Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w94 1/15 bl. 24-30
  • Opwindende byeenkomste bevorder Goddelike onderrigting

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Opwindende byeenkomste bevorder Goddelike onderrigting
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die middag van die eerste dag
  • Die tweede oggend
  • Die tweede middag
  • Die oggend van die derde dag
  • Die middag van die derde dag
  • Die vierde oggend
  • Die laaste middag
  • Onderrigters van God se woord word aangespoor om hulle opdrag uit te voer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • “Ywerige Koninkryksverkondigers” kom vreugdevol byeen
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Gee God heerlikheid nie mense nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Daders van God se woord vind geluk
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
w94 1/15 bl. 24-30

Opwindende byeenkomste bevorder Goddelike onderrigting

DIE wêreld ondervind vandag ’n inligtingsontploffing. Op televisie en oor die radio, in boekvorm of deur rekenaars is daar ’n byna onbeperkte hoeveelheid kennis oor so te sê enige denkbare onderwerp. Nogtans word mense siek en sterf hulle. Misdaad, honger en armoede is ’n wêreldwye verskynsel, en emosionele siektes eis meer slagoffers as ooit tevore. Al die beskikbare kennis kan sake nie regstel nie. Waarom nie? Omdat die mens God se wysheid verwerp.

Hoe gepas is dit dan tog dat “Goddelike Onderrigting” as die tema vir die onlangse byeenkomste van Jehovah se Getuies gekies is! Die program het diegene wat dit bygewoon het daaraan herinner dat net die onderrigting in God se Woord, die Bybel, ware, lewensreddende waarde het.

Die eerste byeenkoms het op Donderdag, 3 Junie, in Uniondale, New York, VSA, begin. Daarna is die program in verskillende stede in die een land ná die ander aangebied, en die laaste byeenkomste is op die vastelande van Afrika en Suid-Amerika gehou.

Die middag van die eerste dag

Elke dag het ’n tema gehad wat ’n aspek van Goddelike onderrigting beklemtoon het. Die program vir die eerste dag was byvoorbeeld gegrond op die tema: “Ken die leer wat van God kom” (Johannes 7:17). Hierdie gedagte is in die loop van die dag goed ontwikkel.

Ná ’n lied en gebed het die byeenkomsvoorsitter die program begin met die toespraak “Goddelike onderrigting bring ons byeen”. Hy het getoon dat Jehovah se volk verenig is deurdat hulle Sy weë leer en in Sy paaie wandel (Miga 4:1-5). Goddelike onderrigting versterk hulle eenheid. Die byeenkomsgangers is aangemoedig om hulle in hulle verenigde broederskap te verheug.—Psalm 133:1-3.

’n Bietjie later die middag is gereelde gemeentelike vergaderinge bespreek in ’n simposium met die titel: “Vergaderinge wat ons in Jehovah se weë onderrig.” Die eerste spreker het die byeenkomsgangers daaraan herinner dat ons Jehovah eer en gevolglik Sy seën ontvang wanneer ons saam vergader. Die volgende spreker het deelname aan vergaderinge beklemtoon. Daardeur loof ons Jehovah in die openbaar, toon ons ons geloof en versterk ons ander se geloof. Die derde spreker in die simposium het getoon hoe belangrik dit is dat ons toepas wat ons by die vergaderinge leer. Ons moet “daders van die woord en nie net hoorders” wees nie.—Jakobus 1:22.

Daarna was daar ’n goeie bespreking oor die sing van lofliedere tot Jehovah. Sang wat uit die hart kom, maak ’n belangrike deel van ons aanbidding uit. Hierdie toespraak is gevolg deur die programrede: “Goddelike onderrigting behaal die oorwinning.” Wat ’n uitstekende tema! “Jehovah is die Bron van die beste onderrigting wat enigiemand kan ontvang”, het die spreker gesê. Toe, ná ’n kort bespreking van die wonder van die mensebrein, het hy gesê: “Ons moet ons denkvermoëns hoofsaaklik gebruik om Goddelike onderrigting te ontvang. Dit is al wat tot ware wysheid lei.” Hoe waar is dit tog nie!

Die tweede oggend

‘Hou aan om die leer van ons Verlosser, God, te versier’ was die tema van die tweede dag van die byeenkoms (Titus 2:10). Hierdie beginsel is beklemtoon in die toespraak “Goddelike onderrigting teenoor leringe van demone”. Ja, die demone het hulle leringe (1 Timotheüs 4:1). Soos die spreker verduidelik het, seëvier Goddelike onderrigting oor Satan se “wysheid” deurdat dit die Duiwel se valse leringe en listige weë aan die kaak stel. As gevolg hiervan is sowat 4 500 000 regskape Christene nie meer slawe in Satan se duisternis nie.—Johannes 8:32.

Ons moet nogtans aanhou om Satan te weerstaan. Dit is beklemtoon deur die toespraak “Weerstaan jy die gees van die wêreld?” Hierdie wêreld se gees is dodelik. Dit moedig losse sedes, ’n opstandige beskouing van gesag en ’n hebsugtige begeerte na materiële dinge aan. ’n Christen moet gedurig selfondersoek doen. Het hy nog hoë standaarde met betrekking tot die dinge waarna hy kyk, luister of wat hy lees? Die spreker het op aanmoedigende wyse gesê: “Ons prys julle, broers, susters en jongmense, vir die ywer waarmee julle julle reeds in hierdie opsig inspan.”—1 Johannes 2:15-17.

Daar is ’n faktor wat dit moeilik maak om die gees van die wêreld te weerstaan. Wat is dit? Ons is almal onvolmaak. Jesus het weliswaar vir ons sondes gesterf, maar ons moet steeds stry teen die neiging om te sondig. Dit is bespreek in die toespraak “Stry teen die greep van sonde op die gevalle vlees”. Die spreker het onder andere gesê dat ons ons stryd teen die sonde kan wen as ons ons met die nuwe persoonlikheid beklee en enigiets vermy wat ons sondige neigings bevredig.

“Maak die gesonde leer jou lewenswyse” was die volgende toespraak se titel. Sommige maak ’n afgod van fisiese gesondheid. Maar geestelike gesondheid is in werklikheid baie belangriker. Die spreker het beklemtoon hoe belangrik dit is dat ons ons verantwoordelikhede in hierdie verband ernstig opneem, en hy het veral vir Christenvroue ’n woordjie van bemoediging gehad. Hy het gesê: “Ons het groot waardering vir die ouer sowel as die jonger susters wat ’n goeie balans handhaaf tussen hulle ywer vir die bediening en hulle persoonlike verantwoordelikhede.” Ja, en ons almal dank Jehovah vir die gesonde leer wat ons van die wêreld afskei.

Die oggendprogram is afgesluit met die toespraak “Goddelike onderrigting openbaar die doel van die lewe”. Die spreker het gesê: “Vroeër of later wonder die meeste mense: ‘Wat is die doel van die lewe?’” Met kragtige argumente het hy bewys dat net die Bybel werklik daardie vraag beantwoord. Toe het die spreker getoon dat God se wonderlike beloftes ons ’n praktiese doel in die lewe gee. Baie in die gehoor het waarskynlik gedink: ‘Dit is presies wat die mense in my gebied moet hoor.’ Die Bestuursliggaam het ook so gedink. ’n Nuwe brosjure met die titel Wat is die doel van die lewe? is aan die einde van hierdie toespraak vrygestel. Hoe verheug was almal tog nie! Die middagpouse het mense die geleentheid gebied om deur die nuwe publikasie te blaai.

Die tweede middag

Die eerste toespraak in die middag het die vertroostende tema “Werp al jou bekommernisse op Jehovah” gehad. Baie dinge veroorsaak kommer; maar God se Woord sê dat ons al ons bekommernisse op hom moet werp (1 Petrus 5:6, 7, NAV). Dit is so dat sommige probleme voortduur, en die spreker het in dié verband gemaan: ‘Wees geduldig. Wag op Jehovah. Glo vas dat dit altyd die beste is om die Bybel te volg. As ons ons hart op Jehovah gerig hou, sal ons “die vrede van God” geniet wat alle verstand te bowe gaan.’—Filippense 4:6, 7.

Die volgende vier toesprake het getoon dat Goddelike onderrigting op die gesinslewe van toepassing is. Die eerste een, “Maak die huwelik ’n blywende verbintenis”, het die byeenkomsgangers daaraan herinner dat Jehovah, in teenstelling met talle in die wêreld, die huwelik as iets permanents beskou. Maar as ons ’n sukses van die huwelik wil maak, moet ons Jehovah se riglyne volg. Hy het ons gemaak. Daarom bevat sy geïnspireerde Woord die beste huweliksraad wat daar is.

Die toespraak “Werk hard vir die redding van julle huisgesin” het die uitdagings daarvan bespreek om in hierdie swaar tye na ’n gesin om te sien (2 Timotheüs 3:1). Ouers leer hulle kinders persoonlike higiëne, goeie maniere, hoe om te werk en hoe om vrygewig en liefdevol teenoor ander te wees. Nog belangriker, hulle moet hulle kinders leer om toegewyde knegte van Jehovah te wees.—Spreuke 22:6.

In die volgende bespreking, “Ouers, julle kinders het gespesialiseerde aandag nodig”, het die spreker die byeenkomsgangers daaraan herinner hoe belangrik dit is om hulle kinders te prys, maar nie hulle swakhede te ignoreer nie. Ouers moet veral oplet na neigings tot oneerlikheid, materialisme of selfsug.

Die jonger byeenkomsgangers veral het aandagtig geluister na die toespraak “Jongmense—Op wie se leringe slaan julle ag?” Dinge is moeilik vir hedendaagse jong Christene. Dit is maklik om met die wêreld saam te gaan, maar dit het die dood tot gevolg. Hoewel dit moed van ’n jongmens verg om by Goddelike onderrigting te bly, bring dit nou groot seëninge mee en in die toekoms die ewige lewe.—1 Timotheüs 4:8.

Die tweede dag is afgesluit met die hartverblydende drama Jongmense wat nou aan hulle Skepper dink. In die inleiding het die regisseur jongmense in God se organisasie “’n teokratiese leër” genoem “wat hulle toegewyde diens aan Jehovah God en sy aangestelde hemelse Koning, Christus Jesus, lojaal verrig”. Hy het bygevoeg: “Ons jongmense bring beslis iets goeds tot stand!” Die drama het op beeldende wyse getoon dat as ’n ouer ’n kind goed oplei dit hom tot voordeel sal strek wanneer hy groot is en Jehovah op sy eie dien.

Die oggend van die derde dag

Die tema vir die derde dag was: “Gaan voort om mense van al die nasies te onderrig” (Mattheüs 28:19, 20, NW). Die byeenkomsgangers het ongetwyfeld tydige raad oor die predikingswerk verwag, en hulle is nie teleurgestel nie. ’n Simposium met die titel “Vervul ons predikings- en onderrigtingsopdrag met vreugde” het hulle vasbeslotenheid versterk om met die getuieniswerk aan te hou. Die openingstoespraak het eerste besoeke bespreek; die tweede herbesoeke; die derde Bybelstudies. Sendelinge vanuit alle wêrelddele is huis toe genooi om ’n byeenkoms saam met hulle familie en vriende by te woon. Op sommige plekke het sendelinge aan hierdie deel van die program deelgeneem. Dit was wonderlik om ’n bietjie insig te kry in die sukses wat hulle in hulle toewysings behaal. Vervolgens is die trefkrag van die informele getuieniswerk in “Bereik almal met die goeie nuus” bespreek.

Die oggend is met die dooptoespraak afgesluit, wat altyd ’n hoogtepunt by groot samekomste van Jehovah se Getuies is. By die een byeenkoms ná die ander het groot groepe pastoegewydes voor die vergaderde skares gestaan en vol vertroue ja geantwoord op die twee vrae wat aan hulle gestel is. Toe is hulle in die openbaar gedoop. Wat ’n kragtige bewys van die wonderlike resultaat van Goddelike onderrigting!

Die middag van die derde dag

Die middagprogram het met ’n diep skriftuurlike bespreking begin. Jehovah se Getuies ken die woorde van Mattheüs hoofstuk 24 en Lukas hoofstuk 21 goed. Het party gedink dat daar niks nuuts oor hierdie Bybelhoofstukke gesê kon word nie? Hoe verkeerd was hulle tog nie! Die toesprake “Wat sal die teken van u teenwoordigheid wees?” en “Sê vir ons: Wanneer sal hierdie dinge wees?” het die byeenkomsgangers deur ’n boeiende bespreking van dele van daardie twee hoofstukke geneem en vir hulle nuwe verduidelikings van sommige verse gegee. Ná die sessies was daar lewendige besprekings toe byeenkomsgangers gedagtes gewissel het om te sien of hulle die punte verstaan het. Baie vrae sal ongetwyfeld beantwoord word wanneer hierdie inligting in Die Wagtoring verskyn.

Die tema van Bybelstudie is verder gevoer in die toespraak “Insiggewende antwoorde op jou Bybelvrae”. Toe is daar ’n ander wending aan die program gegee. Die jaar 1993 was die 50ste herdenking van die Wagtoring-Bybelskool Gilead. Die toespraak “Vyftig jaar van Gileadsendingopleiding en -diens” het vir die byeenkomsgangers getoon wat gedurende daardie tydperk tot stand gebring is. Waar daar wel sendelinge teenwoordig was gedurende die toespraak “Wat deur die evangelisasiewerk in die wêreldveld tot stand gebring is” is hulle genooi om die gehoor party van hulle ondervindinge te vertel. Dit was opwindend om die sendelinge se verslae te hoor!

Die volgende toespraak, “Waarom Jehovah se Getuies waaksaam bly”, was nog ’n geskiedenisles. Dit het getoon dat Christene van die eerste eeu G.J. af waaksaam was en steeds is. Dit het tot nog ’n verrassing gelei. Vroeg gedurende die volgende toespraak, “Koninkryksverkondigers bedrywig oor die hele aarde”, het die spreker ’n groot boek omhoog gehou (waar dit reeds in die plaaslike taal beskikbaar was) en gesê: ‘Dit is met genoeë dat ek vandag die vrystelling van hierdie nuwe boek, Jehovah se Getuies—verkondigers van God se Koninkryk, aankondig.’ Die boek bevat ’n breedvoerige verslag oor die hedendaagse geskiedenis van Jehovah se Getuies. Dit vertel ’n opwindende verhaal van volharding, vasbeslotenheid en sukses en lewer kragtige bewys dat Jehovah se gees op sy knegte inwerk.

Die vierde oggend

Die laaste dag van die byeenkoms het reeds aangebreek. Die dag se tema, “Vind baat by Goddelike onderrigting”, het ’n goeie hoogtepunt vir die program voorspel (Jesaja 48:17, NW). Die oggend is die byeenkomsgangers se aandag geboei deur ’n simposium van drie kragtige toesprake. Die simposium met die titel “Jeremia se geïnspireerde waarskuwingsboodskap—vir die hede en die verlede” het ’n vers-vir-vers-bespreking van Jeremia hoofstukke 23, 24 en 25 bevat. Wat ’n kragtige boodskap bevat hierdie hoofstukke tog nie! Ontroue Israel van Jeremia se dag moes gesidder het toe hulle sy reguit, Goddelik geïnspireerde waarskuwings gehoor het. Die hele wêreld het selfs meer gesidder toe daardie waarskuwings in vervulling gegaan het. Is dinge vandag anders? Glad nie. Jehovah se Getuies verkondig God se oordeelsboodskappe moedig. Uiteindelik sal hierdie hele stelsel van dinge voor Jehovah se oordeelsdade te staan moet kom. Dit sal algehele vernietiging vir Satan se wêreld beteken.

Sondagoggend is afgesluit met ’n tweede drama Moenie mislei word of God bespot nie. Dit het op beeldende wyse getoon hoe Goddelike onderrigting ons kan beskerm sodat ons nie deur verderflike video’s en musiek beïnvloed word nie, asook teen ’n neiging om tweedrag onder mede-Christene te saai. Aan die einde van die drama het die voorsitter hierdie gedagteprikkelende woorde van een van die karakters aangehaal: ‘Ons is nie immuun teen die wêreld se invloed nie. As ons dit nie teëstaan nie, kan die wêreld ons denkwyse op ’n subtiele wyse verderf. En of ons getrou gaan bly of nie, sal afhang van dit wat ons gesaai het.’ Hoe waar is dit tog!

Die laaste middag

Die byeenkoms was vinnig besig om ten einde te loop toe die spreker na die podium toe gestap het om die openbare toespraak, “Nuttige onderrigting vir ons kritieke tye”, te hou. Hy het op ’n duidelike en logiese wyse die vernaamste probleme geïdentifiseer wat ons vandag beïnvloed en op ’n paar maniere gewys waarop Goddelike onderrigting ons kan help om ’n beter lewe te lei. Hy het gesê as ons nóú aan skriftuurlike onderrigting gehoor gee, sal ons dit vir ewig in Jehovah se nuwe wêreld kan doen.

Ná ’n opsomming van die weeklikse Wagtoring-studie was dit tyd vir die laaste toespraak. Die spreker het die vierdaagse program se hoogtepunte vinnig hersien en die byeenkomsgangers aan die nuwe publikasies herinner. Hy het ook aangekondig dat die tweede video in die reeks The Bible—A Book of Fact and Prophecy binnekort vrygestel gaan word. Trouens, daardie video met die titel The Bible—Mankind’s Oldest Modern Book is nou in Engels beskikbaar. Roerende verslae is gelees oor plekke waar daar ernstige krisisse is, soos in Bosnië en Herzegowina. Ten slotte het die spreker die woorde van Prediker 12:13 gelees: “Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense.”

Wat ’n goeie herinnering! Laat ons leef vir die dag wanneer die hele mensdom ons Groot Onderrigter, Jehovah, sal loof en na sy Goddelike onderrigting sal luister.

[Prente op bladsy 24, 25]

Die “Goddelike Onderrigting”-byeenkomste in Moskou en Kiëf het tot groot vreugde bygedra

[Prente op bladsy 26, 27]

1. Talle het hulle toewyding aan God deur doop gesimboliseer

2. ’n Honderdjarige byeenkomsganger was verheug om ’n nuwe publikasie te ontvang

3, 4. Gedagteprikkelende dramas is baie waardeer

5. Sendelinge met wie daar by byeenkomste onderhoude gevoer is, het die voordele van Goddelike onderrigting beklemtoon

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel