Mense word tot insig gebring in Namibië
IN HOEVEEL tale het jy al die uitdrukking “Ek verstaan nie” gehoor? “Hi nokuzuva”, het die Hererovrou gesê wat ’n tradisionele lang rok en ’n hoofbedekking in die vorm van ’n horing gedra het. “Nghi udite ko”, het die Kwanyamameisie met ’n glimlag geantwoord. “Kandi uvite ko”, het die Ndongadorpenaar met ’n skouerophaling gesê. “Kapi na kuzuvha”, het ’n Kwangalibokwagter geantwoord.
Al hierdie mense het “Ek verstaan nie” gesê. Dit lig goed toe watter groot taalprobleme Jehovah se Getuies in Namibië mee te kampe gehad het toe hulle die goeie nuus aan die 1 370 000 inwoners van hierdie uitgestrekte gebied van ongeveer 824 000 vierkante kilometer probeer bring het!
En geen wonder nie! Dit is nie net die Herero- en Namavolk wat hulle eie taal het nie, maar die Ovambo-, Kavango-, Tswana-, Kaprivi-, Himba-, Boesman- en Damaravolk van Namibië het ook elk hulle eie taal. Hierteenoor het die Getuies net Bybellektuur in Engels en Afrikaans gehad. Dit was duidelik dat vertaalwerk noodsaaklik was sodat meer mense die waarheid kon verstaan. Dit het baie jare gelede op ’n klein skaal begin in Windhoek, die hoofstad van wat toe as Suidwes-Afrika bekend gestaan het.
“In Windhoek het die kerk en die polisie ons getuieniswerk kwaai teengestaan”, sê Dick Waldron. Hy het as ’n gegradueerde van die Wagtoring-Bybelskool Gilead in 1953 saam met sy vrou, Coralie, na hierdie land gekom. “Ons kon nie in die gebiede ingaan waar die swart mense gewoon het nie, en ons is partykeer lastig geval wanneer mense gesien het dat ons met die swart mense praat. Ons het uiteindelik ’n plek ontdek waar ons ongesteurd kon voortgaan—die droë bedding van die Gammansrivier! Dit was net buite die stad geleë. Hier het ons onder die dekking van akasiabosse tuisbybelstudies gehou.”
Dit was ook daar in die droë rivierbedding dat publikasies van die Wagtoringgenootskap vir die eerste keer in die plaaslike tale vertaal is. Dit het party traktate in Kwanyama en die boekie “Hierdie goeie nuus van die koninkryk” in Nama ingesluit. Broer Waldron dink terug aan ’n grappige ondervinding tydens die vertaling van hierdie boekie waarmee ’n belangstellende gehelp het. Daar was geen gelyke in Nama vir die sin “Adam was ’n volmaakte man” nie. Die belangstellende man het toe gesê: “Skryf net dat Adam soos ’n ryp perske was. Die Namavolk sal verstaan dat hy volmaak was.” Dit was dus hoe daar begin is om baie mense onder die boorlinge van Namibië tot insig van die Skrif te bring.—Vergelyk Daniël 11:33.
’n Mylpaal word bereik
’n Mylpaal is in die vroeë sewentigerjare bereik toe die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe in Ndonga en Kwanyama vertaal is. Dit is die twee hooftale wat gepraat word deur die meeste Namibiërs in Ovamboland, ongeveer 700 kilometer noord van Windhoek. ’n Pionierhuis is toe in Ondangwa, ’n klein dorpie in Ovamboland, opgerig. Die spesiale pioniers wat in Ovamboland gedien het, is gevra om ’n opsomming van die Engelse studieartikels in Die Wagtoring in Ndonga en Kwanyama te vertaal sodat die belangstellendes in hierdie gebied baat kon vind by die weeklikse Bybelbespreking wat daarop gegrond was.
Die vertaal-“kantoor” was ’n afgeskorte hoek van ’n motorhuis waar kopieë van vertaalde materiaal uit Die Wagtoring op ’n ou kopieertoestel gemaak is. Dit was moeilik om op hierdie veeleisende werk te konsentreer omdat toestande taamlik primitief was en die temperatuur in die somer tussen 38 en 44 grade Celsius gewissel het. Nietemin is dit hier waar nuwe brosjures en die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe vertaal is.
Namate gemeentes in Ovamboland en ook op ander plekke in Namibië gestig is, was die reaksie so geweldig dat groter en beter fasiliteite nodig was. Daar was ook ’n meer sentraalgeleë plek nodig sodat aandag gegee kon word aan die behoeftes in ander dele van die land. Intussen het vooroordeel teen die Koninkrykspredikingswerk afgeneem. Toestemming is gevolglik bekom om te begin bou op ’n groot stuk land wat deur een van Jehovah se Getuies in Windhoek geskenk is. Spoedig het meer as 40 vrywillige werkers op die bouterrein gebly en in Desember 1990 is die vertaalkantore voltooi.
Nou word die werk om baie tot insig te bring teen ’n vinnige pas voortgesit in die gemaklike kantore en kamers van hierdie moderne gebou. Nuwe lektuur word voortdurend in Herero en Kwangali vertaal. Wat Ndonga en Kwanyama betref, word ’n gesamentlike maandelikse uitgawe van Die Wagtoring in hierdie twee tale in kleur uitgegee. Daarin kom al die studieartikels en ook ander materiaal voor. Dit verskil beslis baie van die klein begin wat jare gelede in die droë rivierbedding gemaak is.
“Ek verstaan nie” word nou selde gehoor. Pleks daarvan is meer as 600 Getuies van Jehovah in Namibië baie dankbaar teenoor hulle hemelse Vader, en kan hulle nou sê: “Die opening van u woorde gee lig; dit maak die eenvoudiges verstandig.”—Psalm 119:130.
[Prente op bladsy 25]
Die goeie nuus word onder die Hererovolk verkondig
Christenpublikasies word vertaal tot voordeel van die volke van Namibië
Vertaalkantore in Namibië