Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w94 8/1 bl. 9-14
  • Jehovah is redelik!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah is redelik!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Jehovah—die mees aanpasbare wese in die heelal
  • Redelikheid—’n kenmerk van Goddelike wysheid
  • Hy is “vergewensgesind”
  • Veranderde optrede vanweë nuwe omstandighede
  • Redelikheid in die uitoefening van gesag
  • “Wys van hart” – En tog nederig
    Kom nader aan Jehovah
  • Kweek redelikheid aan
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Volg Jehovah na – Wees redelik
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2023
  • Waardeer Jehovah se vrygewigheid en redelikheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
w94 8/1 bl. 9-14

Jehovah is redelik!

“Die wysheid van bo is . . . redelik.”—JAKOBUS 3:17, NW.

1. Hoe het sommige God al as onredelik uitgebeeld, en hoe voel jy oor so ’n beskouing van God?

WATTER soort God aanbid jy? Dink jy dat hy ’n God is wat onversetlik en streng in sy geregtigheid en hard en onbuigsaam van geaardheid is? Die Protestantse hervormer Johannes Calvyn moes so ’n beskouing van God gehad het. Calvyn het beweer dat God ’n “ewige en onveranderlike plan” vir elke mens het en vooraf bestem wie vir ewig in geluk sal lewe of wie ewigdurend in die helse vuur gepynig sal word. Stel jou voor: As dit waar is, sal niks wat jy ooit doen, ongeag hoe hard jy probeer, God se ewige, onveranderlike plan vir jou en jou toekoms verander nie. Sal jy tot so ’n onredelike God aangetrokke voel?—Vergelyk Jakobus 4:8.

2, 3. (a) Hoe kan ons die onredelikheid van menslike instellings en organisasies toelig? (b) Hoe openbaar die gesig wat Esegiël van Jehovah se hemelse strydwa gesien het Sy aanpasbaarheid?

2 Hoe verlig is ons tog nie om te sien dat die God van die Bybel by uitstek redelik is nie! Dit is nie God nie, maar mense wat, vanweë hulle eie onvolmaakthede, geneig is om hard en onbuigsaam te wees. Menslike organisasies kan soos ’n moeilik beheerbare vragtrein wees. Wanneer ’n reusevragtrein voortsnel en daar ’n versperring op die spoor is, is daar nie sprake van uitdraai nie en is dit uiters moeilik om die trein tot stilstand te bring. Party treine het soveel voorwaartse momentum dat hulle meer as ’n kilometer nodig het om stil te hou nadat hulle remme in werking gestel is! ’n Reusetenkskip kan eweneens nog agt kilometer ver voortbeweeg nadat die enjins afgeskakel is. Selfs wanneer die enjins in trurat gesit word, kan dit nog drie kilometer ver deur die water vaar! Maar beskou nou ’n voertuig wat baie ontsagwekkender as hierdie twee is, ’n voertuig wat God se organisasie verteenwoordig.

3 Meer as 2 600 jaar gelede het Jehovah die profeet Esegiël ’n gesig gegee wat Sy hemelse organisasie van geesskepsele uitgebeeld het. Dit was ’n strydwa van ontsagwekkende afmetings, Jehovah se eie “voertuig” wat altyd onder sy beheer is. Die manier waarop dit beweeg het, was uiters interessant. Die reusewiele kon in vier rigtings beweeg en was vol oë sodat hulle oral kon sien en onmiddellik van rigting kon verander sonder om stil te hou of te draai. En dit was nie vir hierdie reusagtige voertuig nodig om soos ’n reusetenkskip of ’n vragtrein lomp voort te beweeg nie. Dit kon so vinnig soos ’n weerligstraal beweeg en selfs skerp links of regs draai! (Esegiël 1:1, 14-28). Jehovah verskil net so hemelsbreed van die God wat deur Calvyn verkondig is as wat Sy strydwa van lomp mensgemaakte masjiene verskil. Hy is volkome aanpasbaar. As ons hierdie aspek van Jehovah se persoonlikheid waardeer, behoort dit ons te help om aanpasbaar te bly en die strik van onredelikheid te vermy.

Jehovah—die mees aanpasbare wese in die heelal

4. (a) Hoe openbaar Jehovah se naam in sigself dat hy ’n aanpasbare God is? (b) Wat is van die titels wat aan Jehovah God gegee word, en waarom is hulle gepas?

4 Jehovah se naam in sigself toon hoe aanpasbaar hy is. “Jehovah” beteken letterlik “Hy laat word”. Dit beteken klaarblyklik dat Jehovah homself die Vervuller van al sy beloftes laat word. Toe Moses God gevra het wat sy naam is, het Jehovah die betekenis daarvan só verduidelik: “Ek sal blyk te wees wat ek sal blyk te wees” (Exodus 3:14, NW). Rotherham se vertaling gee hierdie raak beskrywing: “Ek Sal Word net wat my behaag.” Jehovah blyk te wees, of word, wat ook al nodig is om sy regverdige voornemens en beloftes te vervul. Hy het dus ’n indrukwekkende reeks titels, soos Skepper, Vader, Soewereine Heer, Herder, Jehovah van die leërskare, Hoorder van die gebed, Regter, Grootse Onderrigter en Losser. Hy het homself al hierdie dinge en meer laat word om sy liefdevolle voornemens uit te voer.—Jesaja 8:13, NW; 30:20, NW; 40:28; 41:14; Psalm 23:1; 65:3; 73:28, NW; 89:27; Rigters 11:27; sien ook die New World Translation, Aanhangsel 1J.

5. Waarom moet ons nie die gevolgtrekking maak dat Jehovah se aanpasbaarheid beteken dat sy persoonlikheid of standaarde verander nie?

5 Beteken dit dan dat God se persoonlikheid of standaarde verander? Nee; soos Jakobus 1:17 dit stel, ‘is daar by hom geen verandering of skaduwee van omkering nie’. Is dit ’n teenstrydigheid? Glad nie. Watter liefdevolle ouer wissel nie soms rolle af tot voordeel van die kinders nie? In die loop van net een dag kan ’n ouer ’n raadgewer, ’n kok, ’n huishouer, ’n onderwyser, ’n tugmeester, ’n vriend, ’n werktuigkundige en ’n verpleër wees—die lys is eindeloos. Die ouer verander nie van persoonlikheid wanneer hy of sy hierdie rolle vervul nie; hy of sy pas hulle net by die jongste behoeftes aan. Dit is ook die geval met Jehovah, maar net op ’n baie groter skaal. Daar is geen beperking op wat hy homself kan laat word om sy skepsele te bevoordeel nie. Die diepte van sy wysheid is inderdaad verstommend!—Romeine 11:33.

Redelikheid—’n kenmerk van Goddelike wysheid

6. Wat is die letterlike betekenis van die Griekse woord wat Jakobus gebruik het om Goddelike wysheid te beskryf, en wat impliseer dit?

6 Die dissipel Jakobus het ’n interessante woord gebruik om die wysheid van hierdie uiters aanpasbare God te beskryf. Hy het geskryf: “Die wysheid van bo is . . . redelik” (Jakobus 3:17, NW). Die Griekse woord wat hy hier gebruik het (e·pi·ei·kesʹ), is moeilik om te vertaal. Vertalers het al woorde soos “vriendelik”, “toegeeflik”, “verdraagsaam” en “bedagsaam” gebruik. Die New World Translation gee dit as “redelik” weer, met ’n voetnoot wat toon dat dit letterlik “toegewend” beteken.a Die woord dra ook die betekenis daarvan oor om nie op die letter van die wet aan te dring nie, om nie uitermate streng of hardvogtig te wees nie. Die geleerde William Barclay sê die volgende in die New Testament Words: “Die basiese en wesenlike feit omtrent epieikeia is dat dit sy oorsprong by God het. Waar sou ons gewees het as God op sy regte gestaan het; as God net die onveranderlike standaarde van die wet op ons toegepas het? God is die allerbeste voorbeeld van iemand wat epieikēs is en wat ander met epieikeia behandel.”

7. Hoe het Jehovah redelikheid in die tuin van Eden aan die dag gelê?

7 Neem die tyd toe die mensdom teen Jehovah se soewereiniteit in opstand gekom het. Hoe maklik sou dit tog nie vir God gewees het om daardie drie ondankbare opstandelinge—Adam, Eva en Satan—tereg te stel nie! Hoeveel hartseer sou hy homself nie gespaar het nie! En wie sou kon redeneer dat hy nie die reg gehad het om sulke streng geregtigheid toe te pas nie? Maar Jehovah se hemelse strydwa-agtige organisasie is nooit gebonde deur die een of ander onveranderlike, onaanpasbare standaard van geregtigheid nie. Daardie strydwa het dus nie die mensdom en al hulle vooruitsigte vir ’n gelukkige toekoms meedoënloos verpletter nie. Inteendeel, Jehovah het sy strydwa so vinnig soos ’n weerligstraal van rigting laat verander. Onmiddellik ná die opstand het Jehovah God ’n langtermynvoorneme uiteengesit wat barmhartigheid en hoop aan al Adam se nakomelinge voorsien het.—Genesis 3:15.

