Skyn soos ligte in die wêreld
IN ’N wêreld wat deur sedelike oneerlikheid en perversiteit verderf is, moet ware Christene wêreldwyd ligbronne wees. Hulle moet ligte in ’n donker wêreld wees (Filippense 2:15). Duisende is gewillig om dit as pioniers, of voltydse predikers, te wees. Talle van hulle het al baie jare aan hierdie diens gewy en is beloon deur te sien hoe alle soorte mense veranderinge in hulle lewe aanbring om ware dissipels van Jesus Christus te word.—Mattheüs 28:19.
Om hierdie pioniers aan te moedig om met hierdie heilige diens vol te hou en hulle te help om bekwamer onderrigters te word, het Jehovah se Getuies die Pionierdiensskool gereël. Dit is ’n Bybelkursus van tien dae wat daarop gemik is om pioniers op drie gebiede te help: om as volgelinge van Jesus Christus met Jehovah te wandel; om oorvloedige liefde vir die hele broederskap te hê; om as ligte in die wêreld te skyn.
Pionierskool in die Sentraal-Afrikaanse Republiek
In Bangui, die hoofstad van die Sentraal-Afrikaanse Republiek, het 48 studente en 2 instrukteurs gedurende Augustus 1991 byeengekom. Die studente sou onderrig en praktiese wenke vir hulle werk ontvang. Wat was so opwindend omtrent die klas in Bangui?
Om maar een ding te noem, 21 van die studente is nog op skool. Hoewel hulle op skool is, kon hulle hulle sake so reël dat hulle gewone pioniers kan wees. Hulle het hulle vakansies, hulle vry naweke en middae gebruik om die predikingswerk te doen en mense te onderrig.
Hierdie jongmense het besef hoe belangrik dit is om hulle Skepper nou te dien. (Prediker 12:1; vergelyk 1 Korinthiërs 7:29.) Dit is merkwaardig dat 12 van hulle ongelowige ouers het. Hulle is die enigste in hulle gesin wat in die waarheid is. Die pa van twee jong seuns het hulle gedwing om die huis as gevolg van hulle geloof te verlaat. ’n Jong egpaar in die gemeente het hierdie twee seuns genooi om by hulle te kom woon.
Dit is nie die geval met Michée en Sulamithe Kaleb nie. Hulle is albei pioniers, en hulle is ook op skool, maar hulle ouers is Getuies van Jehovah. Trouens, hulle pa was ’n student in dieselfde klas!
Die gemeentes in Bangui was ook by die skool betrokke, maar net op ’n ander manier. Hulle het na die materiële behoeftes, soos die kos, omgesien. Hulle het geld, sowel as hoenders, suiker, rys en maniok as kos vir die klas bygedra.
Die nabygeleë gemeentes het kombuisspanne georganiseer om eenvoudige, maar smaaklike, etes voor te berei. Die Sentraal-Afrikaanse Republiek is bekend vir ngunza, ’n gereg waarvan almal hou. Die resep? Maniokblare, palmolie, uie, baie knoffel, heelwat grondboontjiebotter en geduld om dit lank genoeg te laat kook. Elke span het sy eie spesiale manier gehad waarop hulle dit voorberei het. Dit was ’n groot sukses; niemand kon dit weerstaan nie.
Nog twee klasse, een in Bouar en een in Bambari, is buite Bangui gehou, sodat daar altesaam 68 studente was. Gedurende die afgelope twee jaar het die Sentraal-Afrikaanse Republiek ’n vermeerdering in pioniers gehad. Gedurende Januarie 1992 was daar 149 gewone pioniers en 17 spesiale pioniers sowel as 78 hulppioniers. Gevolglik was daar groter bedrywigheid in die hele land, en hulle het ’n nuwe hoogtepunt in verkondigers, ure, herbesoeke en Bybelstudies gehad. Waar daar meer werkers is, word ’n groter oes ingesamel.—Jesaja 60:21, 22; Mattheüs 9:37, 38.
Ons dank Jehovah God vir hierdie voorsienings en sy aardse organisasie omdat hulle hierdie klasse reël. Dit help studente sowel as instrukteurs om as ligte in hierdie donker wêreld te skyn.
[Prent op bladsy 24]
Een-en-twintig pionierskoolstudente wat nog op hoërskool is
[Prent op bladsy 25]
Hierdie twee seuns moes die huis as gevolg van die waarheid verlaat