Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w93 3/1 bl. 30-31
  • Sendelinge van Mikronesië

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Sendelinge van Mikronesië
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
w93 3/1 bl. 30-31

Sendelinge van Mikronesië

HOEWEL die sendelinge van Mikronesië deur die ontsaglike uitgestrektheid van die skynbaar eindelose Stille Oseaan geskei word, kry hulle dit nog elke jaar reg om vir ’n “familiereünie” bymekaar te kom. En waar kom al hierdie evangeliedienaars wat van hierdie wydverspreide eilande af kom bymekaar? Heel gepas by die plek wat die plaaslike regering die naam Jehovahstraat gegee het—die adres van die takkantoor in Guam waaronder hulle dien.

In Junie 1992 het 56 sendelinge by die tak saamgekom om die “Ligdraers”-Streekbyeenkoms by te woon. ’n Gelag en opgewekte gesprekke kon oral gehoor word terwyl hulle ou vriendskappe hernieu het en nuwes aangekweek het. Soos gewoonlik het hulle op die trappe van die Koninkryksaal vir ’n groepfoto geposeer en toe by drie lang bankettafels aangesit om ’n jaarlikse sendelingete saam te geniet waarvan die hoogtepunt hierdie jaar ’n besoek van Albert Schroeder, ’n lid van die Bestuursliggaam, was.

Vir baie van die sendelinge is hierdie jaarlikse samekoms in Guam hulle enigste geleentheid om hulle klein tropiese tuistes te verlaat. En klein is hulle beslis. Ebeye-eiland, een van die Marshall-eilande, bestaan uit slegs 32 hektaar. Die Majuro-sendinghuis op die Marshall-eilande en die Kiribati-sendinghuis op die Gilbert-eilande is albei op lang, smal atolle geleë wat minder as ’n kilometer breed is. Die sendelinge benut dus hulle opwindende reis na Guam ten volle.

Hoewel dit romanties klink om op ’n afgeleë tropiese eiland te preek, is dit in werklikheid ’n uitdaging waarteen min mense opgewasse is. Interessant genoeg kom slegs 7 van die 56 sendelinge van die Wagtoring-Bybelskool Gilead af. Die meeste het van Hawaii of die Filippyne gekom waar hulle as pionierbedienaars gedien het wat reeds aan die lewe in die trope gewoond was, en hulle het direk van hulle geboorteland na hulle sendingtoewysings gegaan.

Omdat die eilande van Mikronesië so na aan die ewenaar geleë is, moet die sendelinge die stikkende hitte en humiditeit trotseer om bewoners met die goeie nuus te bereik. Kommunikasie kan ’n selfs groter uitdaging bied. Elke eiland of eilandgroep het sy eie taal—party is so onbekend dat hulle nie eens in ’n woordeboek opgeneem is nie—en dit kan jare neem voordat ’n nuweling die taal vlot kan praat. Om die mense van hierdie uiteenlopende eilandkulture te help om die Bybel te verstaan, druk die takkantoor in Guam lektuur in 11 tale, waarvan 9 uitsluitlik in Mikronesië gepraat word.

Party eilande is so afgesonder dat hulle net per boot bereik kan word. Die Tol-sendinghuis in Chuuk (Truk) is op so ’n eiland geleë, en die sendelinge daar maak op sonpanele staat, wat elke dag net ’n paar uur se elektrisiteit voorsien.

Daar is altesaam 14 sendinghuise oor die hele Mikronesië, wat ’n gebied min of meer so groot soos die kontinentale Verenigde State beslaan. Van die meer as 400 000 mense wat in die streek woon, is 1 000 verkondigers van die goeie nuus, en hulle is in 20 gemeentes en 3 afgesonderde groepe georganiseer.

Hoewel die mense van Mikronesië oor die algemeen baie vriendelik is, skrik plaaslike godsdiensgebruike en druk van familie baie mense af om die waarheid oor God se Koninkryk aan te neem. Hoewel die predikingswerk oor die algemeen vooruitgang maak (daardie 1 000 Koninkryksverkondigers hou meer as 2 000 Bybelstudies), bly party gemeentes en groepe gevolglik maar klein. Daar is byvoorbeeld slegs 5 verkondigers op die eiland Tinian en net 7 verkondigers op die eiland Nauru, en die gemeentes in Jap, Kosrae en Rota het elk minder as 40 verkondigers. Nogtans het party sendelinge al langer as 20 jaar in hulle toewysings gebly. Dit is opmerklik dat al ses op die eiland Belau al ten minste 12 jaar daar is.

Vir dié wat volhard, is die belonings baie groot. Daar is daagliks geleenthede om jou oor die skoonheid van Jehovah se skepping te verwonder. Die eilande van Mikronesië met hulle welige plantegroei is soos klein groen juwele oor die blou agtergrond van die Stille Oseaan verstrooi. Die kilometer lange stil strande en die koraalriwwe wat van kleurryke visse wemel, lok snorkelduikers en vryduikgeesdriftiges om van die beste duikplekke in die wêreld te verken. En aan die einde van elke dag is daar ’n asemrowende sonsondergang oor die oseaan.

Die grootste beloning is egter die voorreg om Jehovah te dien deur ander van sy wonderlike beloftes vir die toekoms te vertel. Omdat die sendelinge van Mikronesië voortdurend uitreik na daardie beloning, leef hulle die woorde van Jesaja 42:12 uit: “Laat hulle aan die HERE die eer gee en sy lof in die eilande verkondig.”

[Kaart/Prent op bladsy 31]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Barrigada, Guam

Santa Rita, Guam

Koror, Belau

Chuuk (Truk) eilande

Tarawa, Kiribati

Kosrae

Ebeye

Marshall-eilande

Majuro

Kolonia, Pohnpei

Songsong, Rota

Saipan

Jap

MIKRONESIË

MELANESIË

CAROLINE-EILANDE

STILLE OSEAAN

FILIPPYNE

NIEU-GUINEE

EWENAAR

[Prent]

Sendelinge kom in Junie 1992 in Guam bymekaar

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel