Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w94 3/1 bl. 17-23
  • Jehovah se geskil met die nasies

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah se geskil met die nasies
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Oordeel teen die permissiewe ryk van die Christendom
  • Oordeel teen Babilon die Grote
  • Oordeel teen “al die nasies”
  • Herders wat sal huil en skreeu
  • Bybelboek nommer 24—Jeremia
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Jeremia—’n ongewilde profeet van God se oordele
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • God se oordele moet verkondig word
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Christelike Neutraliteit terwyl God se oorlog nader
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
w94 3/1 bl. 17-23

Jehovah se geskil met die nasies

“Oorlogsrumoer het gekom tot by die einde van die aarde, want [Jehovah het ’n geskil] met die nasies.”—JEREMIA 25:31, vgl. NW.

1, 2. (a) Wat het ná die dood van koning Josia in Juda gebeur? (b) Wie was die laaste koning van Juda, en hoe het hy weens sy ontrouheid gely?

DIE land Juda het voor kritieke tye gestaan wat moeilik sou wees om deur te kom. Een goeie koning, Josia, het Jehovah se toorngloed tydelik afgeweer. Maar wat het gebeur toe Josia in 629 v.G.J. doodgemaak is? Die konings wat hom opgevolg het, het Jehovah oneer aangedoen.

2 Die laaste koning van Juda, Sedekia, die vierde seun van Josia, het, soos 2 Konings 24:19 meld, aangehou om te doen “wat verkeerd was in die oë van die HERE net soos [sy ouer broer] Jojakim gedoen het”. Met watter gevolg? Nebukadnesar het teen Jerusalem opgetrek, Sedekia gevange geneem, sy seuns voor sy oë geslag, hom verblind en hom na Babilon weggevoer. Daarbenewens het die Babiloniërs die voorwerpe wat in Jehovah se aanbidding gebruik is, gebuit en die tempel en die stad aan die brand gesteek. Die oorlewendes is in ballingskap na Babilon weggevoer.

3. Watter tydperk het met die vernietiging van Jerusalem in 607 v.G.J. begin, en wat sou aan die einde van daardie tydperk gebeur?

3 Daardie jaar, 607 v.G.J., was nie net die jaar waarin Jerusalem finaal verwoes is nie, maar ook die jaar waarin “die vasgestelde tye van die nasies”, waarna daar in Lukas 21:24 (NW) verwys word, begin het. Hierdie tydperk van 2 520 jaar het in ons eeu, in die jaar 1914, geëindig. Toe het die tyd aangebreek vir Jehovah om deur sy gekroonde Seun, Jesus Christus, wat groter as Nebukadnesar is, die oordeel oor die verdorwe wêreld te vel en dit aan hulle te voltrek. Hierdie oordeel begin by die hedendaagse teëbeeld van Juda, ’n teëbeeld wat beweer dat hulle God en Christus op die aarde verteenwoordig.

4. Watter vrae word nou in verband met Jeremia se profesie geopper?

4 Sien ons ’n ooreenkoms tussen die woelinge gedurende die laaste jare van Juda onder sy konings—met rampspoedige gebeure wat na omliggende nasies uitgekring het—en die woelinge in die Christendom vandag? Ja, beslis! Wat toon Jeremia se profesie dus in verband met hoe Jehovah sake in ons tyd sal behartig? Kom ons kyk.

5, 6. (a) Hoe was die situasie in die Christendom sedert 1914 soortgelyk aan dié in Juda kort voor sy vernietiging? (b) Watter boodskap het die hedendaagse Jeremia aan die Christendom uitgedra?

5 Die Britse wiskundige en filosoof Bertrand Russell het sowat 40 jaar gelede gesê: “Sedert 1914 is almal wat van neigings in die wêreld bewus is diep verontrus deur wat na ’n gedoemde en voorbestemde opmars na immer groter onheil lyk.” En die Duitse staatsman Konrad Adenauer het gesê: “Veiligheid en kalmte het sedert 1914 uit mense se lewens verdwyn.”

6 Vandag, net soos in Jeremia se dag, word die naderende einde van ’n stelsel van dinge gekenmerk deur die vergieting van ’n ontsaglike hoeveelheid onskuldige bloed, veral tydens die twee wêreldoorloë van hierdie eeu. Hierdie oorloë is hoofsaaklik deur nasies van die Christendom gevoer, wat beweer dat hulle die God van die Bybel aanbid. Watter skynheiligheid tog! Dit is geen wonder nie dat Jehovah sy Getuies na hulle toe gestuur het om aan hulle, in die woorde van Jeremia 25:5, 6, te sê: “Bekeer julle tog elkeen van sy verkeerde weg en van die boosheid van julle handelinge . . . en loop nie agter ander gode aan om hulle te dien en julle voor hulle neer te buig nie, en terg My nie met die werk van julle hande nie, dat Ek julle geen kwaad aandoen nie.”

7. Watter bewys is daar dat die Christendom hulle nie aan Jehovah se waarskuwings gesteur het nie?

7 Maar die nasies van die Christendom het hulle nie bekeer nie. Dit het geblyk uit die feit dat hulle in Korea en Viëtnam verdere offers aan die oorlogsgod gebring het. En hulle finansier steeds die handelaars van die dood, die vervaardigers van krygstuig. Die lande van die Christendom het gedurende die tagtigerjare elke jaar die grootste deel van die bykans eenbiljoen dollar (R3,2 biljoen) voorsien wat aan wapentuig bestee is. Van 1951 tot 1991 was die militêre besteding van die Verenigde State alleen groter as die netto winste van al die Amerikaanse maatskappye saam. Sedert die luid aangekondigde beëindiging van die Koue Oorlog is die aantal verouderde kernwapens verminder, maar ontsaglike arsenale van ander dodelike wapens bestaan steeds en word nog verder ontwikkel. Eendag kan hulle dalk gebruik word.

Oordeel teen die permissiewe ryk van die Christendom

8. Hoe sal die woorde van Jeremia 25:8, 9 ten opsigte van die Christendom vervul word?

8 Jehovah se volgende woorde in Jeremia 25:8, 9 is vandag spesifiek op die Christendom van toepassing, wat nie Christelike standaarde van regverdigheid naleef nie: “Daarom, so sê die HERE van die leërskare: Omdat julle na my woorde nie geluister het nie, laat Ek al die geslagte van die Noorde haal, spreek die HERE, en Nebukadresar, die koning van Babel, my dienaar; en Ek sal hulle bring oor hierdie land en sy inwoners en oor al hierdie nasies rondom, en Ek sal hulle met die banvloek tref en hulle maak ’n voorwerp van verbasing en van bespotting en ewige puinhope.” Die groot verdrukking sal dus by die Christendom begin, wat voorgee dat hulle God se volk is, en sal uiteindelik oor die hele aarde, na ‘al die nasies rondom’, uitbrei.

9. In watter opsigte het die Christendom se geestelike toestand in ons tyd versleg?

9 Daar was ’n tyd toe die Bybel in die Christendom gerespekteer is, toe die huwelik en die gesinslewe feitlik allerweë as ’n bron van geluk beskou is, toe mense vroeg opgestaan en voldoening in hulle daaglikse werk gevind het. Baie het hulle verkwik deur God se Woord saans by lamplig te lees en te bestudeer. Maar seksuele promiskuïteit, egskeiding, dwelmmisbruik en dronkenskap, misdaad, hebsug, lakse werkgewoontes, TV-verslawing en ander euwels het die lewe vandag in ’n onrusbarende mate verderf. Dit gaan die verwoesting vooraf wat Jehovah God eersdaags oor die permissiewe ryk van die Christendom gaan bring.

