Die toekoms van die wêreldekonomie word voorspel
DIE onbestendigheid van ekonomiese markte en die gebrek aan vertroue in analitici wat nie in 1987 die ineenstorting van die effektebeurs kon voorspel nie, het party sakemanne hulle na astroloë laat wend om hulle finansiële toekoms te voorspel, beweer die Londense tydskrif Accountancy Age. Die tydskrif sê dat “finansiële astroloë ’n indrukwekkende lys invloedryke kliënte vir hulle uitvoerige markvoorspellings bymekaarmaak”.
Een konsultant vergelyk die siklusse wat hy in 30 jaar van daaglikse finansiële data bespeur met die beweging van die planete. Op grond hiervan doen hy sy voorspellings. Hoewel baie kliënte voor 1987 huiwerig was om op sy raad ag te slaan, vind hy dat selfs hardkoppige finansiers nou bereid is om na hom te luister.
’n Ander finansiële astroloog trek kaarte op wat op geboortedatums gebaseer is om ’n persoon se karakter vas te stel en ook om te soek na “leidrade wat die tyd van waarskynlike sakegebeure” aandui. Nog ’n ander astroloog glo dat die wisseling van die silwermark ’n maansiklus volg. Maar hierdie astroloog vind dat sy kliënte vir hom, anders as vir gewone finansiële analitici, “baie min ruimte vir ’n fout laat”.
Daar is egter een finansiële voorspelling wat beslis bewaarheid sal word, en dit het niks met astrologie te doen nie. Hierdie voorspelling is in die Bybel opgeteken en geïnspireer deur Jehovah, die God wat homself absoluut geen “ruimte vir ’n fout laat nie”. Hy is die God “wat nie kan lieg nie” (Titus 1:2). Hy het sy profeet Esegiël laat verklaar: “Hul silwer sal hulle op die strate gooi, en hulle goud sal ’n voorwerp van afsku wees; hul silwer en hul goud sal hulle nie kan red . . . nie.”—Esegiël 7:19.
Wanneer sal dit gebeur? Gedurende die komende “groot verdrukking” wat deur Jesus Christus voorspel is en wat Esegiël “die dag van die grimmigheid van die HERE” noem (Mattheüs 24:21; Esegiël 7:19). Finansiële voorspoed sal nie oorlewing verseker nie, ongeag wat astroloë ook al voorspel. Dit is net vertroue in Jehovah God, die Groot Redder, wat sekuriteit kan verseker gedurende hierdie wêreldwye omwenteling waarin alle verdorwenheid verwyder sal word—polities, godsdienstig en kommersieel.—Spreuke 3:5, 6; Sefanja 2:3; 2 Petrus 2:9.