Neem as voorbeeld die profete van God
“Neem as voorbeeld van lyding, my broeders, en van geduld die profete wat in die Naam van [Jehovah] gespreek het.”—JAKOBUS 5:10.
1. Wat help Jehovah se knegte om vreugdevol te wees selfs wanneer hulle vervolg word?
JEHOVAH se knegte straal vreugde uit ten spyte van die somberheid wat in hierdie laaste dae iets algemeens oor die hele wêreld is. Dit is die geval omdat hulle weet dat hulle God behaag. Getuies van Jehovah verduur ook vervolging en teenstand teen hulle openbare bediening omdat hulle besef dat hulle ter wille van geregtigheid ly. Jesus Christus het vir sy volgelinge gesê: “Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil. Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele; want so het hulle die profete vervolg wat voor julle gewees het” (Mattheüs 5:10-12). Ja, wanneer God se knegte ook al voor beproewinge van hulle geloof te staan kom, beskou hulle dit as ’n vreugde.—Jakobus 1:2, 3.
2. Wat kan ons volgens Jakobus 5:10 help om geduld te beoefen?
2 Die dissipel Jakobus het geskryf: “Neem as voorbeeld van lyding, my broeders, en van geduld die profete wat in die Naam van [Jehovah] gespreek het” (Jakobus 5:10). W. F. Arndt en F. W. Gingrich definieer die Griekse woord wat hier met “voorbeeld” (hy·p̣oʹdeig·ma) vertaal word as “patroon, model, voorbeeld, in ’n goeie sin as iets wat ’n mens aanspoor of moet aanspoor om dit na te volg”. Soos Johannes 13:15 toon, “is dit meer as net ’n voorbeeld. Dit is ’n definitiewe prototipe” (Theological Dictionary of the New Testament). Jehovah se hedendaagse knegte kan dus sy getroue profete as ’n voorbeeld neem ten opsigte van “lyding” en “geduld”. Wat kan ons nog leer wanneer ons hulle lewens bestudeer? En hoe kan dit ons in ons predikingswerk help?
Hulle het lyding verduur
3, 4. Hoe het die profeet Amos op die teenstand van Amasia gereageer?
3 Jehovah se profete het dikwels lyding of slegte behandeling verduur. In die negende eeu v.G.J. het die priester Amasia, wat kalfaanbidding beoefen het, byvoorbeeld die profeet Amos op goddelose wyse teëgestaan. Amasia het valslik beweer dat Amos teen Jerobeam II saamgesweer het deur te profeteer dat die koning deur die swaard sal sterf en dat Israel in ballingskap sal gaan. Amasia het minagtend vir Amos gesê: “Gaan weg, siener, vlug na die land Juda en eet daar brood en profeteer daar! Maar in Bet-el mag jy verder nie meer profeteer nie, want dit is ’n koninklike heiligdom en ’n tempel van die ryk.” Amos is nie deur hierdie aanval afgeskrik nie en het geantwoord: “Ek was geen profeet en ook geen profete-seun nie; maar ek was ’n veewagter en kweker van wildevyebome. Maar die HERE het my agter die kleinvee weggeneem, en die HERE het aan my gesê: Gaan heen, profeteer teen my volk Israel.”—Amos 7:10-15.
4 Jehovah se gees het Amos die krag gegee om moedig te profeteer. Stel jou Amasia se reaksie voor toe Amos gesê het: “Hoor dan nou die woord van die HERE! Jy sê: Jy mag nie teen Israel profeteer nie, en jy mag geen woorde laat druppel teen die huis van Isak nie. Daarom, so sê die HERE: Jou vrou sal in die stad hoereer, en jou seuns sowel as jou dogters sal deur die swaard val, en jou grond met die meetsnoer verdeel word, en jy self sal in ’n onrein land sterwe, en Israel sekerlik in ballingskap uit sy land gaan” (Amos 7:16, 17). Hierdie profesie is vervul. Hoe geskok moes die afvallige Amasia tog nie gewees het nie!
5. Watter ooreenkoms is daar tussen die situasie van Jehovah se hedendaagse knegte en dié van die profeet Amos?
5 Jehovah se volk bevind hulle vandag in ’n soortgelyke situasie. Ons ly as diegene wat God se boodskappe verkondig, en baie mense praat minagtend van ons predikingswerk. Ons magtiging om te preek kom weliswaar nie van ’n teologiese skool nie. Jehovah se heilige gees spoor ons eerder aan om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig. Ons verander nie God se boodskap nie, en ons verwater dit ook nie. Ons verkondig dit eerder, soos Amos, ongeag die reaksie wat dit by ons hoorders uitlok.—2 Korinthiërs 2:15-17.
Hulle het geduld beoefen
6, 7. (a) Wat was kenmerkend van die manier waarop Jesaja geprofeteer het? (b) In watter opsig tree Jehovah se hedendaagse knegte soos Jesaja op?
6 God se profete was geduldig. Jesaja, wat in die agtste eeu v.G.J. as Jehovah se profeet gedien het, was byvoorbeeld geduldig. God het vir hom gesê: “Gaan sê aan hierdie volk: Hoor altyddeur, maar verstaan nie, en sien altyddeur, maar bemerk nie. Maak die hart van hierdie volk vet en maak hulle ore swaar en bestryk hulle oë, sodat hulle nie sien met hul oë en met hul ore nie hoor en hul hart nie verstaan nie, en hulle hul nie bekeer en gesond word nie” (Jesaja 6:9, 10). Die volk het inderdaad só opgetree. Maar het dit Jesaja laat tou opgooi? Nee. Hy het eerder Jehovah se waarskuwingsboodskappe geduldig en ywerig verkondig. Die Hebreeuse struktuur van God se woorde wat hierbo aangehaal word, steun die gedagte dat die profeet se verklarings “lank voortgeduur” het aangesien die volk dit “altyddeur” gehoor het.—Gesenius’ Hebrew Grammar.
7 Vandag reageer baie mense op die goeie nuus net soos mense op Jehovah se woorde gereageer het wat deur Jesaja oorgedra is. Maar soos daardie getroue profeet herhaal ons die Koninkryksboodskap “altyddeur”. Ons doen dit met ywer en geduldige volharding omdat dit Jehovah se wil is.
‘Hulle het gedoen presies wat hulle beveel is’
8, 9. In watter opsigte is Jehovah se profeet Moses ’n goeie voorbeeld?
8 Die profeet Moses was voorbeeldig wat geduld en gehoorsaamheid betref. Hy het verkies om hom by die Israeliete in slawerny te skaar, maar hy moes geduldig op hulle verlossing wag. Hy het 40 jaar lank in Midian gewoon tot God hom gebruik het om die volk Israel uit slawerny te lei. Toe Moses en sy broer Aäron voor Egipte se heerser gestaan het, het hulle gehoorsaam gesê en gedoen wat God beveel het. Trouens, ‘hulle het gedoen presies wat hulle beveel is’.—Exodus 7:1-6, vgl. NAV; Hebreërs 11:24-29.
9 Moses het Israel se 40 strawwe jare in die woestyn geduldig verduur. Hy het ook gehoorsaam Goddelike riglyne gevolg toe Israel se tabernakel gebou is en al die ander dinge gemaak is wat in die aanbidding van Jehovah gebruik is. Die profeet het God se opdragte so noukeurig uitgevoer dat ons lees: “Moses het alles gedoen presies net soos die Here hom beveel het” (Exodus 40:16, NAV). Wanneer ons ons bediening in samewerking met Jehovah se organisasie uitvoer, moet ons Moses se gehoorsaamheid in gedagte hou en die apostel Paulus se raad toepas om ‘gehoorsaam te wees aan dié wat die leiding onder ons neem’.—Hebreërs 13:17, NW.
Hulle het ’n positiewe gesindheid gehad
10, 11. (a) Wat toon dat die profeet Hosea ’n positiewe beskouing gehad het? (b) Hoe kan ons ’n positiewe gesindheid behou wanneer ons mense in ons verskillende gebiede nader?
10 Die profete moes ’n positiewe gesindheid hê terwyl hulle oordeelsboodskappe verkondig het sowel as profesieë wat God se liefdevolle besorgdheid oor getroue persone weerspieël het wat in Israel verstrooi was. Dit was die geval met Hosea, wat minstens 59 jaar lank ’n profeet was. Op ’n positiewe wyse het hy aangehou om Jehovah se boodskappe te verkondig, en hy het sy profetiese boek met dié woorde afgesluit: “Wie wys is, laat hom op hierdie dinge let! Wie verstandig is, laat hom dit erken! Want die weë van die HERE is reg; en die regverdiges sal daarop wandel, maar die oortreders daarop struikel!” (Hosea 14:10). So lank Jehovah ons toelaat om te getuig, moet ons ’n positiewe gesindheid hê en aanhou soek na diegene wat wyslik God se onverdiende goedhartigheid sal aanneem.
11 As ons ‘dié wat waardig is’, wil vind, moet ons volhard en ’n positiewe beskouing van sake hê (Mattheüs 10:11). As ons byvoorbeeld ons sleutels verlê het, sal ons teruggaan en op al die plekke soek waar ons was. Ons sal hulle dalk eers kry nadat ons dit ’n paar keer gedoen het. Laat ons op soortgelyke wyse volhard in ons soeke na skaapgeaardes. Hoe verheug is ons tog wanneer hulle gunstig op die goeie nuus reageer in ’n gebied wat dikwels gewerk word! En hoe bly is ons tog dat God ons werk seën in lande waar beperkings ons openbare bediening voorheen aan bande gelê het!—Galasiërs 6:10.
