Hulle het vir ons ’n voorbeeld gestel
SOOS VERTEL DEUR CRAIG ZANKER
Ek en my vrou, Gayle, is al agt jaar lank pioniers, voltydse bedienaars van Jehovah se Getuies. Ons dien al die laaste ses jaar onder die inboorlingbevolking in die Australiese Agterveld. Ons volg bloot die goeie voorbeeld wat my ouers en grootouers vir ons gestel het.
LAAT ek julle spesifiek van my grootouers vertel. Ons het hulle nog altyd liefderyk Opa en Oma genoem, wat die Nederlandse ekwivalent van oupa en ouma is. My oupa, Charles Harris, dien nog steeds ywerig in Melbourne, waar hy al byna 50 jaar woon.
Opa leer Bybelwaarhede
Opa is in ’n dorpie in Tasmanië, Australië se eilandstaat, gebore. In 1924, toe hy 14 was, het sy pa ’n matroos se seemanskis op ’n veiling gekoop. Dit was, geestelik gesproke, ’n ware skatkis, want in die kis was daar ’n stel boeke wat deur die eerste president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, Charles Taze Russell, geskryf is.
Opa se pa het blykbaar nie veel in die boeke belanggestel nie, maar Opa het hulle begin lees en het dadelik besef dat hulle belangrike Bybelwaarhede bevat. Hy het toe die Internasionale Bybelstudente, die verteenwoordigers van die boek se uitgewers wat nou as Jehovah se Getuies bekend staan, probeer opspoor. Hy wou met hulle praat sodat hy verdere verduidelikings kon ontvang van die Bybelwaarhede wat hy besig was om te leer.
Ná talle navrae het hy drie bejaarde vroue opgespoor wat in die onderrigtingswerk bedrywig was. Hulle het ’n geweldige indruk op die jong Charles gemaak. Hy het hom uiteindelik, in 1930, aan Jehovah God toegewy en hom in water laat doop. Hy het uit sy werk as slagter bedank en noord na Sydney gereis, waar hy ’n toewysing as ’n voltydse evangeliedienaar ontvang het.
Pionierdiens in Australië
Die gebiede waarin Charles gedurende die daaropvolgende paar jaar gepreek het, het die kusvoorstad Bondi in Sydney sowel as die plattelandse gebiede in die staat Nieu-Suid-Wallis ingesluit. Daarna is hy na Perth, Wes-Australië, gestuur, wat duisende kilometers daarvandaan aan die ander kant van die vasteland geleë is. Hy het ses maande lank getuieniswerk in die sakegebied van Perth gedoen, en toe is hy, saam met twee ander pioniers, na die uitgestrekte gebiede van noordwestelike Australië gestuur.
Hierdie drie—Arthur Willis, George Rollsten en Charles—se predikingstoewysing het ’n gebied vier keer die grootte van Italië beslaan! Die bevolking was yl gesaai, die landskap kaal en die hitte ondraaglik. Partykeer moes hulle meer as 500 kilometer tussen die beesplase aflê. Die voertuig wat hulle gebruik het, was maar afgeleef, selfs volgens 1930 se standaarde, maar hulle het sterk geloof gehad en was baie vasbeslote.
Kameelspore was oral op die nou grondpaaie wat vol slaggate was te sien, en hier en daar het gevaarlike boomstompe onder die fyn sand gelê. Dit is geen wonder dat die motor se vere dikwels gebreek het nie. Die agteras het twee keer gebreek en die bande is talle kere gesny. Die pioniers het dikwels voering uit ou bande gemaak en dit met dakboute aan die binnekant van die bestaande bande vasgebout sodat hulle hulle reis kon voortsit.
Toe ek nog ’n jong seun was, het ek Opa gevra wat hulle aangespoor het om onder sulke moeilike omstandighede voort te gaan. Hy het verduidelik dat hulle, wanneer hulle so afgesonderd was, na aan Jehovah gevoel het. Wat met tye ’n fisiese beproewing was, het hy gesê, was op die ou end ’n geestelike seën.
Sonder om enigsins meerderwaardig of vroom te klink, het Opa sy verbasing uitgespreek dat soveel mense klaarblyklik met die opgaar van materiële besittings behep is. Hy het my die volgende op die hart gedruk: “’n Mens reis baie makliker op die lewensweg as jy so min bagasie as moontlik het. As Jesus bereid was om onder die sterre te slaap wanneer dit nodig was, dan moet ons bereid wees om dit ook te doen as ons toewysing dit vereis” (Mattheüs 8:19, 20). En hy en sy metgeselle het dit inderdaad gedoen.
