Daniël se profetiese dae en ons geloof
“Welgeluksalig is hy wat bly verwag en duisend-driehonderd-vyf-en-dertig dae bereik.”—DANIËL 12:12.
1. Waarom vind so baie mense nie ware geluk nie, en waarmee hou ware geluk verband?
ALMAL wil gelukkig wees. Maar min mense is vandag gelukkig. Waarom? Deels omdat die meeste mense geluk op die verkeerde plekke soek. Mense soek geluk in dinge soos geleerdheid, rykdom, ’n loopbaan of die najaging van mag. Maar Jesus het, aan die begin van sy Bergpredikasie, getoon dat geluk verband hou met ’n bewustheid van ’n mens se geestelike behoefte, barmhartigheid, reinheid van hart en soortgelyke eienskappe (Mattheüs 5:3-10, vgl. NW). Die soort geluk waarvan Jesus gepraat het, is eg en blywend.
2. Wat sou volgens profesieë gedurende die tyd van die einde tot geluk lei, en watter vrae ontstaan in hierdie verband?
2 Vir die gesalfde oorblyfsel in die tyd van die einde hou geluk met nog iets verband. In die boek Daniël lees ons: “Gaan heen, Daniël, want die woorde bly verborge en verseël tot die tyd van die einde toe. Welgeluksalig is hy wat bly verwag en duisend-driehonderd-vyf-en-dertig dae bereik” (Daniël 12:9, 12). Watter tydperk is deur hierdie 1 335 dae gedek? Waarom was diegene wat dit bereik het gelukkig? Het dit vandag enigiets met ons geloof te doen? Vir hulp om hierdie vrae te beantwoord, moet ons teruggaan na die tyd, kort ná die Israeliete se vrylating uit Babiloniese ballingskap en in die derde jaar van Kores die koning van Persië, toe Daniël hierdie woorde geskryf het.—Daniël 10:1.
’n Herstelling bring geluk
3. Watter daad van koning Kores het getroue Jode in 537 v.G.J. groot vreugde verskaf, maar watter voorreg het Kores die Jode nie gegee nie?
3 Vir die Jode was die vrylating uit Babilon ’n geleentheid vir ware vreugde. Nadat die Jode byna 70 jaar in ballingskap was, het Kores die Grote hulle die geleentheid gegee om na Jerusalem terug te keer en Jehovah se tempel te herbou (Esra 1:1, 2). Dié wat gunstig gereageer het, het met hoë verwagtinge vertrek en in 537 v.G.J. in hulle tuisland aangekom. Maar Kores het nie gesê hulle moet ’n koninkryk onder ’n nakomeling van koning Dawid herstel nie.
4, 5. (a) Wanneer is die Dawidiese koningskap omvergewerp? Waarom? (b) Watter versekering het Jehovah gegee dat die Dawidiese koningskap herstel sou word?
4 Dit was noemenswaardig. Jehovah het Dawid sowat vyf eeue tevore belowe: “Jou huis en jou koningskap sal bestendig wees tot in ewigheid voor jou; jou troon sal vasstaan tot in ewigheid” (2 Samuel 7:16). Ongelukkig was die meeste van Dawid se koninklike nakomelinge opstandig, en die nasie se bloedskuld het so groot geword dat Jehovah in 607 v.G.J. toegelaat het dat die Dawidiese koningskap omvergewerp word. Afgesien van ’n kort tydjie onder die Makkabeërs was Jerusalem van toe af tot met sy tweede vernietiging in 70 G.J. onder vreemde heerskappy. In 537 v.G.J. het “die vasgestelde tye van die nasies”, waartydens geen seun van Dawid as koning sou regeer nie, dus reeds begin.—Lukas 21:24, NW.
5 Jehovah het nietemin nie sy belofte aan Dawid vergeet nie. Deur middel van ’n reeks gesigte en drome het hy deur sy profeet Daniël besonderhede geopenbaar van toekomstige wêreldgebeure wat oor die eeue heen sou strek van die tyd van Babilon se wêreldoorheersing af tot die tyd wanneer ’n koning in Dawid se geslag weer eens in ’n koninkryk van Jehovah se volk sou regeer. Hierdie profesieë, wat in Daniël hoofstukke 2, 7, 8 en 10-12 opgeteken is, het getroue Jode die versekering gegee dat Dawid se troon eindelik waarlik “sal vasstaan tot in ewigheid”. Hierdie geopenbaarde waarheid het daardie Jode wat in 537 v.G.J. na hulle tuisland teruggekeer het beslis gelukkig gemaak!
6. Hoe weet ons dat party van Daniël se profesieë in ons dag vervul sou word?
6 Die meeste Bybelkommentators sê dat Daniël se profesieë byna ten volle voor Jesus Christus se geboorte vervul is. Maar dit is beslis nie die geval nie. In Daniël 12:4 sê ’n engel vir Daniël: “Hou die woorde geheim en verseël die boek tot die tyd van die einde toe; baie sal dit deursoek, en die kennis sal vermeerder.” Aangesien die boek Daniël eers in die tyd van die einde ontsluit sou word—die betekenis daarvan ten volle geopenbaar sou word—móét ten minste party van sy profesieë op daardie tydperk van toepassing wees.—Sien Daniël 2:28; 8:17; 10:14.
7. (a) Wanneer het die vasgestelde tye van die nasies geëindig, en watter dringende vraag moes toe beantwoord word? (b) Wie was die “getroue en verstandige dienskneg” nie?
7 Die vasgestelde tye van die nasies het in 1914 geëindig, en die tyd van die einde vir hierdie wêreld het begin. Die Dawidiese Koninkryk is herstel, nie in die aardse Jerusalem nie, maar onsigbaar in “die wolke van die hemel” (Daniël 7:13, 14). Omdat “die onkruid” van die valse Christelike godsdiens gefloreer het, was die situasie ten opsigte van die ware Christelike geloof in daardie stadium nie duidelik nie—ten minste nie vir mense-oë nie. Tog moes ’n belangrike vraag beantwoord word: “Wie is dan die getroue en verstandige dienskneg?” (Mattheüs 13:24-30; 24:45). Wie sou die herstelde Dawidiese Koninkryk op die aarde verteenwoordig? Nie Daniël se vleeslike broers, die Jode, nie. Hulle is verwerp omdat hulle ’n gebrek aan geloof gehad en hulle ten opsigte van die Messias tot struikeling laat bring het (Romeine 9:31-33). Die getroue dienskneg was hoegenaamd nie onder die organisasies van die Christendom nie! Hulle bose werke het bewys dat Jesus hulle nie geken het nie (Mattheüs 7:21-23). Wie was dit dan?
8. Wie het bewys dat hulle gedurende die tyd van die einde “die getroue en verstandige dienskneg” is? Hoe weet ons dit?
8 Dit was sonder enige twyfel die klein groepie gesalfde broers van Jesus wat in 1914 as die Bybelstudente bekend gestaan het, maar wat sedert 1931 as Jehovah se Getuies geïdentifiseer word (Jesaja 43:10, vgl. NW). Net hulle het die herstelde Koninkryk in die geslag van Dawid verkondig (Mattheüs 24:14). Net hulle het afgeskeie van die wêreld gebly en Jehovah se naam verheerlik (Johannes 17:6, 14). En Bybelprofesieë in verband met God se volk in die laaste dae is net met betrekking tot hulle vervul. Onder hierdie profesieë is die reeks profetiese tydperke in Daniël hoofstuk 12 wat die 1 335 dae insluit wat geluk sou bring.
Die 1 260 dae
9, 10. Watter gebeure het die “tyd en tye en die helfte van ’n tyd” van Daniël 7:25 gekenmerk, en in watter ander tekste word daar ’n parallelle tydperk gemeld?
9 In Daniël 12:7 lees ons van die eerste profetiese tydperk: “’n Tyd, tye en ’n halwe tyd, en as hulle die mag van die heilige volk geheel verstrooi het, sal al hierdie dinge vervul word.”a Hierdie selfde tydperk word in Openbaring 11:3-6 gemeld, wat sê dat God se getuies met sakke bekleed drie en ’n half jaar lank sou preek en dan doodgemaak sou word. Ons lees in Daniël 7:25: “Hy sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste mishandel; en hy sal probeer om tye en wet te verander, en hulle sal in sy hand oorgegee word gedurende ’n tyd en tye en die helfte van ’n tyd.”
10 In hierdie laaste profesie is “hy” die vyfde wêreldmoondheid as ’n mens van Babilon af tel. Die Seun van ’n mens ontvang “heerskappy en eer en koningskap” wanneer hierdie “horinkie” mag uitoefen (Daniël 7:8, 14). Hierdie simboliese horing, wat oorspronklik die Britse Ryk was, het gedurende die Eerste Wêreldoorlog in die Anglo-Amerikaanse tweeledige wêreldmoondheid ontwikkel wat nou deur die Verenigde State oorheers word. Hierdie moondheid sou die heiliges drie en ’n halwe tye, of jare, mishandel en tye en wet probeer verander. En uiteindelik sou die heiliges in sy hand oorgegee word.—Sien ook Openbaring 13:5, 7.
11, 12. Watter gebeure het tot die begin van die 1 260 profetiese dae aanleiding gegee?
11 Hoe is al hierdie parallelle profesieë vervul? Jesus se gesalfde broers het voor die Eerste Wêreldoorlog jare lank in die openbaar gewaarsku dat 1914 die einde van die vasgestelde tye van die nasies sou wees. Toe daar oorlog uitgebreek het, was dit duidelik dat die waarskuwing geïgnoreer is. Satan het sy “dier”, die wêreldwye politieke organisasie wat toe deur die Britse Ryk oorheers is, gebruik in ’n poging om “tye en wet te verander”, om die tyd uit te stel wanneer God se Koninkryk sou regeer (Openbaring 13:1, 2). Hy het gefaal. God se Koninkryk is in die hemel, ver buite die bereik van mense, opgerig.—Openbaring 12:1-3.
12 Vir die Bybelstudente het die oorlog ’n tyd van toetsing beteken. Sedert Januarie 1914 het hulle die Fotodrama van die Skepping, ’n Bybelse vertoning wat die aandag op Daniël se profesieë gevestig het, gewys. In die somer van die Noordelike Halfrond van daardie jaar het die oorlog uitgebreek. In Oktober het die vasgestelde tye geëindig. Die gesalfde oorblyfsel het verwag dat daar teen die einde van die jaar vervolging sou uitbreek, soos gesien kan word aan die feit dat die jaarteks wat vir 1915 gekies is Jesus se vraag aan sy dissipels was: “Kan julle van my beker drink?” wat op Mattheüs 20:22, King James Version, gegrond was.
13. Hoe het die Bybelstudente gedurende die 1 260 dae met sakke bekleed gepreek, en wat het aan die einde van daardie tydperk gebeur?
13 Gevolglik het hierdie klein groepie getuies van Desember 1914 af ‘met sakke bekleed gepreek’ en nederig volhard terwyl hulle Jehovah se oordele aangekondig het. C. T. Russell, die eerste president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, se dood in 1916 was vir baie ’n skok. Namate die oorlogskoors hoog geloop het, het hulle met al hoe meer teenkanting te doen gekry. Sommige is opgesluit. Individue, soos Frank Platt in Engeland en Robert Clegg in Kanada, is deur sadistiese owerhede gemartel. Eindelik, op 21 Junie 1918, is J. F. Rutherford, die nuwe president, asook die direkteure van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, op valse aanklagte ’n lang gevangenisstraf opgelê. Die “horinkie” het dus die georganiseerde openbare predikingswerk aan die einde van die profetiese tydperk doodgemaak.—Daniël 7:8.
14. Hoe het dinge in 1919 en daarna vir die gesalfde oorblyfsel verander?
14 Die boek Openbaring voorspel wat vervolgens gebeur het. Ná ’n kort tydjie van onbedrywigheid—wat voorspel is as drie en ’n half dae waartydens hulle dood op die straat sou lê—het die gesalfde oorblyfsel weer lewendig en bedrywig geword (Openbaring 11:11-13). Op 26 Maart 1919 is die president en die direkteure van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap vrygelaat, en hulle is later heeltemal vrygespreek van die valse aanklagte teen hulle. Die gesalfde oorblyfsel het hulle onmiddellik ná hulle vrylating vir verdere bedrywigheid begin herorganiseer. Hulle het dus, ter vervulling van die eerste wee in Openbaring, soos geestelike sprinkane uit die afgrond van onbedrywigheid uitgekom, en dit het met digte rook gepaardgegaan, wat ’n duister toekoms vir valse godsdiens beteken het (Openbaring 9:1-11). Gedurende die volgende paar jaar is hulle geestelik gevoed en voorberei vir wat voorgelê het. In 1921 het hulle ’n nuwe boek, Die harp van God, uitgegee wat bedoel was om nuwelinge en kinders te help om basiese Bybelwaarhede te leer (Openbaring 12:6, 14). Al hierdie dinge het tydens nog ’n belangrike tydperk plaasgevind.
Die 1 290 dae
15. Hoe kan ons die begin van die 1 290 dae bereken? Wanneer het hierdie tydperk geëindig?
15 Die engel het vir Daniël gesê: “Van die tyd af dat die voortdurende offer afgeskaf en die ontsettende gruwel opgerig word, sal duisend-twee-honderd-en-negentig dae verloop” (Daniël 12:11). Onder die Mosaïese Wet het “die voortdurende offer” op die altaar by die tempel in Jerusalem gebrand. Christene bring nie brandoffers nie, maar hulle bring wel ’n voortdurende geestelike offerande. Paulus het hierna verwys toe hy gesê het: “Laat ons dan gedurig deur Hom aan God ’n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely.” (Hebreërs 13:15; vergelyk Hosea 14:3.) Hierdie voortdurende offer is in Junie 1918 weggeneem. Wat was “die ontsettende gruwel” dan—die tweede kenmerk waarna hulle moes oplet? Dit was die Volkebond, wat deur die seëvierende magte aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog bevorder is.b Dit was ’n gruwel omdat die leiers van die Christendom dit in die plek van God se Koninkryk gestel het en gesê het dat die Bond die mens se enigste hoop op vrede is. Die Bond is in Januarie 1919 voorgestel. As ons 1 290 dae (drie jaar, sewe maande) van daardie tyd af tel, bring dit ons by September 1922.
16. Hoe het dit aan die einde van die 1 290 dae duidelik geblyk dat die gesalfde oorblyfsel gereed was vir optrede?
16 Wat het toe gebeur? Wel, die Bybelstudente was nou verkwik, vry van Babilon die Grote en gereed om tot die aanval oor te gaan (Openbaring 18:4). By ’n byeenkoms wat in September 1922 in Cedar Point, Ohio, VSA, gehou is, het hulle God se oordele oor die Christendom vreesloos begin bekend maak (Openbaring 8:7-12). Die sprinkane se steke het werklik begin seermaak! Daarbenewens het die tweede wee van Openbaring begin. ’n Menigte Christenruiters—wat aanvanklik uit die gesalfde oorblyfsel bestaan het en later deur die groot menigte uitgebrei is—het oor die aarde beweeg (Openbaring 7:9; 9:13-19). Ja, die einde van die 1 290 dae het vir God se volk vreugde gebring.c Maar die toekoms sou nog meer bring.
Die 1 335 dae
17. Wanneer het die 1 335 dae begin en geëindig?
17 Daniël 12:12 sê: “Welgeluksalig is hy wat bly verwag en duisend-driehonderd-vyf-en-dertig dae bereik.” Hierdie 1 335 dae, of drie jaar en agt en ’n half maande, het blykbaar aan die einde van die vorige tydperk begin. As ons van September 1922 af tel, bring dit ons by die einde van die lente (Noordelike Halfrond) van 1926. Wat het gedurende daardie 1 335 dae gebeur?
18. Watter feite toon dat daar in 1922 nog vordering gemaak moes word?
18 Ondanks die betekenisvolle aard van die gebeure in 1922 het sommige blykbaar nog met verlange na die verlede teruggekyk. Die Studies in the Scriptures, wat deur C. T. Russell geskryf is, was steeds die basiese studiemateriaal. Daarbenewens is daar in die wydverspreide boekie Daar leef miljoene vandag wat nooit sal sterf nie van die standpunt uitgegaan dat God se voornemens ten opsigte van die herstelling van die aarde tot ’n Paradys en die opwekking van die getroue mense van die ou tyd in 1925 in vervulling sou begin gaan. Dit het gelyk of die volharding van die gesalfdes amper voltooi was. Nogtans het sommige wat met die Bybelstudente omgegaan het hulle nie genoodsaak gevoel om die goeie nuus aan ander bekend te maak nie.
19, 20. (a) Hoe het baie dinge gedurende die 1 335 dae vir God se volk verander? (b) Watter gebeure het die einde van die tydperk van 1 335 dae gekenmerk, en wat het dit omtrent Jehovah se volk getoon?
19 Met verloop van die 1 335 dae het dit alles verander. Om die broers te versterk, is gereelde groepstudies van die Wagtoring georganiseer. Die velddiens is beklemtoon. Van Mei 1923 af is almal genooi om die eerste Dinsdag van elke maand aan die velddiens deel te neem, en tyd is gedurende die middeweekse gemeentelike vergadering opsygesit om hulle in hierdie werk aan te moedig. In Augustus 1923, by ’n byeenkoms in Los Angeles, Kalifornië, VSA, is daar getoon dat Jesus se gelykenis van die skape en die bokke voor die Duisendjarige Heerskappy vervul sou word (Mattheüs 25:31-40). In 1924 is daar met die WBBR-radiostasie begin, wat gebruik is om die goeie nuus oor die radio uit te saai. Die artikel, “Geboorte van die nasie”, in The Watch Tower van 1 Maart 1925 het ’n nuwe begrip van Openbaring hoofstuk 12 gegee. Eindelik kon getroue Christene die onstuimige gebeure van 1914-19 reg verstaan.
20 Die jaar 1925 het ten einde geloop, maar die einde het nog nie aangebreek nie! Die Bybelstudente het al sedert die 1870’s met ’n jaartal in gedagte gedien—eers 1914, toe 1925. Nou het hulle besef dat hulle moet dien so lank as wat Jehovah dit wil hê. The Watch Tower van 1 Januarie 1926 het die betekenisvolle artikel “Wie sal Jehovah eer?” bevat wat die belangrikheid van God se naam soos nog nooit tevore nie beklemtoon het. En eindelik, in Mei 1926 by die byeenkoms in Londen, Engeland, is ’n resolusie aangeneem met die titel “’n Getuienis aan die heersers van die wêreld”. Dit het die waarheid oor God se Koninkryk en die komende vernietiging van Satan se wêreld onomwonde bekend gemaak. By dieselfde byeenkoms is die kragtige boek Verlossing vrygestel, en dit was die eerste in ’n reeks wat die Studies in the Scriptures vervang het. God se volk het nou vorentoe gekyk, nie agtertoe nie. Die 1 335 dae was verby.
21. Wat het volharding gedurende die tydperk van 1 335 dae destyds vir God se volk beteken, en wat beteken die vervulling van profesieë oor daardie tydperk vir ons?
21 Party was nie bereid om hulle by hierdie verwikkelinge aan te pas nie, maar dié wat volhard het, was waarlik gelukkig. Daarbenewens is ons ook gelukkig wanneer ons terugkyk op die vervulling van hierdie profetiese tydperke omdat ons vertroue versterk word dat die klein groepie gesalfde Christene wat deur daardie tye geleef het werklik die getroue en verstandige dienskneg is. In die jare sedertdien het Jehovah se organisasie geweldig uitgebrei, maar die getroue en verstandige dienskneg staan steeds aan die stuur daarvan en rig dit. Hoe opwindend is dit dan tog om te weet dat daar selfs groter geluk op die gesalfdes en die ander skape wag! Ons sal dit sien wanneer ons nog een van Daniël se profesieë beskou.
[Voetnote]
a Sien Ons inkomende wêreldregering—God se koninkryk, hoofstuk 8, wat deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., uitgegee word, vir ’n bespreking van hoe om hierdie profetiese tydperke te bereken.
c Sien Die Wagtoring van 1 Januarie 1991, bladsy 12, en die 1975 Yearbook of Jehovah’s Witnesses, bladsy 132.
Kan jy verduidelik?
◻ Hoe weet ons dat party profesieë in Daniël in ons tyd vervul sou word?
◻ Waarom kan ons die vertroue hê dat die gesalfde oorblyfsel “die getroue en verstandige dienskneg” is?
◻ Wanneer het die 1 260 dae begin en geëindig?
◻ Watter verkwikking en herstelling het die 1 290 dae vir die gesalfde oorblyfsel gebring?
◻ Waarom was diegene wat tot die einde van die 1 335 dae volhard het gelukkig?
[Venster op bladsy 11]
DANIËL SE PROFETIESE TYDPERKE
1 260 dae:
Desember 1914 tot Junie 1918
1 290 dae:
Januarie 1919 tot September 1922
1 335 dae:
September 1922 tot Mei 1926
[Prent op bladsy 8]
Dit is sedert 1919 duidelik dat “die getroue en verstandige dienskneg” die gesalfde oorblyfsel is
[Prent op bladsy 10]
Hoofkwartier van die Volkebond in Genève, Switserland
[Erkenning]
UN photo