Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w93 5/15 bl. 23-26
  • Hulle vind ware rykdom in Hongkong

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hulle vind ware rykdom in Hongkong
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Onderhofies
  • Hulle het geestelike rykdom gevind
  • Hulle word ryk in God
  • Baie ander word gehelp om ware rykdom te vind
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
w93 5/15 bl. 23-26

Hulle vind ware rykdom in Hongkong

HONGKONG is ’n plek waar ’n mens in ’n kort tydjie baie geld kan maak—as al die faktore in jou guns tel. Gedurende die afgelope sowat 40 jaar het hierdie Britse kolonie gegroei van ’n stil hawe tot ’n ekonomiese krag waarmee daar, nie net in Suidoos-Asië nie, maar ook op die wêreldwye saketoneel, rekening gehou moet word.

’n Lae belastingkoers lok buitelandse beleggers en dien as ’n aansporing vir die hardwerkende arbeidsmag wat onder die sesmiljoen inwoners van Hongkong te vind is. Sy ligging as die poort tussen suidelike China en die Asiaties-Pasifiese streek en gebiede verder weg is ook gunstig. Met moderne vervoer- en kommunikasiestelsels en ’n goed ontwikkelde groothandel- en kleinhandelsnetwerk is Hongkong toegerus om vinnig op die eise van die internasionale handelswese te reageer.

As gevolg van Hongkong se ekonomiese sukses het hy een van die hoogste lewenstandaarde ter wêreld. Maar het al die materiële voorspoed vergenoegdheid en blywende geluk vir Hongkong se inwoners gebring? Nee, maar party het ’n soort rykdom gesoek en gevind wat veel beter is.

Hulle het geestelike rykdom gevind

Onder diegene wat onskatbare geestelike rykdom gevind het, is Alfred, wat in Hongkong gebore is. Hy het ’n suksesvolle beroep gehad as ’n direkteur van ’n internasionale sakekonglomeraat waarvan die hoofkantoor in Brittanje was. Soos baie ander in Hongkong was dit sy doel in die lewe om baie geld te verdien, sy eie huis te hê, goed te eet en ’n goeie lewe te lei. Met sy posisie en inkomste het dit gelyk asof hy dit alles bereik het. Maar was hy gelukkig? “Ek het deur ondervinding geleer dat geld werklik perke het”, het Alfred gekla. Hy het hom voortdurend bekommer oor hoe lank hy met sy spaargeld sou kon uitkom as hy sy werk sou verloor. Toe hy meer tyd aan sy werk bestee het, het gesinsprobleme begin ontwikkel. Sy vrou, Emily, was baie ontsteld toe hulle seun skielik oorlede is. “Ek wou weet waar hy was sodat ek iets kon doen om hom te help”, het sy gesê. Omdat sy niks kon doen nie, het sy baie depressief geraak.

Justina het op ’n vroeë ouderdom haar vader verloor. Maar deur haar op haar studies toe te lê, het sy aan die vername Universiteit van Hongkong gegradueer. Dit het daartoe gelei dat sy ’n regeringspos gekry het. In Kantonnees word dit goem fan woon, ’n goue rysbak, genoem—werksekuriteit en ’n goeie salaris. Tog was Justina nie gelukkig of tevrede nie. Sy het dikwels gewonder wat die doel van die lewe is en wat die toekoms inhou. Haar man, Francis, het ook gevoel dat die lewe doelloos is. Hy het soos ’n ratjie in ’n reusemasjien gevoel, ’n niemand, vasgevang in ’n eindelose roetine.

Dan is daar Ricky, ’n bestuurder van ’n sakeonderneming. Hoewel hy baie geld gemaak het, het hy ’n ander sy van die lewe begin sien—moordende mededinging onder medewerkers en probleme in sy huwelik. Geld kon hom nie help om hierdie probleme op te los nie. Vir sy vrou, Wendy, het ’n goeie beroep, oorgenoeg geld en die lewe in ’n polities bestendige gemeenskap sekuriteit beteken. Maar hoe lank sou haar skynbaar veilige lewe voortduur? Dit het haar gepla omdat die werklikheid van die dood haar laat voel het dat haar lewe sinloos en doelloos is.

David het sý verhaal om te vertel. Sy universiteitsopleiding het vir hom ’n goeie werk en ekonomiese sekuriteit gebring, maar hy het geen bevrediging gevind nie. Waarom nie? Hy was diep betrokke by evolusie en filosofie, en hy het geglo dat die lewe nie ná hierdie huidige bestaan voortduur nie. David het gemeen dat daar niks is waarna hy kan uitsien nie, en al sy materiële rykdom het nie gekeer dat hy hulpeloos gevoel het nie.

Hoewel hierdie individue ietwat verskillende agtergronde gehad het, het hulle een ding gemeen gehad. Hulle het almal dít bereik wat hulle gedink het hulle ’n lewe van geluk en tevredenheid sou bring. Maar toe hulle die punt bereik het waar hulle gedink het hulle drome verwesenlik sou wees, was hulle lewe leeg.

Hulle word ryk in God

Alfred, Justina en die ander wat so pas genoem is se situasie was baie soos dié van die ryk man in Jesus se gelykenis. Hy ‘het vir homself skatte vergader, maar was nie ryk in God nie’ (Lukas 12:21). Gelukkig hét hulle iets beter gevind—’n lewe gevul met ware rykdom. Diegene wat ware geluk en tevredenheid begeer, moet “nie hulle hoop . . . stel op die onsekerheid van die rykdom nie, maar op die lewende God wat ons alles ryklik verleen om te geniet” (1 Timotheüs 6:17). Ja, deur die ware God, Jehovah, te leer ken en hulle vertroue in hom te stel, het die verskil gemaak in die lewe van elkeen van hierdie individue. Kom ons kyk hoe dit alles gebeur het.

Alfred en Emily was verpletter deur die skielike dood van hulle seun, en al hulle materiële dinge kon nie hulle pyn verlig nie. Hulle het kerk toe gegaan, maar steeds leeg en onvergenoeg gevoel. Toe het een van Jehovah se Getuies aan hulle deur geklop en gevra: “Wat is die mensdom se hoop vir die toekoms?” Alfred het geantwoord op grond van wat hy in die kerk oor die hemel en die hel geleer het. Hy is egter in die Bybel gewys dat die dooies ‘glad niks weet nie’ en dat diegene wat in God se gedagtenis is in die mensdom se gemeenskaplike graf op ’n opstanding wag (Prediker 9:5, 10; Johannes 5:28, 29). Dit het vir Alfred logies en redelik geklink. Nou het hy besef dat sy seun nie êrens ly nie, maar dat hy in die dood slaap met die hoop om dalk deur ’n opstanding met sy gesin herenig te word. Wat ’n vertroosting en ’n verligting! Mettertyd het Alfred en sy vrou ’n tuisbybelstudie aanvaar en op die weg begin wat hulle ’n stewige houvas sou gee op die ware rykdom wat die Bybel bied.

Dit was vir Justina ’n ontnugtering dat haar medewerkers nie gewillig was om te help om na ander om te sien nie. As ’n vroom Katoliek het dit haar gefrustreer om te sien dat die priester rook en gaan dans, net soos ander mans. Toe het sy met Jehovah se Getuies in aanraking gekom en bevredigende skriftuurlike antwoorde op baie vrae begin kry. Die priester het haar niks behalwe sy eie persoonlike opinie gegee nie, en hoewel sy ’n gereelde kerkganger en 10 jaar lank ’n leke-werker vir die kerk was, het sy in 16 jaar nie ’n Bybel oopgemaak nie.

Terwyl die Getuies die Bybel met Justina en haar man, Francis, gestudeer het, is hy beïndruk deur hulle wêreldwye eenheid in oortuiging en optrede. Francis het oortuig geraak dat God ’n werklikheid is. Slegs ’n lewende, ware God kan per slot van rekening so ’n invloed oor ’n internasionale groep mense uitoefen. Hoe gelukkig is hierdie egpaar dat hulle ware rykdom gevind het!

Ricky en Wendy het besef dat hulle iets moes doen toe hulle sien dat hulle geleidelik deur ernstige persoonlike probleme verswelg raak. Aangesien hulle albei in die verlede met Jehovah se Getuies kontak gehad het, het hulle afsonderlik die inisiatief geneem om hulle weer op te spoor. Deur ’n ernstige poging aan te wend, het Ricky en Wendy nie net praktiese oplossings vir hulle probleme gevind nie, maar ook ware rykdom in ’n persoonlike verhouding met “die gelukkige God”, Jehovah.—1 Timotheüs 1:11, NW.

David se lewe het ook verander toe Jehovah se Getuies hom besoek het. Met die voorneme om hulle foute bloot te lê, het hy ingestem dat hulle kan terugkom. Mettertyd is sy oë egter geopen, want hy het begin sien dat die Bybel wetenskaplik, geskiedkundig en andersins akkuraat is. Dit alles het David gehelp om die Bybel te beskou as ’n boek van waarheid wat hom ’n ware doel in die lewe gegee het. Wat ’n gelukkige en verrykende verandering was dit vir hom!

Baie ander word gehelp om ware rykdom te vind

Alfred, Emily, Justina, Francis en die ander wat hier genoem is, is maar net ’n paar onder die wemelende bevolking van Hongkong wat die ware rykdom van Bybelwaarheid en geloof in Jehovah God gevind het. In 1992 het ongeveer 2 600 Getuies van Jehovah altesaam byna 900 000 uur daaraan spandeer om die mense van Hongkong te besoek en meer as 3 800 tuisbybelstudies met hulle te hou. Maar die lewe in Hongkong is gejaagd, en mense is besig. Behalwe om mense van huis tot huis te besoek, het Koninkrykverkondigers dus baie sukses in die straatgetuieniswerk. Hulle kom ook met mense by hulle werkplek in aanraking deur kantoorwerkers, winkeleienaars, boere en manne wat van hulle visvangste in die Suid-Chinese See terugkeer, te besoek.

In Hongkong kan daar waarlik gesê word “die oes is wel groot, maar die arbeiders min” (Mattheüs 9:37). Op die oomblik is daar 1 Getuie vir elke 2 300 van die bevolking. Omdat hulle besef hoe dringend die oeswerk is, is byna 600 van die 2 600 Koninkryksverkondigers daar pioniers, of voltydse verkondigers van die goeie nuus. Jehovah se Getuies in Hongkong, soos diegene elders, besef dat ‘die seën van die HERE jou ryk maak’ (Spreuke 10:22). Gevolglik werk hulle baie hard om nog baie meer mense in daardie vooruitstrewende gemeenskap te help om ware rykdom te vind.

[Kaart op bladsy 23]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

SUID-CHINESE SEE

CHINA

Hongkong

Kilometer

Myl

15

15

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel