God se knegte—’n georganiseerde en gelukkige volk
“Gelukkig is die volk wie se God Jehovah is!”—PSALM 144:15, NW.
1, 2. (a) Waarom het Jehovah die reg om standaarde vir sy knegte te stel? (b) Wat is twee van Jehovah se kenmerke wat ons veral wil navolg?
JEHOVAH is die Universele Soewerein, die almagtige God, die Skepper (Genesis 1:1; Psalm 100:3). As sodanig stel hy tereg die gedragstandaard vir sy knegte, aangesien hy weet wat vir hulle die beste is (Psalm 143:8). En hy is hulle vernaamste Voorbeeld wie se eienskappe hulle moet navolg. “Wees dan navolgers van God soos geliefde kinders”, het ’n apostel geskryf.—Efesiërs 5:1.
2 ’n Kenmerk van God wat ons moet navolg, hou verband met organisasie. Hy is “nie ’n God van wanorde nie” (1 Korinthiërs 14:33). Wanneer ons opmerksaam kyk na wat God geskep het, moet ons tot die slotsom kom dat hy die georganiseerdste Persoon in die heelal is. Maar geluk is nog ’n kenmerk van God wat hy wil hê sy knegte moet navolg, want hy is “die gelukkige God” (1 Timotheüs 1:11, NW). Daar is dus ’n balans tussen sy organisasievermoë en geluk. Die een oorheers nie ten koste van die ander nie.
3. Hoe toon die sterrehemel God se vermoë om te organiseer?
3 Alles wat Jehovah gemaak het, van die grootste tot die kleinste, getuig van die feit dat hy ’n God is wat kan organiseer. Dink byvoorbeeld aan die sigbare heelal. Dit bevat miljarde sterre. Maar hulle is nie lukraak versprei nie. Die astrofisikus George Greenstein sê daar is “’n patroon wat die organisasie van sterre betref”. Hulle is in groepe gerangskik wat galaksies genoem word, en in party is daar miljarde sterre. En na raming is daar miljarde galaksies! Die galaksies is ook gerangskik, aangesien ’n aantal van hulle (van ’n paar tot ’n paar duisend) saam in ’n galaksieswerm gegroepeer word. En galaksieswerms word vermoedelik in selfs groter eenhede gegroepeer wat superswerms genoem word.—Psalm 19:2; Jesaja 40:25, 26.
4, 5. Gee voorbeelde van lewende dinge op aarde wat van organisasie getuig.
4 Die voortreflike organisasie van God se skeppingswerke word oral gesien, nie net in die sigbare hemele nie maar ook op die aarde, met sy ontelbare lewende dinge. Aangaande al hierdie dinge het Paul Davies, ’n professor in die natuurkunde, geskryf dat waarnemers “verbaas” is oor die “majesteit en ingewikkelde organisasie van die fisiese wêreld”.—Psalm 104:24.
5 Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde van die “ingewikkelde organisasie” wat in lewende dinge gevind word. Die neurochirurg Joseph Evans het van die mens se brein en rugmurg gesê: “Die ontsaglike orde is byna oorweldigend.” Van die mikroskopiese lewende sel het die bakterioloog H. J. Shaughnessy gesê: “Die ingewikkeldheid en pragtige orde van die mikroskopiese wêreld is so wonderlik saamgestel dat dit lyk of dit deel is van ’n Goddelik bestemde stelsel.” En die molekulêre bioloog Michael Denton het van die genetiese kode (DNS) binne-in die sel gesê: “Dit is so doeltreffend dat al die inligting . . . wat nodig is om die ontwerp te spesifiseer van al die spesies van organismes wat al ooit op die planeet bestaan het . . . in ’n teelepel sal pas, en dan sal daar nog plek wees vir al die inligting in elke boek wat al ooit geskryf is.”—Sien Psalm 139:16.
6, 7. Hoe georganiseerd is die geesskepsele, en hoe spreek hulle waardering uit vir hulle Maker?
6 Jehovah organiseer nie net sy stoflike skeppingswerke nie, maar hy organiseer ook sy geestelike skeppingswerke in die hemel. Daniël 7:10 sê vir ons dat die getal engele wat ‘voor Jehovah staan tienduisend maal tienduisende is’. ’n Honderdmiljoen kragtige geesskepsele is hier aanwesig, en elkeen het sy eie werk! Dit is ongelooflik om te dink hoeveel vaardigheid dit moet vereis om sulke ontsaglike getalle te organiseer. Die Bybel sê tereg: “Loof die HERE, sy engele, kragtige helde wat sy woord volbring, in gehoorsaamheid aan die stem van sy woord! Loof die HERE, al sy leërskare [engele], sy dienaars wat sy welbehae doen!”—Psalm 103:20, 21; Openbaring 5:11.
