’n Ander soort ontdekking in die Bahama-eilande
DIE Bahama-eilande, wat soos stapstene in die hemelsblou see tussen Florida en Kuba lê, het in 1992 ongekende aandag van die wêreldmedia ontvang. Waarom? Omdat die meeste gesaghebbendes die Bahama-eilande as die plek beskou waar Christophorus Columbus op sy geskiedkundige seereis in 1492 aan wal gegaan het toe hy die Amerikas ontdek het. Die 500ste herdenking van Columbus se landing op 12 Oktober het internasionaal aandag getrek.
Nogtans was daar dinge wat die geesdrif oor die herdenking gedemp het. Toe John Carew (’n professor van internasionale studies) die 23ste Nasionale Konferensie van Swart Regsgeleerdes toegespreek het, het hy volgens berig gesê dat Columbus “’n vloedgolf van die dood oor die Karibiese-eilande gebring het”.—The Nassau Guardian.
Vandag kan nie een van die Bahama-eilande se 250 000 boorlinge hulle herkoms terugvoer na die vredeliewende inboorlinge wat Columbus ontmoet het en wat hy beskryf het as “frisgeboude mense met aantreklike liggame en baie mooi gesigte” nie. Wat het met daardie eilandbewoners gebeur? A History of the Bahamas antwoord: “Tussen 1500 en 1520 is die ganse bevolking van die Bahama-eilande, moontlik ongeveer 20 000 Lukajane, weggevoer” om as slawe in Spaanse goudmyne in Hispaniola te werk.
Die ontvolkte Bahama-eilande is dus “herontdek”; eers deur die Britte en later deur groot groepe “lojaliste”. Laasgenoemde was hoofsaaklik plantasie-eienaars van die Amerikaanse kolonies. Lojaal aan die Britse Kroon, het hulle die vryheidsoorlog ontvlug wat toe op die vasteland gedreig het. Die Bahamane van vandag stam hoofsaaklik van hierdie koloniste en hulle slawe af. Baie van die slawe het met hulle vrylating die naam van hulle voormalige eienaars behou.
’n Ander soort ontdekking
Columbus het homself ongetwyfeld as ’n soort sendeling gesien. Hy het glo gesê: “God het my die boodskapper gemaak van die nuwe hemel en die nuwe aarde. . . . Hy het my gewys waar om dit te vind.” Tog het die verwoesting wat op sy ontdekking gevolg het, bewys dat dit nie so was nie. Die regverdige ‘nuwe hemele en nuwe aarde’ wat God belowe het, moes op ’n ander soort ontdekking wag.—2 Petrus 3:13.
In 1926 het Edward McKenzie en sy vrou op die Bahama-eilande aangekom. Anders as ontdekkers voor hulle, het hierdie nederige Jamaikaanse egpaar na opregtes van hart kom soek om vir hulle ’n skat te gee. Hulle was die eerstes om die goeie nuus van God se Koninkryk na die Bahama-eilande te bring (Mattheüs 13:44; 24:14, NW). Later daardie jaar het twee ander Jamaikane, Clarence Walters and Rachel Gregory, by hulle aangesluit. Teen 1928 was daar sewe Koninkryksverkondigers op die Bahama-eilande. Hulle het vier jaar lank hard gewerk om die goeie nuus aan die eilandbewoners te verkondig.
Toe het E. P. Roberts, ’n dinamiese spreker uit Trinidad, gekom. Sy openbare lesings in gewilde vergaderingsale het baie gedoen om valse opvattings uit die weg te ruim en het baie se harte met Bybelwaarhede geraak. By een van hierdie vergaderinge het Donald Oscar Murray, wat later gemoedelik D. O. genoem is, geboei in die gehoor gesit en luister. Uiteindelik het hý die leiding in die werk geneem.
Sendeling Nancy Porter kan goed onthou hoe D. O. Murray vertel het van sy vurige gebede om hulp in die predikingswerk. In 1947 het Nancy en haar man, George, saam met twee ander, die eerste sendelinge geword om deur die Wagtoringgenootskap na die Bahama-eilande gestuur te word. Sy vertel: “Die eerste vergadering wat ons bygewoon het, is iets wat ek seker is ons nooit sal vergeet nie. Daar was ongeveer nege of tien mense teenwoordig. Broer Murray was die voorsitter en het met gebed geopen en Jehovah gedank vir die aankoms van die sendelinge. Hulp was nodig, het hy gesê, en ‘ons bid al so lank om hulp’. Die Genootskap het belowe om hulp te stuur, en nou was ons hier. Die gebed was so roerend dat ons gevoel het ons wil bly en nooit weer weggaan nie.” Nou, ongeveer 45 jaar later en ondanks die dood van haar man, bring suster Porter nog steeds die vertroostende Koninkryksboodskap na die eilandbewoners.
Die Koninkrykverkondigingswerk in die Bahama-eilande het veral sedert 1947 grootliks baat gevind by die voltydse bedienaars en ander wat die eilande per boot besoek het. Hulle moes dikwels om die verraderlike sandbanke en deur die kabbelende vlakwater stuur en dan deur die water aan wal sukkel om die goeie nuus na afgeleë dorpies te neem. Daardie vroeë pogings dra selfs vandag nog vrug.
In 1950 is ’n mylpaal bereik. In Desember van daardie jaar het Nathan H. Knorr, die destydse president van die Wagtoringgenootskap, en sy sekretaris, Milton G. Henschel, die Bahama-eilande vir die eerste keer besoek. Broer Knorr het 312 mense toegespreek wat die Moedersklub-saal, ’n klein houtgeboutjie in Jail-laan, vol gesit het. ’n Hele klompie welbekende mense was teenwoordig, onder andere ’n lid van die parlement en die redakteur van ’n dagblad. Daardie aand het broer Knorr aangekondig dat ’n takkantoor van die Genootskap in die Bahama-eilande gestig gaan word.
Die eilandbewoners se vriendelike reaksie
Die vriendelike mense van die Bahama-eilande was oor die algemeen bereid om na die Koninkryksboodskap te luister. Nogtans is dit ’n uitdaging om hulle almal te bereik. Hoe so? Wel, hoewel die meeste mense in die hoofstad, Nassau, en op die naburige Grand Bahama woon, is die ander versprei oor 15 van die groter eilande en oor van die 700 eilandjies en atolle wat hierdie eilandgroep uitmaak.
Omdat hulle van die behoefte bewus is, het al hoe meer van die plaaslike Getuies en baie van ander plekke na klein eilandgemeenskappies getrek om met die predikingswerk te help. Dit is prysenswaardig dat hulle dit met aansienlike persoonlike opoffering en koste gedoen het. Maar hulle pogings is ryklik beloon.
Een jong paartjie het na die groot eiland Andros getrek. Terwyl hulle op ’n dag van huis-tot-huis gepreek het, het hulle ’n immigrant van Haiti ontmoet. Daar is duisende van hierdie mense op die Bahama-eilande. Die man het geredelik tot ’n tuisbybelstudie ingestem. ’n Studie is daardie selfde aand met behulp van Engelse en Franse eksemplare van die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe begin. Die volgende aand het hy sy eerste Christelike vergadering bygewoon. Die man het kort daarna opgehou rook, vinnig vordering gemaak en aan die predikingswerk begin deelneem.
Die oggend van die dag waarop hierdie man gedoop sou word, het hy ’n bandopname van sy familie in Haiti ontvang, hoewel hy vyf jaar lank nie van hulle gehoor het nie. Wat het hulle te sê gehad? Hulle het vertel hoe hulle Getuies van Jehovah geword het. Hulle het verduidelik dat sy suster reeds ’n gewone pionier, of voltydse prediker, was en hulle het hom aangespoor om met die Getuies in aanraking te kom en die Bybel saam met hulle te studeer. Dit is onnodig om te sê dat die man daardie dag gedoop is met volle vertroue dat hy die regte ding doen.
Geesdriftige reaksies soos hierdie het die harte van die plaaslike Getuies verbly. Al hoe meer van hulle het die werk as voltydse evangeliste aangepak en dit het tot die groei bygedra. So het dit dan gekom dat die getal Koninkryksverkondigers op die Bahama-eilande in 1988 die 1 000-merk bereik het. Vandag is daar in 19 gemeentes ongeveer 1 300 Koninkryksverkondigers op feitlik al die groot eilande.
Voorbereid vir die toekoms
Vanweë die groei in hulle getalle het die Getuies dit moeilik gevind om bekostigbare fasiliteite te vind wat groot genoeg is vir hulle jaarlikse byeenkomste. Twee byeenkomste moes op verskillende eilande gehou word om die skare te akkommodeer. Daar is dus beplan om ’n Byeenkomssaal sowel as ’n nuwe takkantoor te bou. Werk aan hierdie geboue is in Desember 1989 begin. Honderde internasionale en plaaslike vrywilligers het “van harte soos vir die Here” aan die projek gewerk.—Kolossense 3:23.
Die grootste en vreugdevolste byeenkoms van Getuies wat nog op die Bahama-eilande gehou is, het ongetwyfeld plaasgevind toe die nuwe takkantoor en Byeenkomssaal op 8 en 9 Februarie 1992 toegewy is. Opgewonde afwagting het toegeneem terwyl die broers in alle dele van die eilande voorbereidsels vir die geleentheid getref het. Dit was koeler as gewoonlik en dit het die nag voor die toewydingsprogram gereën. Maar niks kon die vreugde van die jubelende skare van 2 714 demp toe John E. Barr, ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, die toewydingstoespraak, “Die lied van die uitbreiding van die Teokrasie”, gelewer het nie.
Harte het oorgeloop van dankbaarheid teenoor die hemelse Vader, Jehovah God, vir so ’n vreugdevolle en opwindende geleentheid. Diegene wat teenwoordig was, was nou nóg meer vasbeslote om al hulle energie in te span in die geestelike onderrigtingswerk wat hierdie uitbreiding nodig gemaak het.
Of Columbus se ontdekking van hierdie eilande ’n gunstige keerpunt was, sal waarskynlik ’n geskilpunt bly. Jehovah se Getuies in die Bahama-eilande is nietemin verenig in hulle dankbaarheid teenoor God vir sy voorsiening van Koninkryksverkondigers wie se selfopofferende gees hulle beweeg het om die onbekende te trotseer en die glorieryke goeie nuus te bring na wat in geestelike sin onbevare waters was. Hulle werk en “ontdekking” het onvergelyklike geestelike rykdom vir alle waarheidsoekers op die Bahama-eilande tot gevolg gehad.
[Kaart/Prente op bladsy 24, 25]
Groot Bahama-eiland
Abaco-eiland
Andros-eiland
New Providence
Nassau
Eleuthera-eiland
Kat-eiland
Groot Exuma-eiland
Rum Cay
San Salvador
Long-eiland
Crooked-eiland
Acklins-eiland
Mayaguana-eiland
Klein Inagua-eiland
Groot Inagua-eiland
KARIBIESE SEE
FLORIDA
KUBA
[Prente]
Predikingswerk by die Strooimark
Deur die water om die goeie nuus aan wal te verkondig
Die takkantoor is op ’n heuwel geleë wat oor die Byeenkomssaal uitkyk