Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 12/15 bl. 26-29
  • Soek welgevallige woorde, regte woorde’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Soek welgevallige woorde, regte woorde’
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Nuwe beleid
  • Index met jou in gedagte voorberei
  • Hoe die Index jou kan help
  • Van nut vir alle ouderdomsgroepe
  • Vervul ons Koninkryksbediening met behulp van die Index
    Ons Koninkryksbediening—1991
  • Gebruik die Index om geestelik te groei
    Ons Koninkryksbediening—1987
  • Hoe die gesin by die Index baat kan vind
    Ons Koninkryksbediening—1991
  • ’n Boek teen boeke
    Ontwaak!—2003
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 12/15 bl. 26-29

Soek welgevallige woorde, regte woorde’

“DIE Prediker [“byeenbringer”, NW] het gesoek om welgevallige woorde te vind en wat reg geskrywe is—woorde van waarheid” (Prediker 12:10). Hoe kosbaar kan ‘welgevallige, regte woorde’ wat op die geïnspireerde Skrif gegrond is tog wees! Hulle word vergelyk met “goue appels in versierde silwerborde”, en is kunstig en gepas by enige geleentheid en van onskatbare waarde onder spanningsvolle omstandighede.—Spreuke 25:11.

In ons dag het die Grotere Byeenbringer, Jesus Christus, geestelike hulpmiddele voorsien wat dié wat God se volk onder die eertydse Israelitiese konings geniet het ver oortref (Mattheüs 12:42). Welgevallige, regte woorde van waarheid oor alle aspekte van die lewe word reeds meer as ’n eeu lank in die Wagtoringgenootskap se publikasies uiteengesit en oral in baie tale versprei. Talle gesinne en enkelinge kon dus tuis hulle eie biblioteek van betroubare naslaanwerke opbou wat op die Bybel gegrond is. Daarbenewens het die meeste gemeentes van Jehovah se Getuies goed toegeruste biblioteke by hulle Koninkryksale.

Maar om die welgevallige, regte woorde te vind wat vir ’n bepaalde situasie nodig is, vereis nogtans navorsing. Omdat die Wagtoringgenootskap dit vroeg reeds besef het, is indekse van sy publikasies voorsien.—Sien die venster op bladsye 28 en 29.

’n Nuwe beleid

Die jaar 1985 het ’n nuwe tydperk in die geskiedenis van Watch Tower Publications Indexes ingelui. Nege vroeëre Indexes is saamgevoeg en verwerk in een bundel wat die jare van 1930 tot 1985 dek, ’n projek wat 14 manjare se harde werk geverg het. Die voordeel van so ’n Index wat baie jare dek, het in 1986 tot ’n nuwe beleid gelei—om voortaan bygewerkte Indexes te publiseer. Meestal gedurende vier agtereenvolgende jare sal ’n bygewerkte Index-brosjure elke jaar eers een, twee, drie en dan vier jaar dek. Elke vyfde jaar sal ’n hardeband-Index al die Indexes vanaf 1986 saamvat, soos 1986-90, 1986-95, ensovoort. Dit is derhalwe net nodig om drie Indexes te raadpleeg: die 1930-1985 Index, die jongste hardeband Index en die jongste brosjure.

Index met jou in gedagte voorberei

Die eerste deel in elke Index is ’n onderwerpindeks. In die voorbereiding van ’n onderwerpindeks word twee vrae in gedagte gehou: (1) Watter inligting moet in die indeks opgeneem word? (2) Waar sou iemand stellig na daardie inligting soek?

Jy, as leser, sal selde daarin belangstel om alle onbeduidende kommentare oor ’n onderwerp na te slaan. Aangesien ’n mens gewoonlik soek na inligting wat belangrik of werklik nuttig is, is dit die soort inligting wat vir opname in ’n indeks gekies word. Maar sulke materiaal hoef nie omvattend te wees nie. ’n Index-verwysing kan na net een kort sinnetjie verwys, soos ’n stelling van die Genootskap se beleid oor ’n saak. Of dit kan ’n hele artikel insluit, selfs ’n hele publikasie. Gewoonlik neem die verwysing jou egter na ’n bespreking van verskeie paragrawe.

Die vraag oor waar verwysings in die Index moet voorkom, is net so belangrik, want lesers verskil in hulle denke en sal onder verskillende opskrifte kyk. Inligting oor die toring van Babel verskyn byvoorbeeld onder TOWER OF BABEL. Maar sommige lesers sal miskien onder BABYLON, ARCHAEOLOGY of LANGUAGE(S) kyk, na gelang van die aspek van die onderwerp waarin hulle belangstel. Daarom het ons probeer om verwysings onder verskillende gepaste opskrifte te herhaal, met die feit in gedagte dat ons lesers mense van verskillende ouderdomsgroepe en agtergronde is, en dat hulle om verskillende redes navorsing doen.

Hoe die Index jou kan help

Net soos in die geval van ’n padkaart kan die Index jou alleenlik van nut wees as jy hom gebruik. Wat kan jy verwag om in die onderwerpindeks of in die Skrifindeks wat daarop volg, te vind?

Die Skrifindeks bevat verwysings na stof wat afsonderlike verse verduidelik. Jy kan ’n verduideliking vind van die agtergrond waarteen die woorde van ’n teks geuiter is, waarom dit geskryf is, op wie dit van toepassing is, of wat die betekenis van afsonderlike woorde of sinsnedes is. As voorbeeld kan ons die versoek in Jesus se modelgebed neem: “Lei ons nie in versoeking nie” (Mattheüs 6:13). Waarom is dit só gestel? Die Skrifindeks sal jou help om uit te vind.

Die onderwerpindeks is, soos die naam aandui, hoofsaaklik ’n indeks van onderwerpe eerder as van woorde of sinsnedes. Sommige lesers het al gesukkel as hulle ’n artikel volgens sy titel probeer opspoor. Hierdie probleem kan ontstaan as geen woord in die titel werklik die onderwerp aandui nie. ’n Voorbeeld hiervan is die artikel “Hoeveel is te veel?” wat die uitwerking van alkohol bespreek het. As ’n mens die inhoud van die artikel onthou, kan jy na die opskrifte ALCOHOLIC BEVERAGES of DRINKING in die Index blaai, en daar sal jy die verwysing na die artikel vind.

Die Index kan van besondere waarde wees om inligting te vind oor probleme waarmee jy te kampe het. Voel jy, indien jy ’n ouer is, somtyds byvoorbeeld gefrustreerd in jou poging om jou kinders te dissiplineer en te rig? Onder CHILDREN sal jy verwysings vind na baie stof wat ’n mens ’n insig in hulle denke, gevoelens en behoeftes gee. Maar onder die opskrif CHILD TRAINING sal jy verwysings vind oor alle aspekte van onderrigting en dissiplinering.

Die Wagtoringgenootskap ontvang van tyd tot tyd briewe waarin hulp gevra word om huweliksprobleme op te los of wat vrae bevat oor die gepastheid van sekere intieme huweliksake. Hoewel die Genootskap die antwoord kan verstrek, kan dieselfde sensitiewe, praktiese raad gevind word as jy na die opskrif MARRIAGE, met sy tussenhofies “problems”, “sex” en “sexual relations”, blaai en die verwysings wat daar aangegee word, naslaan.

Briewe word ook ontvang van mense wat aan depressie of ’n geestesongesteldheid ly. Die herversekering en hulp wat per pos gegee kan word, kan gouer in jou eie biblioteek of in die een by ’n plaaslike Koninkryksaal gevind word deur die opskrifte DEPRESSION en MENTAL ILLNESS in die Index na te gaan. Daar vind ’n mens verwysings na artikels wat verduidelik hoe om geestesiektes te verwerk, watter vorms van behandeling beskikbaar is en hartroerende ondervindinge van diegene wat aan depressie gely het.

Is jy ’n jongmens? Miskien het jy vrae oor die huwelik, gesinslewe, die skool, jou verwantskap met jou ouers, ensovoort. Die hoofopskrif YOUTHS het verwysings onder al hierdie tussenhofies en meer. Daarbenewens sal jy nog baie meer inligting vind onder opskrifte soos RELATIONSHIPS, SCHOOLS, CAREER en COURTSHIP. Vir skooltake kan die Index jou na uitstekende stof oor die natuur, die wetenskappe, dwelmmiddels, ekonomie en menige ander onderwerp neem.

Van nut vir alle ouderdomsgroepe

’n Een-en-tagtigjarige vrou het geskryf: “Die boeke en tydskrifte is so ’n goudmyn van inligting en geestelike versterking—en die Index bring die goud na die oppervlak.” ’n Moeder wie se kinders agt en nege jaar oud is, het gesê: “Ek wonder nou hoe ek ooit daarsonder klaargekom het. Dit het my gelei na die antwoorde op baie vrae waaroor ek lank gewonder het en het navorsing tydens voorbereiding vir gemeentelike vergaderinge baie vergemaklik. . . . Ek wil julle ook graag vertel hoe hierdie publikasie ons gesinsbybelstudie bevorder het. . . . Wanneer my man die dogters ’n geleentheid gee om te kies wat hulle graag wil doen, wil hulle dikwels navorsing met behulp van hierdie Index doen. Hulle geniet dit om ’n onderwerp te kies waarin hulle belangstel, soos die diere waarvan hulle die meeste hou of verskillende lande, en hulle kan die inligting met baie min hulp self naslaan. Dit het hulle ook geleer dat Bybelstudie pret is.”

Die soeke na welgevallige woorde en regte woorde van waarheid hou beloninge van onskatbare waarde in. Die Byeenbringer se pogings het baie groter voordele meegebring as wat hy aanvanklik beoog het, want Jehovah se knegte word tot vandag toe nog deur hierdie woorde aangemoedig en gerig. Ons soortgelyke pogings bring ook Jehovah se seën mee, met resultate wat ewigdurend kan wees.—Spreuke 3:13-18, 21-26.

[Venster/Prent op bladsy 28, 29]

Vroeëre indekse

In 1902 is ’n spesiale uitgawe van die Holman Parallel Edition Bible vir die Wagtoringgenootskap gedruk, en dit het omvattende hulpe bevat wat deur die Genootskap voorberei is. Sy aanhangsel het ’n onderwerpindeks asook ’n Skrifindeks bevat van die stel boeke die Millennial Dawn (later bekend as Studies in the Scriptures), twee van die vernaamste boekies en Zion’s Watch Tower vir 1879-1901.

Die uitgawe van The Berean Bible van 1907 en dié daarna het soortgelyke indekse bevat. Hulle is in 1922 vervang deur volledige indekse van al die Genootskap se publikasies. Hierdie indekse het verskyn in die laaste sewe bundels van Watch Tower-herdrukke (1879-1919). Tot vandag toe dien laasgenoemde nog as die vernaamste hulpmiddel om inligting op te spoor wat in die vroeëre publikasies van die Wagtoringgenootskap verskyn het.

Vir die daaropvolgende 40 jaar moes navorsing in die publikasies wat ná 1919 verskyn het met behulp van talle afsonderlike indekse gedoen word wat agter in boeke en in die laaste tydskrifnommer van elke jaar verskyn het. Maar in 1959 het die Genootskap ’n reusetaak aangepak om ’n onderwerp- en Skrifindeks van sy Engelse publikasies in een bundel te voorsien. ’n Span is saamgestel wat bestaan het uit lede van die hoofkwartierpersoneel, sendelinggegradueerdes van die Wagtoring-Bybelskool Gilead en selfs reisende opsieners van New York-stad. Na anderhalf jaar van harde werk deur 18 toegewyde werkers is die eerste Watch Tower Publications Index vrygestel. Dit het dele bevat oor onderwerpe wat bespreek is asook oor Skriftekste wat verduidelik is en het die 31 jaar van 1930 tot 1960 gedek. Hierdie indeks is in 1961 by die Verenigde Aanbidders-Byeenkomste vrygestel.

Sedertdien het daar elke jaar ’n Watch Tower Publications Index in Engels verskyn en elke vyf jaar ’n bygewerkte Index in hardeband.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel