Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w93 1/15 bl. 14-19
  • Ryk seëninge by die “Ligdraers”-Streekbyeenkomste

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ryk seëninge by die “Ligdraers”-Streekbyeenkomste
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Welkom, al julle ligdraers!”
  • Jong ligdraers
  • Laat die lig skyn
  • Christus se teenwoordigheid en openbaring
  • Christengesinne
  • Sondagmiddag
  • Kom na die “Ligdraers”-Streekbyeenkoms
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Ligdraers”- Streekbyeenkoms vir 1992
    Ons Koninkryksbediening—1992
  • Byeenkomste—bewys van ons broederskap
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Opwindende byeenkomste bevorder Goddelike onderrigting
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
w93 1/15 bl. 14-19

Ryk seëninge by die “Ligdraers”-Streekbyeenkomste

ONGEVEER 2 700 jaar gelede het die profeet Jesaja geskryf: “Kyk, die duisternis sal die aarde oordek en donkerheid die volke” (Jesaja 60:2). Hoe waar is hierdie woorde tog! Daar is egter hoop, want Jehovah het lig laat skyn. Verlede jaar is diegene wat die lig van God liefhet hartlik uitgenooi om die “Ligdraers”-Streekbyeenkoms by te woon.

Die byeenkomsprogram is die eerste keer in Junie in Noord-Amerika aangebied. Gedurende die daaropvolgende maande is dit in Oos- en Wes-Europa, Midde- en Suid-Amerika, Afrika, Asië en die eilande van die see aangebied. Miljoene het dit bygewoon. En wat ’n ryk geestelike fees het hulle tog geniet!

“Welkom, al julle ligdraers!”

Op die meeste plekke het die byeenkoms die Vrydag begin en Sondagmiddag geëindig. Nadat die byeenkomsgangers Vrydagoggend gaan sit het, het hulle geluister na ’n kort oorsig van die manier waarop Jehovah se lig gedurende hierdie laaste dae al hoe helderder geskyn het. Toe het die byeenkomsvoorsitter op die verhoog verskyn. Hy het beklemtoon dat ware Christene ligdraers moet wees en hartlik gesê: “Welkom, al julle ligdraers!” Die byeenkomsprogram sou byeenkomsgangers help om aan te hou om Jehovah se lig te weerspieël.

Die programrede het die res van die byeenkoms goed ingelei. Die spreker het die byeenkomsgangers daaraan herinner dat die ligte vir die mensdom lank reeds in die tuin van Eden uitgegaan het. Sedertdien het Satan mense vir die lig van die waarheid verblind (2 Korinthiërs 4:4). Jesus het nietemin as “’n lig van die nasies” gekom (Jesaja 42:1-6). Hy het godsdiensleuens aan die kaak gestel, verkeerde werke wat by die duisternis hoort, geïdentifiseer, Jehovah se soewereiniteit gehandhaaf en die goeie nuus van die Koninkryk verkondig. Jesus se volgelinge het dieselfde gedoen—en hulle doen dit nog steeds! (Mattheüs 28:19, 20). Die spreker het hulle aangespoor: ‘Ons kan, soos Jesus, ligdraers wees. Daar is vandag geen ander werk wat so belangrik is nie. En daar is geen groter voorreg nie.’

Net voor die eerste byeenkomssessie geëindig het, was daar ’n verrassing. Die byeenkomsvoorsitter het na die verhoog teruggekeer en die vrystelling van die eerste van ’n reeks van vier nuwe traktate aangekondig. Hierdie verwikkeling is met geesdriftige applous begroet, en ’n traktaat is aan elke byeenkomsganger beskikbaar gestel.

Vrydagmiddag het die byeenkomsprogram basiese raad vir ligdraende Christene bevat. Die eerste twee toesprake het goeie raad voorsien oor hoe om te verhoed dat ons deur die wêreld se duisternis besmet word. Aangesien Satan hom as ’n engel van die lig kan voordoen, is dit belangrik dat ons ’n geestelike uitkyk handhaaf sodat die onrein dinge van die wêreld ons nie verlei nie (2 Korinthiërs 11:14). Paulus se raad is: “Word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is” (Romeine 12:2). Byeenkomsgangers het gehoor dat die verandering van ’n Christen ’n voortdurende proses is. Ons verstande word voortdurend gereinig en gevorm terwyl ons God se Woord bestudeer en toepas wat ons leer. Ons word dus meer en meer soos Jesus wat “vol van genade en waarheid” was.—Johannes 1:14.

Jong ligdraers

Die tweede helfte van Vrydagmiddag was tot jongmense gerig. Die eerste toespraak (“Jongmense—Wat jaag julle na?”) het jong Christene geprys omdat hulle so ’n goeie voorbeeld van getrouheid stel. Maar dit het hulle daaraan herinner dat hulle ’n spesiale teiken van Satan is. Selfs ’n goed geoefende atleet het ’n afrigter nodig. Jongmense het eweneens hulp van hulle ouers en die gemeente nodig sodat hulle in die lig kan bly wandel.

Dit is beklemtoon deur die uitstekende drama Doen wat reg is in Jehovah se oë waarmee Vrydag se program afgesluit is. Die aandag is op die voorbeeld van koning Josia gevestig. Selfs as ’n jong seun was hy vasbeslote om Jehovah te dien. Hy was deur slegte invloede omring, maar met die hoëpriester Hilkia se hulp en vanweë sy eie liefde vir God se Wet het Josia gedoen wat reg was in Jehovah se oë. Mag jong Christene vandag op ’n soortgelyke wyse optree.

Laat die lig skyn

Na ’n nagrus het die byeenkomsgangers Saterdagoggend na die byeenkoms gekom, gereed vir verdere, opbouende, skriftuurlike raad. Hulle is nie teleurgestel nie. Na ’n bespreking van die dagteks is die program voortgesit met ’n simposium wat verskillende maniere bespreek het waarop ’n Christen sy lig kan laat skyn (Mattheüs 5:14-16). Die predikingswerk is een belangrike manier, en goeie gedrag speel ook ’n belangrike rol. Soos die spreker gesê het: “Ons predikingswerk vertel ander wat ons glo, maar as ons liefde beoefen, toon ons op ’n praktiese wyse wat ons glo.”

’n Belangrike predikingshulpmiddel is toe onder die byeenkomsgangers se aandag gebring—traktate. Met die vorige dag se aankondiging nog vars in die geheue het byeenkomsgangers na ondervindinge geluister wat toon hoe kragtig hierdie klein instrumente is. Die byeenkomsgangers is aangemoedig om te alle tye ’n voorraad traktate by hulle te hê, gereed vir elke geleentheid.

Die aandag is vervolgens gevestig op die pioniers, daardie voltydse Koninkryksverkondigers wat hard werk om hulle lig te laat skyn. Hoe waardeer ons tog nie ons hardwerkende pioniers nie! En hulle getalle neem toe. Selfs in lande waar godsdiensvryheid eers onlangs toegestaan is, neem die aantal pioniers toe. Pioniers is aangemoedig om hulle diensvoorreg te koester. Diegene wat nog nie pioniers is nie, is aangespoor om hulle omstandighede te oorweeg. Dalk kan hulle ook hulle sake so reël dat hulle hulle lig in die voltydse diens kan laat skyn.

Om ’n ligdraer te wees, behels dikwels opofferinge, en dit is in die volgende toespraak, “Dien Jehovah met ’n gees van selfopoffering”, beklemtoon. Paulus het gesê: “Stel [jul liggame] as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer” (Romeine 12:1). ’n Selfopofferende gees word geopenbaar deur diegene wat vervolging verduur. Pioniers maak elke dag opofferinge om in die voltydse diens te kan bly. Trouens, alle ware Christene maak opofferinge en hou hulle eerder besig in Jehovah se diens as met die selfsugtige, materialistiese strewes van hierdie wêreld. So ’n weg het ryk seëninge van Jehovah tot gevolg.

Daardie toespraak het as ’n gepaste inleiding gedien vir wat daarop gevolg het—die dooptoespraak. Diegene wat by die “Ligdraers”-Streekbyeenkoms gedoop is, sal beslis nie hierdie toespraak vergeet nie. Hulle doop sal altyd ’n hoogtepunt van hulle lewe wees. Hulle is daaraan herinner dat hulle die voorbeeld volg van Jesus Christus wat 30 jaar oud was toe hy gedoop is. Daarbenewens was die doopkandidate verheug om te besef dat hulle ‘die werke van die duisternis afgelê’ het en besluit het om ‘die Here te dien’ (Romeine 12:11; 13:12). Hulle het met vreugde voor die byeenkomsskare gestaan en ’n hoorbare, openbare verklaring gedoen voordat hulle na die doopbaddens gegaan het (Romeine 10:10). Ons bid dat Jehovah se seën op almal sal rus wat gedurende die “Ligdraers”-Streekbyeenkomste hulle toewyding aan hom deur waterdoop gesimboliseer het.

Saterdagmiddag was dit tyd vir reguit waarskuwings. Dit was in die vorm van toesprake met die titels “Vermy die strikke van hebsug”, “Bederf iemand jou nuttige gewoontes?” en “Waak teen elke vorm van afgodediens”. Hierdie drie toesprake het van die taktiek getoon wat Satan gebruik om ’n Christen se geloof te verswak. Judas Iskariot was ’n apostel, maar hy het Jesus vir geld verraai. Jong Samuel het by die nasionale sentrum van Jehovah se aanbidding grootgeword, maar hy was aan baie slegte omgang blootgestel wat hy nie kon vermy nie (1 Samuel 2:12, 18-20). Afgodediens kan dinge soos onsedelikheid en gierigheid insluit (Efesiërs 5:5; Kolossense 3:5). Ja, hebsug, slegte omgang en afgodediens is gevaarlik en moet vermy word.

Die byeenkomsprogram het toe as ’t ware ’n ander wending geneem. In die volgende toespraak is ’n aantal interessante Bybelvrae geopper en beantwoord. Kan jy byvoorbeeld verduidelik of mense wat nie die waarheid aanvaar nie en voor die groot verdrukking sterf, opgewek sal word? Wat kan ’n Christen doen as hy of sy nie ’n geskikte huweliksmaat kan kry nie? Om hulle Bybelkennis te vermeerder, is byeenkomsgangers aangemoedig om ten volle gebruik te maak van die Watch Tower Publications Index, veral onder die opskrif “Questions From Readers”.

Christus se teenwoordigheid en openbaring

Die laaste gedeelte van Saterdag se program het in die simposium met die titel “Lig op Christus se teenwoordigheid en openbaring” die aandag op profesieë gevestig. Kenmerke is hersien van “die teken” wat die teenwoordigheid van Jesus Christus bewys (Mattheüs 24:3). In die tweede deel is die hedendaagse bedrywighede van “die getroue en verstandige dienskneg” bespreek (Mattheüs 24:45-47). Hulle is daarop gewys dat die diensknegklas sedert 1919 die verkondigingswerk van die goeie nuus van die Koninkryk getrou aangevoer het. Toe is ’n groot menigte uit alle nasies versamel om saam met gesalfde Christene Jehovah se lig te weerspieël. Die spreker het afgesluit: “Laat almal met ywer voortgaan om die getroue en verstandige dienskneg te ondersteun. Want alleenlik as dit gedoen word, sal alle skaapgeaardes op ’n dag wat binnekort gaan aanbreek die verblydende woorde hoor: ‘Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af.’”—Mattheüs 25:34.

Die laaste spreker het die betekenis en implikasies van die openbaring van Jesus Christus bespreek (1 Korinthiërs 1:7). Watter ondervinding sal daardie openbaring tog wees! Babilon die Grote sal vernietig word. Die groot slag tussen Satan se wêreld en Jesus en sy engele sal in die vernietiging van hierdie stelsel eindig. Ten slotte sal Satan self in die afgrond gewerp en buite aksie gestel word. Maar vir God se volk sal daar verligting wees wanneer die huwelik van die Lam in die hemel plaasvind en ’n nuwe aarde tot stand gebring word. Die gehoor was verheug toe die spreker die nuwe brosjure Gee God werlik vir ons om? vrygestel het. Wat ’n uitstekende hulpmiddel sal dit tog vir nederige mense wees wat van ons besorgde Skepper en sy voornemens met ons moet weet!

Christengesinne

Sondag, die laaste dag van die byeenkoms, het nou aangebreek. Maar daar was nog baie wat aangebied moes word. Na die bespreking van die dagteks het die simposium “Sien om na mekaar in die Christengesin” die aandag op die Christengesin gevestig. Die eerste deel het byeenkomsgangers gehelp om te besef wat die geheim daarvan is om ’n suksesvolle Christengesin te hê: om geestelike dinge eerste te stel. Die tweede deel het gesinne aangemoedig om dinge saam te doen, of dit nou vergaderingbywoning, velddiens, gesinstudie of ontspanning is. En die derde deel van die simposium het byeenkomsgangers aan hulle voorreg en verantwoordelikheid herinner om na die bejaardes om te sien. “Ons ouer broers en susters is ’n aanwins vir die gemeente”, het die spreker gesê. Laat ons hulle ervaring op prys stel en hulle onkreukbaarheid navolg.

