Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w94 2/15 bl. 30
  • Hoe eertydse stede ontstaan het

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe eertydse stede ontstaan het
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Onderhofies
  • Die keuse van die ligging
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
w94 2/15 bl. 30

Hoe eertydse stede ontstaan het

MENSE het om etlike redes stede begin bou: vir beskerming, nywerhede, handel en godsdiens. Te oordeel na die hoeveelheid en grootte van die tempels wat deur argeoloë ontdek is, was godsdiens ongetwyfeld een van die vernaamste beweegredes vir die bou van talle eertydse stede.

Die stad Babel met sy godsdienstoring is een so ’n voorbeeld. “Kom,” het die bouers daarvan vir mekaar gesê, “laat ons vir ons ’n stad bou en ’n toring waarvan die spits tot aan die hemel reik; en laat ons vir ons ’n naam maak, sodat ons nie oor die hele aarde verstrooid raak nie” (Genesis 11:4-9). Die gevaar om in slawerny weggevoer te word deur veglustiges wat daarop uit was om te verower, was nog ’n dwingende rede waarom dié wat bevrees was in stede saamgetrek het. Hulle het altyd die stede verskans en ommuur, en snags en ten tye van gevaar het hulle die poorte gesluit.—Josua 2:5.

Die keuse van die ligging

Die keuse van ’n stad se ligging het van verskillende faktore afgehang. Aangesien verdediging gewoonlik van die grootste belang was, is eertydse stede meestal op hoogtes gebou. Buiten die natuurlike versperrings is massiewe mure of ’n kompleks van mure en torings en, in sommige gevalle, gragte rondom die stad gebou.

Namate stede uitgebrei het, was dit soms nodig om die mure te verleng sodat dit ’n groter gebied ingesluit het. Ingange deur die mure is deur sterk hekke beveilig wat weerstand aan langdurige beleëring kon bied.

’n Goeie nabygeleë watervoorraad was absoluut noodsaaklik en kon nie oor die hoof gesien word wanneer daar op ’n stad se ligging besluit is nie. Om dié rede is dit as ideaal beskou wanneer daar fonteine of putte binne die stadsmure was. In sekere gevalle, veral in die geval van Megiddo, Gibeon en Jerusalem, was daar ondergrondse watertonnels en -vore wat water tot binne die mure gebring het van bronne af wat buite geleë was.—2 Konings 20:20.

As gevolg van gemeenskaplike doelwitte en oogmerke in die bou van eertydse stede het die meeste van hulle se ontwerp en uitleg baie ooreengestem. En aangesien dinge gedurende die afgelope eeue nie veel verander het nie, lyk sekere stede vandag nog grotendeels soos hulle twee of drie millenniums gelede gelyk het.

Baie stede het as eenvoudige gehuggies begin, tot die grootte van ’n dorp uitgebrei of die status van ’n stad verkry en soms groot stadstate geword wat beheer oor die lewens van honderdduisende mense gehad het. As gevolg van sulke groei het ’n paar politieke en militêre leiers alle staats- en regsmag bekom en heel dikwels was ’n hiërargie van priesterlike despote die absolute mag wat die stedelike lewenswyse bepaal het.

Dit het dus ’n skerp teenstelling gevorm toe Israelitiese stede, waarvan die bewind in die hande van teokraties aangestelde heersers was wat verplig was om godgegewe staatsreg toe te pas, op die wêreldtoneel begin verskyn het. Jehovah was daardie nasie se Koning, Wetgewer en Regter en die volk het hulle verheug wanneer sy sigbare verteenwoordigers hulle pligte getrou uitgevoer het.—Esra 7:25, 26.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel