Daar word van dorpie tot dorpie gepreek in Spanje
JESUS CHRISTUS het “van stad tot stad en van dorpie tot dorpie gereis, terwyl hy geleer en sy reis na Jerusalem voortgesit het” (Lukas 13:22, NW). Om die bediening te vervul, het Jesus en sy dissipels nie net “van stad tot stad” gepreek nie, maar ook “van dorpie tot dorpie”. Hoewel dit makliker sou gewees het om hulle op die stede toe te spits, het hulle nie die talle dorpies op die platteland oorgeslaan nie.a
Jehovah se Getuies in Spanje het voor dieselfde uitdaging as Jesus gestaan. Selfs in 1970 nog was daar ontsaglike, onaangeraakte plattelandse gebiede wat ryp was vir die oes (Mattheüs 9:37, 38). Honderde dorpies in die reënryke berge van die noorde, op die dorre sentrale vlaktes en langs die kus was nog nooit met die Koninkryksboodskap bereik nie.
Die Spaanse Getuies van Jehovah was vasbeslote om geen moeite te ontsien om die goeie nuus na hierdie streke te neem nie. Maar waarom moes mense in hierdie gebiede so lank wag om die Koninkryksboodskap te hoor? En hoe het hulle daarop gereageer?
Wetlike erkenning stimuleer die predikingswerk in plattelandse gebiede
Die werk van Jehovah se Getuies in Spanje was sedert die einde van die burgeroorlog in 1939 verbied. Gedurende die vyftiger- en sestigerjare het ywerige Getuies met omsigtigheid in die stede gepreek, waar hulle teenwoordigheid nie so opvallend was nie. Toe hulle werk eindelik in 1970 wetlik erken is, was daar sowat 10 000 Koninkryksverkondigers in Spanje. Hulle het byna almal in stede en groot dorpe gewoon, maar die Spaanse dorpies moes ook die Koninkryksboodskap hoor. Wie sou die uitdaging aanvaar?
In die sewentigerjare is ’n veldtog onderneem om al die gebiede van die skiereiland met die goeie nuus te bereik. Van 1973 tot 1979 het daar byna elke maand spesiale aankondigings in Ons Koninkryksbediening, die maandelikse dienspublikasie vir die gemeentes van Jehovah se Getuies, verskyn wat getoon het waar daar in verskillende streke van die land hulp nodig was. Talle gewillige en simpatieke gesinne het aan die oproep gehoor gegee en aangebied om te dien waar daar meer hulp nodig was.
’n Tipiese voorbeeld is dié van Rosendo en sy vrou, Luci. Hulle is as spesiale pioniers (voltydse Koninkryksverkondigers) na ’n vissersdorpie in die noordweste van Spanje gestuur en het besluit om in die gebied aan te bly nadat hulle ouers geword het. “Ek moet erken dat ons uiters moeilike tye deurgemaak het”, sê Rosendo. “Dit was moeilik om sekulêre werk te kry, maar ons het op Jehovah se hulp staatgemaak en het nooit honger gely of nie ’n dak oor ons kop gehad nie. Dit was beslis die moeite werd.” Deur die jare heen kon hulle help om vier gemeentes in hierdie streek van Spanje te stig.
‘Soek wie waardig is’
Jesus het vir sy dissipels gesê om die wat waardig is in elke stad of dorpie te ‘soek’ (Mattheüs 10:11). In die plattelandse gebiede van Spanje verg die soektog ywer en ondernemingsgees, soos Ángel, ’n broer van Alcoy (Alicante), uitgevind het. Kort nadat hy by ’n paar huise in die dorpie Masías besoek afgelê het, het hy ’n haan hoor kraai. Hy het gedink: “As daar ’n haan is, moet daar iewers ’n huis wees—’n huis wat ons misgekyk het.” Nadat Ángel rondgesoek het, het hy op ’n paadjie afgekom wat oor ’n heuwelrug en eindelik na ’n afgesonderde huis gelei het.
José en Dolores, ’n vleeslike broer en suster wat albei in die sestig is, het in hierdie plaashuis gewoon. Hulle het aandagtig geluister en onmiddellik die aanbod van ’n Bybelstudie aanvaar. Dit was egter nie maklik om met hierdie nederige mense te studeer nie, aangesien hulle nie kon lees of skryf nie, en alles moes uit Spaans in die taal van Valencia, die enigste taal wat hulle verstaan het, vertaal word. Daarbenewens het hulle bure hulle kwaai teëgestaan. Ondanks hierdie struikelblokke het José en Dolores vooruitgang in die waarheid gemaak, al moes hulle ver oor die berge reis om die vergaderinge by te woon. Hulle het hulle mettertyd vir doop bekwaam, en hulle albei dien Jehovah steeds getrou.
Rosendo en Luci, wat vroeër gemeld is, onthou hoe ’n verlamde persoon in ’n afgesonderde huis naby Moaña, in noordwestelike Spanje, die waarheid aangeneem het. Haar naam was María. Toe sy aanvanklik met die Getuies gepraat het, kon sy nie lees of skryf nie en was sy reeds jare aan haar bed gekluister omdat sy as kind polio gehad het. Haar huis was ongeveer twee kilometer van die naaste pad af. Sy was nietemin gretig om die Bybel te bestudeer, en haar vasbeslotenheid om Jehovah te dien, was gou duidelik. María het leer lees en skryf en het danksy die gemeente se liefdevolle inspanning die vergaderinge begin bywoon. Broers het haar tweehonderd meter ver van haar huis na ’n ongeplaveide paadjie gedra waar hulle haar versigtig in ’n motor gesit het. Ten spyte van aanvanklike teëstand deur haar familie, het sy haar vir doop bekwaam. Vanweë die vertroue wat haar geestelike vooruitgang haar gegee het, het sy nou geleer om ’n spesiaal aangepaste motor te bestuur en het sy ’n basiese skoolkursus voltooi. “Om mense soos María te kan help, maak enige opoffering die moeite werd”, verduidelik Rosendo.
Bybellesers reageer geredelik
Die Bybel het eers in die sewentigerjare vir die breë publiek in Spanje beskikbaar gekom. Baie Spanjaarde het ’n eksemplaar gekoop, en sommige het die Skrif begin lees. Pilar, van Medina del Campo (Valladolid), het reeds die Bybel begin lees toe Jehovah se Getuies aanvanklik in 1973 na haar dorp toe gekom het. Omdat sy ’n Katoliek was, was sy versigtig om van die Getuies se lektuur te neem, maar sy wou die Bybel verstaan. Sy het gevolglik tot weeklikse besprekings ingestem sodat haar Bybelvrae beantwoord kon word.
Die pioniersuster wat Pilar besoek het, het goed gebruik gemaak van die lektuur wat deur die Wagtoringgenootskap uitgegee word en kon dus haar baie vrae beantwoord. Pilar was beïndruk deur wat sy geleer het en het toe ná etlike weke ingestem om die Bybel met behulp van die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe te bestudeer. Voordat sy haar studie van die Waarheid-boek voltooi het, het sy die Bybel deurgelees en was sy oortuig dat sy die waarheid gevind het. Sy het die eerste Getuie in Medina del Campo geword, wat nou ’n mooi Koninkryksaal en ’n gemeente van 63 verkondigers het.
Spaanse Getuies vind steeds mense wat “bewus is van hulle geestelike behoefte” en wat gereeld die Bybel lees in ’n poging om God se wil te verstaan (Mattheüs 5:3, NW). Pepi, ’n voormalige Katoliek wat op ’n tydstip katkisasielesse in die parogie in Zumaia (noordelike Spanje) gegee het, was in ’n nabygeleë dorpie met die predikingswerk besig toe sy die parogiepriester teëgekom het.
“Pepi, jy mors jou tyd”, het die priester vir haar gesê. “In hierdie dorpie Itziar is daar net twee mense—’n egpaar—wat geestelik gesind is. Die res gaan net uit gewoonte kerk toe.”
“Wel”, het Pepi geantwoord, “as daar twee mense is wat geestelik gesind is, sal hulle Getuies van Jehovah word.”
Pepi het saam met die ander Getuies met haar predikingswerk van huis tot huis aangehou totdat hulle al die huise in die dorpie besoek het. En jou waarlik, in ’n afgesonderde huis het die broers die egpaar aangetref van wie die priester gepraat het. Hulle het die Bybel gelees, maar het dit nie verstaan nie. Hulle het gretig ’n Bybelstudie aanvaar, het vinnig vooruitgang gemaak en is in April 1991 gedoop.
Party opregtes van hart het die waarheid geleer bloot deur op hulle eie die Bybellektuur te lees wat deur die Wagtoringgenootskap uitgegee word. Die Getuies van Almadén (Ciudad Real) het byvoorbeeld in die dorpie Ciruelas (Badajoz) gepreek toe hulle ’n vrou gevind het wat aandagtig na hulle boodskap geluister het. Omdat haar belangstelling so duidelik geblyk het, het hulle haar ’n tuisbybelstudie aangebied. Sy het dit egter van die hand gewys en gesê dat ’n bejaarde man haar reeds Bybellesse gee. Verskeie ander mense in die omgewing het dieselfde gesê. Dit het die broers se nuuskierigheid geprikkel en hulle het navraag oor die bejaarde man gedoen. Hulle het sy adres gekry en hom gaan besoek.
Tot hulle verbasing het hulle uitgevind dat hierdie man, Felipe, die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe in Madrid gekry het. Nadat hy dit deurgelees het, het hy besef dat hy die verantwoordelikheid het om die goeie nuus aan sy bure te vertel. Daarom het hy die boek gebruik om hulle Bybellesse te gee. Die broers het reëlings getref om met hom te studeer. ’n Vrou met wie hy gestudeer het, het ook ’n Bybelstudie aanvaar. Hoewel Felipe 80 is en nie baie gesond is nie, maak hy goeie vooruitgang in die waarheid.
Vooroordeel word uit die weg geruim
Plattelandse gebiede lewer sekere unieke probleme op. Godsdienstradisies en bygelowe het gewoonlik ’n sterk houvas in sulke gebiede, en baie plattelanders is uiters agterdogtig teen ’n “nuwe godsdiens”. Party dorpsbewoners is veral sensitief oor wat hulle bure en familie sal dink as hulle van godsdiens sou verander. Maar die krag van God se Woord kan sulke probleme oorkom en ’n mens se lewe verander. Dit was die geval in die vissersdorpie Cangas de Morrazo in noordwestelike Spanje.
Roberto, ’n inwoner van hierdie dorpie, het op 14 ’n matroos geword omdat hy baie graag onafhanklik wou wees. Sy lewe as ’n matroos op ’n handelskip het daartoe gelei dat hy hom in die geselskap bevind het van ander jong matrose wat straf gedrink het en dwelms gebruik het om die eensame ure op see om te kry. Roberto het spoedig ook ’n strawwe drinker en ’n dwelmslaaf geword.
Roberto het mettertyd teruggekeer huis toe, maar hy kon en wou nie sy slegte gewoontes laat vaar nie. Om geld vir sy dwelmverslawing te bekom, het hy ’n dief geword en ses keer in die tronk beland. Toe hy 18 was, het hy ’n mengsel van wyn en kalmeermiddels gedrink wat hom byna sy lewe gekos het. Dokters het sy lewe gered, maar hy het die gebruik van sy arms en bene verloor. Hy het die hospitaal as ’n kwadrupleeg verlaat. Selfs die feit dat hy aan ’n rolstoel gekluister was, het hom nie met sy dwelmgewoonte laat breek nie. Godsdiens het hom teleurgestel, en dwelms was blykbaar al wat die lewe vir hom die moeite werd gemaak het—totdat Jehovah se Getuies hom drie jaar later besoek het.
Toe Roberto geleer het van Bybelprofesieë wat reeds vervul is, het hy sy skeptisisme oorkom. Die hartlike wyse waarop hy by die Koninkryksaal verwelkom is, het hom oortuig dat die ware godsdiens wel mense se lewe verryk. Binne nege maande het Roberto sy dwelmverslawing oorkom en is hy gedoop. Ten spyte van sy ernstige liggaamsgebreke dien hy al agt jaar as ’n pionier. Hy dien ook die afgelope twee jaar reeds as ’n gemeentelike ouere man. Francisco, een van sy vroeëre metgeselle, is só deur die veranderinge in Roberto se lewe beïndruk dat hy ook ’n Getuie geword het en nou ’n bedieningskneg is. Die merkwaardige verandering in hierdie oënskynlik ongeneesbare dwelmslaaf het mense in daardie omgewing gehelp om groter waardering vir die aard van ons werk te hê. Een vrou het selfs haar jong seun, wat ’n dwelmslaaf was, na die Koninkryksaal toe gebring om te sien of die Getuies hom kon genees.
Die waarheid word in die Bybel gesoek
Die mense op die platteland het gewoonlik soveel waardering vir die waarheid dat dit die wêreldwyses dikwels tot skande strek (1 Korinthiërs 1:26, 27). Adelina, ’n skugter middeljarige vrou, is een van dié wat sulke waardering het. Haar Katolieke geloof was vir haar ’n saak van groot erns. Sy het elke oggend sonder uitsondering gekniel en die Onse Vader en die weesgegroet etlike kere gebid. Sy het haar gebede elke dag van die week tot ’n ander “heilige” gerig—net om veilig te wees.
Toe Adelina die Bybel begin bestudeer het, was sy net so ywerig in haar nuutgevonde geloof. Selfs nie eers haar skugterheid kon haar keer nie, hoewel dit haar en haar man die eerste keer toe hulle Koninkryksaal toe gegaan het tien minute geneem het om genoeg moed bymekaar te skraap om in te gaan. Maar toe sy eers binne was, het sy aandagtig geluister. By een geleentheid het sy van Christus se Duisendjarige Heerskappy gehoor. Hierdie onderwerp het haar geboei, en tuis wou sy meer daaroor in haar Bybel lees. Maar nie sy of haar man het geweet waar om die inligting te kry nie, hoewel hulle gedink het dat dit iewers in die boek Openbaring staan. Adelina het toe daardie nag Openbaring begin lees en aangehou lees totdat sy eindelik in die vroeë oggendure by hoofstuk 20 gekom het.
’n Ander keer het Adelina geleer dat dit gepas is dat ’n man sy vrou in gebed verteenwoordig. Hoewel haar man bereid was om te bid, het hy nie geweet wat om in sy gebed te sê nie. Daardie selfde nag het Adelina besluit om riglyne in die Bybel te soek. Om twee-uur die oggend het sy haar man wakker gemaak en vir hom gesê dat sy Mattheüs hoofstuk 6 gevind het, waar die onderwerp van gebed breedvoerig bespreek word. Nadat hy Jesus se instruksies gelees het, het haar man eindelik vir hulle twee gebid. Adelina en haar man is nou albei Getuies van Jehovah.
’n Groot oes
Noudat ywerige knegte van Jehovah al byna 25 jaar op die platteland preek, het elke hoekie van Spanje die goeie nuus gehoor. Soos in die geval van Klein-Asië in die eerste eeu, ‘is die woord van Jehovah deur die hele land versprei’ (Handelinge 13:49). Duisende inwoners van klein dorpies het gevolglik gunstig gereageer.
In Spanje en elders verg dit geduld en selfopoffering om die predikingswerk deeglik in plattelandse gebiede te doen. Maar aangesien dit God se wil is dat ‘alle soorte mense gered word’, soek Jehovah se Getuies graag na hierdie waarderende mense (1 Timotheüs 2:4, NW). En soos die voorgaande ondervindinge toon, seën Jehovah die pogings wat aangewend word om van dorpie tot dorpie in Spanje te preek ryklik.
[Voetnoot]
a Josephus het uitgereken dat daar altesaam 204 “stede en dorpies” in Galilea was, en sy beskrywing van die streek was dat daar “vreeslik baie dorpies” is.
[Kaarte op bladsy 23]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
FRANKRYK
PORTUGAL
SPANJE
BALEARIESE EILANDE
KANARIESE EILANDE
[Foto-erkenning op bladsy 24]
Vilac, Lérida
[Foto-erkenning op bladsy 24]
Puebla de Sanabria, Zamora
[Foto-erkenning op bladsy 25]
Casarabonela, Málaga
[Foto-erkenning op bladsy 25]
Sinués, Huesca
[Foto-erkenning op bladsy 26]
Lekeitio Vizcaya