van die Gileadsendingskool. Hulle het die vooruitgang van die Koninkrykswerk in Japan gesien en voel soos koning Dawid wat gesê het: “Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie” (Psalm 37:25). Uit waardering vir God se liefdevolle sorg is hierdie sendelinge vasbeslote om nie af te tree nie, maar om Jehovah te bly dien.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel