Dit is onmoontlik!
“DIT is makliker vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te gaan as vir ’n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan” (Mattheüs 19:24). Jesus Christus het dit gesê om sy dissipels ’n les te leer. ’n Ryk jong heerser het pas ’n uitnodiging van die hand gewys om ’n volgeling van Jesus te word en deel te hê aan talle wonderlike, geestelike geleenthede. Die man het verkies om eerder aan sy baie besittings vas te hou as om die Messias te volg.
Jesus het nie gesê dat dit heeltemal onmoontlik vir ’n ryk persoon is om die ewige lewe in die Koninkryksreëling te verkry nie, want sekere welgestelde individue het sy volgelinge geword (Mattheüs 27:57; Lukas 19:2, 9). Dit ís egter onmoontlik vir enige ryk persoon wat liewer is vir sy besittings as vir geestelike dinge. Slegs deur bewus te word van sy geestelike behoefte en Goddelike hulp te soek, kan so ’n persoon godgegewe redding ontvang.—Mattheüs 5:3, NW; 19:16-26.
Die illustrasie van die kameel en die oog van die naald moenie letterlik opgeneem word nie. Jesus het ’n hiperbool gebruik om te beklemtoon hoe moeilik dit vir welgestelde mense sou wees om te probeer om vir God aanneemlik te wees terwyl hulle ’n ryk, materialistiese lewenswyse handhaaf.—1 Timotheüs 6:17-19.
Party sê dat die oog van die naald ’n nou poortjie in ’n stadsmuur was waardeur ’n kameel met moeite kon kom as hy van sy las verlig is. Maar die Griekse woord rha·phisʹ wat in Mattheüs 19:24 en Markus 10:25 met “naald” vertaal is, kom van ’n werkwoord wat “naai” beteken. In Lukas 18:25 beteken die term be·loʹne ’n naainaald en daar lui die New World Translation soos volg: “Trouens, dit is makliker vir ’n kameel om deur die oog van ’n naainaald te gaan as vir ’n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan.” Verskeie gesaghebbendes steun hierdie vertaling. W. E. Vine sê: “Die gedagte dat ‘die oog van ’n naald’ op ’n nou poortjie van toepassing is, lyk na ’n moderne gedagte; daar is geen antieke bewys daarvoor nie.”—An Expository Dictionary of New Testament Words.
’n Groot kameel wat deur die oog van ’n klein naainaald probeer gaan, “is tipies van Oosterse oordrewenheid”, sê een naslaanwerk. En aangaande dié wat so skrander is dat dit lyk asof hulle die onmoontlike uitrig, sê The Babylonian Talmud: “Hulle trek ’n olifant deur die oog van ’n naald.” Jesus het ’n tipiese hiperbool en ’n skerp teenstelling gebruik om te onderstreep hoe onmoontlik dit is. Dit is onmoontlik vir ’n kameel of ’n olifant om deur die oog van ’n naainaald te gaan. Maar met Goddelike hulp kan ’n ryk man ’n materialistiese uitkyk laat vaar en waarlik die ewige lewe soek. So ook almal wat ’n innige begeerte het om die wil van die allerhoogste God, Jehovah, te doen.