10. Beskryf die Christendom se toestand nadat Jehovah sy oordele voltrek het.

10 Jehovah sê, soos ons in Jeremia hoofstuk 25, verse 10 en 11, lees: “Ek sal uit hulle laat verdwyn die stem van vreugde en die stem van vrolikheid, die stem van die bruidegom en die stem van die bruid, die geluid van die handmeul en die lig van die lamp. En hierdie hele land sal ’n puinhoop, ’n woesteny [“voorwerp van verbasing”, NW] word.” Dit sal inderdaad verbasing wek wanneer die magtige tempels en luukse paleise van die Christendom tydens hulle vernietiging ineenstort. Hoe omvangryk sal hierdie vernieting wees? In Jeremia se dag het die verwoeste toestand van Juda en die omliggende nasies 70 jaar lank geduur, ’n tydperk wat Psalm 90:10 as ’n tipiese lewensduur beskryf. Die voltrekking van Jehovah se oordeel in ons dag sal volkome, vir ewig, wees.

Oordeel teen Babilon die Grote

11. Wie sal gebruik word om die Christendom te vernietig? Waarom?

11 Soos in Openbaring 17:12-17 voorspel is, sal die tyd aanbreek wanneer Jehovah met sy vreemde daad begin deur dit in die harte van “die tien horings”—die gemilitariseerde lede van die Verenigde Nasies—te gee “om sy bedoeling uit te voer” om die wêreldryk van valse godsdiens te verwoes. Maar hoe sal dit gebeur? Daar is baie maniere waarop “die tien horings” van Openbaring hoofstuk 17, volgens die woorde in vers 16, moontlik ‘die hoer sal begin haat en haar met vuur sal verbrand’. Daar was en is weliswaar nog steeds ’n oorvloed kernwapens op baie plekke op aarde waar daar plofbare situasies heers. Maar ons moet wag en sien hoe Jehovah dit in die harte van die politieke heersers gaan gee om sy wraak uit te oefen.

12. (a) Wat het met Babilon gebeur nadat hy Jerusalem vernietig het? (b) Wat sal ná die vernietiging van die Christendom met die nasies gebeur?

12 In die ou tyd het Babilon ook mettertyd Jehovah se toorngloed ondervind. Gevolglik beskou die profesie in Jeremia hoofstuk 25, van vers 12 af, die aangeleentheid uit ’n latere, veranderde standpunt. Nebukadnesar en Babilon, wat in hierdie stadium nie meer as Jehovah se Skerpregter dien nie, word nou onder al die wêreldse nasies ingesluit. Dit kom ooreen met die situasie vandag. “Die tien horings” van Openbaring hoofstuk 17 sal valse godsdiens verwoes, maar later sal hulle self saam met al die ander “konings van die aarde” vernietig word, soos in Openbaring hoofstuk 19 beskryf word. Jeremia 25:13, 14 beskryf hoe Babilon, saam met “al die nasies” wat Jehovah se volk uitgebuit het, gestraf word. Jehovah het Nebukadnesar as skerpregter gebruik om Juda te straf. Maar Nebukadnesar sowel as die konings van Babilon wat ná hom gekom het, het hoogmoedig geword en hulle teen Jehovah verhef, soos byvoorbeeld duidelik geblyk het uit die ontheiliging van die voorwerpe van Jehovah se tempel (Daniël 5:22, 23). En toe die Babiloniërs Jerusalem vernietig het, het Juda se buurnasies—Moab, Ammon, Tirus, Edom en ander—hulle daaroor verheug en God se volk bespot. Hulle moet ook hulle verdiende straf van Jehovah af ontvang.

Oordeel teen “al die nasies”

13. Wat word bedoel met “hierdie beker van die wyn van grimmigheid”, en wat gebeur met diegene wat van die beker drink?

13 Jeremia sê vervolgens, soos in hoofstuk 25, verse 15 en 16, opgeteken staan: “So het die HERE, die God van Israel, vir my gesê: Neem hierdie beker van die wyn van grimmigheid uit my hand en gee dit om te drink aan al die nasies na wie Ek jou stuur, dat hulle kan drink en waggel en rasend word weens die swaard wat Ek onder hulle stuur.” Waarom is dit ’n ‘beker van die wyn van Jehovah se grimmigheid’? In Mattheüs 26:39, 42 en Johannes 18:11 het Jesus van ’n “beker” gepraat as sinnebeeldig van God se wil vir hom. ’n Beker word insgelyks gebruik as ’n sinnebeeld van Jehovah se wil vir die nasies om van sy Goddelike wraak te drink. Jeremia 25:17-26 noem hierdie volke wat die hedendaagse nasies afbeeld by name.

14. Wie sal, volgens Jeremia se profesie, van die beker van die wyn van Jehovah se grimmigheid drink, en wat beeld dit vir ons dag af?

14 Nadat die Christendom, soos Juda, “’n puinhoop, ’n voorwerp van verbasing, van bespotting en van vervloeking”, gemaak is, wag daar vernietiging op die ganse wêreldryk van valse godsdiens. Daarna moet die hele wêreld, wat deur Egipte afgebeeld word, van die beker van die wyn van Jehovah se grimmigheid drink! Ja, “al die konings van die Noorde wat naby en ver is, die een ná die ander; ja, al die koninkryke van die aarde wat op die aardbodem is”, moet daarvan drink. Laastens sal “die koning van Sesag . . . ná hulle drink”. En wie is hierdie “koning van Sesag”? Sesag is ’n sinnebeeldige naam, ’n kriptogram, of kodenaam, vir Babilon. Net soos Satan die onsigbare koning oor Babilon was, is hy tot vandag toe “die owerste van hierdie wêreld”, soos Jesus aangedui het (Johannes 14:30). Jeremia 25:17-26 stem dus met Openbaring hoofstukke 18 tot 20 ooreen waar dit die volgorde van gebeure verduidelik wanneer die beker van Jehovah se grimmigheid omgestuur word. Eerstens moet die wêreldryk van valse godsdiens vernietig word, daarna die politieke moondhede en dan word Satan self in die afgrond gewerp.—Openbaring 18:8; 19:19-21; 20:1-3.

15. Wat sal gebeur wanneer die uitroep van “vrede en veiligheid” gehoor word?

15 Daar is al baie oor vrede en veiligheid gepraat sedert die Koue Oorlog oënskynlik beëindig is en daar nou nog net een supermoondheid oorbly. Soos in Openbaring 17:10 gemeld word, moet daardie supermoondheid, die sewende kop van die wilde dier, “’n kort tydjie bly”. Maar daardie “kort tydjie” is amper verstreke. Binnekort gaan alle politieke uitroepe van “vrede en veiligheid” gesmoor word wanneer ‘’n skielike verderf hulle sal oorval’. Dit is wat die apostel Paulus sê.—1 Thessalonicense 5:2, 3.

16, 17. (a) Wat sal die gevolg wees as enigiemand probeer om Jehovah se oordeel vry te spring? (b) Op watter vernietigende wyse sal Jehovah se wil binnekort op die aarde geskied?

16 Satan se hele wêreldstelsel moet van Jehovah se beker van wraak drink, en dit sal eerste aan die Christendom gegee word. Sy verdere opdrag aan Jeremia, in hoofstuk 25, verse 27 tot 29, bevestig dit: “Jy moet vir hulle sê: So spreek die HERE van die leërskare, die God van Israel: Drink en word dronk en spuug en val neer en staan nie weer op nie weens die swaard wat Ek onder julle stuur. En as hulle weier om die beker uit jou hand te neem om te drink, moet jy vir hulle sê: So spreek die HERE van die leërskare: Drink sál julle! Want kyk, in die stad waaroor my Naam uitgeroep is, begin Ek met onheile—en sal júlle heeltemal ongestraf bly? Julle sal nie ongestraf bly nie, want Ek roep die swaard op teen al die inwoners van die aarde, spreek die HERE van die leërskare.”

17 Dit is sterk woorde—inderdaad vreesaanjaende woorde, want dit is woorde wat deur die Soewereine Heer van die ganse heelal, Jehovah God, geuiter word. Millenniums lank het hy die laster en smaad wat op sy heilige naam gewerp is, asook die haat waarmee sy naam bejeën is, lankmoedig verduur. Maar die tyd het uiteindelik aangebreek vir hom om die gebed te beantwoord wat sy geliefde Seun, Jesus Christus, sy dissipels geleer het terwyl hy hier op die aarde was: “Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Mattheüs 6:9, 10). Dit is Jehovah se wil dat Jesus as Sy swaard moet optree om wraak te neem.

18, 19. (a) Wie sal voortry om in Jehovah se naam te oorwin, en waarvoor wag hy voordat hy sy oorwinning voltooi? (b) Watter vreesaanjaende gebeurtenisse sal op die aarde plaasvind wanneer die engele die stormwind van Jehovah se grimmigheid loslaat?

18 In Openbaring hoofstuk 6 lees ons eerstens van Jesus wat op ’n wit perd voortry “as ’n oorwinnaar en om te oorwin [“om sy oorwinning te voltooi”, NW]” (Vers 2). Dit het in 1914 met sy troonsbestyging as hemelse Koning begin. Ander perde en ruiters volg hom en beeld die totale oorlog, hongersnood en pessiektes af wat ons aarde sedertdien teister. Maar wanneer sal daar ’n einde aan al hierdie beroeringe kom? Openbaring hoofstuk 7 deel ons mee dat vier engele “die vier winde van die aarde” stewig vashou totdat geestelike Israel en ’n groot menigte uit alle nasies vir redding versamel is (Vers 1). Wat gebeur daarna?

19 Jeremia hoofstuk 25 sê voorts in verse 30 en 31: “Die HERE sal brul uit die hoogte en sy stem verhef uit sy heilige woning! Geweldig sal Hy brul oor sy woonplek; soos druiwetrappers sal Hy ’n vreugdegeroep aanhef teen al die inwoners van die aarde. Oorlogsrumoer het gekom tot by die einde van die aarde, want [“Jehovah het ’n geskil”, NW] met die nasies, Hy hou gerig oor alle vlees. Die goddelose—aan die swaard het Hy hulle oorgegee, spreek die HERE.” Geen nasie sal dit kan vryspring om op hierdie wyse van die beker van Jehovah se grimmigheid te drink nie. Dit is dus hoog tyd dat alle regskapenes hulle van die goddeloosheid van die nasies distansieer voordat die vier engele die hewige stormwind van Jehovah se grimmigheid loslaat. Dit gaan beslis hewig wees, want Jeremia se profesie sê voorts in verse 32 en 33:

20. Watter toneel beklemtoon die hewigheid van Jehovah se oordeel, maar waarom is sulke optrede nodig?

20 “So sê die HERE van die leërskare: Kyk, onheil gaan uit van volk tot volk, en ’n groot storm word opgewek uit die agterhoeke van die aarde. En die wat deur die HERE verslaan is, sal dié dag lê van die een einde van die aarde tot die ander einde van die aarde; hulle sal nie beklaag of versamel of begrawe word nie; hulle sal mis op die aarde wees.” Voorwaar ’n grusame toneel, maar sulke optrede is nodig sodat die aarde van alle goddeloosheid gereinig kan word alvorens die Paradys wat God beloof het tot stand gebring word.

Herders wat sal huil en skreeu

21, 22. (a) Wie was, volgens Jeremia 25:34-36, die “herders” van Israel, en waarom is hulle gedwing om te huil? (b) Watter hedendaagse herders verdien Jehovah se toorn, en waarom verdien hulle dit dubbel en dwars?

21 Verse 34 tot 36 vertel verder van Jehovah se oordeel en sê: “Huil, o herders, en skreeu, en wentel julle in die as, julle maghebbers van die kudde; want vol is julle dae om geslag te word, en Ek sal julle verbrysel, en julle sal val soos ’n kosbare voorwerp. Dan sal daar geen toevlug wees vir die herders en geen ontkoming vir die maghebbers van die kudde nie. Hoor! Geskreeu van die herders en gehuil van die maghebbers van die kudde, omdat die HERE hulle kudde verwoes.”

22 Wie is hierdie herders? Hulle is nie die godsdiensleiers wat reeds van Jehovah se toorn gedrink het nie. Hulle is die militaristiese herders, wat ook in Jeremia 6:3 beskryf word, wat hulle leërs soos troppe vee in verset teen Jehovah versamel. Hulle is die politieke heersers, wat ten koste van hulle onderdane ryk geword het. Baie van hulle is knoeiers, meesterbedrieërs. Hulle het gesloer om die hongersnode te verlig wat hele volke in minder bevoorregte lande uitgewis het. Hulle verryk “die maghebbers van die kudde”, soos die wapenmagnate en hebsugtige verderwers van die omgewing, terwyl hulle weier om die mediese hulp en voedsame kos te voorsien wat teen so ’n geringe koste tienmiljoene sterwende kinders kan red.

23. Beskryf die toestand van Satan se ryk nadat Jehovah sy vernietiging daaroor gebring het.

23 Dit is geen wonder nie dat Jeremia hoofstuk 25, in verse 37 en 38, afsluit deur van hierdie mense wat selfsugtig net vir hulleself vrede najaag te sê: “Die weivelde van vrede word verwoes weens die toorngloed van die HERE. Hy het soos ’n jong leeu sy lêplek verlaat; want hulle land het ’n woesteny [“’n voorwerp van verbasing”, NW] geword weens die gewelddadige swaard, ja, weens sy toorngloed.” Dit is inderdaad verbasend! Maar Jehovah se toorngloed sal seker en gewis uitgegiet word deur die Een wat in Openbaring 19:15, 16 beskryf word as die “Koning van die konings en die Here van die here”, wat die nasies met ’n ysterstaf regeer. En wat gebeur dan?

24. Watter seëninge sal die vernietiging van valse godsdiens en die res van Satan se wêreld vir regverdige mense meebring?

24 Het jy al ooit ’n orkaan of ’n tifoon deurgemaak? Dit kan ’n skrikwekkende ondervinding wees. Maar die volgende oggend is die lug gewoonlik so helder en die kalmte so verkwikkend dat jy, ten spyte van die verwoesting wat jy dalk oral om jou sien, Jehovah vir ’n buitengewoon lieflike dag kan dank. Wanneer die stormwinde van die groot verdrukking bedaar, kan jy insgelyks na die aarde kyk met dankbaarheid dat jy lewe en gereed is om ’n aandeel te hê aan Jehovah se verdere werk om ’n gereinigde aarde in ’n pragtige paradys te omskep. Jehovah se geskil met die nasies sal dan op ’n finale en luisterryke wyse besleg wees, wat sy naam sal heilig en die weg sal baan sodat sy wil, onder die Duisendjarige Heerskappy van die Messiaanse Koninkryk, op die aarde kan geskied. Mag daardie Koninkryk gou kom!

Ter hersiening van paragrawe 5-24 van hierdie artikel

◻ Watter geveinsde weë van die Christendom word nou geoordeel?

◻ Watter breër beskouing van die oordeel bevat Jeremia 25:12-38?

◻ Watter beker van wraak word aan al die nasies gegee?

◻ Wie is die herders wat huil en skreeu, en waarom is hulle so ontsteld?

[Prent op bladsy 18]

Jehovah het die instrument van die Christendom se vernietiging gekies

[Prent op bladsy 23]

Ná die stormwinde van die groot verdrukking sal ’n gereinigde aarde verskyn

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel