Voorkoms kan misleidend wees
“’NMENS kan glad nie op die uiterlike gaan nie”, het die Ierse dramaturg Richard Sheridan gesê. Dit is waar van bome sowel as van mense.
Op ’n dag, laat in Maart, in die jaar 33 G.J., het Jesus Christus ’n vyeboom gesien toe hy en sy dissipels van Betanië na Jerusalem geloop het. Die boom was lowerryk, maar van naderby beskou was daar absoluut geen vrugte aan nie. Jesus het gevolglik vir die boom gesê: “Laat niemand ooit in der ewigheid van jou ’n vrug eet nie!”—Markus 11:12-14.
Waarom het Jesus daardie boom vervloek aangesien, soos Markus verduidelik het, ‘dit nie die tyd van vye was nie’? (Markus 11:13). Wel, wanneer ’n vyeboom blare het, dra dit gewoonlik ook vroeë vye. Dit was ongewoon vir ’n vyeboom om daardie tyd van die jaar blare te hê. Maar aangesien dit blare gehad het, het Jesus tereg verwag om vye aan die boom te kry. (Sien die foto hierbo.) Die feit dat die boom slegs blare gehad het, het beteken dat dit geen vrugte sou dra nie. Sy voorkoms was misleidend. Aangesien vrugtebome belas is, was ’n onvrugbare boom ’n ekonomiese las en moes dit afgekap word.
Jesus het daardie onvrugbare vyeboom gebruik om ’n lewensbelangrike les aangaande geloof te illustreer. Die volgende dag was sy dissipels verbaas om te sien dat die boom reeds verdroog het. Jesus het verduidelik: “Julle moet geloof in God hê. . . . Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang, en julle sal dit verkry” (Markus 11:22-24). Benewens te illustreer hoe noodsaaklik dit is om in geloof te bid, het die verdroogde vyeboom beeldend getoon wat met ’n nasie sou gebeur wat ’n gebrek aan geloof het.
’n Paar maande vroeër het Jesus die Joodse nasie met ’n vyeboom vergelyk wat drie jaar lank onvrugbaar was en afgekap sou word as dit onproduktief sou bly (Lukas 13:6-9). Deur die vyeboom net vier dae voor sy dood te vervloek, het Jesus getoon dat die Joodse nasie nie vrugte wat by bekering pas, gedra het nie en dus vernietig sou word. Hoewel daardie nasie—soos die vyeboom—bolangs gesond gelyk het, het hulle van naderby beskou ’n gebrek aan geloof getoon wat ’n hoogtepunt bereik het toe hulle die Messias verwerp het.—Lukas 3:8, 9.
In Jesus se Bergpredikasie het hy ons teen “valse profete” gewaarsku en gesê: “Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ’n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie! So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ’n slegte boom dra slegte vrugte. ’n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ’n slegte boom ook geen goeie vrugte nie. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken” (Mattheüs 7:15-20). Hierdie woorde van Jesus en die vervloekte vyeboom toon duidelik dat ons geestelik wakker moet wees, want ’n godsdienstige voorkoms kan ook misleidend wees.