Het hy Jona ingesluk?
DIE Bybel sê vir ons dat Jona, ’n profeet van Jehovah in die negende eeu v.G.J., van ’n toewysing gevlug het en aan boord van ’n skip gegaan het. Gedurende die stormagtige reis oor die Middellandse See het die bemanning hom oorboord gegooi. Jehovah “het ’n groot vis beskik om Jona in te sluk; en Jona was drie dae en drie nagte in die ingewande van die vis”.—Jona 1:3-17.
Party sê: ‘Onmoontlik! Geen skepping in die see kan ’n mens insluk nie.’ Maar ’n potvis of ’n groot blouhaai kan. National Geographic (Desember 1992) het ’n ander moontlikheid genoem—die walvishaai. Dit is die grootste haai wat aan die mens bekend is en kan tot 20 meter lank word en 70 ton weeg.
“Dit lyk of die walvishaai se ongewone spysverteringsanatomie Jona se verhaal bevestig. Dit is maklik om jou voor te stel dat jy per ongeluk ingesuig word in ’n walvishaai se mond, wat reusagtig is . . . Die tamaaie mond van selfs ’n klein, volwasse walvishaai kan maklik twee Jonas hou.”
Die walvishaai leef van piepklein plankton en kril, wat “in die slukderm afspoel na die reusagtige en elastiese banketsaal wat die kardiakale maag is”. Maar hoe kan enigiemand uitkom? National Geographic sê: “Haaie het ’n geweldlose manier om ontslae te raak van groot, ingeslukte voorwerpe van twyfelagtige verteerbaarheid . . . ’n Haai kan sy kardiakale maag stadig leegmaak deur dit om te dop en dit deur die mond te stoot. . . . Jy kan dus uitgly op ’n slymbedekte tapyt, glibberig, maar miskien verstandiger vanweë die ondervinding.”
Vandag word walvishaaie nie in die Middellandse See aangetref nie, hoewel hulle al sover noord as New York-stad gevind is. Het hulle in Jona se dag in die Middellandse See voorgekom? Wie weet? Die Bybel sê nie spesifiek watter soort seedier Jehovah gebruik het nie, maar Jesus self het bevestig dat die verslag van Jona waar is.—Mattheüs 12:39, 40.
[Foto-erkenning op bladsy 32]
Norbert Wu/Peter Arnold Inc.