’n Uitnodiging om in die buiteland te dien
In 1935 het Opa ’n nuwe predikingstoewysing ontvang—om vir die eilandbewoners van die Stille Suidsee te gaan getuig. Hy het saam met ’n bemanning van ses ander op die Wagtoringgenootskap se 16-meterseilskip Lightbearer vertrek.
Eenkeer, terwyl hulle in die Koraalsee noord van Australië was, het die hulpenjin van die Lightbearer onklaar geraak. Daar was hoegenaamd geen wind nie en hulle was derhalwe baie kilometers van land af gestrand. Hoewel hulle gevaar geloop het om op die Groot Barrière-rif skipbreuk te ly, was Opa beïndruk deur die besonderse kalmte. “Die see was soos ’n meuldam”, het hy in sy dagboek geskryf. “Ek sal nooit die sonsondergange vergeet wat ons elke aand oor daardie kalm see gesien het nie. Dit was so ’n pragtige gesig dat dit vir ewig in my geheue ingeprent is.”
Gelukkig het die wind weer begin waai voordat hulle op die rif beland het, en hulle kon met behulp van die seile veilig tot in Port Moresby, Papoea-Nieu-Guinee, vaar, waar hulle die enjin laat herstel het. Van Port Moresby af het hulle na Thursday-eiland en toe na Java, ’n groot Indonesiese eiland, gevaar. Opa het ’n groot liefde ontwikkel vir hierdie land, wat al beskryf is as “’n string pêrels wat oor die ewenaar lê”. Indonesië was op daardie stadium ’n Nederlandse kolonie, en my oupa het dus Nederlands en Indonesies geleer. Die lektuur wat hy in sy predikingswerk aangebied het, was egter in vyf tale: Nederlands, Indonesies, Chinees, Engels en Arabies.
Opa het baie welslae in die verspreiding van Bybellektuur behaal. Clem Deschamp, wat oor die Wagtoring-depot in Batavia (nou Djakarta) toesig gehou het, is eenkeer deur ’n Nederlandse offisier ontbied wat ons predikingswerk fyn dopgehou het. “Hoeveel mense het julle wat daar onder in Oos-Java werk?” het die offisier gevra.
“Net een”, het broer Deschamp geantwoord.
“Verwag jy nou ek moet dit glo?” het die offisier hom toegesnou. “Julle moet ’n groot klomp werkers daar onder hê, te oordeel na hoeveel van julle lektuur oral versprei word!”
Opa sê dat dit een van die beste komplimente in sy lewe was. Maar hy het dit beslis verdien, want dit was niks ongewoons dat hy tussen 1 500 en 3 000 stukke lektuur per maand versprei het nie.
Die huwelik, ’n verbod en oorlog
In Desember 1938 het Opa met ’n jong Indonesiese vrou met die naam Wilhelmina getrou, wat my ouma geword het. Oma, of ouma, was vriendelik, liefdevol, hardwerkend en saggeaard. Ek weet, want sy was tydens my kinderjare my beste vriendin.
Ná hulle huwelik het Opa en Oma saam in die pionierdiens voortgegaan. Teen daardie tyd het die ander bemanningslede van die Lightbearer óf na ander dele van die wêreld gegaan óf teruggekeer huis toe. Maar Opa het Indonesië sy tuiste gemaak en was vasbeslote om daar aan te bly.
Kort voor die Tweede Wêreldoorlog het die Nederlandse regering wat in Indonesië aan bewind was onder druk van die geestelikes beperkings op die bedrywighede van Jehovah se Getuies begin plaas en uiteindelik ons werk verbied. Die predikingswerk is derhalwe onder moeilike omstandighede gedoen en net die Bybel is gebruik. In feitlik elke dorp wat Opa en Oma besoek het, moes hulle voor amptenare verskyn en is hulle ondervra. Hulle is soos misdadigers behandel. Nie lank ná die verbod ingestel is nie, is Oma se swaer in die tronk gesit vanweë sy standpunt van Christelike neutraliteit. Hy het in ’n Nederlandse tronk gesterf.
Opa en Oma het in ’n vragmotor gewoon waarop die bakwerk van ’n woonwa aangebring is. Hulle het met hierdie mobiele woning deur die hele Java gepreek. In 1940, toe ’n Japannese militêre inval gedreig het, is hulle geseën met ’n dogter, wat my ma geword het. Hulle het die baba Victory genoem na aanleiding van die titel van die toespraak wat twee jaar tevore deur die destydse president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, J. F. Rutherford, gehou is. Hulle het met baba en al in die pionierdiens voortgegaan.
Vroeg in 1942 was Opa, Oma en Victory op ’n Nederlandse vragskip op pad terug van Borneo af toe hulle ’n harde kanonskoot van ’n Japannese torpedojaer af gehoor het. Al die ligte het uitgegaan en mense het geskreeu. Die oorlog het aldus my familie se lewe binnegetree. Hoewel hulle die hawe veilig bereik het, het die Japannese Java net ’n paar dae later binnegeval, en ’n Nederlandse offisier het vir die Japannese soldate gesê waar Opa en Oma is.
