Wees gesond van verstand—Die einde is naby
“Die einde van alle dinge het naby gekom. Wees dan gesond van verstand en wees waaksaam met die oog op gebede.”—1 PETRUS 4:7, NW.
1. (a) Watter teleurstelling het een godsdiensleier en sy volgelinge gehad? (b) Watter vrae kan ons vra, aangesien sekere verwagtinge nie vervul is nie?
“EK HET tydens vanaand se slotgebed ’n boodskap van God ontvang. Hy het gesê dat 116 000 mense hemel toe sal vaar en dat 3,7 miljoen gelowiges se grafte hemelwaarts sal oopgaan.” Dit is wat ’n leier van die Sending van die Komende Dae gesê het op die vooraand van 28 Oktober 1992, hulle voorspelde dag van afrekening. Maar toe 29 Oktober aangebreek het, was niemand hemel toe en het geen grafte van die dooies oopgegaan nie. Pleks van vinnig in ’n hemelse wegraping weggevoer te word, het diegene in Korea wat in die oordeelsdag glo net nog ’n dag sien aanbreek. Oordeelsdagdatums het al gekom en gegaan, maar diegene wat die oordeelsdag verkondig, gaan onverskrokke voort. Wat moet Christene doen? Moet hulle ophou glo dat die einde vinnig nader kom?
2. Wie het vir die apostels van ’n toekomstige oordeelsdag vertel, en onder watter omstandighede het hulle daarvan te hore gekom?
2 Om dié vrae te beantwoord, kan ons gerus terugdink aan die geleentheid toe Jesus ’n privaat gesprek met sy dissipels gevoer het. Daar, in die streek van Cesarea-Filippi, noordoos van die See van Galilea, met die majestueuse berg Hermon in die agtergrond, het hulle hom reguit hoor sê dat hy doodgemaak sou word (Mattheüs 16:21). Nog ernstige woorde sou later volg. Nadat Jesus aan hulle verduidelik het dat dissipelskap beteken om voortdurend ’n selfopofferende lewe te lei, het hy gewaarsku: “Die Seun van die mens staan gereed om met sy engele in die heerlikheid van sy Vader te kom, en dan sal Hy elkeen vergeld volgens sy dade” (Mattheüs 16:27). Jesus het van ’n toekomstige koms gepraat. Maar dan sal hy ’n Regter wees. Dan sal alles daarvan afhang of ’n persoon hom getrou volg of nie. Jesus sal ’n persoon op grond van sy gedrag oordeel, ongeag hoeveel wêreldse besittings hy dalk het of nie het nie. Sy dissipels moes hierdie feit goed in gedagte hou (Mattheüs 16:25, 26). Dit is derhalwe Jesus Christus self wat vir sy volgelinge sê om uit te sien na sy glorieryke koms wanneer hy die oordeel gaan voltrek.
3. Hoe het Jesus getoon dat hy beslis in die toekoms gaan kom?
3 Wat Jesus vervolgens sê, toon dat hy beslis in die toekoms gaan kom. Met gesag sê hy: “Voorwaar Ek sê vir julle, daar is sommige van die wat hier staan, wat die dood sekerlik nie sal smaak voordat hulle die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom het nie” (Mattheüs 16:28). Hierdie woorde is ses dae later vervul. ’n Luisterryke visioen van Jesus se verheerliking laat sy intieme metgeselle verstom staan. Hulle sien met hulle eie oë hoe Jesus se gesig soos die son skyn en hoe sy klere skitterwit is. Die verheerliking was ’n voorskou van Christus se heerlikheid en Koninkryk. Wat ’n geloofversterkende bevestiging van die Koninkryksprofesieë! Wat ’n kragtige aansporing vir die dissipels om gesond van verstand te wees!—2 Petrus 1:16-19.
Waarom dit noodsaaklik is om gesond van verstand te wees
4. Waarom moet Christene geestelik waaksaam wees wat sy koms betref?
4 Minder as ’n jaar later sit Jesus op die Olyfberg, waar hy weer ’n privaat gesprek met sy dissipels voer. Terwyl hulle oor die stad Jerusalem uitkyk, verduidelik hy wat die teken van sy toekomstige teenwoordigheid sal wees en waarsku dan: “Waak dan, omdat julle nie weet watter uur julle Here kom nie.” Sy volgelinge moet voortdurend waaksaam wees omdat hulle nie weet wanneer hy kom nie. Hulle moet altyd daarvoor gereed wees.—Mattheüs 24:42.
5. Hoe kan die noodsaaklikheid van waaksaamheid geïllustreer word?
5 Die koms van die Here kom ooreen met dié van ’n dief. Hy sê voorts: “Maar weet dit: as die huisheer geweet het in watter nagwaak die dief sou kom, sou hy gewaak en nie toegelaat het dat in sy huis ingebreek word nie” (Mattheüs 24:43). ’n Inbreker laat nie die huisbewoner weet wanneer hy gaan inbreek nie; verrassing is sy vernaamste taktiek. Daarom moet die huisbewoner voortdurend waaksaam wees. Maar die getroue Christen se onvermoeide waaksaamheid is nie as gevolg van enige vrees nie. Sy waaksaamheid spruit voort uit ’n gretige verwagting van Christus se koms in heerlikheid om ’n Millennium van vrede in te lei.
6. Waarom moet ons gesond van verstand wees?
6 Ongeag hoe waaksaam ’n mens is, niemand sal ooit voor die tyd die presiese dag kan raai waarop hy sal kom nie. Jesus sê: “Daarom moet julle ook gereed wees, want die Seun van die mens kom op ’n uur dat julle dit nie verwag nie” (Mattheüs 24:44). Daarom is dit belangrik om gesond van verstand te wees. As ’n Christen sou dink dat Christus nie op ’n sekere dag sal kom nie, is dit miskien presies die dag waarop hy kom! Welmenende, getroue Christene het natuurlik in die verlede opreg probeer om te voorspel wanneer die einde sou kom. Maar Jesus se waarskuwing was keer op keer waar: “Maar van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen.”—Mattheüs 24:36.
7. Hoe moet ons ons lewe lei as ons volgelinge van Christus wil wees?
7 Wat moet ons dus hieruit aflei? Dat ons lewe, as ons volgelinge van Christus wil wees, altyd moet toon dat ons glo die einde van hierdie bose stelsel is op hande.
8. Wat is sedert die vroegste tye van die Christelike geloof reeds ’n kenmerk van Christene?
8 Hierdie gesindheid was nog altyd ’n kenmerk van Christene, soos sekulêre geskiedskrywers en Bybelgeleerdes erken. Die redakteurs van The Translator’s New Testament sê byvoorbeeld in hulle woordelys onder “Day”: “Christene van die N[ieu-]T[estamentiese] tye het in verwagting van die Dag gelewe, (dit is die tyd) wanneer die huidige wêreld met al sy boosheid en goddeloosheid ten einde sal loop en Jesus na die aarde sal terugkeer om die hele mensdom te oordeel, ’n nuwe era van vrede in te lei en met sy Heerskappy oor die hele aarde te begin.” Die Encyclopædia Britannica sê: “Die unieke wêreldwye uitbreiding van die Christelike godsdiens hou regstreeks verband met die Christelike verwagting van die eindtyd, in die vorm van ’n verwagting dat die koms van Christus voor die deur is. Die Christelike verwagting van die eindtyd het nooit net uit ’n passiewe verlange na die koms van God se Koninkryk bestaan nie.”
Wat dit beteken om gesond van verstand te wees
9. Waarom kon Petrus vol vertroue bly al was sommige van sy verwagtinge oor die Messias verkeerd?
9 Ongeveer 30 jaar ná daardie privaat gesprek wat Jesus met sy intieme dissipels gehad het, het die apostel Petrus steeds nie moeg geword om te wag dat die einde moes kom nie. Al was Petrus en sy mededissipels se aanvanklike verwagting oor die Messias verkeerd, het hy bly vertrou dat Jehovah se liefde en krag die verwesenliking van hulle hoop waarborg (Lukas 19:11; 24:21; Handelinge 1:6; 2 Petrus 3:9, 10). Hy spreek ’n gedagte uit wat deurgaans in die Griekse Geskrifte aangetref word wanneer hy sê: “Die einde van alle dinge het naby gekom.” Daarna spoor hy mede-Christene aan: “Wees dan gesond van verstand en wees waaksaam met die oog op gebede.”—1 Petrus 4:7.
10. (a) Wat beteken dit om gesond van verstand te wees? (b) Wat behels dit om sake ooreenkomstig God se wil te sien?
10 Om “gesond van verstand” te wees, beteken nie om uit ’n wêreldse standpunt wys te wees nie. Jehovah sê: “Ek sal die wysheid van die wyse mense vernietig en die verstand van die verstandige mense tot niet maak” (1 Korinthiërs 1:19). Die woord wat Petrus gebruik, kan beteken “om nugter denkend te wees”. Hierdie geestelike nugterheid hou met ons aanbidding verband. Omdat ons bestendig in ons verstand is, sien ons dus hoe dinge by Jehovah se wil inpas; ons verstaan watter dinge belangrik is en watter nie is nie (Mattheüs 6:33, 34). Al is die einde naby, word ons nie deur ’n waansinnige lewenstyl meegesleur nie; ons is ook nie onverskillig teenoor die tyd waarin ons lewe nie. (Vergelyk Mattheüs 24:37-39.) Ons word eerder beheers deur matigheid en balans in ons denke, gesindheid en gedrag, wat teenoor God (“waaksaam met die oog op gebede”) en daarna teenoor ons naaste (‘julle moet mekaar vurig liefhê’) getoon word.—1 Petrus 4:7, 8.
11. (a) Wat beteken dit om ‘nuutgemaak te word in die krag wat ons denke aandryf’? (b) Hoe help ’n nuwe geestesgesindheid ons om goeie besluite te neem?
11 Om gesond van verstand te wees, behels dat ons ‘nuutgemaak word in die krag wat ons denke aandryf’ (Efesiërs 4:23, NW). Waarom nuutgemaak word? Omdat ons onvolmaaktheid geërf het en in ’n sondige omgewing lewe, word ons verstand beheers deur ’n neiging wat geestelikheid teëwerk. Daardie krag stuur ons gedagtes en neigings voortdurend in ’n materialistiese, selfsugtige rigting. Wanneer iemand ’n Christen word, het hy dus ’n nuwe krag, of oorheersende geestesgesindheid, nodig wat sy denke in die regte rigting, die geestelike rigting, sal stuur sodat hy gewillig selfopofferend sal wees. Wanneer hy dus byvoorbeeld voor ’n keuse te staan kom in verband met onderrig, ’n loopbaan, werk, vermaak, ontspanning, kleredrag of wat ook al sal hy geneig wees om die saak heel eerste uit ’n geestelike oogpunt pleks van uit ’n vleeslike, selfsugtige oogpunt te beskou. Hierdie nuwe geestesgesindheid maak dit makliker om besluite te neem wat beïnvloed word deur ’n gesonde verstand en die wete dat die einde naby is.
12. Hoe kan ons “gesond in die geloof” bly?
12 Om gesond van verstand te wees, beteken dat ons goeie geestelike gesondheid geniet. Hoe kan ons “gesond in die geloof” bly? (Titus 2:2). Ons moet ons verstand met die regte soort voedsel voed (Jeremia 3:15, NW). ’n Bestendige voedingsprogram uit God se Woord van waarheid wat deur die werking van sy heilige gees ondersteun word, sal ons help om ons geestelike balans te handhaaf. Daarom is gereelde persoonlike studie, asook velddiens, gebed en Christelike assosiasie, baie belangrik.
Hoe gesonde verstand ons beskerm
13. Hoe beskerm gesonde verstand ons daarteen om dom foute te begaan?
13 Gesonde verstand kan ons daarteen beskerm om ’n dwase fout te begaan wat ons ons ewige lewe kan kos. Hoe is dit moontlik? Die apostel Paulus praat van “die wet van [die] verstand”. Vir ’n persoon wat gesond in die geloof is, word daardie wet van die verstand beheers deur iets waarin hy behae skep, naamlik “die wet van God”. “Die wet van die sonde” voer weliswaar ’n stryd teen die wet van die verstand. Maar die Christen kan met Jehovah se hulp seëvier.—Romeine 7:21-25, NW.
14, 15. (a) Watter twee invloede stry om die verstand te beheers? (b) Hoe kan ons die stryd van ons verstand oorwin?
14 Paulus gaan voort deur die verstand wat deur die sondige vlees oorheers word en om ’n lewe van genotsug draai skerp te kontrasteer met die verstand wat deur God se gees oorheers word en om ’n selfopofferende lewe in Jehovah se diens draai. Paulus skryf in Romeine 8:5-7: “Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie.”
15 In vers 11 verduidelik Paulus dan hoe die verstand wat met die heilige gees saamwerk die oorwinning behaal: “As die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.”
16. Teen watter verloklikhede beskerm ’n gesonde verstand ons?
16 As ons gesond van verstand is, sal ons gevolglik nie deur hierdie wêreld se alomteenwoordige verloklikhede, wat gekenmerk word deur grootskaalse genotsug na alle soorte plesier, materiële dinge en seksuele wangedrag, verlei word nie. Ons gesonde verstand sal vir ons sê om te “vlug vir hoerery”, en sodoende sal ons die rampspoedige gevolge daarvan vryspring (1 Korinthiërs 6:18). Ons gesonde geestesgesindheid sal ons beweeg om Koninkryksbelange eerste te stel en sal ons denke beskerm wanneer ons in die versoeking kom om ’n sekulêre loopbaan te aanvaar wat ons verhouding met Jehovah kan verswak.
17. Hoe het ’n pioniersuster gesonde verstand aan die dag gelê toe sy voor geldelike verpligtinge te staan gekom het?
17 In ’n tropiese land in suidoostelike Asië is daar byvoorbeeld ’n jong suster wat Koninkryksbelange wel eerste gestel het. Sy het ’n liefde vir die voltydse bediening aangekweek. In daardie land vereis ’n sekulêre werk dat ’n mens ses of sewe dae voltyds werk. Nadat sy haar universiteitsopleiding voltooi het, het haar vader, wat nie een van Jehovah se Getuies is nie, van haar verwag om baie geld vir die gesin te verdien. Maar aangesien sy baie graag ’n pionier wou wees, het sy ’n deeltydse werk gekry en die pionierdiens betree. Dit het haar vader woedend gemaak, en hy het gedreig om haar besittings in die straat te gooi. Weens sy dobbelary was hy diep in die skuld, en hy het verwag dat sy dogter sy skuld moes betaal. Haar jonger broer was op universiteit, en weens al die skuld was daar nie geld om sy klasgeld te betaal nie. Haar jonger broer het belowe as sy hom help, sal hy vir die gesin sorg wanneer hy ’n werk kry. Haar hart was verdeel tussen haar liefde vir haar broer en haar liefde vir die pionierdiens. Nadat sy die saak noukeurig oorweeg het, het sy besluit om met haar pionierdiens voort te gaan en ’n ander werk te soek. In antwoord op haar gebed het sy ’n goeie werk gekry sodat sy nie net haar gesin en broer geldelik kon help nie, maar met haar eerste liefde, die pionierdiens, kon voortgaan.
Vra Jehovah se hulp om ’n gesonde verstand te behou
18. (a) Waarom voel party mense dalk mismoedig? (b) Watter tekste kan diegene vertroos wat mismoedig is?
18 Party van Christus se volgelinge vind dit dalk moeilik om hulle gesonde verstand te behou. Hulle geduld begin dalk opraak omdat hierdie huidige bose stelsel langer aanhou as wat hulle verwag het. Hulle voel dalk mismoedig. Die einde sal egter kom. Jehovah belowe dit (Titus 1:2). En sy beloofde aardse Paradys sal ook kom. Jehovah waarborg dit (Openbaring 21:1-5). Wanneer die nuwe wêreld wel kom, sal daar “’n lewensboom” wees vir almal wat hulle gesonde verstand behou het.—Spreuke 13:12.
19. Hoe kan gesonde verstand behou word?
19 Hoe kan ons ’n gesonde verstand behou? Vra Jehovah se hulp (Psalm 54:6). Bly na aan hom. Hoe verheug is ons tog dat Jehovah wil hê ons moet ’n hegte verhouding met hom aanknoop! “Nader tot God, en Hy sal tot julle nader”, skryf die dissipel Jakobus (Jakobus 4:8). Paulus sê: “Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle! Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby. Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus” (Filippense 4:4-7). En wanneer die sorge van hierdie sterwende ou stelsel te groot lyk om verder te dra, moet jy dit op Jehovah werp, en hy sal jou onderhou.—Psalm 55:23.
20. In watter weg moet ons volgens 1 Timotheüs 4:10 voortgaan?
20 Ja, die einde is naby, daarom moet ons gesond van verstand wees! Dit was 1 900 jaar gelede goeie raad; vandag is dit lewensbelangrike raad. Laat ons voortgaan om ons gesonde verstandelike vermoëns te gebruik om Jehovah te loof terwyl hy voortgaan om ons veilig tot in sy nuwe wêreld te lei.—1 Timotheüs 4:10.
Hoe sou jy antwoord?
◻ Wat beteken dit om gesond van verstand te wees?
◻ Waarom is dit so noodsaaklik om gesond van verstand te wees?
◻ Hoe kan ons nuutgemaak word in die krag wat ons denke aandryf?
◻ Watter voortdurende stryd moet ons in ons verstand voer?
◻ Hoe behou ons ’n gesonde verstand?
[Prent op bladsy 15]
As ons nader aan God kom deur te bid, help dit ons om gesond van verstand te bly
[Prent op bladsy 17]
As ons gesond van verstand is, sal ons nie deur hierdie wêreld se verloklikhede verlei word nie