Vrae van lesers
Ons het dit geniet om Daniël se profesieë in “Die Wagtoring” te bestudeer. Maar waarom het die datums vir die drie en ’n half tye in Openbaring 11:3 van dié in die “Openbaring”-boek verskil?
Ja, in Die Wagtoring van 1 November 1993 is die datums vir die hedendaagse vervulling van Openbaring 11:3 effens aangepas. Waarom?
Kom ons kyk eers na Openbaring 11:2, waar “twee-en-veertig maande” aan die einde van die vers gemeld word. Dan lees ons in vers 3: “Ek sal aan my twee getuies gee dat hulle, met sakke bekleed, duisend-tweehonderd-en-sestig dae lank sal profeteer.” Wanneer is dit vervul?
Wel, Jehovah se Getuies besef al lank dat hierdie profesie ná die einde van “die tye van die nasies” (die Heidense Tye) in 1914 ten opsigte van geesgesalfde Christene vervul is (Lukas 21:24; 2 Korinthiërs 1:21, 22). Openbaring—Sy groot klimaks is ophande!a (1988) sê in hierdie verband op bladsy 164: “Daar [was] . . . ’n duidelike tydperk van drie en ’n half jaar toe die beproewings van God se volk ooreengestem het met die gebeure wat hier voorspel is—’n tydperk wat met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog laat in 1914 begin het en tot vroeg in 1918 voortgeduur het.”
Let daarop dat die tydperk wat aangegee is, gestrek het vanaf “die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog laat in 1914 . . . tot vroeg in 1918”. Dit kom ooreen met die tydperk wat al dikwels aangegee is, soos in “Then Is Finished the Mystery of God”, bladsye 261-4, (1969).b
Die Wagtoring het egter die profesieë in Daniël bespreek, ’n boek wat twee keer ’n tydperk meld wat ooreenstem met die een wat later in Openbaring gemeld word—3 1/2 jaar, of 42 maande. Om presies te wees, Daniël 7:25 sê dat God se heiliges “’n tyd en tye en die helfte van ’n tyd”, of 3 1/2 tye, mishandel sou word. Later voorspel Daniël 12:7 dat daar “’n tyd, tye en ’n halwe tyd”, of 3 1/2 tye, sou wees wat ’n klimaks sou bereik wanneer “die mag van die heilige volk geheel verstrooi” is.
Ons het dus profesieë in Daniël 7:25, Daniël 12:7, Openbaring 11:2, 3 sowel as in Openbaring 13:5 wat ’n soortgelyke tydperk bespreek. Ons publikasies het getoon dat al hierdie tekste gedurende die tydperk vanaf 1914-18 vervul is. Maar toe elkeen van hierdie profesieë afsonderlik bespreek is, het die datums vir die begin sowel as die einde effens verskil.
Die Wagtoring van 1 November 1993 het egter gevra: “Hoe is al hierdie parallelle profesieë vervul?” Ja, die profesieë oor die 3 1/2 tye wat in Daniël 7:25, Daniël 12:7 en Openbaring 11:3 gemeld word, is as “parallelle profesieë” beskou. Hulle sou dus almal op dieselfde tyd begin en eindig.
Wat die einde van hierdie tydperk betref, het die tydskrif getoon hoe die mishandeling van God se gesalfdes (Daniël 7:25) in Junie 1918 ’n klimaks bereik het toe J. F. Rutherford en ander direkteure van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap “op valse aanklagte ’n lang gevangenisstraf opgelê” is. Daardie gebeurtenis het ongetwyfeld aangedui dat “die mag van die heilige volk geheel verstrooi” is, soos Daniël 12:7 sê.
As ons van Junie 1918 af terugtel, kom ons by Desember 1914 uit as die begin van die 3 1/2 tye. Gedurende daardie laaste maand van 1914 het God se gesalfdes op aarde gehoor wat die temateks vir die volgende jaar sou wees: “‘Kan julle van my beker drink?’—Mattheüs 20:20-23.” Die artikel waarin dit aangekondig is, het gewaarsku: “Daar mag dalk gedurende 1915 ’n buitengewone beproewing, ’n beker van lyding of smaad vir die lojale volgelinge van die Lam wees!” Soos Daniël 7:25 vir hierdie tydperk van 3 1/2 tye voorspel het, ‘is die heiliges van die Allerhoogste mishandel’. Die nasies was gewikkel in die Eerste Wêreldoorlog, en dit was dus vir hulle makliker om hierdie onregverdige mishandeling oor die heiliges te bring. Die slotsom is: Al drie parallelle profesieë—Daniël 7:25, 12:7 en Openbaring 11:3—is gedurende die 3 1/2 jaar, of 42 maande, vanaf Desember 1914 tot Junie 1918 vervul.
Dit verklaar waarom daar ’n effense verandering in die datums vir Openbaring 11:3 se vervulling is. Ons kan hierdie verandering in gedagte hou wanneer ons die Openbaring-boek in die toekoms bestudeer en gebruik.
[Voetnote]
a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
b Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.