7 Hoe wonderlik georganiseerd en doeltreffend is die Skepper se werke tog! Dit is geen wonder nie dat magtige geesskepsele in die hemel op ’n eerbiedige en onderdanige manier uitroep: “U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape.”—Openbaring 4:11.
8. Watter voorbeelde toon dat Jehovah sy knegte op die aarde organiseer?
8 Jehovah organiseer ook sy knegte op die aarde. Toe hy in 2370 v.G.J die Vloed van Noag se dag gebring het, het Noag en sewe ander as ’n georganiseerde gesin die Vloed oorleef. Tydens die Eksodus van 1513 v.G.J. het Jehovah etlike miljoene van sy volk uit Egiptiese slawerny bevry en aan hulle ’n uitvoerige stel wette gegee om hulle daaglikse aangeleenthede en aanbidding te organiseer. En later, in die Beloofde Land, is tienduisende van hulle georganiseer om spesiale diens by die tempel te verrig (1 Kronieke 23:4, 5). In die eerste eeu is Christengemeentes onder Goddelike leiding georganiseer: “Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars, om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk.”—Efesiërs 4:11, 12.
Hedendaagse knegte ook georganiseerd
9, 10. Hoe organiseer Jehovah sy volk in ons tyd?
9 Jehovah het eweneens sy hedendaagse knegte georganiseer sodat hulle sy werk vir ons dag, naamlik die verkondiging van die goeie nuus van sy Koninkryk voordat hy hierdie huidige goddelose stelsel van dinge vernietig, op ’n doeltreffende wyse kan doen (Mattheüs 24:14). Dink ’n bietjie na oor wat hierdie wêreldwye werk behels en hoe belangrik goeie organisasie is. Miljoene mans, vrouens en kinders word opgelei om Bybelwaarhede aan ander te leer. ’n Ontsaglike hoeveelheid Bybels en Bybelse publikasies word gedruk om met hierdie opleiding te help. Trouens, elke nommer van Die Wagtoring het nou ’n oplaag van meer as 16 miljoen in 118 tale en die Ontwaak! ongeveer 13 miljoen in 73 tale. Byna al die tale word tegelykertyd gedruk sodat feitlik al Jehovah se knegte dieselfde inligting op dieselfde tyd kry.
10 Daarbenewens is meer as 73 000 gemeentes van Jehovah se Getuies oor die hele wêreld georganiseer om gereeld vir Bybelonderrig te vergader (Hebreërs 10:24, 25). Daar is ook elke jaar duisende groter samekomste—kring- en streekbyeenkomste. Oor die hele wêreld is daar ’n grootskaalse bouwerk aan nuwe of verbeterde Koninkryksale, Byeenkomssale, Bethelhuise en fasiliteite om Bybellektuur te druk. Daar is skole vir die gevorderde opleiding van Bybelonderrigters, soos die Wagtoring-Bybelskool Gilead vir sendelinge en die Pionierdiensskool, wat in lande oor die hele wêreld aangebied word.
11. Watter toekomstige voordeel sal dit inhou as ons nou leer om goed te kan organiseer?
11 Hoe goed het Jehovah tog nie sy volk op aarde georganiseer om met die hulp van engele ‘hulle bediening te vervul’ nie! (2 Timotheüs 4:5; Hebreërs 1:13, 14; Openbaring 14:6). God bereik ook iets anders deur sy knegte nou te leer om goed te kan organiseer. Sy knegte word goed voorberei sodat hulle, wanneer hulle die einde van hierdie stelsel van dinge oorleef, reeds georganiseerd sal wees om die lewe in die nuwe wêreld te begin. Dan sal hulle op ’n georganiseerde manier onder Jehovah se leiding met die wêreldwye Paradys begin. Hulle sal ook goed voorbereid wees om God se uitvoerige vereistes vir die lewe aan miljarde mense te leer wat uit die dood opgewek sal word.—Jesaja 11:9; 54:13; Handelinge 24:15; Openbaring 20:12, 13.
Georganiseerd en tog gelukkig
12, 13. Waarom kan ons sê Jehovah wil hê dat sy volk gelukkig moet wees?
12 Hoewel Jehovah ’n uitsonderlike werker en voortreflike organiseerder is, is hy nie ongevoelig, onbuigsaam of meganies nie. Hy is eerder ’n baie hartlike, gelukkige Persoon wat oor ons geluk besorg is. “Hy is besorg oor julle”, sê 1 Petrus 5:7 (NW). Ons kan sy besorgdheid en sy begeerte dat sy knegte gelukkig moet wees, sien in wat hy vir die mens gemaak het. Toe God die volmaakte man en vrou geskep het, het hy hulle byvoorbeeld in ’n paradys van genot geplaas (Genesis 1:26-31; 2:8, 9). Hy het hulle alles gegee wat hulle nodig gehad het om besonder gelukkig te wees. Maar weens hulle opstand het hulle dit alles verloor. As gevolg van hulle sonde het ons onvolmaaktheid en die dood geërf.—Romeine 3:23; 5:12.
13 Hoewel ons nou onvolmaak is, kan ons as mense steeds geluk vind in wat God geskep het. Daar is baie dinge wat ons vreugde verskaf—majestueuse berge; pragtige mere, riviere, oseane en strande; kleurryke, welriekende blomme en ander plante in ’n eindelose verskeidenheid; ’n oorvloed van smaaklike kossoorte; skouspelagtige sonsondergange waarvoor ons nooit moeg word nie; die sterrehemel waarna ons graag snags kyk; die diereryk met sy groot verskeidenheid en oulike, spelerige kleintjies; besielende musiek; interessante en nuttige werk; goeie vriende. Dit is duidelik dat die Een wat sulke dinge voorsien het ’n gelukkige persoon is wat dit geniet om ander gelukkig te maak.
14. Watter balans wil Jehovah hê moet ons handhaaf as ons hom navolg?
14 Jehovah vereis derhalwe nie bloot georganiseerde doeltreffendheid nie. Hy wil ook hê dat sy knegte gelukkig moet wees, net soos hy gelukkig is. Hy wil nie hê dat hulle op fanatiese wyse dinge ten koste van hulle geluk moet organiseer nie. God se knegte moet ’n balans handhaaf tussen hulle organisasievaardighede en geluk, soos hy dit doen, want waar sy kragtige heilige gees is, is daar blydskap. Trouens, volgens Galasiërs 5:22 is “blydskap” die tweede vrug van God se heilige gees wat op sy volk inwerk.
Liefde bring geluk voort
15. Waarom is liefde ’n vereiste vir ons geluk?
15 Dit is van groot belang om daarop te let dat die Bybel sê: “God is liefde” (1 Johannes 4:8, 16). Dit sê nooit: “God is organisasie” nie. Liefde is God se vernaamste eienskap, en sy knegte moet dit navolg. Dit is waarom die eerste vrug van God se gees wat in Galasiërs 5:22 genoem word “liefde” is, met “blydskap” daarna. Liefde bring blydskap voort. Wanneer ons Jehovah se liefde in ons handelinge met ander navolg, lei dit tot geluk, want liefdevolle mense is gelukkige mense.
16. Hoe het Jesus die belangrikheid van liefde getoon?
16 Die leringe van Jesus toon hoe belangrik dit is om Goddelike liefde na te volg. Hy het gesê: “Net wat my Vader My geleer het, dit spreek Ek” (Johannes 8:28). Wat is Jesus veral geleer wat hy weer vir ander geleer het? Dit was dat die twee grootste gebooie is om God lief te hê en om jou naaste lief te hê (Mattheüs 22:36-39). Jesus was ’n voorbeeld van sulke liefde. Hy het gesê: ‘Ek het die Vader lief’, en hy het dit getoon deur God se wil tot die dood toe te doen. En hy het sy liefde vir mense getoon deur vir hulle te sterf. Die apostel Paulus het vir die Christene in Efese gesê: ‘Christus het julle liefgehad en Hom vir julle oorgegee’ (Johannes 14:31; Efesiërs 5:2). Jesus het derhalwe vir sy volgelinge gesê: “Dít is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het.”—Johannes 15:12, 13.
17. Hoe het Paulus getoon dat dit belangrik is om aan ander liefde te betoon?
17 Paulus het getoon hoe belangrik hierdie Goddelike liefde is toe hy gesê het: “Al sou ek die tale van mense en engele spreek, en ek het nie die liefde nie, dan het ek ’n klinkende metaal of ’n luidende simbaal geword. En al sou ek die gawe van profesie hê en al die geheimenisse weet en al die kennis, en al sou ek al die geloof hê, sodat ek berge kon versit, en ek het nie die liefde nie, dan sou ek niks wees nie. En al sou ek al my goed uitdeel, en al sou ek my liggaam oorgee om verbrand te word, en ek het nie die liefde nie, dan sou dit my niks baat nie. . . . Nou bly geloof, hoop, liefde—hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.”—1 Korinthiërs 13:1-3, 13.
18. Wat kan ons van Jehovah verwag wat tot ons geluk bydra?
18 Wanneer ons Jehovah se liefde navolg, kan ons vol vertroue wees dat hy aan ons liefde sal betoon, selfs as ons foute begaan, want hy is ’n “barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou” (Exodus 34:6). As ons opregte berou toon wanneer ons foute begaan, hou God dit nie teen ons nie, maar hy vergewe ons liefdevol (Psalm 103:1-3). Ja, ‘die Here is vol medelye en ontferming’ (Jakobus 5:11). Die feit dat ons dit weet, dra tot ons geluk by.
Ons smaak nou relatiewe geluk
19, 20. (a) Waarom is algehele geluk nie nou moontlik nie? (b) Hoe toon die Bybel dat ons nou relatiewe geluk kan smaak?
19 Maar is dit vandag moontlik om gelukkig te wees, aangesien ons in die laaste dae van hierdie misdadige, gewelddadige, onsedelike wêreld onder Satan lewe, waar ons met siekte en die dood te kampe het? Ons kan natuurlik nie nou die mate van geluk verwag wat God se Woord voorspel in sy nuwe wêreld sal wees nie: “Kyk, Ek skep nuwe hemele en ’n nuwe aarde, en aan die vorige dinge sal nie gedink word en hulle sal in die hart nie opkom nie. Maar wees julle bly en juig vir ewig oor wat Ek skep.”—Jesaja 65:17, 18.
20 God se knegte kan nou relatiewe geluk smaak, aangesien hulle weet wat sy wil is en juiste kennis aangaande sy wonderlike beloftes het wat binnekort in sy paradysagtige nuwe wêreld vervul gaan word (Johannes 17:3; Openbaring 21:4). Dit is waarom die Bybel kan sê: “O Jehovah van die leërskare, gelukkig is die mens wat op u vertrou”, “gelukkig is elkeen wat Jehovah vrees, wat in sy weë wandel”, “gelukkig is die saggeaardes‚ want hulle sal die aarde beërf” (Psalm 84:12, NW; 128:1, NW; Mattheüs 5:5, NW). Ten spyte van die moeilike omstandighede waarmee ons tans te kampe het, kan ons dus ’n groot mate van geluk smaak. Selfs as slegte dinge met ons gebeur, hoef ons nie te treur soos diegene wat Jehovah nie ken en wat nie die hoop op die ewige lewe het nie.—1 Thessalonicense 4:13.
21. Hoe dra dit tot die geluk van Jehovah se knegte by as hulle van hulleself gee?
21 Jehovah se knegte is ook gelukkig omdat hulle hulle tyd, energie en middele gebruik om aan ander Bybelwaarhede te leer, veral aan mense wat “sug en steun oor al die gruwels” wat in Satan se wêreld gedoen word (Esegiël 9:4). Die Bybel sê: “Gelukkig is elkeen wat bedagsaam teenoor die geringe optree; op die dag van rampspoed sal Jehovah hom ontvlugting verleen; Jehovah self sal hom behoed en hom in die lewe hou. Hy sal gelukkig verklaar word op die aarde” (Psalm 41:1, 2, NW). Soos Jesus gesê het, ‘verskaf dit groter geluk om te gee as om te ontvang’.—Handelinge 20:35, NW.
22. (a) Wat geluk betref, toon die kontras tussen God se knegte en diegene wat hom nie dien nie. (b) Om watter spesiale rede moet ons verwag om gelukkig te wees?
22 Hoewel God se knegte dus nie nou volkome geluk kan verwag nie, kan hulle geluk smaak wat nie geniet word deur diegene wat God nie dien nie. Jehovah sê: “Kyk, my knegte sal jubel, omdat hulle hart vrolik is, maar júlle sal skreeu van pyn in die hart en huil deur die verbreking van gees” (Jesaja 65:14). Diegene wat God dien, het ook ’n baie spesiale rede om nou gelukkig te wees—hulle het sy heilige gees wat “God aan dié gegee het wat hom as heerser gehoorsaam” (Handelinge 5:32, NW). En onthou, waar God se gees is, is daar geluk.—Galasiërs 5:22.
23. Wat gaan ons in ons volgende studie bespreek?
23 In die organisasie van God se hedendaagse knegte speel die “ouere manne”, wat die leiding in die gemeentes neem, ’n belangrike rol wat tot die geluk van Jehovah se volk bydra (Titus 1:5, NW). Hoe moet hulle hulle verantwoordelikhede en hulle verhouding met hulle geestelike broers en susters beskou? Ons volgende artikel sal dit bespreek.
Hoe sal jy antwoord?
◻ Hoe getuig die skepping daarvan dat Jehovah georganiseerd is?
◻ Hoe het Jehovah sy knegte in die verlede georganiseer, en hoe doen hy dit nou?
◻ Watter balans wil Jehovah hê moet ons handhaaf?
◻ Hoe belangrik is liefde vir ons geluk?
◻ Watter soort geluk kan ons in ons tyd verwag?
[Foto-erkenning op bladsy 10]
Top: Courtesy of ROE/Anglo-Australian Observatory, photograph by David Malin