“Jehovah se Getuies het my beskerm!”
GEDURENDE hierdie laaste dae het baie bewys dat hulle “wreed, sonder liefde vir die goeie” is (2 Timotheüs 3:1, 3). Isaac, ’n vrywillige bedienaar by ’n takkantoor van die Wagtoringgenootskap in Wes-Afrika, het die waarheid hiervan ondervind. Hy vertel:
“In Januarie 1992 het ek saam met vyf ander passasiers in ’n taxi op ’n verlate ent pad gereis. Ek het met die vrou begin gesels wat langs my gesit het, en sy het gretig ’n Bybelse brosjure by my geneem.
“Ongeveer vieruur die middag het ’n nuwe motor sonder nommerplate skielik voor ons ingeswaai, en ons motor het met skreeuende remme tot stilstand gekom. Drie fris geboude mans, elkeen met ’n geweer, het uit die ander motor gespring en ons deure oopgeruk. ‘Julle almal, klim uit!’ het een van hulle gebulder.
“’n Ander man het my boektas gegryp. Toe hy sien dat daar net Bybelleesstof in is, het hy die tas weggeslinger. ‘Wat het jy nog?’ het hy gevra en sy geweer op my gerig. Ek het onmiddellik vir hom die geld in my notebeurs gegee. ‘Is dit al?’ het hy gevra. Ek het vir hom gesê dat ek een van Jehovah se Getuies is en dat die Getuies nie leuens vertel nie. Hy het my notebeurs uit my hand gegryp, my Wagtoring-indentiteitskaart gesien en toe gesê: ‘Nou goed, Wagtoring. Wag hier.’
“Daarna het hy hom tot die vrou gewend met wie ek in die taxi gesels het. Sy het inderhaas haar halssnoer afgehaal en vir hom die geld in haar beursie gegee. Toe die rower die brosjure in haar bewende hand sien, het hy aangeneem dat ons twee saam is en gevolglik vir haar beduie om by my te bly.
“Intussen het die ander gewapende rowers ons medepassasiers wreed aangerand. Hulle het die bestuurder en die ander man wat saam met ons gereis het, geslaan en beroof. Een rower het na die tweede vrou se halssnoer gegryp. Toe sy weerstand bied, het hulle haar wreed met die geweerkolwe teen die kop en op die bors geslaan totdat sy beswyk het. Hulle het die derde vrou uit die voertuig gesleep en in die bors geskiet. Ek is jammer om te sê dat sy ook gesterf het. Net ek en die jong vrou by my is heeltemal ongedeerd gelaat.
“Toe ’n verbygaande motoris ons later opgelaai het, het die vreesbevange vrou aanhoudend gesê: ‘Jehovah se Getuies het my beskerm!’”