Liefdevolle herderswerk onder Jehovah se kosbare skape
DIE ouere manne het aandagtig geluister. Hulle het ongeveer 50 kilometer ver van Efese na Milete gereis om instruksies van die apostel Paulus te ontvang. Nou was hulle hartseer omdat hulle gehoor het dat dit die laaste keer sou wees wat hulle hom sou sien. Daarom het hulle geweet dat die volgende woorde uiters belangrik sou wees: “Skenk aandag aan julleself en aan die hele kudde, onder wie die heilige gees julle as opsieners aangestel het, om die gemeente van God, wat hy met die bloed van sy eie Seun gekoop het as herders te versorg.”—Handelinge 20:25, 28, 38, NW.
Paulus se kort verwysing na herders het ongetwyfeld ’n skat van kennis aan daardie Efesiese ouere manne oorgedra. Hulle was bekend met die werk om skape in die omliggende platteland op te pas. Hulle het ook die talle verwysings na herders in die Hebreeuse Geskrifte geken. En hulle het geweet dat Jehovah van homself as ’n Herder van sy volk gepraat het.—Jesaja 40:10, 11.
Paulus het van hulle as “opsieners” onder “die hele kudde” en as “herders” van “die gemeente” gepraat. Terwyl die term “opsieners” toon wat hulle toewysing is, beskryf die woorde “om as herders . . . te versorg”, hoe hulle daardie opsienerswerk moet uitvoer. Ja, opsieners moes na elke lid van die gemeente omsien op dieselfde liefdevolle wyse as wat ’n herder na sy kudde skape sou omsien.
Vandag het min ouere manne eerstehandse ondervinding van letterlike herderswerk onder skape. Maar die Bybel verwys soveel keer na skape en herders, veral in ’n figuurlike sin, dat Paulus se woorde altyd van toepassing is. En veel kan geleer word uit die verslae van herders wat God se guns in vervloë dae geniet het. Hulle merkwaardige voorbeelde kan teenswoordige ouere manne help om te sien watter eienskappe hulle moet aankweek sodat hulle as herders oor die gemeente van God kan toesig hou.
Die vreeslose herder Dawid
Wanneer ons aan herders van Bybeltye dink, sal ons heel waarskynlik aan Dawid dink, want hy was aanvanklik ’n skaapherder. Een van die eerste lesse wat ons uit Dawid se lewe leer, is dat ’n herder nie ’n prominente posisie beklee nie. Trouens, toe die profeet Samuel gekom het om ’n seun van Isai te salf as die toekomstige koning van Israel is die jong Dawid aanvanklik heeltemal oorgesien. Dit was eers ná Jehovah sy sewe ouer broers verwerp het dat daar melding gemaak is van Dawid, wat in die veld ‘skape opgepas het’ (1 Samuel 16:10, 11). Dawid se jare as ’n herder het hom nietemin voorberei op die veeleisende werk om as herder oor die nasie Israel toesig te hou. “[Jehovah] het sy kneg Dawid uitverkies en hom van die skaapkrale af geneem . . . om Jakob, sy volk, op te pas”, sê Psalm 78:70, 71. Dawid het gepas die pragtige en bekende 23ste Psalm geskryf en met die woorde begin: “[Jehovah] is my herder.”
Ouere manne in die Christengemeente moet, soos Dawid, as nederige onderherders dien en nie onbehoorlike aansien soek nie. Soos die apostel Paulus aan Timotheüs geskryf het, “begeer” diegene wat strewe na hierdie verantwoordelikheid om as ’n herder te dien “’n voortreflike werk”, nie aansien nie.—1 Timotheüs 3:1.
Hoewel Dawid se werk as ’n letterlike herder nederig was, het dit by tye groot moed vereis. Toe skape van sy vader se kudde byvoorbeeld eenkeer deur ’n leeu en ’n ander keer deur ’n beer weggedra is, het Dawid die roofdiere vreesloos agternagesit en doodgemaak (1 Samuel 17:34-36). Dit was ’n merkwaardige vertoning van moed as ’n mens in ag neem dat ’n leeu diere kan doodmaak wat veel groter as hy is. En die Siriese bruinbeer wat vroeër in Palestina voorgekom het en tot 140 kilogram kan weeg, kan ’n takbok met een hou van sy kragtige poot doodmaak.
Dawid se moedige besorgdheid oor sy vader se skape is ’n goeie voorbeeld vir herders in die Christengemeente. Die apostel Paulus het die ouere manne in Efese gewaarsku teen ‘onderdrukkende wolwe wat die kudde nie teer sou behandel nie’ (Handelinge 20:29, NW). In hedendaagse tye sal geleenthede ook opduik wanneer Christenherders moed moet toon sodat die geestelike welsyn van Jehovah se skape beskerm word.
Hoewel die skape moedig beskerm moet word, moet hulle ook met die uiterste teerheid behandel word, in navolging van die liefdevolle herder Dawid en die Goeie Herder, Jesus Christus (Johannes 10:11). Omdat ouere manne weet dat die kudde aan Jehovah behoort, moet hulle nooit hardhandig met die skape wees, “as heersers oor [God se] erfdeel nie”.—1 Petrus 5:2, 3; Mattheüs 11:28-30; 20:25-27.
Rekenskap moet gegee word
Die patriarg Jakob is nog ’n bekende herder. Hy het hom persoonlik verantwoordelik gehou vir elke individuele skaap wat aan sy sorg toevertrou is. Hy het so getrou na die kuddes van sy skoonvader, Laban, omgesien dat Jakob ná 20 jaar in sy diens kon sê: “U skaap- en bokooie het geen misdrag gehad nie, en die ramme van u kleinvee het ek nie geëet nie. Wat die wilde diere verskeur het, het ek nie na u gebring nie: ek moes dit vergoed; van my hand het u dit geëis, of dit al bedags gesteel is of snags gesteel is.”—Genesis 31:38, 39.
Christenopsieners openbaar selfs groter besorgdheid oor die skape wat die Herder van ons siel, Jehovah God, “deur sy [Seun se] eie bloed verkry het” (Handelinge 20:28, vgl. NW; 1 Petrus 2:25; 5:4, NW). Paulus het hierdie belangrike verantwoordelikheid beklemtoon toe hy die Hebreeuse Christene daaraan herinner het dat manne wat die leiding in die gemeente neem, “waak vir julle siele as diegene wat rekenskap moet gee”.—Hebreërs 13:17.
Jakob se voorbeeld toon ook dat die werk van ’n herder nie deur tyd beperk word nie. Dit is werk wat dag en nag verrig word en dikwels selfopoffering vereis. Hy het vir Laban gesê: “Ek was ’n man wat bedags deur die hitte verteer is en snags deur die koue, en my slaap het gevlug van my oë.”—Genesis 31:40.
Dit is ongetwyfeld vandag die geval met talle liefdevolle Christen- ouere manne, soos die volgende voorbeeld toelig. ’n Broer is in die waakeenheid van ’n hospitaal opgeneem nadat ’n breingewas-biopsie tot komplikasies gelei het. Sy gesin het gereël om dag en nag naby hom in die hospitaal te wees. Een van die plaaslike ouere manne het sy druk rooster aangepas sodat hy die siek man en sy gesin elke dag kon besoek om die nodige morele ondersteuning en bemoediging te verskaf. Weens die hospitaal se intensiewe behandelingsroetine was dit egter nie altyd vir hom moontlik om gedurende die dag besoek af te lê nie. Dit het beteken dat die ouere man dikwels baie laat in die aand by die hospitaal moes wees. Maar hy het met graagte aand ná aand soontoe gegaan. “Ek het besef dat ek die pasiënt sou moes besoek op ’n tyd wanneer dit vir hom geleë is, nie wanneer dit vir my geleë is nie”, het die ouere man gesê. Toe die broer voldoende herstel het om na ’n ander deel van die hospitaal oorgeplaas te word, het die ouere man voortgegaan met sy bemoedigende daaglikse besoeke.
Wat Moses as ’n herder geleer het
Die Bybel beskryf Moses as “baie sagmoedig, meer as al die mense op die aardbodem” (Numeri 12:3). Maar die verslag toon dat dit nie altyd die geval was nie. As ’n jong man het hy ’n Egiptenaar doodgemaak wat ’n mede-Israeliet geslaan het (Exodus 2:11, 12). Dit was beslis nie die optrede van ’n sagmoedige persoon nie! Tog het God Moses later gebruik om ’n nasie van miljoene deur die woestyn na die Beloofde Land te lei. Dit is dus duidelik dat Moses verdere opleiding nodig gehad het.
Hoewel Moses reeds sekulêre opleiding ontvang het “in al die wysheid van die Egiptenaars”, was meer nodig om as ’n herder oor Jehovah se kudde toesig te hou (Handelinge 7:22). In watter vorm kon hierdie verdere opleiding waarskynlik wees? Wel, God het Moses 40 jaar lank toegelaat om as ’n nederige herder in die land Midian te dien. Terwyl Moses na die kuddes van sy skoonvader, Jetro, omgesien het, het hy sulke goeie eienskappe soos geduld, sagmoedigheid, nederigheid, lankmoedigheid, saggeaardheid en selfbeheersing aangekweek. Hy het ook geleer om op Jehovah te wag. Ja, letterlike herderswerk onder skape het Moses die nodige bekwaamheid verskaf om ’n goeie herder van die nasie Israel te wees.—Exodus 2:15–3:1; Handelinge 7:29, 30.
Is dit nie die einste eienskappe wat ’n ouere man nodig het om vandag na God se volk om te sien nie? Ja, want Paulus het Timotheüs daaraan herinner dat ‘’n dienskneg van die Here vriendelik moet wees teenoor almal, bekwaam om te onderrig en een wat kwaad kan verdra. Hy moet die weerspanniges in sagmoedigheid teregwys.’—2 Timotheüs 2:24, 25.
Daar is moontlik tye wanneer ’n ouere man homself teleurstel omdat hy dit moeilik vind om hierdie eienskappe ten volle aan te kweek. Hy moet nietemin nie moed verloor nie. Dit kan, soos met Moses die geval was, lank duur om die eienskappe van ’n goeie herder ten volle aan te kweek. Maar mettertyd sal sulke inspanning beloon word.—Vergelyk 1 Petrus 5:10.
Miskien word jy as ’n ouere man nie soveel as ander gebruik nie. Kan dit wees dat Jehovah, soos in Moses se geval, toelaat dat jy sekere belangrike eienskappe in ’n groter mate aankweek? Moet nooit vergeet dat Jehovah ‘vir jou sorg’ nie. Maar ons moet ook in gedagte hou dat ons ‘almal met ootmoed bekleed moet wees in onderdanigheid aan mekaar, want God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade’ (1 Petrus 5:5-7). As jy jou inspan en die opleiding aanvaar wat Jehovah toelaat, kan jy vir hom van groter nut wees, net soos Moses was.
Al Jehovah se skape is kosbaar
Betroubare, liefdevolle herders van Bybeltye het ’n verantwoordelikheidsbesef teenoor elke individuele skaap gehad. Dieselfde moet in die geval van geestelike herders geld. Dit is duidelik uit Paulus se woorde: “Gee dan ag op . . . die hele kudde” (Handelinge 20:28). Wie sal by hierdie “hele kudde” ingesluit word?
Jesus het ’n illustrasie gegee van ’n man wat honderd skape gehad het, maar dadelik vir een gesoek het wat afgedwaal het sodat hy hom na die kudde kon terugbring (Mattheüs 18:12-14; Lukas 15:3-7). ’n Opsiener sal op soortgelyke wyse besorg wees oor elke lid van die gemeente. Onbedrywigheid wat die bediening of die bywoning van Christelike vergaderinge betref, beteken nie dat die skaap nie meer ’n deel van die kudde is nie. Hy bly ’n deel van “die hele kudde” van wie die ouere manne “rekenskap moet gee” aan Jehovah.
Een liggaam van ouere manne was taamlik besorg oor die feit dat sommige wat met die gemeente omgegaan het onbedrywig geword het. ’n Lys van daardie individue is opgestel, en ’n spesiale poging is aangewend om hulle te besoek en te help om na Jehovah se kudde terug te keer. Hoe dankbaar was daardie ouere manne tog teenoor God toe hulle oor ’n tydperk van twee en ’n half jaar meer as 30 mense kon help om weer bedrywig te word in Jehovah se diens. Een van dié wat so gehelp is, was ongeveer 17 jaar onbedrywig!
Die feit dat die skape “met die bloed van [God se] eie Seun gekoop” is, laat opsieners nog meer besef hoe gewigtig hierdie verantwoordelikheid is (Handelinge 20:28, NW). Daar kon nie ’n hoër prys vir daardie kosbare skape betaal word nie. En dink aan al die tyd en inspanning wat aan die bediening bestee word om elke skaapgeaarde persoon te vind en te help! Moet ’n soortgelyke poging nie aangewend word om hulle almal in God se kudde te hou nie? Elke skaap in die gemeente is sonder twyfel kosbaar.
Selfs wanneer ’n lid van die kudde ’n ernstige oortreding begaan, verander die ouere manne se verantwoordelikheid nie. Hulle gaan voort om besorgde herders te wees en die oortreder liefdevol en sagmoedig te probeer red indien dit enigsins moontlik is (Galasiërs 6:1, 2). Ongelukkig word dit in party gevalle duidelik dat ’n lid van die gemeente nie godvrugtige berou het oor ernstige sondes wat hy gedoen het nie. Liefdevolle herders het dan die skriftuurlike verantwoordelikheid om die res van die kudde teen hierdie verderflike invloed te beskerm.—1 Korinthiërs 5:3-7, 11-13.
Selfs dan stel Jehovah God die volmaakte voorbeeld deur barmhartigheid te toon teenoor skape wat afdwaal. Ons medelydende Herder sê: “Die wat verlore is, sal Ek soek, en wat weggedryf is, sal Ek terugbring, en wat gewond is, sal Ek verbind, en die siekes sal ek versterk” (Esegiël 34:15, 16; Jeremia 31:10). In navolging van hierdie uitstekende voorbeeld is ’n liefdevolle reëling getref vir hedendaagse geestelike herders om uitgesette persone te besoek wat nou moontlik gunstig op hulle hulp sal reageer. Hierdie barmhartige pogings om sulke verlore skape terug te bring, is baie geslaagd. Een suster wat herstel is, het gesê: “Toe die ouere manne my besoek het, was dit net die aanmoediging wat ek nodig gehad het om terug te kom.”
Paulus se woorde aan die Efesiese ouere manne in Milete was baie betekenisvol—vir hulle en vir hedendaagse ouere manne. Sy verwysing na herders was ’n herinnering aan die innemende eienskappe wat opsieners moet openbaar—eienskappe soos nederigheid en moed, soos uit die herder-koning Dawid se voorbeeld gesien word; ’n persoonlike verantwoordelikheidsbesef en ’n begeerte om die kudde te beskerm, soos gesien is uit die voorbeeld van Jakob, wat dag en nag gedien het; en ’n bereidwilligheid om verdere opleiding geduldig te aanvaar, soos deur Moses getoon is. Hierdie Bybelse voorbeelde sal gemeentelike ouere manne beslis help om die eienskappe aan te kweek en te openbaar wat nodig is sodat hulle liefdevol “die gemeente van God, wat hy met die bloed van sy eie Seun gekoop het as herders . . . versorg”.