Goeie nuus uit Malawi!
DIE Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania is op 15 November 1993 amptelik geregistreer in die land Malawi in suidoostelike Afrika. Dit sal aan Jehovah se Getuies wetlike erkenning verleen asook die vryheid om Bybelwaarhede aan die mense in Malawi te verkondig.
’n Takkantoor van die Wagtoringgenootskap is reeds in 1948 in Malawi geopen om die werk van Jehovah se Getuies in daardie land te koördineer. Op 8 Januarie 1957 is die Wagtoringgenootskap vir die eerste keer daar geregistreer. Etlike jare lank het Jehovah se Getuies vinnige vermeerdering ondervind. Maar gewelddadige vervolging het in 1964 uitgebreek. Waarom?
Jehovah se Getuies het in gehoorsaamheid aan God streng neutraliteit in politieke aangeleenthede gehandhaaf (Johannes 17:16). Klaarblyklik het sommige hierdie Bybelse standpunt glad nie verstaan nie en het die Getuies verkeerdelik as ’n radikale godsdiens en as wetsoortreders voorgestel. Die gevolg was dat sommige geregverdig gevoel het om hierdie vredeliewende Christene te vervolg. Talle Getuies het hulle werk verloor, is geslaan en op ander maniere verneder. Sommige is met geweld van hulle kinders geskei.
In 1972 moes meer as 30 000 Getuies en ander wat saam met hulle die Bybel gestudeer het die land verlaat omdat hulle vir hulle lewe gevrees het. Duisende het hulle in vlugtelingekampe in die naburige Mosambiek gevestig. Maar in 1975 is hierdie vlugtelinge na Malawi toe teruggestuur waar hulle verdere vervolging moes verduur. Baie van hulle is in konsentrasiekampe gesit. Te midde van hierdie beroeringe is die Wagtoringgenootskap van die lys van wettige organisasies in Malawi geskrap. Sedertdien was Jehovah se Getuies en hulle wetlike organisasies in daardie land verbode.
Ondanks al hierdie verwikkelinge het die Getuies nie weerwraak geneem nie. Hulle het nooit ’n gepeupel gevorm of oproere in protes teen die regering veroorsaak nie. Hulle het eerder hulle Christelike verpligting biddend nagekom om behoorlike eer en ontsag te toon vir die staat as die “hoër owerhede” (Romeine 13:1-7, NW; 1 Timotheüs 2:1, 2). Die Getuies het ook gehou by die hoë standaarde van die Christelike leefwyse wat in die Bybel uiteengesit word en sodoende ’n uitmuntende voorbeeld in gedrag gestel.
Met die vryheid wat hulle onlangs verkry het, is Jehovah se Getuies in Malawi vasbeslote om met dringendheid voort te gaan om Bybelwaarhede “in gunstige tye” te verkondiging.—2 Timotheüs 4:2, NW.
[Prent op bladsy 31]
M.G. Henschel saam met die Bethel-gesin in Malawi in die sestigerjare