Toe die Japannese hulle opgespoor het, is al hulle besittings, selfs klein Victory se speelgoed, van hulle af weggeneem en is hulle na twee verskillende konsentrasiekampe geneem. Victory is toegelaat om by Oma te bly, en Opa het hulle die daaropvolgende drie en ’n half jaar nie gesien nie.
Die lewe in die konsentrasiekampe
Tydens sy gevangenskap is Opa van die een dorp na die ander verskuif—van Surabaja na Ngawi, toe na Bandung en laastens na Tjimahi. Hierdie herhaaldelike verskuiwings was om enige georganiseerde ontsnappingspogings te verhoed. Die gevangenes was hoofsaaklik Nederlanders, en daar was ’n paar Britte en enkele Australiërs. Terwyl Opa in die kampe was, het hy geleer hare sny, iets wat hy nog af en toe doen. Die enigste godsdiensboek wat hy toegelaat is om by hom te hê, was die Bybel—sy King James Version.
Oma en Victory is intussen ook van die een kamp na die ander verskuif. In hierdie kampe is vrouens deur die kampbevelvoerder aangesê om “gemeenskapsdiens” buite die kamp te verrig. Oma is egter om die een of ander rede nooit gekies nie. Sy het later uitgevind dat die vroue buite die kamp geneem is om prostitute vir Japannese soldate te wees.
Aangesien die Japannese soldate nie gunstig gesind was teenoor dogtertjies nie, het Oma vir Victory altyd soos ’n seuntjie aangetrek en haar hare kort gehou. Die naam Victory (oftewel, oorwinning) het groot probleme veroorsaak toe die kampbevelvoerder wou weet wat die naam beteken—oorwinning vir die Keiserlike Japannese Leër of oorwinning vir die Amerikaners?
“Oorwinning vir God se Koninkryk oor alle aardse regerings!” het my ouma trots geantwoord.
As straf omdat sy geweier het om te sê: “Oorwinning vir die Keiserlike Japannese Leër”, is Oma en haar vyfjarige dogtertjie gedwing om agt uur lank penregop en op aandag in die skroeiende tropiese son te staan. Hulle het geen koelte gehad nie, is geen water gegee nie en is nie toegelaat om te sit of vooroor te buk nie. Maar met Jehovah se hulp het hulle daardie verskriklike ervaring oorleef.
’n Jaar nadat Oma gevange geneem is, het die kampbevelvoerder vir haar gesê dat haar man dood is! Sy het droewig Opa se foto onder in haar verslete tas gesit en, ten spyte van haar smart, standvastig voortgegaan.
Die lewe in die gevangeniskampe was moeilik. Elke persoon het daagliks een koppie tapioka vir ontbyt, 190 gram sagobrood vir middagete en een koppie gekookte rys in ’n waterige groentesop vir aandete ontvang. As gevolg van hierdie gebrekkige dieet was ondervoeding iets algemeens en het daar daagliks slagoffers van disenterie gesterf.
Tydens Opa se gevangenskap het hy aan pellagra en voedingsedeem (uithongeringsiekte) gely. Oma het ook amper gesterf, want sy het dikwels haar kos vir Victory gegee om te voorkom dat die dogtertjie van honger sterf. Hulle moes elke dag wreedheid en honger verduur. Hulle het dit slegs oorleef deur na aan hulle God, Jehovah, te bly.
Ek onthou een van Opa se gunstelinggesegdes nog goed: “Vryheid beteken om in harmonie met die Goddelike Een, Jehovah, te wees.” Opa het homself dus as waarlik vry beskou selfs terwyl hy wrede behandeling in gevangenskap verduur het. Die liefde wat hy en Oma vir Jehovah gehad het, het hulle beslis gehelp om ‘alles te verduur’ (1 Korinthiërs 13:7, NW). Ek en Gayle lê ons nou daarop toe om ook so ’n hegte verhouding met God te handhaaf.
Vryheid en ’n merkwaardige hereniging
Die Tweede Wêreldoorlog het uiteindelik in 1945 tot ’n einde gekom. Kort nadat Japan oorgegee het, is Opa op die trein gesit. Op pad van Djakarta na Bandung het Indonesiese soldate die trein tot stilstand gebring. Hoewel die oorlog met die Japannese verby was, het die Indonesiërs ’n stryd gevoer om onafhanklik van die Nederlanders te word. Opa was so verbaas om skielik van die trein afgeneem te word dat hy vergeet het om Engels te praat en in plaas daarvan Nederlands begin praat het. Vir die Indonesiërs was Nederlands die taal van die vyand, en die vyand moes doodgemaak word.
Gelukkig het die soldate, terwyl hulle Opa deursoek het, op sy Australiese bestuurderslisensie afgekom, waarvan hy heeltemal vergeet het. Die Indonesiërs het gelukkig nie met Australië in oorlog verkeer nie. Tot vandag toe beskou Opa die ontdekking van die lisensie wat sy Australiese burgerskap bewys het as Goddelike ingryping, want daardie selfde soldate het slegs ’n paar uur later op dieselfde plek 12 Nederlanders doodgemaak wat per trein gereis het.
Kort ná hierdie insident het Oma en Victory op vervoer uit die oorloggeteisterde gebiede gewag. Terwyl hulle langs die pad gesit het, het ’n eindelose stroom vragmotors wat soldate en burgerlikes vervoer het daar verbygery. Skielik het die ry voertuie sonder enige besondere rede tot stilstand gekom. Oma het toevallig opgekyk en kon agter in die naaste vragmotor insien omdat dit agter oop was, en daar, tot haar verbasing, het ’n uitgeteerde man gesit wat sy dadelik herken het. Dit was haar man! Geen woorde kon die emosie van hulle hereniging beskryf nie.
Terug in Australië
Toe my oupa in 1946 met sy gesin na Australië teruggekeer het, nadat hy 11 jaar in Indonesië gewoon het, was die lewe vir hulle moeilik. Hulle het as oorlogsvlugtelinge teruggekeer—hulle was sonder heenkome, was ondervoed en is deur baie van die plaaslike mense met agterdog bejeën. Oma en Victory moes die intense rassevooroordeel verduur wat teenoor Asiatiese immigrante gekoester is. Opa moes hard en lang ure werk om na sy gesin om te sien en ’n dak oor hulle kop te voorsien. Ondanks al hierdie ontberinge het hulle volhard, dit oorleef en geestelik sterk gebly.
Opa woon nou, meer as 48 jaar later, in Melbourne, waar hy steeds saam met die jong pioniers aan die bediening van huis tot huis deelneem. Hy het gesien hoe Victory en haar kinders die waarheid aanneem, hulle lewe aan Jehovah toewy en almal, die een ná die ander, die voltydse pionierdiens betree.
Des Zanker, wat my pa geword het, en Victory is in die vroeë vyftigerjare gedoop, en Des het in 1958 ’n lid van die Australiese Bethelgesin geword. Nadat hy met Victory getroud is, wat as ’n spesiale pionier gedien het, het hulle ’n ruk as pioniers gedien en daarna is hulle genooi om die reisende bediening te betree. Toe het ek gekom en moes hulle die reisende werk laat vaar om my groot te maak. Maar my pa is, ná 27 jaar, nog steeds ’n pionier.
Vroeg in 1990 het Oma rustig tuis gesterf, in dieselfde huis waar my ma grootgemaak is. Ek en my jonger broer en suster is ook in daardie selfde huis in Melbourne grootgemaak. Dit was vir ons familie ’n ware seën om saam in een huis te woon. Partykeer was die huis bra vol, maar ek kan nie onthou dat dit my ooit gepla het nie. Selfs tydens die eerste vier jaar van ons huwelik het my vrou, Gayle, ook daar êrens ’n plekkie gevind en dit terdeë geniet. Toe ons eindelik na ons nuwe toewysing vertrek het, het ek gehuil. Ek het soveel ondersteuning en liefde in daardie huis ontvang.
Maar nou het ek en Gayle rede tot groot vreugde, want ons kan doen wat my ouers en hulle ouers voor hulle gedoen het. Toe ons van die huis af weg is, het ons vertroosting gevind in die rede waarom ons moes gaan, naamlik om Jehovah se wil in die voltydse diens te doen. Ons probeer hard om die uitstekende voorbeeld van ons getroue ouers en grootouers te volg, wat soortgelyke vertroosting gevind het toe hulle moeilike toewysings gehad het, in uiterste armoede verkeer het en selfs toe hulle jare lank in Japannese konsentrasiekampe gevange gehou is.—2 Korinthiërs 1:3, 4.
Opa het die geïnspireerde woorde van koning Dawid aan Jehovah nog altyd vertroostend gevind: “U goedertierenheid is beter as die lewe” (Psalm 63:4). Dit was nog altyd my oupa se innige begeerte om daardie goedertierenheid vir ewig te geniet. Dit is die begeerte van sy hele familie om dit saam met hom te geniet.
[Prent op bladsy 21]
Oma en Opa Harris
[Prent op bladsy 23]
Craig Zanker (agter), saam met sy vrou, sy ouers en sy jonger broer en suster