’n Profesie vervul
TOE Christus Jesus se dissipels hom gevra het wat die teken van sy onsigbare teenwoordigheid in Koninkryksmag sou wees, het Jesus ’n “toename in wetteloosheid” voorspel (Mattheüs 24:3, 12, NW). Word hierdie profesie in ons dag vervul?
Inderdaad! Die boek The United Nations and Crime Prevention, wat in Oktober 1991 deur die VN gepubliseer is, sê: “Ernstige misdaad is vir die meeste nasies van die wêreld ’n besonder groot probleem. Die meeste nasies kan nie meer binnelandse misdaad in toom hou nie, en transnasionale misdaad het so toegeneem dat die internasionale gemeenskap dit nie meer kan stuit nie. . . . Georganiseerde misdaad deur kriminele groepe het onrusbarende afmetings aangeneem, met besonder ernstige gevolge in die vorm van geweld, intimidasie en korrupsie onder staatsamptenare. Tienduisende het die onskuldige slagoffers van terrorisme geword. Gewetenlose smokkelary met verslawende verdowingsmiddels het ’n wêreldwye tragedie geword. Roekelose omgewingsvernietiging het sulke onrusbarende vorme en afmetings aangeneem dat dit as ’n misdaad teen die wêreld self beskou word.”
Aanrandings: ’n Toename van 150 aanrandings vir elke 100 000 mense in 1970 tot amper 400 vir elke 100 000 in 1990.
Diefstal: ’n Toename van effens oor die 1 000 vir elke 100 000 in 1970 tot 3 500 vir elke 100 000 in 1990.
Moord: In ontwikkelende lande het dit tussen 1975 en 1985 van 1 tot 2,5 vir elke 100 000 toegeneem. In ontwikkelde lande was die toename gedurende dieselfde tydperk van minder as 3 tot meer as 3,5.
Dwelmverwante misdaad: Die boek sê: “Groot smokkelkartelle het letterlik meer geld en militêre slaankrag as die Regerings van klein nasies en het tot nou toe daarin geslaag om nywerheidslande se verbooie en wetstoepassingspogings te dwarsboom.”
Algemene misdaadsyfer: Daar word verwag dat die syfer gaan verdubbel van 4 000 gevalle vir elke 100 000 in 1985 tot byna 8 000 in die jaar 2000.
Die wêreldwye toename in misdaad is slegs een van die aspekte van Jesus se profesie wat aandui dat ons in “die voleinding van die stelsel van dinge” lewe (Mattheüs 24:3, NW). Jesus het gesê dat ons moet “weet dat die koninkryk van God naby is wanneer [ons] hierdie dinge sien gebeur”.—Lukas 21:31.