Bronne van aanmoediging
12. Watter profesie van Joël ondergaan ’n 20ste-eeuse vervulling, en hoe?
12 Die woorde van Jehovah se profete kan vir ons ’n groot aanmoediging in ons bediening wees. Neem byvoorbeeld die profesie van Joël. Dit bevat oordeelsboodskappe wat teen afvallige Israeliete en ander in die negende eeu v.G.J. gerig was. Tog is Joël ook geïnspireer om te profeteer: “Ek [Jehovah] [sal] my Gees uitgiet op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, julle ou mense drome droom, julle jongelinge gesigte sien. En ook op die diensknegte en op die diensmaagde sal Ek in dié dae my Gees uitgiet” (Joël 2:28, 29). Hierdie woorde is sedert Pinkster 33 G.J. in die geval van Jesus se volgelinge bewaarheid. En watter grootse vervulling van hierdie profesie sien ons tog in hierdie 20ste eeu! Vandag het ons miljoene wat “profeteer”, of Jehovah se boodskap verkondig—onder hulle is daar ver oor die 600 000 in die voltydse pionierdiens.
13, 14. Wat kan jong Christene help om vreugde uit die veldbediening te put?
13 Baie Koninkryksverkondigers is jongmense. Dit is nie altyd vir hulle maklik om met ouer mense oor die Bybel te praat nie. Soms word daar vir jong knegte van Jehovah gesê: ‘Jy mors jou tyd met hierdie werk’, en ‘jy behoort iets anders te doen’. Jong Getuies van Jehovah kan dan taktvol antwoord dat hulle jammer is dat die persoon so voel. Een jong verkondiger van die goeie nuus vind dat dit help om by te voeg: “Ek vind werklik daarby baat om met ouer persone soos u te praat, en ek geniet dit.” Die verkondiging van die goeie nuus is natuurlik glad nie ’n verkwisting van tyd nie. Lewens is op die spel. Deur Joël het God verder gesê: “En elkeen wat die Naam van [Jehovah] aanroep, sal gered word.”—Joël 2:32.
14 Kinders wat saam met hulle ouers aan die Koninkrykspredikingswerk deelneem, is bly wanneer hulle ouers hulle help om persoonlike doelwitte te stel. Sulke jongmense vorder geleidelik van die stadium waar hulle ’n teks lees tot waar hulle hulle Bybelse hoop kan verduidelik en gepaste lektuur vir belangstellendes kan aanbied. Namate jong Koninkryksverkondigers hulle eie vooruitgang en Jehovah se seën sien, put hulle groot vreugde uit die verkondiging van die goeie nuus.—Psalm 110:3; 148:12, 13.
Ywer en ’n wagtende gesindheid
15. Hoe kan Esegiël se voorbeeld ons help om ons ywer vir die Koninkrykspredikingswerk weer aan te wakker?
15 God se profete het ook ’n voorbeeld gestel ten opsigte van hulle ywer sowel as die wagtende gesindheid wat hulle geopenbaar het—eienskappe wat ons vandag in ons bediening nodig het. Toe ons aanvanklik die waarheid uit God se Woord geleer het, was ons waarskynlik aangevuur deur ywer wat ons beweeg het om met vrymoedigheid te praat. Maar jare het dalk sedertdien verloop, en ons het moontlik ons getuienisgebied dikwels gedek. Al hoe minder mense neem dalk nou die Koninkryksboodskap aan. Het dit ons ywer geblus? Indien wel, kan ons na die voorbeeld van die profeet Esegiël kyk, wie se naam beteken “God versterk”. Hoewel die mense met wie Esegiël in eertydse Israel te doen gehad het se harte hard was, het God hom versterk en sy voorhoof figuurlik gesproke harder as ’n rots gemaak. Sodoende kon Esegiël sy bediening baie jare lank uitvoer of die volk nou geluister het of nie. Sy voorbeeld toon dat ons dieselfde kan doen, en dit kan ons help om ons ywer vir die predikingswerk weer aan te wakker.—Esegiël 3:8, 9; 2 Timotheüs 4:5.
16. Watter gesindheid van Miga moet ons aankweek?
16 Miga, wat in die agtste eeu v.G.J. geprofeteer het, was ’n merkwaardige voorbeeld van geduld. “Ek sal uitsien na die HERE”, het hy geskryf, “ek wil wag op die God van my heil, my God sal my hoor” (Miga 7:7). Miga se vertroue was op sy sterk geloof gegrond. Soos die profeet Jesaja het Miga geweet dat Jehovah beslis sou doen wat Hy hom voorgeneem het om te doen. Ons weet dit ook (Jesaja 55:11). Laat ons dus ’n wagtende gesindheid ten opsigte van die vervulling van God se beloftes aankweek. En ons moet die goeie nuus met ywer verkondig, selfs in gebiede waar mense min belangstelling in die Koninkryksboodskap toon.—Titus 2:14; Jakobus 5:7-10.
Hedendaagse voorbeelde van geduld
17, 18. Watter voorbeelde uit die ou tyd en in ons dag kan ons help om geduld te beoefen?
17 Sommige van Jehovah se profete het jare lank in hulle toewysings volhard sonder om die vervulling van hulle profesieë te sien. Tog help hulle geduldige volharding, wat dikwels met slegte behandeling gepaardgegaan het, ons om te besef dat ons ons bediening kan vervul. Ons kan ook baat vind by die voorbeeld van getroue gesalfdes wat in die vroeë dekades van die 20ste eeu geleef het. Hoewel hulle hemelse hoop nie so gou verwesenlik is soos hulle verwag het nie, het hulle nie toegelaat dat teleurstelling oor ’n oënskynlike vertraging hulle ywer demp om God se wil te doen soos hy dit aan hulle geopenbaar het nie.
18 Baie van hierdie Christene het jare lank Die Wagtoring en sy mede-tydskrif, die Ontwaak!, (voorheen The Golden Age en later die Vertroosting genoem), versprei. Hulle het hierdie waardevolle tydskrifte ywerig beskikbaar gestel aan mense op straat en by hulle huise deur wat ons vandag tydskrifroetes noem. Een bejaarde suster wat haar aardse loopbaan voltooi het, is gou gemis deur verbygangers wat daaraan gewoond geraak het om haar op straat te sien getuig. Wat ’n getuienis het sy tog gedurende haar baie jare van getroue diens gegee, soos die waarderende kommentare toon van diegene wat haar altyd in die openbare bediening gesien het! Bied jy as ’n Koninkryksverkondiger Die Wagtoring en die Ontwaak! gereeld vir mense aan wat jy in jou bediening ontmoet?
19. Watter aanmoediging gee Hebreërs 6:10-12 ons?
19 Dink ook aan die geduld en getroue diens van die broers wat as lede van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies dien. ’n Hele paar van hulle is nou in die negende of tiende dekade van hulle lewe, maar hulle is steeds Koninkryksverkondigers wat ywerig na hulle toegewese pligte omsien (Hebreërs 13:7). En wat van ander bejaardes met die hemelse hoop en selfs sommige onder die “ander skape” wat al taamlik oud is? (Johannes 10:16). Hulle kan seker wees dat God nie onregverdig is om hulle werk te vergeet en die liefde wat hulle vir sy naam toon nie. Mag bejaarde Getuies van Jehovah, saam met jonger medegelowiges, aanhou doen wat hulle kan terwyl hulle geloof en geduld beoefen in God se diens (Hebreërs 6:10-12). Dan sal hulle, hetsy deur ’n opstanding, soos in die geval van die profete van die ou tyd, of deur reg deur die komende “groot verdrukking” te leef, die ryk beloning van die ewige lewe maai.—Mattheüs 24:21.
20. (a) Wat het jy uit die “voorbeeld” van die profete geleer? (b) Hoe kan geduld soos dié van die profete ons help?
20 Wat ’n uitstekende voorbeeld het God se profete tog vir ons gestel! Aangesien hulle lyding verduur, geduld beoefen en verskeie godvrugtige eienskappe aan die dag gelê het, het hulle die voorreg gehad om in Jehovah se naam te spreek. Laat ons as sy hedendaagse Getuies soos hulle wees en so vasberade wees soos die profeet Habakuk wat gesê het: “Op my wagtoring wil ek gaan staan en op ’n skansmuur my stel, en ek wil speur om te sien wat [God] in my sal spreek” (Habakuk 2:1). Laat ons dan net so vasbeslote wees terwyl ons geduld beoefen en vreugdevol aanhou om die roemryke naam van ons Grootse Skepper, Jehovah, in die openbaar bekend te maak!—Nehemia 8:11; Romeine 10:10.
Het jy hierdie punte gesnap?
◻ Watter moedige voorbeeld het die profeet Amos gestel?
◻ In watter opsigte was die profeet Moses ’n goeie voorbeeld?
◻ Hoe kan Jehovah se hedendaagse Getuies soos Amos en Jesaja optree?
◻ Wat kan Christenbedienaars uit Hosea en Joël se optrede leer?
◻ Hoe kan ons by die voorbeelde van Esegiël en Miga baat vind?
[Prent op bladsy 16]
Jehovah se gees het Amos die krag gegee om ten spyte van Amasia se heftige teenstand moedig te profeteer
[Prent op bladsy 18]
Getroue gesalfdes het vir ons ’n voortreflike voorbeeld gestel deur in Jehovah se diens geduld te beoefen