Vervolgens is die betekenis van die uitdrukking “gesond van verstand” ondersoek (1 Petrus 4:7, NW). Iemand wat gesond van verstand is, is gebalanseerd, verstandig, redelik, nederig en rasioneel. Hy kan onderskei tussen reg en verkeerd, waar en vals. Verder streef hy daarna om goeie geestelike gesondheid te handhaaf.

Die laaste toespraak van Sondagoggend se program het ons onderworpenheid aan God en aan Christus bespreek. Die spreker het gesê: “Die belangrikheid van lojale onderworpenheid aan Jehovah God en sy Seun, Jesus Christus, kan nie oorbeklemtoon word nie.” Hy het verder getoon hoe dit elke aspek van ons lewe beïnvloed. Wat sal ons help om onderworpe te bly? Vier eienskappe: liefde, godvrugtige vrees, geloof en nederigheid.

Sondagmiddag

Onverwags was dit Sondagmiddag en tyd vir die laaste sessie van die byeenkoms. Vir baie was dit asof die byeenkoms pas begin het, en tog het dit reeds sy einde genader.

Die openbare toespraak het die titel “Volg die Lig van die wêreld” gehad. Diegene wat teenwoordig was, het ’n fassinerende verduideliking van die rol van fisiese lig in die onderhouding van lewe gehoor. Toe het die spreker getoon dat geestelike lig van groter belang is. Fisiese lig hou ons vir ’n paar dekades aan die lewe, maar geestelike lig kan ons vir ewig aan die lewe hou. ’n Hoogtepunt van die toespraak was ’n vers-vir-vers-bespreking van Johannes 1:1-16, waar Jesus as die lig van die wêreld geïdentifiseer is. Dit is vandag, in die laaste jare van hierdie bose stelsel, belangriker as ooit om Jesus in hierdie rol na te volg.

Na ’n opsomming van die Wagtoring-studie se materiaal vir daardie week, was dit tyd vir die slottoespraak. Gelukkig het die spreker getoon dat daar baie dinge is om na uit te sien in die dae wat kom. Hy het byvoorbeeld die uitreiking van ’n nuwe klankkasset, die drama Doing God’s Will With Zeal, aangekondig. En dit was nie al nie. Daar sal ’n nuwe reeks videokassette met die titel The Bible—A Book of Fact and Prophecy verskyn waarvan die eerste sal handel oor die onderwerp The Bible—Accurate History, Reliable Prophecy.

Ten slotte het die spreker aangekondig dat daar in 1993 vierdaagse streekbyeenkomste gehou sal word, asook spesiale internasionale byeenkomste in Afrika, Asië, Europa en Suid-Amerika. Hoewel die “Ligdraers”-Streekbyeenkoms ten einde geloop het, kon byeenkomsgangers vir die volgende jaar begin beplan.

Toe was dit tyd vir die byeenkomsgangers om huis toe te gaan. Hulle was gewis meer vasbeslote as ooit om lig in hierdie verduisterde wêreld te bly weerspiëel. Na drie dae vol geestelike, goeie dinge het die woorde van die laaste aangehaalde teks in die slottoespraak groot betekenis aangeneem: “Die HERE is God, en Hy het vir ons lig gegee. . . . Loof die HERE, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid!”—Psalm 118:27, 29.

[Prent op bladsy 15]

Byeenkomsprogram in Russies

[Prente op bladsy 16, 17]

By baie byeenkomste het lede van die Bestuursliggaam toesprake gehou

Japannese afgevaardigdes was onder diegene wat in St. Petersburg, Rusland, byeengekom het

’n Roerende Bybeldrama het beklemtoon hoe belangrik dit is om te doen wat reg is in Jehovah se oë

Nuwe ligdraers het hulle toewyding aan Jehovah gesimboliseer deur gedoop te word

Byeenkomsgangers luister aandagtig na die program in St. Petersburg

[Prent op bladsy 18]

Byeenkomsgangers was verheug om die nuwe brosjure “Gee God werklik vir ons om?” te ontvang

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel