Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w93 5/1 bl. 4-7
  • Die Bybel—’n Praktiese gids vir die hedendaagse mens

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Bybel—’n Praktiese gids vir die hedendaagse mens
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Versamel praktiese wysheid
  • ’n Praktiese boek vir die hedendaagse lewe
    ’n Boek vir alle mense
  • Hoe om stres te beheer
    Ontwaak!—2010
  • Stres—Jy kan iets doen!
    Ontwaak!—1998
  • Stres—Jy kan dit die hoof bied!
    Ontwaak!—2005
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
w93 5/1 bl. 4-7

Die Bybel—’n Praktiese gids vir die hedendaagse mens

“Die hele skrif is deur God geïnspireer en is nuttig . . . om mense se lewe te rig.”—2 Timotheüs 3:16, “The Jerusalem Bible”.

HIERDIE teks verduidelik die hoofrede waarom die Bybel praktiese sin vir ons dag het. Dit is deur God geïnspireer. Aangesien God ons geskep het, weet niemand meer as hy oor ons liggaam, verstand, gevoelens en behoeftes nie. Die Israelitiese koning Dawid het eenkeer oor Jehovah God gesê: “U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe” (Psalm 139:16). Indien ons Skepper so baie van ons weet, is dit logies dat sy raad en voorligting oor hoe ons gelukkig kan leef en sukses kan behaal beslis die moeite werd is om te ondersoek.

Die ondervinding het getoon dat Bybelbeginsels prakties asook realisties vir ons dag is. Hulle is ook spesifiek. Hier volg vier voorbeelde wat toon watter praktiese waarde die Bybel vir ons alledaagse lewe inhou.

Menseverhoudinge en persoonlike gedrag: Die Bybel bevorder ’n goeie, persoonlike, etiese kode wat tot gesonde, suksesvolle verhoudinge met ander kan lei. Die nasie Israel is byvoorbeeld beveel: “Jy mag nie wraakgierig of haatdraend . . . wees nie, maar jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Levitikus 19:18). Hoewel ons nie onder die Israelitiese wet is nie, kan die toepassing van die Bybelse beginsels daarin ons help om in vrede met ons medemens saam te leef. Stel jou byvoorbeeld voor hoeveel probleme opgelos kan word as almal probeer om die geestelike eienskappe aan te kweek wat in Galasiërs 5:22, 23 gevind word: “Die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. Teen sulke dinge is die wet nie.”—Vergelyk Romeine 8:5, 6.

Ongelukkig ontstaan daar dikwels spanning en wrywing wanneer die druk van die lewe toeneem. In sulke situasies kan ons baie probleme vermy as ons die waarskuwende woorde in Spreuke 29:11 toepas. “’n Dwaas laat al sy toorn uitvaar, maar ’n wyse bring dit eindelik tot bedaring.”—Vergelyk Spreuke 15:1; Mattheüs 7:12; Kolossense 3:12-14.

Goeie raad—maar het dit werklik praktiese sin? Beskou die geval van ’n man in Frankryk wat ’n ernstige probleem met sy humeur gehad het. Hy het tallose kere in die moeilikheid, of selfs in die tronk, beland omdat hy by rusies betrokke geraak het. Die feit dat hy ’n uitstekende bokser was, het dit net erger gemaak. By een geleentheid het ’n rusie tussen hierdie man en sy vader ontstaan. Voor hy besef het wat gebeur, het hy sy vader met een hou platgeslaan. Dit het tot bittere onenigheid in hulle verhouding gelei.

Intussen het hierdie man met Jehovah se Getuies in aanraking gekom en Bybelbeginsels begin leer. Dit het hom beweeg om ernstig na te dink oor die wyse waarop hy hom teenoor ander gedra. Met baie inspanning het sy persoonlike gedrag begin verander, en hy het vredeliewender geword. Toe het die man eendag na sy vader teruggekeer om vrede te maak. Die vader was so beïndruk deur die veranderinge wat sy seun gemaak het dat hulle verhouding herstel is.

Dit is een van die talle voorbeelde wat toon hoe waar die woorde van die apostel Paulus is: “Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard . . . en is ’n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.”—Hebreërs 4:12.

Die gesinslewe: Is jou gesin gelukkig? Baie gesinne is nie. “Dit is nou ’n feit dat die gesinslewe as ’n instelling bedreig word”, sê The Natal Witness, ’n Suid-Afrikaanse koerant, en voeg by dat “vandag se kinders in ’n maatskaplike omwenteling gebore word”.

Maar die Bybel is propvol praktiese raad wat gesinne kan help om welslae te behaal selfs wanneer probleme ontstaan. Die Bybel sê byvoorbeeld oor die man se rol: “Mans [behoort] hul eie vroue lief te hê soos hul eie liggame.” Wanneer die man aan hierdie vereiste voldoen, is dit vir sy vrou ’n plesier om hom op gelyke wyse te behandel deur “die man [te] eerbiedig” (Efesiërs 5:25-29, 33). In Efesiërs 6:4 word daar oor die verhouding tussen ouers en kinders gepraat: “En, vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here.” Dit skep op sy beurt ’n gesinsatmosfeer wat dit vir die kinders makliker maak om die Bybel se bevel te volg en gehoorsaam aan hulle ouers te wees.—Efesiërs 6:1.

Die voorafgaande is net ’n voorbeeld van die Bybel se raad oor die gesinslewe. Baie het tuis welslae behaal en vreugde ervaar deur God se leiding te volg. Edward, ’n vader van twee, verduidelik die voordele wat hy geniet deur Bybelbeginsels toe te pas. “My huwelik was amper op die rotse”, sê hy. “Ek het nie tyd gehad om ’n betekenisvolle verhouding met my kinders te hê nie. Al wat ons na aan mekaar gebring het, was ons toepassing van wat die Bybel oor die gesinslewe sê.”—Spreuke 13:24; 24:3; Kolossense 3:18-21; 1 Petrus 3:1-7.

Geestelike, fisiese en emosionele gesondheid: Navorsing het getoon dat ’n mens se fisiese gesondheid, in ’n mate, verband hou met die toestand van jou geestelike en emosionele gesondheid. “Algemene tekens van stres”, sê The World Book Encyclopedia, “sluit ’n versnelde hartslag, hoër bloeddruk, spierspanning, geestesdepressie en ’n onvermoë om te konsentreer in.” Maar party glo dat geveinsde gewelddadige handelinge ’n manier is waarop stres verminder kan word. “Boks kan baie nuttig wees om stres te verminder”, sê ’n Suid-Afrikaanse koerant, The Star. Dit haal die fiksheidsraadgewer Jannie Claasens aan wat sê: “As ’n vrou ’n baie frustrerende dag gehad het, kan sy van haar spanning ontslae raak deur ’n slaansak pap te slaan.”

Maar sal dit nie veel beter wees as ’n mens leer hoe om die onderliggende oorsaak van frustrasie die hoof te bied nie? In die tydskrif Stress—The Modern Scourge sê dr. Michael Slutzkin dat “die erkenning van stres . . . belangrik is, omdat baie van die oorsake geneesbaar is”. Hy voeg by dat “die hantering van stres . . . moontlik selfs die genesingsproses van ’n verskeidenheid toestande kan bevorder”.

Die Bybel verduidelik ’n baie doeltreffende manier waarop stres hanteer kan word: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles . . . bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus” (Filippense 4:6, 7). Dit hou baie voordele—selfs fisiese voordele—in as stres só beheer word. Een Bybelspreuk stel dit soos volg: “’n Rustige hart is die lewe vir die vlees” (Spreuke 14:30). ’n Ander spreuk sê: “’n Vrolike hart bevorder die genesing, maar ’n verslae gees laat die gebeente uitdroog.”—Spreuke 17:22.

In ’n poging om stres en druk te vermy, maak baie staat op tabak, alkohol en dwelms. Die skade wat verslawing hieraan veroorsaak, is welbekend. Tog het die Bybel nog altyd gesê dat ons rein moet bly van “alle besoedeling van die vlees”. (2 Korinthiërs 7:1; vergelyk Spreuke 23:29-35.) Dit is beslis in die hedendaagse wêreld ’n praktiese veiligheidsmaatreël as ons sulke nadelige gebruike vermy.

Werk, geld en eerlikheid: Luiheid hou nooit enige voordeel in nie. “In die herfs ploeg die luiaard nie; en verlang hy iets in die oestyd, dan is daar niks nie”, sê Spreuke 20:4. Harde werk daarenteen is die moeite werd. “Laat die een wat steel, nie meer steel nie”, sê Efesiërs 4:28. Hierdie teks voeg by dat dit veel beter vir ’n mens is om te “arbei deur met sy hande te werk wat goed is, sodat hy iets kan hê om mee te deel aan die een wat gebrek het”.—Vergelyk Spreuke 13:4.

Het jy geweet dat Bybelbeginsels selfs op verhoudinge in die werkplek toegepas kan word? Werknemers, soos die “diensknegte” in Bybelse tye, doen goed deur ‘hul here na die vlees in alles gehoorsaam te wees’. Werkgewers, of “here”, daarenteen moet “reg en billikheid” teenoor hulle werknemers betoon.—Kolossense 3:22-24; 4:1; vergelyk 1 Petrus 2:18-20.

Die Bybel sê baie oor eerlike sakegebruike. Hoewel eerlikheid ongelukkig vandag ontbreek, word dit dikwels as ’n gewenste eienskap erken en waardeer. Dit is wat die Bybel beklemtoon. Jesus het eenkeer gesê: “Hy wat getrou is in die minste, is ook in die grote getrou; en hy wat onregverdig is in die minste, is ook in die grote onregverdig.”—Lukas 16:10; vergelyk Spreuke 20:10; 22:22, 23; Lukas 6:31.

In een Afrikaland was daar baie stelery en korrupsie in die diamantbedryf. Daar is besluit om iemand anders in beheer te plaas. Die regeringsministers moes name indien van mense wat hulle gedink het geskik vir die betrekking sou wees. Toe die kabinet bymekaargekom het om te besluit, is die name die een na die ander geskrap, hoofsaaklik weens korrupsie. Uiteindelik het hulle by die laaste naam op die lys gekom—die president se kandidaat.

“Maar hy is nie ’n lid van die party nie!” het een minister beswaar gemaak.

Die president het geantwoord dat dit nie ’n politieke betrekking was nie.

“Hy is een van Jehovah se Getuies”, het ’n ander gesê.

“En dit is waarom hy die werk kry”, het die president gesê. Hy het toe bygevoeg: “Ons weet hulle is eerlik, en dit is die soort persoon wat ons nodig het. Ons weet ons kan hom vertrou.”

Ja, diegene wat Bybelbeginsels in hulle lewe toepas, vind dikwels dat dit hulle selfs in die hedendaagse wêreld tot voordeel strek.

Versamel praktiese wysheid

Ons het net ’n paar voorbeelde beskou wat toon wat dit beteken om “die kennis van God [te] vind” (Spreuke 2:1-9). ’n Rykdom toepaslike, praktiese raad word in die Bybel aangetref. Beginsels aangaande reinheid, vlytigheid, kommunikasie, seks, egskeiding, belastinggelde, hoe om persoonlikheidsverskille te hanteer en hoe om met armoede saam te leef, is net ’n paar van die aspekte van die lewe wat in die Bybel behandel word. Miljoene sal getuig dat die verskil tussen sukses en mislukking in hulle lewe afhang van die mate waarin hulle Bybelbeginsels toepas.

Hoewel die praktiese sin wat die Bybel tans het gewaarborg word, bied dit ook die vooruitsig op baie langtermynvoordele. Die Bybel beloof byvoorbeeld dat die vernaamste oorsake van pyn en lyding in die hedendaagse wêreld binnekort deur Goddelike ingryping uit die weg geruim sal word.—Daniël 2:44; 2 Petrus 3:11-13; Openbaring 21:1-5.

Daarom moedig ons jou aan om soveel as moontlik oor die Bybel te leer. As jy nie ’n Bybel het nie, moet jy beslis een kry. Die uitgewers van hierdie tydskrif sal jou graag help. Net soos baie ander voordeel getrek het uit die toepassing van die praktiese wenke in die Bybel kan jy ook gehelp word om die waarde van God se Woord te waardeer, nou én in die toekoms.

[Prent op bladsy 7]

Die Bybel is ’n praktiese gids om genot uit die gesinslewe te kan put

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel