Granaatsepter uit Jehovah se huis?
ARGEOLOË het al baie septers, stawwe wat deur gesaghebbendes gedra is, in Israel ontdek (Genesis 49:10; Ester 8:4; Esegiël 19:14). Party septers wat in Lagis gevind is, het ’n kop in die vorm van ’n granaat gehad. God se volk het hierdie vrug goed geken.—Deuteronomium 8:8; Hooglied 4:13.
Die ivoorgranaat in blom, hier links, is onlangs ontdek. Dit is 43 millimeter hoog, en ’n holte aan die onderkant dui daarop dat dit deel van ’n septer was. Let op die gegraveerde letters in die vroeë Hebreeuse styl wat uit die agtste eeu v.G.J. dateer.
’n Deel van die ivoor het in antieke tye afgebreek, en daarom is ’n paar letters weg of net gedeeltelik sigbaar. Maar deskundiges op die gebied van antieke skrif het die herstelde inskripsie voorgestel wat hieronder geteken is. (Gebaseer op Biblical Archaeologist.) Onreëlmatige spasiëring tussen die letters het tot twee vername vertolkings gelei. Die Franse geleerde André Lemaire stel voor dat dit lees: “Wat aan die Tem[pel van die Hee]r [Jahweh] behoort, heilig vir die priesters.” Nahman Avigad het voorgestel: “Heilige skenking aan die priesters van (in) die Huis van Jahweh.”
Hulle en ander geleerdes het tot die slotsom gekom dat die vier Hebreeuse lettertekens van God se persoonlike naam—Jehovah—oorspronklik op die septer gegraveer was. Daarom sou dit “die huis van Jehovah” gemeld het wat ’n algemene uitdrukking in die Bybel is.—Exodus 23:19, NW; 1 Konings 8:10, 11, NW.
Baie is steeds van mening dat hierdie septerkop behoort het aan ’n priester by die tempel wat Salomo gebou het of dat dit aan daardie tempel geskenk is. Dit is interessant dat die granaatontwerp op verskeie plekke in God se tempel te sien was.—Exodus 28:31-35; 1 Konings 7:15-20.
[Foto-erkenning op bladsy 32]
Israel Museum, Jerusalem