8. (a) Hoe verskil die Christendom se wanbegrip van redelikheid van Jehovah se ware redelikheid? (b) Waarom kan ons sê dat Jehovah se redelikheid nie impliseer dat hy dalk Goddelike beginsels sal prysgee nie?

8 Maar Jehovah se redelikheid impliseer nie dat hy dalk Goddelike beginsels sal prysgee nie. Die hedendaagse kerke van die Christendom dink moontlik dat hulle redelik is as hulle onsedelikheid deur die vingers sien bloot omdat hulle by hulle eiesinnige kudde witvoetjie soek. (Vergelyk 2 Timotheüs 4:3.) Jehovah verbreek nooit sy wette nie, en hy gee ook nie sy beginsels prys nie. Hy toon eerder dat hy gewillig is om toegewend te wees en hom by die omstandighede aan te pas sodat daardie beginsels in regverdigheid en barmhartigheid toegepas kan word. Hy maak altyd seker dat hy sy geregtigheid en mag uitoefen op ’n wyse wat in balans met sy liefde en redelike wysheid is. Kom ons beskou drie maniere waarop Jehovah redelikheid openbaar.

Hy is “vergewensgesind”

9, 10. (a) Hoe hou ‘vergewensgesindheid’ met redelikheid verband? (b) Hoe het Dawid by Jehovah se vergewensgesindheid baat gevind, en waarom?

9 Dawid het geskryf: “Want U, o Here, is goed en vergewensgesind en groot van goedertierenheid vir almal wat U aanroep” (Psalm 86:5). Toe die Hebreeuse Geskrifte in Grieks vertaal is, is die woord vir “vergewensgesind” as e·pi·ei·kesʹ, of “redelik”, weergegee. Om vergewensgesind te wees en barmhartigheid te bewys, is miskien die belangrikste manier om redelikheid te openbaar.

10 Dawid self was deeglik bewus van hoe redelik Jehovah in hierdie verband is. Toe Dawid met Batseba owerspel gepleeg het en gereël het dat haar man doodgemaak word, het hy en Batseba die doodstraf verdien (Deuteronomium 22:22; 2 Samuel 11:2-27). As onbuigsame menseregters die saak verhoor het, sou albei waarskynlik hulle lewe verloor het. Maar Jehovah het redelikheid (e·pi·ei·kesʹ) geopenbaar wat, soos Vine’s Expository Dictionary of Biblical Words dit stel, “daardie soort bedagsaamheid beskryf wat ‘met menslikheid en redelikheid na die feite van ’n saak’ kyk”. Die feite wat Jehovah se barmhartige besluit beïnvloed het, was waarskynlik die opregte berou van die oortreders sowel as die barmhartigheid wat Dawid self voorheen teenoor ander betoon het (1 Samuel 24:4-6; 25:32-35; 26:7-11; Mattheüs 5:7; Jakobus 2:13). Maar in ooreenstemming met Jehovah se beskrywing van homself in Exodus 34:4-7 was dit redelik dat Jehovah Dawid moes teregwys. Hy het die profeet Natan met ’n kragtige boodskap na Dawid toe gestuur en Dawid die feit op die hart gedruk dat hy die woord van Jehovah verag het. Dawid het berou getoon en derhalwe nie vir sy sonde gesterf nie.—2 Samuel 12:1-14.

11. Hoe was Jehovah in die geval van Manasse vergewensgesind?

11 Die voorbeeld van koning Manasse van Juda is merkwaardiger in hierdie verband, aangesien Manasse, in teenstelling met Dawid, vir ’n lang tyd uiters goddeloos was. Manasse het walglike godsdiensgebruike, onder andere menseoffers, in die land bevorder. Hy was moontlik ook daarvoor verantwoordelik dat die getroue profeet Jesaja “in stukke gesaag” is (Hebreërs 11:37). Om Manasse te straf, het Jehovah toegelaat dat hy as ’n banneling na Babilon weggevoer word. Manasse het egter in die gevangenis berou getoon en om genade gesmeek. Omdat hy opregte berou getoon het, was Jehovah “vergewensgesind”—selfs in hierdie uiterste geval.—2 Kronieke 33:9-13.

Veranderde optrede vanweë nuwe omstandighede

12, 13. (a) Watter verandering van omstandighede het Jehovah in die geval van Ninevé van optrede laat verander? (b) Hoe het Jona getoon dat hy nie so redelik soos Jehovah God was nie?

12 Jehovah se redelikheid blyk ook uit sy gewilligheid om ’n voorgenome optrede te verander wanneer nuwe omstandighede ontstaan. Toe die profeet Jona byvoorbeeld deur die strate van eertydse Ninevé gestap het, was sy geïnspireerde boodskap baie eenvoudig: Die magtige stad sal binne 40 dae verwoes word. Maar omstandighede het op dramatiese wyse verander! Die Nineviete was berouvol.—Jona, hoofstuk 3.

13 Dit is insiggewend om Jehovah en Jona se reaksie op hierdie verandering van omstandighede met mekaar te vergelyk. Jehovah het in werklikheid die rigting van sy hemelse strydwa verander. In hierdie geval het hy hom aangepas en hom ’n vergewer van sondes pleks van ’n “krygsman” laat word (Exodus 15:3). Daarenteen was Jona glad nie so buigsaam nie. Pleks van tred te hou met Jehovah se strydwa het hy meer soos die vragtrein of die reusetenkskip opgetree wat vroeër gemeld is. Hy het Ninevé se oordeel verkondig, en daarom moes hulle nou hulle oordeel ontvang! Hy het miskien gemeen dat enige verandering van optrede hom aansien in die oë van die Nineviete sou laat verloor. Maar Jehovah het sy hardkoppige profeet geduldig ’n onvergeetlike les in redelikheid en barmhartigheid geleer.—Jona, hoofstuk 4.

14. Waarom het Jehovah sy optrede met betrekking tot sy profeet Esegiël verander?

14 Jehovah het ook by ander geleenthede sy optrede verander—selfs in verband met betreklik geringe sake. Toe hy die profeet Esegiël byvoorbeeld eenkeer beveel het om ’n profetiese drama op te voer, het Jehovah se opdrag onder meer behels dat Esegiël sy voedsel op ’n vuur van menslike uitwerpsel moes gaarmaak. Dit was vir die profeet net te erg, en hy het uitgeroep: “Ag, Here, HERE!” en gesmeek dat hy nie gedwing moet word om iets te doen wat vir hom so weersinwekkend is nie. Jehovah het nie die profeet se gevoelens as onredelik verwerp nie; Hy het Esegiël eerder toegelaat om beesmis te gebruik, wat tot vandag toe nog ’n algemene vorm van vuurmaakgoed is.—Esegiël 4:12-15.

15. (a) Watter voorbeelde toon dat Jehovah gewillig was om na mense te luister en gunstig te reageer? (b) Watter les kan dit ons leer?

15 Is dit nie hartverblydend om oor ons God Jehovah se nederigheid na te dink nie? (Psalm 18:35, NW). Hy is oneindig hoër as ons; tog luister hy geduldig na onvolmaakte mense, en soms verander hy selfs sy optrede dienooreenkomstig. Hy het Abraham toegelaat om lank by hom te pleit toe hy Sodom en Gomorra wou vernietig (Genesis 18:23-33). En Hy het toegelaat dat Moses beswaar maak teen Sy voorstel om die opstandige Israeliete te vernietig en Moses liewer ’n magtige nasie te maak. (Exodus 32:7-14; Deuteronomium 9:14, 19; vergelyk Amos 7:1-6.) Daardeur het hy ’n volmaakte voorbeeld vir sy menseknegte gestel, wat net so gewillig moet wees om na ander te luister wanneer dit redelik en moontlik is om dit te doen.—Vergelyk Jakobus 1:19.

Redelikheid in die uitoefening van gesag

16. Hoe verskil Jehovah van baie mense in die wyse waarop hy sy gesag uitoefen?

16 Het jy al opgelet dat baie mense onredeliker raak hoe meer gesag hulle kry? Daarenteen het Jehovah die hoogste gesagsposisie in die heelal en tog is hy by uitstek die beste voorbeeld van redelikheid. Hy oefen sy gesag op ’n onfeilbaar redelike wyse uit. In teenstelling met baie mense is Jehovah nie onseker oor sy gesag nie en daarom voel hy hom nie gedwonge om dit jaloers te bewaak asof dit sý gesag sal bedreig as hy ander ’n mate van gesag gee nie. Trouens, toe daar net een ander wese in die heelal was, het Jehovah daardie een omvangryke gesag gegee. Hy het die Logos sy “meesterwerker” gemaak deur van toe af alles deur hierdie geliefde Seun in aansyn te roep (Spreuke 8:22, 29-31, vgl. NW; Johannes 1:1-3, 14, vgl. NW; Kolossense 1:15-17). Later het hy “alle mag in die hemel en op aarde” aan hom oorgedra.—Mattheüs 28:18; Johannes 5:22.

17, 18. (a) Waarom het Jehovah engele na Sodom en Gomorra toe gestuur? (b) Waarom het Jehovah die engele voorstelle gevra oor hoe om Agab oor te haal?

17 Jehovah vertrou eweneens aan baie van sy skepsele take toe wat hý selfs beter sal kan verrig. Toe hy byvoorbeeld vir Abraham gesê het: “Ek wil neerdaal [na Sodom en Gomorra] en sien of hulle werklik gehandel het soos die geroep oor hulle is wat by My gekom het”, het hy nie bedoel dat hy persoonlik daarheen sou gaan nie. Jehovah het eerder gesag oorgedra en engele aangestel om daardie inligting vir hom in te win. Hy het hulle gesag gegee om hierdie feitesending te onderneem en aan hom terug te rapporteer.—Genesis 18:1-3, 20-22.

18 By ’n ander geleentheid, toe Jehovah besluit het om die goddelose koning Agab tereg te stel, het Hy die engele tydens ’n hemelse byeenkoms genooi om voorstelle te maak oor hoe om daardie afvallige koning ‘oor te haal’ om die stryd aan te knoop wat sy lewe sou beëindig. Jehovah, die Bron van alle wysheid, het beslis nie hulp nodig gehad om die beste optrede te bepaal nie! Tog het hy die engele die voorreg gegee om oplossings voor te stel sowel as die gesag om op te tree aan die een wat hy gekies het om dit uit te voer.—1 Konings 22:19-22.

19. (a) Waarom beperk Jehovah die aantal wette wat hy maak? (b) Hoe toon Jehovah dat hy redelik is wanneer dit kom by wat hy van ons verwag?

19 Jehovah gebruik nie sy gesag om onredelike beheer oor ander uit te oefen nie. In hierdie opsig openbaar hy ook ongeëwenaarde redelikheid. Hy beperk sorgvuldig die aantal wette wat hy maak, en hy verbied sy knegte om ‘verder te gaan as die dinge wat geskrywe staan’ deur swaar wette by te voeg wat hulle self gemaak het. (1 Korinthiërs 4:6, NW; Handelinge 15:28; vergelyk Mattheüs 23:4.) Hy verwag nooit blinde gehoorsaamheid van sy skepsele nie, maar hy voorsien gewoonlik genoeg inligting om hulle te rig en laat dan die keuse aan hulle oor nadat hy hulle ingelig het oor die voordele van gehoorsaamheid en die gevolge van ongehoorsaamheid (Deuteronomium 30:19, 20). Pleks van mense te dwing deur hulle skuldig, skaam of bang te laat voel, strewe hy daarna om harte te bereik; hy wil hê dat mense hom eerder uit opregte liefde as uit dwang dien (2 Korinthiërs 9:7). Hierdie heelhartige diens verbly God se hart, en hy is dus nie onredelik ‘moeilik om te behaag’ nie.—1 Petrus 2:18, vgl. NW; Spreuke 27:11; vergelyk Miga 6:8.

20. Hoe beïnvloed Jehovah se redelikheid jou?

20 Is dit nie merkwaardig dat Jehovah God, wat meer mag as enige wese in die skepping het, nooit daardie mag op ’n onredelike wyse uitoefen nie, dit nooit gebruik om oor ander baas te speel nie? Tog het mense, wat so nietig in vergelyking met hom is, ’n geskiedenis van oorheersing oor mekaar (Prediker 8:9). Dit is duidelik dat redelikheid ’n kosbare eienskap is, ’n eienskap wat ons beweeg om Jehovah selfs liewer te hê. Dit weer kan ons beweeg dat ons self hierdie eienskap aankweek. Hoe kan ons dit doen? Die volgende artikel sal dit bespreek.

[Voetnoot]

a In 1769 het die leksikograaf John Parkhurst die woord as “toegewend, met ’n toegewende geaardheid, vriendelik, gematig, geduldig” omskryf. Ander geleerdes het ook die woord “toegewend” gebruik om dit te omskryf.

Hoe sal jy antwoord?

◻ Hoe beklemtoon Jehovah se naam en die gesig van sy hemelse strydwa sy aanpasbaarheid?

◻ Wat is redelikheid, en waarom is dit ’n kenmerk van Goddelike wysheid?

◻ Op watter maniere het Jehovah getoon dat hy “vergewensgesind” is?

◻ Waarom het Jehovah dit in sekere gevalle verkies om ’n voorgenome optrede te verander?

◻ Hoe openbaar Jehovah redelikheid in die wyse waarop hy gesag uitoefen?

[Prent op bladsy 10]

Waarom het Jehovah die goddelose koning Manasse vergewe?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel