Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w94 4/15 bl. 21-26
  • Die sluier oor Alaska se laaste voorposte word gelig

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die sluier oor Alaska se laaste voorposte word gelig
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Onderhofies
  • ’n Pynlike verandering
  • Vroeë pogings om te getuig
  • Onverwagte hulp
  • Na die Aleoetiese Eilande
  • Die koue begin stadigaan verdwyn
  • Ons gaan oor die grens
  • Is dit die moeite werd?
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
w94 4/15 bl. 21-26

Die sluier oor Alaska se laaste voorposte word gelig

ONS vier sit nou al die afgelope twee dae ingehok in ’n kamertjie in die dorp Nome, Alaska, wat ’n groot rol tydens die goudstormloop gespeel het. In 1898 het meer as 40 000 prospekteerders op hierdie plek toegesak op soek na één ding—goud! Ons is egter op soek na ’n ander soort skat.

Ons stel op die oomblik belang in “die begeerlike dinge” wat dalk in die afgesonderde dorpies Gambell en Savoonga op St. Lawrence-eiland, 300 kilometer na die weste in die Beringstraat, woon (Haggai 2:7, NW). Daar trotseer die Innuït die ysige Arktiese waters en jag hulle walvisse slegs ’n paar kilometer van wat vroeër die Sowjetunie was. Maar waaiende sneeu sowel as ’n digte grys miskombers hou ons hier gevange. Ons vliegtuig kan nie opstyg nie.

Terwyl ons wag, dink ek terug aan die gebeure van die afgelope paar jaar en dank ek Jehovah God vir sy seën op die getuieniswerk in afgeleë gebiede. In Alaska—wat sommige die wêreld se laaste voorpos noem—is daar meer as 60 000 boorlinge wat in sowat 150 afgeleë gemeenskappe woon, wat oor ’n wildernis van byna 1 600 000 vierkante kilometer versprei is en nie deur paaie van enige aard verbind is nie. Met behulp van die Wagtoringgenootskap se vliegtuig het ons al meer as ’n derde van hierdie afgeleë dorpies bereik en die goeie nuus van God se Koninkryk aan hulle gebring.—Mattheüs 24:14.

Om hierdie afgeleë nedersettings te bereik, moet die vliegtuig dikwels deur wolke en mis geland word wat dae lank oor die gebied kan lê. As ’n mens eers op die grond is, moet jy deur digte mis van ’n ander aard dring. Dit bedek die verstand en hart van hierdie vriendelike en vreedsame mense soos ’n sluier.—Vergelyk 2 Korinthiërs 3:15, 16, NAV.

’n Pynlike verandering

Die Alaska-wildernis word deur die Innuït, Aleoete en Indiane bewoon. Elkeen van hierdie groepe het gebruike en karaktertrekke wat eie is aan hulle onderskeie erfenisse. Om die Arktiese winters te kan oorleef, het hulle geleer om op ’n verstandige wyse van die land se hulpbronne te leef deur te jag, vis te vang en walvisse te jag.

Invloede van buite het hulle in die middel-1700’s bereik. Russiese pelshandelaars het op ’n volk afgekom wat in dierevelle geklee was en na rob-olie geruik het en wat nie in igloes van ys gewoon het nie, maar in huise half onder die grond wat van sooie gemaak was met grasdakke en ondergrondse ingange. Die handelaars het talle ernstige probleme na hierdie sagaardige, vriendelike, dog geharde mense gebring, waaronder nuwe kulture en nuwe siektes, wat tot die helfte van sommige stamme se bevolking uitgewis het. Alkohol het spoedig ’n vloek vir die mense geword. Die nuwe ekonomie het hulle gedwing om van hulle lewe van selfversorging te verander na ’n lewenswyse wat van geld afhanklik is. Party meen tot vandag toe dat dit ’n pynlike verandering was.

Toe die Christendom se sendelinge daar aangekom het, is veranderinge van ’n ander aard aan die inwoners van Alaska opgedwing. Terwyl party hulle tradisionele godsdiensgebruike—die aanbidding van die geeste van wind, ys, die beer, die arend, ensovoorts—teësinnig opgegee het, het ander ’n mengsel van idees ontwikkel, wat ’n verwarrende samesmelting van godsdienste tot gevolg gehad het. Al hierdie dinge het dikwels tot agterdog en wantroue teenoor vreemdelinge gelei. In party dorpies word ’n besoeker nie altyd verwelkom nie.

Die uitdaging wat ons in die gesig staar, is dus: Hoe gaan ons al die inwoners van hierdie ontsaglike gebied bereik? Hoe kan ons hulle laat besef dat daar geen rede tot agterdog is nie? Wat kan ons doen om die sluier te lig?

Vroeë pogings om te getuig

In die vroeë sestigerjare het ’n aantal geharde Getuies van Alaska die weer—kragtige winde, temperature onder vriespunt, witsigtoestande—getrotseer en met hulle eie eenmotorige vliegtuie in die dorpies gaan preek wat in die noorde versprei lê. As ’n mens nou terugkyk, het hierdie moedige broers hulle in werklikheid aan groot gevaar blootgestel. As ’n enjin onklaar geraak het, sou dit heel waarskynlik rampspoedige gevolge gehad het. Al sou hulle die vliegtuig veilig kon land, sou hulle baie ver van hulp gewees het in temperature onder die vriespunt en sonder enige vervoermiddel. Hulle oorlewing sou daarvan afgehang het of hulle voedsel en skuiling kon vind, en dít sou nie so maklik gewees het nie. Gelukkig was daar geen ernstige voorvalle nie, maar sulke gevare kon nie geïgnoreer word nie. Die takkantoor van die Wagtoringgenootskap in Alaska het die broers gevolglik afgeraai om hierdie soort predikingswerk te doen.

Om met die werk te kon voortgaan, het getroue broers in die Fairbanks- en die North Pole-gemeente hulle op die groter dorpe toegelê, soos Nome, Barrow en Kotzebue, wat deur handelslugdienste bedien word. Hulle het hulle eie geld gebruik om na hierdie gebiede te reis, wat meer as 720 kilometer in ’n noordelike en westelike rigting geleë is. Party het etlike maande in Nome gebly om Bybelstudies met belangstellendes te hou. In Barrow is ’n woonstel gehuur om ’n skuilplek teen die ysige weer van minus 45 grade Celsius te bied. Meer as R50 000 is oor etlike jare deur diegene bestee wat Jesus se opdrag ter harte geneem het om die goeie nuus tot aan die uithoeke van die aarde te verkondig.—Markus 13:10.

Onverwagte hulp

Daar is steeds na ’n manier gesoek waarop die meer afgesonderde gemeenskappe bereik kon word, en Jehovah het dit moontlik gemaak. ’n Tweemotorige vliegtuig het beskikbaar geword—presies wat nodig was om die onbegaanbare Alaskareeks veilig oor te steek. Daar is verskeie berge in Alaska wat meer as 4 200 meter hoog is, en die piek van die bekende Mount McKinley (Denali) is 6 193 meter bo seespieël.

Uiteindelik het die vliegtuig gekom. Kan jy jou voorstel hoe teleurgesteld ons was toe ’n ou, verbleikte, veelkleurige vliegtuig op die landingstrook neergestryk het? Kon dit hoegenaamd veilig wees om daarmee te vlieg? Kon ons die lewens van ons broers daaraan toevertrou? Jehovah se hand was weer eens nie te kort nie. Meer as 200 broers het hulle dienste aangebied en onder toesig van gelisensieerde werktuigkundiges etlike duisend uur daaraan bestee om die hele vliegtuig op te knap.

Wat ’n pragtige gesig was dit tog! ’n Skitterende, feitlik nuwe vliegtuig wat in die lugruim van Alaska opstyg met die registrasienommer 710WT wat op sy stert pryk! Aangesien sewe sowel as tien in die Bybel gebruik word om volledigheid te simboliseer, kan 710 beskou word as ’n beklemtoning van die ondersteuning wat Jehovah se organisasie gee om die sluier te lig van harte wat in duisternis gehul is.

Na die Aleoetiese Eilande

Vandat ons die vliegtuig gekry het, het ons al 80 000 kilometer van die wildernisgebied gedek en die goeie nuus van die Koninkryk sowel as Bybellektuur aan meer as 54 dorpies gebring. Dit is dieselfde afstand as om 19 keer oor die hele vasteland van die Verenigde State te vlieg!

Ons het die Aleoetiese Eilande, wat oor ’n gebied van 1 600 kilometer strek en die Stille Oseaan van die Beringsee skei, al drie keer besoek. Die meer as 200 feitlik boomlose eilande waaruit hierdie eilandgroep bestaan, is nie alleen die tuiste van die Aleoete wat daar woon nie, maar ook van duisende seevoëls, witkoparende en keiserganse, met hulle spierwit koppe en die kenmerkende swart en wit gestreepte vere.

Die aanloklike prag van die gebied is egter nie sonder sy gevare nie. Terwyl ons oor die see gevlieg het, kon ons golwe van tussen drie en vyf meter hoog op die skuimende ysige water sien—water wat so koud is dat ’n mens selfs in die somer net 10 tot 15 minute aan die lewe kan bly as jy daarin sou beland. As ’n vlieënier genoodsaak is om te land, het hy net ’n keuse tussen ’n onbegaanbare, rotsagtige eiland en die yskoue, dodelike see. Hoe dankbaar is ons tog vir ons bekwame broers, wat gesertifiseerde A & E-werktuigkundiges (vliegtuig- en enjinwerktuigkundiges) is en wat ingewillig het om die vliegtuig in ’n uitstekende toestand te hou!

Tydens een van ons vliegtogte was ons op pad na Dutch Harbor en die vissersdorpie Unalaska. Die gebied is bekend vir sy winde van tussen 130 en 190 kilometer per uur. Gelukkig was dit daardie dag baie kalmer, maar dit was steeds stamperig genoeg om ons ’n paar keer olik te laat voel. Hoe verbaas was ons tog toe die landingstrook in sig kom—net ’n keep in ’n rotsagtige berghang! Aan die een kant van die aanloopbaan is ’n steil krans en aan die ander kant die ysige water van die Beringsee! Toe ons land, was dit op ’n nat aanloopbaan. Dit reën meer as 200 dae per jaar daar.

Wat ’n vreugde was dit tog om God se Woord en voorneme met die inwoners van die gebied te bespreek! Etlike bejaardes het waardering uitgespreek vir die hoop op ’n wêreld sonder oorlog. Hulle kan nog baie goed onthou hoe die Japannese Dutch Harbor gedurende die Tweede Wêreldoorlog gebombardeer het. Ons herinneringe van hierdie getuienistogte is net so onvergeetlik.

Die koue begin stadigaan verdwyn

Wanneer ons weer eens na die weer kyk, merk ons dat die temperatuur stadig begin styg. Dit laat my dink aan ons werk in die afgeleë gebiede. Ons het gesien dat die koue in mense se harte stadig maar seker begin verdwyn.

Dit het ’n ruk geneem om die agterdog en wantroue wat mense teenoor vreemdelinge koester af te breek. Tydens ons eerste pogings was dit niks ongewoons dat die kerkleiers van die dorpies ons by die vliegtuig kom ontmoet het, ons gevra het wat die doel van ons besoek is en ons dan botweg gevra het om ons koers te kry nie. Wanneer ons so ontvang is, was ons natuurlik teleurgesteld. Maar ons het Jesus se raad in Mattheüs 10:16 onthou: “Wees dan versigtig soos die slange en opreg soos die duiwe.” Ons het dus teruggekeer met ’n vliegtuig vol vars blaarslaai, tamaties, kanteloepe en ander items wat nie vryelik daar beskikbaar is nie. Die voorheen vyandiggesinde inwoners was nou baie bly om ons vrag te sien.

Terwyl een broer na die “winkel” omgesien het en die bydraes vir die vars goedere geneem het, het ’n paar ander van deur tot deur gegaan en die huisbewoners van die vars goedere in kennis gestel. Hulle het ook by die deure gevra: “O, terloops, lees jy die Bybel? Ek is seker jy sal dit geniet om hierdie Bybelstudiehulp te lees wat toon dat God ons ’n paradys belowe het.” Wie kon so ’n aanloklike aanbod van die hand wys? Almal het die fisiese sowel as die geestelike voedsel waardeer. Ons is vriendelik verwelkom, het baie lektuur versprei en die koue is uit ’n paar harte verdryf.

Ons gaan oor die grens

Ons het ’n “Macedoniese” uitnodiging van die Whitehorse-gemeente in die Yukon-gebied ontvang om ‘oor te kom’ na Kanada en van die nedersettings in die afgesonderde Noordwestelike Gebiede te besoek (Handelinge 16:9). Daar was vyf van ons op die vliegtuig toe ons na Tuktoyaktuk, ’n dorpie naby Mackenziebaai in die Beaufortsee, noord van die Noordpoolsirkel, vertrek het.

‘Hoe spreek ’n mens hierdie eienaardige naam uit?’ het ons gewonder toe ons daar aankom.

“Tuk”, het ’n jong man met ’n breë glimlag geantwoord.

“Waarom het ons nie daaraan gedink nie?” het ons met verbasing gesê.

Dit het ons verbaas dat die mense van Tuktoyaktuk goed vertroud is met die Skrif. Ons het gevolglik talle vriendelike besprekings gehad en baie lektuur versprei. Een van ons jong pioniers het ’n insiggewende gesprek met ’n huisbewoner gehad.

“Ek is ’n Anglikaan!” het die huisbewoner gesê.

“Het jy geweet dat die Anglikaanse Kerk homoseksualiteit goedkeur?” het ons pionier gevra.

“Is dit so?” het die man huiwerig geantwoord. “Wel, dan is ek nie meer ’n Anglikaan nie.” Ons hoop dat nog iemand sy hart vir die goeie nuus van die Bybel oopgemaak het.—Efesiërs 1:18, NW.

Een bejaarde was beïndruk deur ons vasbeslotenheid om elke huis in die gebied te bereik. Ons moes meestal al ons werk te voet doen. Gewoonlik moes ons ’n kilometer of verder van die landingstrook na die dorpie stap. Daarna moes ons met gruis- of modderpaadjies langs sukkel om elke huis te bereik. Die man het ons sy bakkie geleen, en wat ’n seën was dit tog! Dit was ’n groot voorreg om oor die grens te gaan en in die Kanadese gebied te gaan help.

Is dit die moeite werd?

Wanneer die weer sleg is en ons gestrand raak of vir ’n onbepaalde tyd vertraag word, soos nou die geval is, of wanneer ’n lang dag in die getuieniswerk oënskynlik net onverskilligheid of selfs vyandigheid opgelewer het, begin ons wonder of dit al die tyd, energie en onkoste werd is. Ons dink dan miskien aan mense wat lyk of hulle belangstel en belowe om te korrespondeer, maar dit dan nie doen nie. Dan herinner ons ons daaraan dat baie van die plaaslike mense nie in die gewoonte is om briewe te skryf nie, en dat vriendelikheid maklik vir belangstelling in die Bybelboodskap aangesien kan word. Partykeer is dit moeilik om ’n mens se sukses te bepaal.

Hierdie negatiewe gedagtes verdwyn vinnig wanneer ons die goeie ondervindinge onthou wat ander Koninkryksverkondigers gehad het. ’n Getuie van Fairbanks het byvoorbeeld in die dorpie Barrow in die verre noorde gepreek. Daar het sy ’n tiener ontmoet wat in Kalifornië skoolgegaan het en vir die skoolvakansie by die huis was. Die suster het die belangstelling deur middel van briewe lewendig gehou en voortgegaan om die meisie aan te moedig selfs nadat sy terug is skool toe. Vandag is dié jong dame ’n gelukkige, gedoopte kneg van Jehovah.

’n Klop aan die deur bring my terug na die hede en lewer verdere bewys dat dit alles die moeite werd is. Daar by die deur staan Elmer, wat tot dusver die enigste toegewyde, gedoopte Innuït-Getuie in Nome is.

“Kan ek saam met julle gaan as julle weer vertrek?” vra hy. Aangesien hy op ’n afgesonderde plek woon en byna 800 kilometer van die naaste gemeente af is, wil hy saam met sy broers aan die bediening deelneem terwyl hy die geleentheid het.

Die son se strale begin deurbreek en ons weet dat ons binnekort toestemming sal kry om te vertrek. Wanneer Elmer in die vliegtuig klim, vervul sy gelukkige, stralende gesig ons met ’n warm gevoel. Dit is ’n spesiale dag vir Elmer. Hy kom saam met ons na ’n dorpie waar hy vir sy eie Innuït-mense gaan preek en ons gaan help om die sluier te lig oor die harte van die mense wat in die wêreld se laaste voorpos woon.—Bygedra.

[Kaart op bladsy 23]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

1. Gambell

2. Savoonga

3. Nome

4. Kotzebue

5. Barrow

6. Tuktoyaktuk

7. Fairbanks

8. Anchorage

9. Unalaska

10. Dutch Harbor

[Prent op bladsy 24]

Om afgesonderde gemeenskappe te bereik, is dit dikwels nodig om een van Alaska se talle bergreekse oor te steek

[Prent op bladsy 25]

Betty Haws, Sophie Mezak en Carrie Teeples is altesaam al meer as 30 jaar in die voltydse diens

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel