“Voor die berge”
“U WAS ons woonplek deur al die geslagte heen. Voor die berge gebore is of U die aarde en die wêreld voortgebring het, van ewigheid tot ewigheid is u God” (Psalm 90:1, 2, New International Version). Hierdie woorde is tot ons Skepper gerig, en hoe vertroostend is hulle tog—veral vandag wanneer niks bestendig lyk nie!
In ’n verslegtende ekonomiese situasie voel min mense dat hulle vertroue in die toekoms kan hê. ’n Onrusbarende toename in misdaad en dwelmmisbruik het party stede in slagvelde verander. Selfs daardie eeue oue instelling, die gesin, is aan die wankel. Ons hoor van nuwighede soos homoseksuele gesinne. Enkelouergesinne neem toe, met die ouer wat dikwels groot spanning die hoof moet bied. Die vrede van baie gesinne word deur gruweldade vernietig, soos wanneer ’n huweliksmaat geslaan of ’n kind mishandel word.
Wie sal ons deur hierdie moeilike tye lei? Wel, daar is geen tekort aan raad deur sielkundiges, opvoedkundiges en andere nie, maar baie van die raad is teenstrydig met mekaar. Dr. Benjamin Spock was in die Weste vir ’n hele geslag die vernaamste raadgewer wat kinderopvoeding betref. Toe het hy erken dat sy raad verkeerd was!
Hoeveel verstandiger is dit tog om God as ons “woonplek” te hê! In hierdie stormagtige tye is hy ’n rots van bestendigheid wat “van ewigheid tot ewigheid” bestaan. Hy het deur die profeet Maleagi van homself gesê: “Ek, die HERE, het nie verander nie” (Maleagi 3:6). God se standaarde, soos in die Bybel uiteengesit, is volkome betroubaar. Hy het “voor die berge” bestaan, en sy raad, wat in die Heilige Skrif gevind kan word, is op sy ewige wysheid gegrond. Dit is presies wat ons nodig het om ’n gelukkige en suksesvolle lewe te lei.
Dit is dus verstandig om vertroue te hê in God se Woord, die Bybel. Bestudeer dit sodat jy by God se wysheid kan baat vind. Glo wat jy leer, en laat dit ’n lig wees wat jou op die pad van die lewe lei (Psalm 119:105). Slegs diegene wat dit doen, het rede om vertroue in die toekoms en ware gemoedsrus te hê.