Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w94 9/15 bl. 27-30
  • Leer jy by ons Grootse Onderrigter?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Leer jy by ons Grootse Onderrigter?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Praktiese wysheid wat van Jehovah kom
  • Jehovah se gebruik van illustrasies
  • Vrae wat selfondersoek aanmoedig
  • Bou vertroue op
  • ’n Aanskouingsles
  • Onderrig met geduld
  • Hou aan om by Jehovah te leer
  • Hy het ’n les in barmhartigheid geleer
    Volg hulle geloof na
  • Hy het ’n les in barmhartigheid geleer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Jona leer aangaande Jehovah se barmhartigheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Bybelboek nommer 32—Jona
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
w94 9/15 bl. 27-30

Leer jy by ons Grootse Onderrigter?

“EK HET vyf jaar lank aan een van die beste universiteite in Spanje in die regte gestudeer”, het Julio verduidelik. “Maar wat ek geleer het toe ek die Bybel begin bestudeer het, was baie meer verhewe. Die universiteit het my geleer hoe om te studeer; die Bybel het my geleer hoe om te lewe.”

Deur die Bybel het ons toegang tot God se gedagtes, sy beginsels en sy onderrigting. Die Skrif beskryf Jehovah as die “Grootse Onderrigter” omdat hy die beste leermeester in die heelal is (Jesaja 30:20, NW). Die Hebreeuse teks noem Hom letterlik “onderrigters”—’n meervoud wat dui op voortreflikheid. Dit behoort ons daaraan te herinner dat dit baie meer verhewe is om deur Jehovah onderrig te word as om onder enige ander leermeester te studeer.

Praktiese wysheid wat van Jehovah kom

Waarom is Goddelike onderrigting so voordelig? Eerstens vanweë die onskatbare waarde daarvan. Jehovah se onderrigting gee ons “praktiese wysheid”. Wat meer is, godgegewe wysheid hou diegene wat dit toepas “in die lewe”.—Spreuke 3:21, 22, NW; Prediker 7:12.

Die skrywer van Psalm 119 het besef dat Jehovah se wysheid hom sy hele lewe lank beskerm het. Hy het byvoorbeeld gesing: “Die wet van u mond is vir my beter as duisende stukke goud en silwer. As u wet nie my verlustiging was nie, dan het ek omgekom in my ellende. U gebooie maak my wyser as my vyande, want hulle is myne vir ewig. Ek is verstandiger as al my leermeesters, want u getuienisse is my bepeinsing.”—Psalm 119:72, 92, 98, 99.

Die psalmis is nie al een wat in sy ‘ellende sou omgekom het’ as dit nie vir Jehovah se wet was nie. Rosa, ’n jong vrou van Spanje, is oortuig dat haar lewe gered is omdat sy Goddelike beginsels toegepas het. “Teen die tyd dat ek 26 was, het ek reeds twee maal probeer selfmoord pleeg”, sê sy.

Rosa het by prostitusie sowel as alkohol- en dwelmmisbruik betrokke geraak. “Eendag, toe ek uiters wanhopig was”, sê sy, “het ’n Getuie-egpaar met my gepraat oor hoe die Bybel ons kan help om ons probleme op te los. Ek het God se Woord begin bestudeer en dit boeiend gevind. Binne ’n maand het ek die krag gehad om heeltemal ’n nuwe begin in my lewe te maak. Noudat ek ’n doel in die lewe gehad het, was dit nie meer vir my nodig om op alkohol of dwelms te steun nie. En aangesien ek baie graag Jehovah se vriend wou wees, was ek vasbeslote om volgens sy standaarde te lewe. As dit nie vir die praktiese wysheid van God se Woord was nie, sou ek beslis teen dié tyd al selfmoord gepleeg het.”

Die wysheid van Jehovah is waarlik lewensreddend. Ons kan gevolglik nie net by die kosbare inhoud van Goddelike onderrigting baat vind nie, maar ook by die maniere waarop Jehovah sy knegte onderrig. Aangesien God se Seun, Jesus Christus, ons opdrag gegee het om onderrigters te wees en dissipels te maak, moet ons leer wat die doeltreffendste maniere van onderrigting is.—Mattheüs 28:19.

Jehovah se gebruik van illustrasies

Markus se Evangelie sê dat Jesus nie ‘sonder gelykenis tot hulle gespreek het nie’ (Markus 4:34). Hierdie kenmerk van Jesus se onderrigting verbaas ons nie. Hy het eenvoudig een van die maniere nagevolg waarop Jehovah se profetiese boodskappe aan die nasie Israel oorgedra is. Onder hierdie boodskappe is daar ’n aantal aanskoulike illustrasies.—Jesaja 5:1-7; Jeremia 18:1-11; Esegiël 15:2-7; Hosea 11:1-4.

Let byvoorbeeld op hoe Jehovah ’n kragtige illustrasie gebruik om ons te leer dat afgode nutteloos is. Jesaja 44:14-17 sê: “Een gaan sederbome afkap, en hy neem ’n steeneik of ’n eikeboom . . . Hy het ’n pynboom geplant, en . . . dit [dien] die mens as brandhout, en hy neem daarvan en maak hom warm; ook steek hy dit aan die brand en bak brood; ook maak hy daar ’n god van en buig hom daarvoor neer; hy maak daar ’n gesnede beeld van en kniel daarvoor neer. Die helfte daarvan het hy in die vuur verbrand: by die een helfte eet hy vleis, hy maak braaivleis klaar en word versadig; . . . En van wat oor is, maak hy ’n god, sy gesnede beeld; hy kniel daarvoor neer en buig hom en aanbid dit en sê: Red my, want u is my god!” Sulke illustrasies is kragtige hulpmiddele om opregtes van hart te help om afgodediens en valse leerstellings te verwerp.

Vrae wat selfondersoek aanmoedig

Die Bybel bevat ook voorbeelde van hoe Jehovah sommige van sy knegte se denke deur middel van gedagteprikkelende vrae reggestel het. Die aartsvader Job was een van hulle. Jehovah het hom geduldig help besef hoe nietig hy in verhouding tot God is. Dit is gedoen deur middel van ’n reeks vrae, wat Job hoegenaamd nie kon beantwoord nie.

“Waar was jy toe Ek die aarde gegrond het?” het Jehovah Job gevra. “Wie het die see met deure afgesluit? . . . Kan jy die bande van die Sewe-ster knoop? Of die toue van die Orion losmaak? . . . Het jy dan ’n arm soos God?” Hierdie ondervraging, wat Job nederig gemaak het, het die baie belangrike vraag ingesluit: “Wil jy . . . My [Jehovah] veroordeel, dat jy gelyk kan hê?”—Job 38:4, 8, 31; 40:3, 4.

Hierdie vrae het Job beweeg om selfondersoek te doen, en dit het hom laat besef dat hy sonder insig gepraat het. Hy het sy woorde dus teruggetrek en berou getoon (Job 42:6). Soos in hierdie geval kan vrae wat goed gekies word, help om die verkeerde beskouings van ons kinders of Bybelstudente reg te stel.

Bou vertroue op

Sê nou ons moet iemand help wat onwaardig of onbevoeg voel? ’n Gesprek tussen Jehovah en sy profeet Moses is in hierdie verband nuttig. Toe God Moses aangestel het om sy woordvoerder voor Farao en die Israeliete te wees, het die profeet onbevoeg vir die taak gevoel. “Ek is swaar van mond en swaar van tong”, het hy gesê. Maar God het geantwoord: “Wie het vir die mens die mond gemaak? . . . Is dit nie Ek, die HERE, nie? Gaan dan nou heen, en Ek sal met jou mond wees en jou leer wat jy moet sê.”—Exodus 4:10-12.

Jehovah het Moses se broer Aäron as sy woordvoerder aangestel, en hulle het hulle werk in Egipte volbring (Exodus 4:14-16). Heelparty Getuies van Jehovah het al dieselfde gevoelens van onbekwaamheid as Moses gehad toe hulle vir die eerste keer aan die bediening van huis tot huis of aan die straatgetuieniswerk deelgeneem het. Soos in Moses se geval, kan die wete dat Jehovah ons steun en dat ’n ervare bedienaar ons gaan vergesel ons help om ons huiwerigheid te oorkom. Net soos Moses in so ’n mate vertroue kon aankweek dat hy later die kragtige toesprake gelewer het wat oral in die Bybelboek Deuteronomium aangetref word, kan ons ook met Jehovah se hulp ons spraakvermoë ontwikkel.

’n Aanskouingsles

’n Opregte begeerte om ander te help, is ook onontbeerlik. Dit was ’n eienskap wat die profeet Jona kortgekom het. Jehovah het Jona die opdrag gegee om die mense van Nineve teen die naderende vernietiging van die stad te waarsku. Die Nineviete het hulle verbasend genoeg bekeer (Jona 3:5). Jehovah het die ramp gevolglik uitgestel. Maar pleks van verheug te wees oor die sukses van sy predikingsveldtog was Jona kwaad omdat sy voorspelling nie vervul sou word nie. Hoe het Jehovah hom gehelp om die regte beskouing te verkry?

Jehovah het ’n komkommerplant gebruik sodat hy Jona die belangrikheid daarvan kon leer om vir ander om te gee. Die plant het oornag wonderdadig opgekom en welkome skadu voorsien aan Jona, wat aan die buitewyke van Nineve vir hom ’n skerm gebou het. Jona “was baie bly” oor hierdie eenvoudige plant. Maar toe het Jehovah veroorsaak dat ’n wurm aan die plant eet sodat dit verdroog het. Aangesien Jona toe aan die son en aan ’n skroeiende wind blootgestel was, het hy kwaad geword en gesê: “Dit is vir my beter om te sterf as om te lewe” (Jona 4:5-8, NAV). Wat was die les?

Jehovah het met Jona gepraat en gesê: “Jy is besorg oor die komkommerplant waarvoor jy nie gewerk het nie en wat jy nie versorg het nie. Dit het oornag opgekom en oornag is dit dood. Maar Ek mag nie besorg wees oor die groot stad Nineve nie, ’n stad waarin daar meer as honderd en twintig duisend mense is wat nie weet wat reg of verkeerd is nie, en ook nog baie diere?”—Jona 4:9-11, NAV.

Wat ’n kragtige aanskouingsles was dit tog! Jona het meer in die komkommerplant as in duisende mense belanggestel. Hoewel besorgdheid oor enige deel van God se skepping prysenswaardig is, is ons belangrikste taak om mense se lewens te help red.

Onderrig met geduld

Soos Jona ontdek het, is dit nie altyd maklik om ons bediening te vervul nie (2 Timotheüs 4:5). Maar ’n geduldige gesindheid teenoor ander sal help.

Hoe tree jy op wanneer een van jou Bybelstudente stadig of ietwat onredelik is? Ons Grootse Onderrigter leer ons hoe om so ’n probleem te hanteer. Hy het buitengewone geduld beoefen toe Abraham hom met vrae bestook het oor die naderende oordeel oor Sodom en Gomorra. “Sal U ook die regverdige saam met die goddelose ombring?” het Abraham gevra. “Miskien is daar vyftig regverdiges binne-in die stad”, het Abraham gepleit. “Sal U hulle ook ombring en die plek nie spaar ter wille van die vyftig regverdiges wat daarin is nie?” Jehovah se antwoord het Abraham laat pleit totdat die getal tot tien verminder is. Jehovah het geweet dat net Lot se gesin verdien het om gered te word, en voorsiening is daarvoor gemaak. Maar God het geduldig toegelaat dat Abraham hom aanhou vra totdat hy die omvang van Jehovah se genade begryp het.—Genesis 18:20-32.

Jehovah het Abraham se beperkte begrip en sy gevoelens van besorgdheid in aanmerking geneem. As ons ook van ons student se beperkinge bewus is, sal dit ons help om geduldig te wees terwyl hy sukkel om ’n sekere leerstelling te verstaan of om ’n diepgewortelde gewoonte te oorkom.

Hou aan om by Jehovah te leer

Jehovah God is beslis die Grootse Onderrigter. Deur gebruik te maak van hulpmiddele soos illustrasies, vrae en aanskouingslesse voorsien hy geduldig insig. Na die mate waarin ons sy onderrigmetodes navolg, dermate sal ons self beter onderrigters word.

Aangesien diegene wat ander onderrig nie moet nalaat om hulleself te onderrig nie, moet ons voortgaan om ‘deur Jehovah geleer’ te word (Jesaja 54:13). Jesaja het geskryf: “En jou oë moet oë word wat jou Grootse Onderrigter sien. En jou eie ore sal ’n woord agter jou hoor wat sê: ‘Dit is die weg. Wandel daarop’, ingeval julle regs of ingeval julle links sou gaan” (Jesaja 30:20, 21, NW). As ons op Jehovah se weg bly wandel en ander help om dit te doen, kan ons die unieke voorreg hê om vir ewig by ons Grootse Onderrigter te leer.

[Prent op bladsy 28]

Jehovah het Job gevra: “Vlieg die adelaar hoog op jou bevel en bou hy hoog sy nes?”

[Prent op bladsy 28]

Deur middel van ’n komkommerplant het Jehovah Jona geleer om meer besorg te wees oor mense

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel