Wandel in wysheid ten opsigte van die wêreld
“Wandel in wysheid teenoor die wat buite is.”—KOLOSSENSE 4:5.
1. Voor wat het die vroeë Christene te staan gekom, en watter raad het Paulus aan die gemeente in Kolosse gegee?
DIE vroeë Christene wat in die stede van die Romeinse wêreld gewoon het, het voortdurend voor afgodediens, die najaging van onsedelike plesier sowel as heidense ritusse en gebruike te staan gekom. Diegene wat in Kolosse, ’n stad in wes-sentrale Klein-Asië, gewoon het, het ongetwyfeld die Frigiërs se aanbidding van moeder-godinne en beoefening van spiritisme asook die heidense filosofieë van die Griekse setlaars en die Judaïsme van die Joodse kolonie teëgekom. Die apostel Paulus het die Christengemeente vermaan om ‘in wysheid te wandel’ teenoor sulke ‘buitestanders’.—Kolossense 4:5.
2. Waarom moet die hedendaagse Getuies van Jehovah in wysheid wandel teenoor diegene wat buite is?
2 Vandag kom Jehovah se Getuies soortgelyke en selfs erger gebruike teë wat verkeerd is. Daarom moet hulle ook wysheid aan die dag lê in hulle verhouding met diegene wat buite die ware Christengemeente is. Baie mense wat aan godsdiens- en politieke instellings verbonde is, asook die media, staan hulle teë. Party van hulle probeer deur direkte aanvalle of meer dikwels deur indirekte beskuldigings die reputasie van Jehovah se Getuies beklad en vooroordeel teen hulle wek. Net soos die vroeë Christene op onregverdige wyse as ’n fanatiese en selfs gevaarlike “sekte” beskou is, is die hedendaagse Getuies van Jehovah dikwels die voorwerp van vooroordeel en misvattings.—Handelinge 24:14; 1 Petrus 4:4.
Kom vooroordeel te bowe
3, 4. (a) Waarom sal die wêreld ware Christene nooit liefhê nie, maar wat moet ons probeer doen? (b) Wat het ’n skryfster oor Jehovah se Getuies gesê wat in ’n Nazi-konsentrasiekamp gevange gehou is?
3 Ware Christene verwag nie dat die wêreld, wat volgens die apostel Johannes “in die mag van die Bose lê”, hulle sal liefhê nie (1 Johannes 5:19). Die Bybel spoor Christene nietemin aan om mense tot Jehovah en sy ware aanbidding te probeer rig. Ons doen dit deur ons regstreekse getuieniswerk en ook deur ons goeie gedrag. Die apostel Petrus het geskryf: “Hou julle lewenswandel onder die heidene skoon, sodat as hulle van julle kwaad spreek soos van kwaaddoeners, hulle op grond van die goeie werke wat hulle aanskou, God kan verheerlik in die dag van besoeking.”—1 Petrus 2:12.
4 In haar boek Forgive—But Do Not Forget het die skryfster Sylvia Salvesen van Getuievroue wat haar medegevangenes in ’n Nazi-konsentrasiekamp was, gesê: “Dié twee, Käthe en Margarethe, en talle ander het my baie gehelp, nie net deur hulle geloof nie, maar ook op praktiese maniere. Hulle het vir ons die eerste skoon lappe vir ons wonde gekry . . . Kortom, ons het ons tussen mense bevind vir wie ons welsyn na aan die hart gelê het en wat hulle vriendelike gevoelens deur hulle dade getoon het.” Wat ’n uitstekende getuienis van “die wat buite is”!
5, 6. (a) Met watter werk is Christus tans besig, en wat moet ons nie vergeet nie? (b) Wat moet ons gesindheid teenoor wêreldse mense wees, en waarom?
5 Die verstandige manier waarop ons ons teenoor buitestanders gedra, kan baie daartoe bydra om vooroordeel uit die weg te ruim. Ons lewe weliswaar in die tyd wanneer ons regerende Koning, Christus Jesus, die mense van die nasies van mekaar skei, “soos die herder die skape van die bokke afskei” (Mattheüs 25:32). Maar moet nooit vergeet dat Christus die Regter is nie; dit is hý wat besluit wie “die skape” en wie “die bokke” is.—Johannes 5:22.
6 Dit moet ons gesindheid beïnvloed teenoor diegene wat nie deel van Jehovah se organisasie uitmaak nie. Ons dink dalk aan hulle as wêreldse mense, maar hulle is ’n deel van die mensewêreld wat ‘God so lief het dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê’ (Johannes 3:16). Dit is baie beter om mense as toekomstige skape te beskou as om verwaand te besluit dat hulle bokke is. Party wat die waarheid vantevore hewig teëgestaan het, is nou toegewyde Getuies. En baie van hulle se gesindheid is eers deur dade van goedhartigheid verander voordat hulle op enige direkte getuieniswerk gereageer het. Sien byvoorbeeld die foto op bladsy 18.
Ywerig, nie aggressief nie
7. Watter kritiek het die pous uitgespreek, maar watter vraag kan ons vra?
7 Pous Johannes-Paulus II het sektes oor die algemeen, en Jehovah se Getuies in die besonder, gekritiseer toe hy gesê het: “Die byna aggressiewe ywer waarmee sommige na nuwe aanhangers soek deur van huis tot huis te gaan of verbygangers op straathoeke voor te keer, is ’n sektariese nabootsing van apostoliese en sendingywer.” Ons kan dalk vra: As ons ’n “nabootsing van apostoliese en sendingywer” is, waar kan die ware evangeliesasieywer gevind word? Beslis nie onder die Katolieke nie, en trouens ook nie onder Protestante of lede van die Ortodokse kerke nie.
8. Hoe moet ons ons getuieniswerk van huis tot huis doen, en hopelik met watter gevolg?
8 Maar om te toon dat enige beskuldiging van aggressiewe gedrag in ons getuieniswerk vals is, moet ons altyd vriendelik, eerbiedig en hoflik wees wanneer ons met mense praat. Die dissipel Jakobus het geskryf: “Wie is wys en verstandig onder julle? Laat hom uit sy goeie lewenswandel sy werke in sagmoedige wysheid toon” (Jakobus 3:13). Die apostel Paulus vermaan ons om “nie strydlustig te wees nie” (Titus 3:2). Pleks van byvoorbeeld die geloof van ’n persoon vir wie ons getuig direk te veroordeel, kan ons gerus opregte belangstelling in sy of haar mening toon. Vertel die persoon daarna van die goeie nuus in die Bybel. As ons benadering positief is en ons behoorlike respek vir mense met ander oortuigings toon, sal ons hulle help om in ’n beter gemoedstemming te wees sodat hulle sal luister en miskien sal besef wat die waarde van die Bybelboodskap vir hulle is. Dit kan tot gevolg hê dat party ‘God sal verheerlik’.—1 Petrus 2:12.
9. Hoe kan ons die raad toepas wat Paulus gegee het (a) in Kolossense 4:5? (b) in Kolossense 4:6?
9 Die apostel Paulus het ons die volgende raad gegee: “Wandel in wysheid teenoor die wat buite is, en koop die [“geleë”, NW] tyd uit” (Kolossense 4:5). J. B. Lightfoot verduidelik hierdie laaste uitdrukking soos volg: “Jy moet geen geleentheid laat verbygaan om dinge te sê en te doen wat die saak van God kan bevorder nie.” (Ons kursiveer.) Ja, ons moet op die geleë tyd met woorde en dade gereed wees. Sulke wysheid sluit ook in dat ons ’n geleë tyd van die dag sal kies om mense te besoek. As mense nie na ons boodskap luister nie, ontstaan die vraag: is dit omdat hulle dit nie waardeer nie of is dit omdat ons hulle op ’n tyd besoek het wat moontlik ongeleë was? Paulus het ook geskryf: “Laat julle woord altyd aangenaam wees, met sout besprinkel, sodat julle kan weet hoe julle iedereen moet antwoord” (Kolossense 4:6). Dit behels dat ons daaroor nadink en ware naasteliefde betoon. Laat ons altyd die Koninkryksboodskap op ’n aangename wyse aanbied.
Eerbiedig en “bereid tot elke goeie werk”
10. (a) Watter raad het die apostel Paulus aan die Christene gegee wat in Kreta gewoon het? (b) Hoe het Jehovah se Getuies Paulus se raad voorbeeldig nagevolg?
10 Ons kan nie Bybelbeginsels prysgee nie. Daarenteen hoef ons nie onnodig te stry oor vrae wat nie Christelike onkreukbaarheid behels nie. Die apostel Paulus het geskryf: “Herinner hulle [Christene in Kreta] daaraan om onderdanig te wees aan owerhede en magte, om gehoorsaam te wees, bereid tot elke goeie werk; om niemand te belaster nie, nie strydlustig te wees nie, vriendelik te wees en aan alle mense alle sagmoedigheid te bewys” (Titus 3:1, 2). Die Bybelgeleerde E. F. Scott het oor hierdie gedeelte geskryf: “Christene moes nie net aan die owerhede gehoorsaam wees nie, maar hulle moes tot elke goeie werk bereid wees. Dit . . . beteken dat Christene onder die eerstes moet wees wat burgersin betoon as die omstandighede dit vereis. Daar sal voortdurend brande, plae en verskillende rampe wees, wanneer alle goeie burgers hulle bure graag sal wil help.” Reg deur die wêreld was daar al baie gevalle waar rampe getref het en Jehovah se Getuies onder die eerstes was om noodlenigingswerk te doen. Hulle het nie net hulle broers gehelp nie, maar ook buitestanders.
11, 12. (a) Hoe moet Christene teenoor die owerhede optree? (b) Wat sluit onderdanigheid aan die owerhede in wat die bou van Koninkryksale betref?
11 Hierdie selfde deel uit Paulus se brief aan Titus beklemtoon ook hoe belangrik dit is om ’n eerbiedige gesindheid teenoor die owerhede te hê. Jong Christene wat weens hulle neutrale standpunt voor regters verskyn, moet veral daaraan gedagtig wees om in wysheid te wandel teenoor diegene wat buite is. Deur hulle voorkoms, gedrag en die manier waarop hulle met sulke gesaghebbendes praat, kan hulle baie daartoe bydra om die reputasie van Jehovah se volk te verbeter of skade aan te doen. Hulle moet ‘vrees betaal aan die wat vrees toekom’ en hulle verdediging met diepe eerbied aanvoer.—Romeine 13:1-7; 1 Petrus 2:17; 3:15, NW.
12 “Owerhede” sluit plaaslike regeringsamptenare in. Noudat al hoe meer Koninkryksale gebou word, is onderhandelinge met die plaaslike owerhede onvermydelik. Ouere manne vind dikwels dat hierdie persone bevooroordeeld is. Maar daar is al gevind dat hierdie vooroordeel te bowe gekom kan word as gemeentelike verteenwoordigers ’n goeie verhouding met die owerhede opbou en met die stadsbeplanningskommissie saamwerk. Dikwels word ’n goeie getuienis gelewer aan mense wat vantevore min of niks van Jehovah se Getuies en hulle boodskap geweet het nie.
‘As dit moontlik is, leef in vrede met alle mense’
13, 14. Watter raad het Paulus aan Christene in Rome gegee, en hoe kan ons dit in ons betrekkinge met buitestanders toepas?
13 Paulus het die volgende raad aan Christene gegee wat in die heidense Rome gewoon het: “Vergeld niemand kwaad vir kwaad nie; bedink wat goed is voor alle mense; as dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here. As jou vyand dan honger het, gee hom iets om te eet; as hy dors het, gee hom iets om te drink; want sodoende sal jy op sy hoof vurige kole ophoop. Laat jou nie deur die kwaad oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.”—Romeine 12:17-21.
14 In ons betrekkinge met buitestanders kom ons as ware Christene ongetwyfeld teenstanders teë. In die voorgenoemde gedeelte toon Paulus dat dit raadsaam is om die teëstand deur vriendelike dade te bowe te probeer kom. Soos vurige kole kan hierdie dade van vriendelikheid die vyandskap laat wegsmelt en daartoe lei dat die teenstander ’n vriendeliker gesindheid teenoor Jehovah se volk openbaar en miskien selfs sy belangstelling in die goeie nuus wek. Wanneer dit gebeur, word die kwaad deur die goeie oorwin.
15. Wanneer moet Christene veral versigtig wees om in wysheid te wandel teenoor dié wat buite is?
15 In huise waar een van die huweliksmaats nog nie die waarheid aanvaar het nie, is dit veral belangrik om in wysheid te wandel teenoor dié wat buite is. Die nakoming van Bybelbeginsels lei tot beter mans, beter vroue, beter vaders, beter moeders en tot kinders wat gehoorsamer is en harder op skool leer. ’n Ongelowige moet die heilsame uitwerking kan sien wat Bybelbeginsels op ’n gelowige het. Sodoende kan sommige ‘sonder woorde gewin word deur die wandel’ van toegewyde gesinslede.—1 Petrus 3:1, 2.
‘Laat ons aan almal goed doen’
16, 17. (a) Watter offers is vir God aanneemlik? (b) Hoe ‘doen ons goed’ aan ons broers en ook aan dié wat buite is?
16 Die beste wat ons vir ons naaste kan doen, is om die boodskap van die lewe na hom te neem en hom te leer dat hy deur Jesus Christus met Jehovah versoen kan word (Romeine 5:8-11). Daarom sê die apostel Paulus vir ons: “Laat ons dan gedurig deur Hom [Christus] aan God ’n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely” (Hebreërs 13:15). Paulus sê voorts: “Moenie nalaat om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want dít is die offers wat vir God aanneemlik is” (Hebreërs 13:16, NAV). Benewens ons openbare getuieniswerk moet ons nie vergeet “om goed te doen” nie. Dit vorm ’n integrerende deel van die offers wat vir God aanneemlik is.
17 Ons doen natuurlik goed aan ons geestelike broers, wat dalk emosionele, geestelike, fisiese of materiële hulp nodig het. Paulus het daarna verwys toe hy geskryf het: “Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof” (Galasiërs 6:10; Jakobus 2:15, 16). Maar ons moenie die woorde: “Laat ons . . . aan almal goed doen”, vergeet nie. ’n Daad van goedhartigheid teenoor ’n familielid, ’n buurman of ’n kollega kan baie daartoe bydra om vooroordeel teenoor ons te laat afneem en die persoon se hart vir die waarheid ontvanklik te maak.
18. (a) Watter gevare moet ons vermy? (b) Hoe kan ons ons Christelike goedheid gebruik om ons openbare getuieniswerk aan te vul?
18 Om dít te doen, hoef ons nie intieme vriendskappe aan te knoop met dié wat buite is nie. Sulke assosiasie is potensieel gevaarlik (1 Korinthiërs 15:33). En ons is nie van plan om vriende van die wêreld te wees nie (Jakobus 4:4). Maar ons Christelike goedheid kan ons predikingswerk aanvul. In party lande word dit al hoe moeiliker om met mense by hulle huis te praat. Party woonstelblokke word deur toestelle beskerm wat ons keer om met die inwoners in aanraking te kom. In ontwikkelde lande is die telefoon ’n manier waarop die predikingswerk gedoen kan word. In die meeste lande kan straatgetuieniswerk gedoen word. Maar in alle lande het ons die geleentheid om vooroordeel uit die weg te ruim en ’n goeie getuienis te lewer as ons beleefd, vriendelik en hulpvaardig is.
Teenstanders word die swye opgelê
19. (a) Wat kan ons verwag, aangesien ons nie mense probeer behaag nie? (b) Hoe moet ons probeer om Daniël se voorbeeld te volg en Petrus se raad toe te pas?
19 Jehovah se Getuies is nie daar om mense te behaag of te vrees nie (Spreuke 29:25; Efesiërs 6:6). Hulle besef terdeë dat teenstanders kwaadwillige leuens oor hulle sal versprei en van hulle sal kwaad spreek ten spyte van al hulle pogings om voorbeeldige belastingbetalers en goeie burgers te wees (1 Petrus 3:16). Omdat hulle dit weet, probeer hulle Daniël navolg, van wie sy vyande gesê het: “Ons sal teen hierdie Daniël geen enkele grond vir ’n aanklag vind nie, tensy ons dit teen hom vind in sy godsdiens” (Daniël 6:6). Ons sal nooit Bybelbeginsels prysgee om mense te behaag nie. Daarenteen probeer ons nie martelaars wees nie. Ons probeer in vrede lewe, en ons slaan ag op die apostoliese raad: “So is dit die wil van God dat julle deur goed te doen die onkunde van die dwase mense tot swye bring.”—1 Petrus 2:15.
20. (a) Waarvan is ons oortuig, en watter bemoediging het Jesus ons gegee? (b) Hoe kan ons voortgaan om in wysheid te wandel teenoor dié wat buite is?
20 Ons is daarvan oortuig dat ons afgeskeidenheid van die wêreld in volle ooreenstemming met die Bybel is. Dit word deur die geskiedenis van die eerste-eeuse Christene ondersteun. Ons word bemoedig deur Jesus se woorde: “In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin” (Johannes 16:33). Ons is nie bevrees nie. “En wie is dit wat julle kwaad sal aandoen as julle navolgers is van die goeie? Maar as julle ook moet ly ter wille van die geregtigheid, salig is julle. En vrees hulle glad nie, en wees nie ontsteld nie. Maar heilig die Here God in julle harte en wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is, met sagmoedigheid en vrees” (1 Petrus 3:13-15). Terwyl ons só optree, sal ons in wysheid wandel teenoor dié wat buite is.
Ter hersiening
◻ Waarom moet Jehovah se Getuies in wysheid wandel teenoor dié wat buite is?
◻ Waarom kan ware Christene nooit verwag dat die wêreld hulle sal liefhê nie, maar wat moet hulle probeer doen?
◻ Wat behoort ons gesindheid teenoor wêreldse mense te wees, en waarom?
◻ Waarom moet ons nie net aan ons broers ‘goed doen’ nie, maar ook aan dié wat buite is?
◻ Hoe help dit ons in ons openbare getuieniswerk as ons in wysheid wandel teenoor dié wat buite is?
[Prent op bladsy 18]
Links: Ware Christene in Frankryk help hulle bure ná ’n vloed
[Prent op bladsy 20]
Christelike dade van goedhartigheid kan baie daartoe bydra om vooroordeel te laat afneem
[Prent op bladsy 23]
Christene moet ‘tot elke goeie werk bereid wees’