Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w94 1/15 bl. 2-4
  • Is oorloë onvermydelik?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is oorloë onvermydelik?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Biologiese noodsaaklikheid?
  • Oorsake van oorloë
  • Die oorlog om ’n einde aan orloë te maak
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Die Eerste Wêreldoorlog en die begin van die smarte
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • ‘Hy laat die oorloë ophou’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Oorlog
    Ontwaak!—2017
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
w94 1/15 bl. 2-4

Is oorloë onvermydelik?

OORLOË maak ’n neerdrukkende deel van die nuus uit. Daardie nuusberigte oor onmenslikheid vervul jou ongetwyfeld met weersin. Maar miskien laat dit jou ook wonder waarom so baie geskille met wapens besleg moet word. Sal die mens nooit leer om in vrede met mekaar te leef nie?

Dit lyk asof dit nog moeiliker is om ’n oplossing vir die teistering van oorloë te vind as wat dit is om vigs te genees. Gedurende die 20ste eeu is hele nasies vir oorlog in gereedheid gebring, miljoene mans na die gevegsfront toe gestuur en honderde stede in puin gelaat. Dit lyk nie asof die einde van die slagting in sig is nie. ’n Winsgewende wapenhandel verseker dat die wêreld se leërs—en guerrillas—steeds op ’n wrede manier hul doel sal bereik.

Namate oorlogswapens al hoe dodeliker geword het, het die aantal slagoffers die hoogte ingeskiet. Meer as die helfte van die 65 miljoen soldate wat in die Eerste Wêreldoorlog geveg het, het gesneuwel of is gewond. Ongeveer 30 jaar later het slegs twee atoombomme ’n einde gemaak aan die lewens van meer as 150 000 Japannese burgers. Sedert die Tweede Wêreldoorlog vind konflikte meer op ’n plaaslike skaal plaas. Hulle is nietemin dodelik, veral vir burgers, wat tans 80 persent van die sterfgevalle uitmaak.

Dit is ironies dat hierdie grootskaalse slagting gedurende ’n eeu plaasvind waarin ongeëwenaarde pogings aangewend word om dit onwettig te maak dat oorloë gebruik word om geskille tussen nasies te besleg. Toe die Koue Oorlog onlangs tot ’n einde gekom het, is hoë verwagtinge gekoester dat ’n nuwe, vreedsame wêreldorde sou aanbreek. Wêreldwye vrede is egter nog net so denkbeeldig as tevore. Waarom?

’n Biologiese noodsaaklikheid?

Party geskiedkundiges en antropoloë beweer dat oorloë onvermydelik—selfs nodig—is bloot omdat dit deel uitmaak van ’n evolusionêre stryd om oorlewing. Die militêre ontleder Friedrich von Bernhardi was van dieselfde mening en het in 1914 beweer dat oorloë “in die belang van biologiese, maatskaplike en sedelike vooruitgang” gevoer word. Die teorie was dat oorloë ’n manier is om van swak mense of nasies ontslae te raak, terwyl dit die geskikste laat oorbly.

So ’n argument is beslis nie vir die miljoene oorlogsweduwees en -wese ’n bron van vertroosting nie. Afgesien van die feit dat hierdie denkwyse sedelik afstootlik is, sien dit die harde werklikhede van moderne oorlogvoering oor die hoof. Die masjiengeweer neem nie die geskikste in ag nie, en die bom vernietig die sterke saam met die swakke.

Adolf Hitler het die lesse van die eerste wêreldoorlog wat hom tot nadenke moes stem, verontagsaam en van ’n heersersras gedroom wat hy deur middel van militêre verowering tot stand sou bring. In sy boek Mein Kampf het hy geskryf: “Die mens het sterk geword in die ewige stryd, en net in die ewige vrede gaan hy tot niet. . . . Die sterkere moet die botoon voer en nie met die swakkere meng nie.” Pleks van die mensdom op te hef, het Hitler egter miljoene lewens opgeoffer en ’n hele vasteland verwoes.

Maar wat dryf die mensdom dan tot selfvernietiging as oorloë nie ’n biologiese noodsaaklikheid is nie? Watter magte dwing nasies om by hierdie “barbaarse bedryf” aan te sluit?a Hier volg ’n lys van ’n paar grondoorsake wat vredemakers se beste pogings in die wiele ry.

Oorsake van oorloë

Nasionalisme. Nasionalisme, wat dikwels deur politici en generaals aangemoedig word, is een van die sterkste magte in die bevordering van oorlogvoering. Baie oorloë is al begin om “nasionale belange” te beskerm of om die “nasionale eer” te verdedig. Wanneer die gesindheid van ‘my land, reg of verkeerd’ heers, kan selfs openlike aggressie as ’n voorspringaanval geregverdig word.

Etniese vyandigheid. Baie streekoorloë word begin en dan deur lank bestaande haat tussen rasse, stamme en etniese groepe aangestook. Die tragiese burgeroorloë in die voormalige Joego-Slawië, in Liberië en in Somalië is onlangse voorbeelde daarvan.

Ekonomiese en militêre mededinging. In die oënskynlik vreedsame dae voor die Eerste Wêreldoorlog het Europese magte in werklikheid reusagtige leërs opgebou. Duitsland en Groot-Brittanje was in ’n slagskeepsboukompetisie gewikkel. Aangesien elke groot nasie wat op die ou end by die slagting betrokke geraak het, gedink het dat ’n oorlog sy mag sou vergroot en onverwagte ekonomiese voordele sou meebring, was toestande ideaal vir ’n konflik.

Godsdiensvetes. Godsdiensgeskille kan ’n ontplofbare situasie laat ontstaan, veral as dit deur rasseverdeeldheid aangestook word. Konflikte in Libanon en Noord-Ierland, asook die oorloë tussen Indië en Pakistan, het uit godsdienstige vyandigheid voortgespruit.

’n Onsigbare oorlogstoker. Die Bybel toon dat “die god van hierdie wêreld”, Satan die Duiwel, nou bedrywiger as ooit tevore is (2 Korinthiërs 4:4). Aangesien hy met groot woede vervul is en maar “min tyd” het, is hy die aanstoker van toestande, onder andere oorloë, wat die aarde se droewige situasie vererger.—Openbaring 12:12.

Dit is nie maklik om hierdie grondoorsake van oorloë uit die weg te ruim nie. Plato het meer as 2 000 jaar gelede gesê dat “net die dooies die einde van oorloë gesien het”. Is die droewige slotsom waartoe hy gekom het ’n bittere waarheid wat ons maar moet leer aanvaar? Of het ons rede om te hoop dat daar eendag ’n wêreld sonder oorloë sal wees?

[Voetnoot]

a Napoleon het oorloë as ’n “barbaarse bedryf” beskryf. Aangesien hy die grootste deel van sy volwasse lewe in die leër deurgebring het en byna 20 jaar ’n opperbevelhebber in die leër was, het hy die barbaarsheid van veldslae persoonlik ondervind.

[Foto-erkenning op bladsy 2]

Cover: John Singer Sargent’s painting Gassed (detail), Imperial War Museum, London

[Foto-erkenning op bladsy 3]

Instituto Municipal de Historia, Barcelona

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel